• No results found

2. Pastorale berading en mentorskap by ouer-kind verhoudings in die Suid-

3.5 Die bou van gesonde gesinsstrukture

3.5.2 Positiewe en negatiewe gesinsinvloede

Van Heerden (2004:112-114) verwys na risikofaktore wat die geneigdheid het om kinders se psige negatief te beïnvloed. Die eerste en die belangrikste hiervan is die interaksie tussen die kind en sy onmiddellike familie. Daarna, sosiale sisteme binne die samelewing, en derdens, kragte soos kultuurwaardes en regerings met sy wetlike sisteme wat nie binne die fokus van hierdie studie lê nie.

Aangesien die interaksie tussen kinders en hul naaste familie uitgesonder word as die grootste risikofaktor, is dit dus ook duidelik dat gesonde gesinstrukture die swaarste weeg by die positiewe ontwikkeling van kinders se persoonlikhede. In die meeste suksesvolle besighede is daar duidelike hiërargieë, duidelike take en verantwoordelikhede, asook die ontwikkeling van interpersoonlike vaardighede en spanbou. Volgens Boland (2006:22-28), word daar baie min binne gesinsverband noodsaaklike elemente bespreek, uitgeklaar en konsensus bereik. Daar kan as volg duidelik onderskei word tussen “Goed-genoeg-gesinne” en “Nie-goed-genoeg-gesinne”:

Die “Goed-genoeg-gesinne” onderskei hulself as gesinne met:

• Afgebakende raamwerke.

• Die regulering van emosies.

• Aandag aan kinders se emosies deur positiewe stellings en optrede om kinders te prys.

• Ouers is oop vir kinders se opinies, idees en klagtes.

• Poog om kinders se kreatiwiteit te ontwikkel.

Die “Nie-goed-genoeg-gesinne” onderskei hulself weer as volg:

• Geen afgebakende raamwerke, hiërargieë en taakverdelings nie.

• Geen regulering van emosies van beide kinders en ouers nie.

• Uitbarstings word nie met begrip en vergifnis hanteer nie.

112

• Min vertroue en swak kommunikasie binne sulke gesinne is gewoonlik duidelik sigbaar.

Een van die beste beskrywings van bogenoemde is deur Van Heerden (2004:114) gegee en om hierdie rede word dit woordeliks aangehaal:

“Gesinsinvloede is onder andere voldoende gesinsinkomste en ’n gestruktureerde en vertroetelde gesin waarbinne ouers onderrig bevorder. Dit blyk dat minder as vier kinders met twee of meer jare tussen die geboorte van elke kind die optimale situasie is. Verder is ’n multi- generatiewe gesinsnetwerk, ’n ondersteuningsnetwerk van buitestaanders, warm verhoudinge met ouers, min gesinskonflik en ’n stabiele omgewing ook beskermende faktore wat ’n kind kan help om die effek van moeilike omstandighede te verminder.”

John Bangs, hoof van opvoeding by die Nasionale Unie vir Onderwysers in die Verenigde Koninkryk, is van mening dat alles wat met ’n kind binne sy eerste vyf jaar gebeur, van kardinale belang is. Volgens hom kan leerprobleme verbind word met swak eetgewoontes, gebrek aan stimulasie asook gebrekkige sosiale kontak met ander (Higgs 2010:4).

Alhoewel bogenoemde stelling waarskynlik tot ’n groot mate waar is, is daar altyd die uitsonderings. In hierdie studie se kwalitatiewe navorsing word aangetoon dat sommige kinders wat in haglike omstandighede in sink kaias grootgeword het, tot hoogs intelligente en goed afgeronde tieners ontwikkel. Die feit dat die meeste sulke kinders wel problematiese gevolge ervaar, kan egter nie betwyfel word nie.

Binne gesinsverband is dit baie moeiliker vir ongelukkige, geestelik versteurde of verslaafde ouers om goeie mentors vir hulle kinders te wees as in die geval van gelukkige en gebalanseerde ouers (Paul 2010:415-427).

113

Volgens McGinnis (1999:15-200), is baie volwassenes nie in staat tot goeie mentorskap nie as gevolg van swak balans in hul eie lewe. Die moontlikheid bestaan dat hulle juis binne die raamwerk van patogeniese gesinne grootgeword het. In sulke gevalle behoort ouers te poog om meer kennis oor mentorskap in te win. Die waarde van selfdissipline, selfmotivering, interpersoonlike vaardighede en sosiale balans binne die gemeenskap is maar enkele onderwerpe waaroor sulke ouers kennis moet inwin.

McGinnis (1999:15-200) se bydrae is van baie waarde en kan gewis ’n groot verskil binne die probleemareas van gesinne maak. Ongelukkig is dit so dat sulke ouers in weinige gevalle vir hulp gaan aanklop. Dié wat wel uiteindelik vir hulp gaan, is gewoonlik die persone wat eers deur trauma moet gaan voor dit kan geskied. Die vaders se beste bydrae tot geluk van sy lewensmaat en kinders word nie gemeet aan die tyd wat aan hulle afgestaan word nie, maar die intensiteit van die aandag wat aan hulle gegee word. Ouers speel die sleutelrol in ’n kind se lewensontwikkeling, nogtans word in hierdie era minder tyd spandeer aan kinders as gevolg van werksdruk asook die hoeveelheid tyd wat kinders by die skool deurbring (Boshoff 2006:118).

Die positiewe effekte wat ouers en ander mentors op kinders kan hê, behoort ook aandag te geniet.

De Klerk en Le Roux (2003:36) verwys na sewe emosionele intelligensievaardighede wat by kinders gevind kan word indien hulle bogenoemde positiewe effekte binne gesinsverband ervaar:

• Is meer gesond en presteer akademies beter.

• Het beter vriendskapverhoudinge.

• Is geneig om meer positiewe emosies te ervaar.

• Ondervind baie minder konfliksituasies tussen ouer en kind.

• Het die vermoë om beter respek vir andere se waardestelsels en emosies te betoon.

114

• Het beter weerstand teen die verval in dwelmmiddels, alkohol en ander negatiewe ervarings.

Op sosiologiese vlak wys Freeks (2004:72-79) op die waarde van gesonde huwelike en gesinstrukture. Volgens hom behoort ’n huwelik sosiaal aanvaarbaar te wees met die vader en moeder as ware ouerfigure met ’n liefdevolle en gedissiplineerde gesagsposisie. Indien kinders van kleins af die waarde van ’n eerbare en liefdevolle huwelik tussen man en vrou só ervaar, het die kinders ’n baie beter kans om ’n gesonde en suksesvolle volwasse lewe te lei. Vaders en moeders moet aan hulle self werk om hierdie take te vervul; niemand is so gebore nie. Ouers behoort hulp te soek indien daar probleme binne gesinsverband is.