• No results found

2. DIE OMSTANDIGHEDE WAARONDER DIE

2.3 Die kerklike (godsdienstige) landskap van die 16de eeu

2.3.2 Guido de Brès – opsteller van die NGB

2.3.3.2 Calvyn oor kerk en staat

As daar menslik gesproke nie 'n Reformasie sonder Luther sou gewees het nie, sou die gereformeerdes, waaronder Guido de Brès, sonder Calvyn nie gewees het wat hulle was en is nie. Daar sou ook geen NGB gewees het nie.

Hoewel Calvyn baie geskryf het, kan sy basiese gedagtes oor die verhouding tussen die kerk en die owerheid saamgevat word uit sy brief aan die Franse koning Frans I, asook uit sy Institusie (1559) veral Boek IV, hoofstuk 2021.

Frans I het om politieke redes in sy stryd teen Karel V, nie net toenadering by die pous gesoek nie, maar ook sy optrede teenoor die Franse Protestante probeer goedpraat by die Duitse vorste deur die Protestante in 'n proklamasie op een lyn met die oproerige Anabaptiste te stel (Aland, 1986:177). Hierop was Calvyn se reaksie dat Frans I behoorlik en reg ingelig moes word oor wat die Protestante geglo het en dat hy hom nie deur sy raadgewers moes laat mislei nie. Frans I se optrede teenoor die Anabaptiste was geregverdig, maar nie sy optrede teenoor die gereformeerdes nie.

21 Witte (2007:50) bespreek byvoorbeeld ook Calvyn se gedagtes vanuit sy kommentare en

preke en ander geskrifte. Ek verwys in hoofstuk 3 van hierdie studie onder andere ook na Polman se hantering van enkele van Calvyn se relevante preke asook na Vonk se hantering van verskeie geskrifte van Calvyn.

Calvyn sit sy standpunt oor die owerheid in Boek IV.20.3 van sy Institusie in drie onderafdelings uiteen: die owerheid, die wette en die onderdane. Hoewel Calvyn dus ook 'n uiteensetting gee van die reg en pligte van die onderdane, gee ek hier hoofsaaklik aandag aan dit wat hy ten opsigte van die owerheid sê en let net kortliks op sy siening oor die rol van wette.

• 'n Belangrike onderskeid: Volgens Calvyn is daar 'n tweevoudige regering in die mens aanwesig – die een oor die siel of die innerlike mens, die ander oor die uiterlike (en burgerlike) lewe22. Aangesien hierdie twee regerings heeltemal van mekaar verskil moet hulle nie onverstandig vermeng word nie (Institusie IV:20.1.20). "Iemand wat egter weet hoe om tussen liggaam en siel, tussen hierdie teenwoordige en verganklike lewe en die toekomstige en ewige lewe onderskeid te maak, sal maklik verstaan dat die geestelike koninkryk van Christus en die burgerlike orde onderwerpe is wat ver van mekaar verskil.” (Institusie IV:20.1.25. Vergelyk Calvyn, 1992:1822.) Die pous het egter ten onregte "albei swaarde" in sy hand geneem23 aangesien God een van die swaarde aan die burgerlike owerhede gegee het (Institusie IV:11). Met hierdie optrede vertoon die pous eerder tekens van die ryk van die antichris, as tekens van die Koninkryk van Christus. Hoewel Calvyn onder andere in die lig van die onregmatige optrede deur die pous en sy ondersteuners, die onderskeid tussen die twee regerings in die mens beklemtoon, wys hy daarop dat hierdie twee regerings in beginsel geensins in stryd met mekaar is nie. Die Anabaptiste wat in reaksie op die Rooms- Katolieke se wederregtelike vermenging van die kerk en die burgerlike owerheid, met die burgerlike owerhede wou wegdoen, of minstens gemeen het dat hulle daarsonder kon klaarkom, het oorreageer.

