• No results found

2. DIE OMSTANDIGHEDE WAARONDER DIE

2.4 Die NGB as belydenisskrif

2.4.2 Tekstuele veranderinge

Vonk (1956:649 – 655) gee ’n deeglike bespreking van die veranderinge wat deur die jare tot en met die Sinode van Dordrecht aangebring is.

Hoewel hierdie veranderinge nie dramaties was nie, is daar wel twee veranderinge, rakende PARAGRAWE 1 en 3 van art. 36 wat vir hierdie studie uitgesonder moet word. In 1561 het De Brès die taak van die owerheid in die PARAGRAAF 3 omskryf as: "het is nie slechts hun taak te bedwingen en over de burgerlijke (sic, veronderstel: regering) te waken, maar ook over de kerkelijke zaken". Die Sinode van Antwerpen het dit egter verander na: "Het is niet slecht hun taak acht te geven op en te waken over de regering, maar ook de heilige Woorddiens in stand te houen."

Vonk meen dat hierdie verandering aangebring is om die moontlikheid van misverstand uit te skakel. Die sinode wou voorkom dat iemand sou aanvaar dat daar van die owerheid verwag is om kerklike sake te behartig. Daarom is "kerklike sake" vervang met "heilige Woorddiens" (Frans: sacré ministere). Sacré ministere dui op die werk wat predikante doen. Hou in gedagte dat die gereformeerde predikante juis ten onregte daarvan beskuldig is dat hulle valse leerstellings verkondig het en dus beslis nie (veral Roomsgesinde) owerhede hieroor sou wou laat beslis nie.

moes "waak", word daar nou gesê dat die owerheid die heilige Woorddiens "in stand moet hou". Vonk wys daarop dat dit verregaande is om te dink dat die bedoeling hiermee ooit kon gewees het dat daar van Phillips II verwag is om te sorg dat daar gereformeerde predikante opgelei word en om hulle dan te trakteer. "In stand hou" is 'n vertaling van die Franse maintenir. Maintenir word ook in die tweede paragraaf gebruik en daar met "beschermen" (Dordrecht) weergegee. Die owerhede moet dus nie gehoor gee aan die lasterlike dinge wat diegene kwytraak wat die Woord en die prediking daarvan verag en die verwarring van die tyd ten onregte daaraan toeskryf nie. Die owerhede moes eerder die Woordbedienaars beskerm, aangesien die Woordverkondiging vir volk en owerheid geen ramp inhou nie, maar inderdaad tot seën is.

Vonk (1956:654) meen dat alhoewel die hersieningspoging bedoel was om misverstande te voorkom, die artikel sintakties nou nie meer 'n netjiese eenheid was nie. Hy stel dit treffend: Die veranderinge aan die teks kan vergelyk word met 'n stukkie lap wat uit 'n kledingstuk (die teks van 1561) geknip is en toe vervang is met 'n ander een wat nie die gat wat die oorspronklike stukkie lap gelaat het, netjies bedek het nie. Hoe goed die tekswysiging van 1566 dan ook bedoel was, en hoe verhelderend dit ook inderdaad in sekere opsigte was, het dit ook 'n nuwe moontlikheid vir misverstand laat ontstaan – 'n slaggat waarin die Sinode van die Gereformeerde Kerken in 1905 na Vonk se mening inderdaad in getrap het. Daarom is dit volgens hom noodsaaklik dat iemand wat die derde paragraaf reg wil verstaan, na die tweede paragraaf asook na de Brès se geskrifte moet teruggaan.

Daar is nog 'n verandering aan die teks wat die aandag vereis – 'n verandering in die eerste paragraaf. Vonk (1956:549) wys daarop dat De Brès art. 36 oorspronklik begin het met (my kursivering): "Ons glo ten slotte (Frans: nous croyons finalement) dat...", en nie net met die huidige: "Ons glo dat ..." nie. Hoewel Vonk meen dat hierdie verandering nie die inhoud van art. 36 raak nie, wys hy daarop dat die verband wat art. 36 met artikel 37 het, nou nie meer so duidelik is nie. Artikel 37 begin vandag steeds met:"Ons glo ten

slotte...". Op grond van die verband wat hy tussen artikel 36 en 37 raaksien, hanteer hy dan ook die artikels onderskeidelik as 'n beroep op die aardse en 'n beroep op die hemelse owerheid sodat die NGB as't ware met 'n dubbele slot eindig. Vonk blameer 'n skoolmeesteragtigheid en 'n gebrek aan fyn gevoel vir hierdie verandering.

Ek meen ook dat dit jammer is dat die "ten slotte" in art. 36 weggelaat is. Aangesien art. 36 nie die laaste artikel is nie, maar wel die voorlaaste, sou "ten slotte" inderdaad onmiddellik vreemd op die oor geval het. Dit sou egter heel gepas wees. Indien die "ten slotte" behou is, sou enige iemand wat met art. 36 werk, dadelik besef dat artikel 37 in besonder in gedagte gehou moet word. Vervolgens is dit ironies dat artikel 37 uitdruklik verwys na hoe die owerhede destyds opgetree het teen mense wat na hulle mening ketters was – iets wat in die lig van die hele debat rondom die omstrede frase in die derde paragraaf veelseggend is. Of De Brès nou bedoel het dat die owerhede mense wat na hulle mening ketters was, sélf en dan ook met geweld moes uitroei of nié, die punt is dat artikel 37 uitdruklik noem dat dit op daardie stadium wel so gebeur het. Soos hierbo aangetoon, word daar in artikel 37 met die oog op die voleinding bely (my kursivering): "Dan sal dit bekend word dat hulle saak, wat tans deur baie regters en owerhede as ketters en goddeloos veroordeel word, die saak van die Seun van God is."

