• No results found

2. DIE OMSTANDIGHEDE WAARONDER DIE

2.3 Die kerklike (godsdienstige) landskap van die 16de eeu

2.3.2 Guido de Brès – opsteller van die NGB

2.3.3.1 Luther oor kerk en staat

Luther is so sinoniem met die Reformasie dat daar menslik gesproke sonder hom geen Reformasie sou gewees het nie. Sy invloed was absoluut grondliggend en rigtinggewend – ook betreffende sy siening van die verhouding tussen kerk en staat17. Sy siening van hierdie verhouding asook

sy siening van elkeen se taak, moet vanuit sy Twee-ryke leer verstaan word.

Hoewel God as Koning oor die hele lewe regeer en sy koninkryk die hele lewe omspan, is daar hierbinne twee ryke, twee sfere elk met ‘n eie regering, (regiment) te onderskei. Enersyds is daar die geestelike, innerlike ryk. Andersyds is daar die uiterlike, wêreldlike ryk wat die skepping omspan en die mens se tydelike bestaan omvat. God stry in albei ryke teen die kwaad en die sonde. Deur die evangelie beveg Hy die sonde in mense se harte (innerlik) en skenk Hy mense ‘n aandeel aan die nuwe lewe in Christus. Die kerk is verantwoordelik om die evangelie te verkondig. In die wêreldlike ryk lê God die sonde en die kwaad úiterlik deur sosiale, politieke en ekonomiese

17 Van der Zwaag (1999:34) wys byvoorbeeld daarop dat Luther later in sy lewe telkens die

woorde “teen te gaan” en “uit te roei” (vergelyk art. 36 NGB) gebruik het om die taak van die owerhede om valse godsdienste te verbied, te omskryf.

strukture aan bande en maak Hy lewe, vrede en voorspoed moontlik. Hy het wêreldlike owerhede bevoegheid met die oog hierop gegee. God regeer dus albei ryke – die geestelike met die oog op verlossing, die wêreldlike met die oog op instandhouding.

Die take van die kerk sowel as die staat is godsdiens (diens aan God) en behoort deur Christene aangepak te word. In alle gevalle is die liefde of die natuurreg wat op die rede gebaseer is, die etiese kriterium. Luther vat dit saam in die uitdrukking: die kwaad verduur en die goeie doen (vergelyk Nürnberger, 1985:36). Kerk en staat moet hulle werk met die oog op geregtigheid doen – die kerk met die oog op geloofsgeregtigheid, die staat met die oog op burgerlike geregtigheid.

Tesame met hierdie uiters oorsigtelike uiteensetting van Luther se Twee-ryke leer, moet die volgende opmerkings ook gemaak word om sy moontlike invloed op die inhoud en betekenis van NGB art. 36 duidelik te maak:

Luther het beswaarlik “die staat” as abstrakte begrip geken, maar wel vorste (owerhede) – gesagsinstansies in ‘n konkrete persoon beliggaam – met wie hy ‘n goeie of slegte verhouding gehad het en wat hy in persoon kon aanspreek om die godsdiens te beskerm.

Hoewel Luther die owerheid as ‘n lewensnoodsaaklike instelling van God gesien het (Van der Zwaag, 1999:34), wou hy nie te veel vertroue in die owerhede stel nie. Hy het ook besef dat die rol wat vorste in kerklike sake gespeel het nie noodwendig ideaal was nie aangesien dit die vryheid van die kerk en die algemene priesterskap van die gelowiges ingeperk het. Hy het egter in navolging van Occam geglo dat die owerheid die kerk in noodtoestande moet beskerm (De Jong, 1987:167) en het owerheidspersone as noodbiskoppe gesien. Luther het ook aan sy eie lyf gevoel hoe waardevol owerheidsbeskerming kan wees. Die boereopstand het egter sy vertroue in die volk geskaad. In sy Aan die Christelike Adel van Duitsland oor die verbetering van die Christelike stand roep hy die keiser en vorste op om die kerk te hervorm. Van der Zwaag (1999:37-44) toon ‘n verskuiwing in Luther se

gesindheid aan. Waar hy voor die boereopstand nog simpatie met die onderdrukte boere gehad het, het die simpatie verdamp na mate hulle in opstand gekom het en die openbare (publieke) orde bedreig het. Tog het hy sy vertroue in die Woord (wat tot die innerlike gerig is) eerder as die swaard gestel. Hy het ook die onderskeid tussen die private en publieke lewe beklemtoon. Waar iemand in privaatheid vry was om te glo wat hy wou, was so iemand nie vry om sy oortuiginge te verkondig indien dit die publieke orde bedreig het nie.

Op 23 April 1529 het ’n keiserlike edik tydens die Ryksdag van Spiers die Anabaptiste veroordeel om deur “die swaard en vuur” te sterf. Luther het hiermee ingestem aangesien hy gemeen het dat die anargistiese en valse leer wat die Anabaptiste volgens hom aangehang het, tot godslastering aanleiding gegee het. Daar moes dus nie teen die Anabaptiste opgetree word weens hulle geloof nie, maar weens die feit dat hulle deur die verkondiging daarvan oproer aangehits het wat die publieke orde aangetas het. In hierdie geval was die ketters dus ook oproermakers.