22 Witte (2007:54) merk op dat Calvyn se vroeëre werke alreeds sy briljantheid aantoon en wys

dat hy die fynere besonderhede van Luther se gedagte van twee parallelle regerings bemeester het en omvorm het om sy eie standpunt te verwoord. Hou egter in gedagte dat Van der Walt (2002:100-107) Luther se siening tipeer as “die kerk langs die wêreld” en Calvyn s’n as “in, maar nie van” die wêreld nie.

23 Vergelyk die bul Unam Sanctam (1302) soos uitgevaardig deur pous Bonifasius VIII

• Die noodsaak aan en nut van die owerheid: Volgens Calvyn (Institusie IV. 20. 3.5) hou die owerheid nie minder voordeel in as die brood wat mense eet en die lug wat hulle inasem nie. Waar die Anabaptiste met die burgerlike owerheid wou wegdoen, meen Calvyn dat die burgerlike regering juis 'n hulpmiddel is - spesifiek in die vestiging van Christus se koninkryk. (Hy handhaaf sy standpunte nie net op grond van die Ou Testament nie, maar ook op grond van die Nuwe – vergelyk IV.20.4.26; 20.5; 20.7.11; veral 20.12.)

• Die roeping van die owerheid en die skopus daarvan: In die bedeling tot en met die wederkoms, is die burgerlike regering bestem om "die uiterlike godsdiens te koester en te beskerm; die gesonde leer van godsvrug en die toestand van die kerk te beskerm; ons lewe na die gemeenskap van mense te skik; ons sedes volgens burgerlike geregtigheid te vorm; ons met mekaar te versoen en die gemeenskaplike vrede en rus te voed." (Institusie IV.20.2.19). Die owerheid moet sorg dra dat

"geen afgodery, geen heiligskennis teen God se Naam, geen laster teen sy waarheid en ander ergernisse teen die godsdiens in die openbaar sou ontstaan en onder die volk uitgestrooi word nie, dat die openbare rus nie versteur word nie, dat elkeen dit wat aan hom behoort, veilig en ongeskonde mag behou; dat mense onderling ongestoord handel mag dryf en dat eerbaarheid en selfbeheersing onder hulle geëerbiedig mag word: Kortom: dat 'n openbare beeld van hulle godsdiens onder Christene moet bestaan en beleefdheid onder mense onder mekaar”. (Institusie IV.20.3.10. Vergelyk Calvyn, 1992:1824.)

Let op na die onderskeid wat Calvyn hier tref tussen die openbare beeld van die Christelike geloof (vergelyk hulle geloof) onder Christene en beleefdheid onder mense in die algemeen – wat nie noodwendig Christene is nie. Die owerhede het dus nie ‘n taak om te sorg vir ‘n openbare beeld van die Christelike geloof onder mense in die algemeen nie.

Calvyn wys daarop dat Christus mense in owerheidsposisies "gode" noem. Hieruit is dit duidelik dat hulle nie net oor mense regeer nie, maar God in hulle ampte moet dien (Institusie IV.20.4.5-12. Vergelyk Calvyn, 1992:1825). Moses en Josafat het dan ook die regters wat hulle aangestel het, gemaan

om in gedagte te hou dat hulle die reg eerstens voor God beoefen. Die feit dat owerhede deur die Voorsienigheid en beskikking van God in hulle ampte is, beteken dat Hy hulle ook bystaan wanneer hulle wette maak en billikheid in hulle uitsprake beoefen. Dawid het almal in owerheidsposisies opgeroep om die Seun van God te soen. In die lig hiervan hoef gelowiges nie uit hulle owerheidsampte te bedank nie, maar moet hulle eerder hulle gesag reg gebruik (Institusie IV.20.5.10. Vergelyk Calvyn, 1992:1827). "Owerhede moet daarom gedurig aan hulle roeping dink, omdat dit vir hulle 'n geweldige prikkel is om hulle tot hulle plig op te wek, en omdat dit sonderlinge vertroosting vir hulle kan bied om die probleme van hulle amp ... te verlig... Met watter vertroue sal hulle onregverdigheid op hulle regbanke toelaat wanneer hulle hoor dat hulle die troon van die lewende God is?" (Institusie IV.20.6.1. Vergelyk Calvyn, 1992:1827). Daarom is dit voor die hand liggend dat die owerheid nie net 'n roeping ten opsigte van die tweede tafel van die wet het nie, maar ook ten opsigte van die eerste. "As die skrif ons nie leer dat dit (die owerheid se plig) oor albei tafels van die wet strek nie, moet ons dit van die heidense skrywers leer." (Institusie IV.20.9.2. Vergelyk Calvyn, 1992:1831.)