2.4.3 'n Vergelyking met ander belydenisskrifte

Soos reeds hierbo genoem, het Cloete (1986:159) na 'n deeglike vergelyking van die NGB met ander Protestantse belydenisskrifte, bevind dat die NGB tematies "redelik in die middel" teenoor die belydenisskrifte van die 16de eeu gesien moet word en nie totaal unieke gedagtes bevat nie. Aangesien daar ook reeds aandag gegee is aan die noue ooreenkoms met die Confessio Gallicana sal ek in hierdie afdeling nie fokus op hoe die NGB as sodanig met ander belydenisskrifte vergelyk nie, maar net op art. 36 konsentreer.

Doekes (1975:377 e.v.) wys daarop dat daar al in van die vroegste Reformatoriese belydenisse op die owerheid gefokus is (vergelyk die Stellings van Zwingli van 1523, artikel 35-43). Waar die klem aanvanklik op

gehoorsaamheid aan die owerhede val, word dit in die Eerste Helvetiese Konfessie van 1536 (artikel 26) daarin gefundeer dat alle mag en gesag van God af kom. Daarom is die owerheid se vernaamste amp (by vele ander genoemde verantwoordelikhede) om God se eer en die ware godsdiens deur middel van straf en die uitroei van alle godslastering, te beskerm en te bevorder. Let daarop dat die konfessie opgestel is tydens 'n konferensie wat gehou is in opdrag van die magistrate van verskeie Switserse stede (Doekes, 1975:44). Die magistrate het die konfessie ook aanvaar.

In artikel 30 van die Tweede Helvetiese Konfessie (wat die eerste in 1566 vervang het) word nie net bely dat owerhede deur God ingestel is nie, maar dat owerhede daarom ook die eerste plek in die wêreld inneem. Sodoende kan owerhede óf 'n struikelblok óf tot groot seën vir die kerk wees. "...wanneer die owerheid met die kerk bevriend is, en ook self tot die kerk behoort, is hy die mees nuttige en voortreflike lid van die kerk en kan hy uitstekende diens aan die kerk lewer". Let op hoe daar hier eerder van owerheidspersone as van die owerheid as abstraksie sprake is. Wanneer lidmaatskap van die kerk ter sake is, gaan dit uiteraard oor individue wat lid van die kerk is en nie oor instansies wat aan die kerk behoort nie. Verder word bely: Die owerheid se vernaamste taak is om openbare rus en vrede te bevorder en te bewaar en hy kan nooit meer suksesvol daarin wees nie as wanneer die owerheid God in vrees en waarheid dien. Hierin volg so ’n owerheid "die voorbeeld van die heilige konings en vorste van God (wat) die prediking van die waarheid en die regte geloof bevorder, alle leuens, bygeloof, goddeloosheid en afgodery verdryf en die eer van God se kerk verdedig". Hier is dus nie sprake van twee take – een in die openbare lewe en een ten opsigte van die kerk nie, maar van een taak – in die openbare lewe wat deel van die godsdiens is.

In Confessio Gallicana fokus artikel 39 op die owerheid (vergelyk Bakhuizen van den Brink, 1940:134-136). "God wil hê dat die wêreld sal geregeer word deur wette en bestuursinstansies (polices) om die ongeordende begeertes van die wêreld so ver moontlik te beteuel. God het koninkryke, republieke en alle ander regeringsvorme, erflik of andersoortig, en alles wat tot die regstaat behoort, gevestig en wil as Outeur daarvan erken word; daarom het Hy die

swaard gegee in die hand van die owerhede om nie alleen die sonde te straf wat teen die tweede tafel van God se gebooie begaan is nie, maar ook teen die eerste." Die artikel beklemtoon verder ook die volstrekte respek vir en gehoorsaamheid aan die owerhede aangesien hulle God se plaasvervangers en dienaars in hierdie wêreld is.

In die Hongaarse Konfessie wat deur Beza opgestel is, word onder andere ook bely dat die owerheid 'n taak spesifiek ten opsigte van die eerste gebod het. Die owerheid moet toesien dat die kerk volgens die Woord ingerig word en moet (in navolging van konings soos Dawid, Salomo, Hiskia en Josia) die kerk se gesag teen veragters en rusverstoorders beskerm (Doekes, 1975:384).

Uit bogenoemde is dit duidelik dat die NGB en in besonder art. 36 opgestel is in 'n milieu waarin die onderliggende gedagte was dat die openbare lewe, wat onder gesag van die owerhede was, nie van die godsdiens geskei kon word nie. Die NGB is dus hoegenaamd nie uniek nie in die belydenis dat die owerheid 'n instelling van God is met bepaalde opdragte en take; dat die owerheid die swaard met die oog op die uitvoering van hierdie taak ontvang het en dat die kerk en/of godsdiens spesifiek hierby betrek word.