Vanaf 1531 het Luther se houding nog meer radikaal geword weens die Anabaptiste se verwerping van die preekamp. Luther en Melanchton het dít as godslasterend beskou en gemeen dat owerhede hierdie verwoesting van die kerklike orde moes straf. Hierop is sekere Anabaptiste inderdaad tereggestel. In 1536 het die Wittenbergse teoloë ‘n memorandum, wat ook deur Luther onderteken is, met dieselfde strekking opgestel. Hierin het Melanchton geskryf dat vorste nie alleen die goedere en uitwendige lewe van hulle onderdane moet beskerm nie, maar dat die bevordering van God se eer en die wering van godslastering hulle vernaamste amp is. In lyn hiermee was magistrate ook verplig om hulle vanuit die Woord te laat onderrig. Van der Zwaag (1999:44) wys ook daarop dat in gedagte gehou moet word dat die Reformasie die steun van die owerhede nodig gehad het. Berkhof (1955:165)18 merk ook op dat die Lutheranisme eers vanaf die middel van die 20ste-eeu ‘n streng onderskeid tussen kerk en staat begin bepleit het in

18 De Jong (1987:167) laat hierdie opmerking weg in die ooreenstemmende paragraaf van sy

reaksie op die wrange vrugte wat die Nasionaal Sosialisme voortgebring het. Nürnberger (1985:30) toon aan dat dit egter verkeerd sou wees om te meen dat Luther so ‘n groot rol aan die owerhede wou toeken dat hy uiteindelik ‘n strooipop daarvan geword het.

Koopmans (1939:252-254) voer Luther se siening terug tot by Augustinus. Toe Rome in 410 in die hande van die Alarik val, het Augustinus opgemerk dat “‘n staat sonder geregtigheid niks anders as ‘n rowerbende is nie”. Die vraag is egter wat hy met “geregtigheid” bedoel het. Soos hierbo aangetoon, het Luther duidelik onderskei tussen “burgerlike geregtigheid” en “geloofsgeregtigheid”. Waar “burgerlike geregtigheid” dan op koeie en perde, geld en goed betrekking sou hê, het “geloofsgeregtigheid” te make met ‘n geregverdigde mens se verhouding tot God. Die owerheid sou hom dan (slegs) met die eerste tipe geregtigheid bemoei – ter wille van die bekamping van die bose.

Aangesien die heersende uitgangspunt in die vroeë 16de eeu was dat die kerk alle gesag (albei swaarde19) besit, sou daar vanuit hierdie oogpunt gesê

kon word dat Luther hier ‘n selfstandige plek aan die owerheid toegeken het.

19 Die leer van die twee swaarde. In die Oos-Romeinse ryk het keiser Justinianus (527 – 565)

die tradisie van caesaropapisme ingelui waarvolgens die keiser nie net oor die sekulêre gesag gehad het nie, maar ook as geestelike vors opgetree het in ooreenstemming met die ideaal van één staat, één kerk, één wet. Die gedagte hieragter was dat die kerk die siel en die staat die liggaam was wat in ‘n simfoniese verhouding tot mekaar gestaan het. Mettertyd het die staat die kerk egter begin oordonder. In die Weste, waar die keiser en die kerk relatief meer geskei was, het ‘n teokratiese stroming ontstaan - deels in reaksie op caesaropapisme. Na aanleiding van die werk van Ambrosius (ca. 340 – 397) het die kerk ook sy selfstandigheid probeer bevestig. Die gedagte hieragter was nie net dat die kerk ook van ‘n hoër regsorde as die staat was nie, maar dat die keiser “’n seun van die kerk” was. Na analogie van die Romeinse staatsreg (vergelyk die Corpus Iuris Civilis wat uiteindelik sy klassieke vorm met Justinianus verkry het) het daarnaas ‘n eie kerklike reg (Corpus Iuris Canonici) ontstaan. Hierdie teokratiese gesindheid het uiteindelik uitgemond in die leer van die twee swaarde soos verwoord deur pous Galasius I (494 – 496) na aanleiding van Lukas 22:38. Volgens hierdie leer het die Here twee swaarde gegee, die geestelike wat deur die kerk hanteer word en die wêreldse wat die staat vir die kerk hanteer (Van der Zwaag, 1999:26). Met die aanslag van die Lombarde op Rome, was Gregorius die Grote (560 - 640) genoodsaak om die stad as pous met soldate te beskerm en het hy hiermee die taak van die owerheid op homself geneem en afstand gedoen van die simfoniese verhouding tussen kerk en staat wat Augustinus byvoorbeeld voorsien het.

Vir hom was die owerheid nie sonder meer ondergeskik aan die kerk nie en veral nie aan die pous nie.

Vanuit ‘n hedendaagse perspektief beskou, sal daar egter eerder geoordeel word dat hy die gesag van die owerheid tot (net) die wêreldlike beperk het. Owerhede wil deesdae veel eerder die ganse lewe beheers, as wat hulle nog sy aan sy met kerke staan.

Dis juis in hierdie opsig wat Van der Zwaag (1999:37) Luther aanprys vir sy siening ten opsigte van gewetensvryheid en dat owerhede moet erken dat die innerlike van die mens anderkant die grens van sy magte lê. Met uitgebreide verwysing na Luther se geskrifte, maak hy die stelling dat die siel volgens Luther ‘n heilige gebied is, een wat immuun is teen indringing en beskadiging deur die wêreldlike owerheid. Die magistraat as magistraat het geen seggenskap oor die siel nie, want oor die siel kan en wil God niemand anders as Hyself laat regeer nie. Alleen die Woord van God geld vir sake betreffende die saligheid van die siel en daaroor het die owerheid geen bevoegdheid nie.

Dit is na my mening dan baie interessant dat Luther in die lig van sy siening van die taak van die owerheid om geregtigheid in die wêreldlike (burgerlike) sfeer van die lewe te laat geskied, gemeen het dat hierdie geregtigheid met die wet en nie soseer die evangelie te make sou hê nie. Dit is voorts ook interessant dat hy tesame hiermee ook gemeen het dat ‘n Christen wel – eintlik slegs ter bekamping van die bose – in die owerheid mag dien, maar dan nie as Christen nie, maar as burger of onderdaan (vergelyk Koopmans, 1939:254). Nürnberger (1985:24) toon vanuit Luther se geskrifte aan dat ‘n Christen in die meeste omstandighede, nie net geregtig is om in die owerheid te dien nie, maar ter wille van sy naaste selfs daartoe verplig is. Die punt is egter dat hoewel ‘n Christen dit dan as goeie burger doen, hy dit steeds slegs as burger en nie soseer as Christen doen nie.

‘n Christen as simul justus et peccator, moet hom in sy persoonlike lewe deur die Bergrede laat lei, maar het die swaard nodig om sy naaste te beskerm. Een van die Satan se strategieë teen God sou dan wees om die twee ryke te

laat vermeng (confusio). Vir Luther was die militêre mag wat die Rooms- Katolieke biskoppe gehad het en waarmee hulle met die swaard in die hand oor vorste regeer het, ‘n voorbeeld hiervan. Hy het ook gemeen dat die revolusionêre ingesteldheid van die Anabaptiste as ‘n veruitwendiging van die evangelie ook op ‘n bose vermenging neergekom het.

Van der Walt (2002:100-107) werp lig hierop. Waar hy die Rooms-Katolieke se houding as kerk-bo-die-wêreld tipeer en die Anabaptiste s'n as kerk-téén- die-wêreld (en hierdie houding dan uitloop op geweld soos te Münster, of op wêreldmyding soos met Simons), tipeer hy Luther s'n as kerk-lángs-die- wêreld (owerheid) waarvolgens God op 'n verborge manier steeds oor die wêreld regeer. Van der Zwaag (1999:35, 44) is van mening dat Luther ‘n eenheid tussen die twee ryke gehandhaaf het en hulle onderskei het sonder om hulle te skei. Van der Walt (2002:100-107) dui egter aan dat hy steeds ‘n dualisme bemerk. Hoewel Van der Zwaag daarop wys dat Luther die eiewaarde van die wêreld beklemtoon met die gevolg dat die wêreldlike owerheid self ‘n verantwoordelikheid voor God het en nie net ‘n pion in die hand van die kerklike hiërargie is nie, toon Van der Walt se analise aan hoe die “posisie van die wêreld” in Luther se skema eintlik nog net van “onder die kerk” na “langs die kerk” verskuif het. Die gevolg is dus dat die dualisme tussen kerk en wêreld steeds gehandhaaf word en die kerk wel nie “van die wêreld” is nie, maar ook nog nie as sout, kerk “in die wêreld” is nie.

Ten slotte kan gewys word op die waarneming van Berkhof (1955:166)20 dat Luther (nog) nie werklik ‘n oog gehad het vir die teokratiese aansprake wat die nuutontdekte evangelie gebring het ten opsigte van die sosiale lewe en die politiek nie. Dit sou eers die gereformeerde Protestantisme in die gees van Calvyn wees wat die stryd teen die Rooms-Katolieke kon deurvoer. Die gereformeerdes het ingesien dat owerhede ook ondergeskik aan die Woord was.

20 Vergelyk ook die beoordeling van De Jong (1987:170) in die ooreenstemmende paragraaf in

Ek meen dit is lofwaardig dat Luther besef het dat die wêreld (en wêreldlike vorste) nie ondergeskik aan die kerk is nie. Van der Zwaag (1999:37) wys dan ook daarop dat Luther meer ruimte vir die eiewaarde van die wêreld geskep het en die owerheid sodoende ‘n selfstandige funksie gegee het waarvolgens hulle nie net ‘n instrument in die hand van die kerk of eerder die pous was nie. Luther se oplossing vir die probleem, naamlik om die wêreld van “onder die kerk” na “langs die kerk” te verskuif, het egter steeds ‘n diepliggende dualisme gehandhaaf. Hierdie dualisme spruit na my mening juis voort vanuit die onbybelse dualistiese mensbeeld waar die onderskeid tussen liggaam en siel te radikaal gesien word.