• Die (swaard)mag van die owerheid: Na aanleiding van Romeine 13 glo Calvyn dat God swaardmag aan die owerheid gegee het. Hy meen dan ook dat mense (soos die Anabaptiste) wat die owerheid as hulpmiddel in die vestiging van die Koninkryk verwerp asof die kerk op sy eie daartoe in staat is, mense is wat "nie genoegsaam met geweld gedwing kan word om nie kwaad te doen nie" (Institusie IV.20.2.39). In die bedeling tot en met die wederkoms, is straf soms noodsaaklik om "die skenders van die godsvrug te wreek" (Institusie IV. 20.9.32). Volgens die voorbeeld wat mense soos Moses en Dawid gestel het toe hulle vanuit hulle ampte met geweld opgetree het, moet die straf egter altyd sagmoedig toegepas word. As dit die owerheid "se ware geregtigheid is om skuldiges en booswigte met gestrekte swaard te vervolg, sal hulle hulle aan die hoogste pligsversuim skuldig maak as hulle hulle swaarde in hulle skede steek en hulle hande rein van bloed hou terwyl misdadigers intussen goddeloos met moord en doodslag wegkom... Weg egter met 'n kortgebonde wrede strengheid... Ek is trouens nie die soort mens wat onpaslike wreedheid voorstaan nie (aangesien) sagmoedigheid die

vernaamste gawe van vorste is." (Institusie IV. 20.10.60. Vergelyk Calvyn, 1992:1835.) Heel treffend verwys Calvyn egter ook na Nerva onder wie se regering daar besef is dat dit erg is om te leef wanneer niks geoorloof is nie, maar veel erger wanneer alles geoorloof is.

Op hierdie punt moet daar dus 'n paar dinge in gedagte gehou word: Dit is hierbo aangetoon dat Calvyn meen dat die godsdiens ook binne die skopus van die owerheid se taak val. Die feit dat hy hom egter hier (soos hierbo aangetoon) op die Skrif sowel as die heidense skrywers beroep, maak dit duidelik dat Calvyn nie kon bedoel het dat die owerheid 'n taak het om sorg te dra dat alle onderdane byvoorbeeld in die Drie-enige God glo nie24. (Vergelyk ook weer die opmerking hierbo oor die onderskeid wat Calvyn getref het tussen “die openbare beeld van hulle godsdiens onder Christene” en “die beleefdheid onder mense” in die algemeen.) Dit het vir Calvyn daaroor gegaan dat die owerheid moet toesien dat daar ruimte vir godsdiens sal wees. Die owerheid het dalk ‘n roeping, maar wel geen bevoegdheid betreffende dit wat in die privaatheid van elke mens se hart aangaan nie. Die oomblik wanneer iemand se geloof egter in die openbare lewe vrug dra, oftewel in die openbaar tot uiting kom, het die owerheid die roeping om toe te sien dat dit godsvrugtig sal wees.

Dit is dan ook waarom die Anabaptiste inderdaad – selfs met geweld - vervolg moes word. Nie weens hulle (“vals, afwykende”) geloof nie, maar weens die wrange vrugte wat hierdie geloof in die openbare lewe tot gevolg gehad het. Om dieselfde rede moes die owerheid die ware godsdiens beskerm – omdat dit goeie vrug (Calvyn praat verskeie kere van godsvrug) tot gevolg het. Dit is om dieselfde rede dat Calvyn van mening was dat die gereformeerdes ten

24 Witte (2007:46) wys daarop dat die kerk volgens Calvyn se 1536 uitgawe van sy Institusie

(2.28), die gewetensvryheid van Jode, Moslems en self dwaalleraars moes respekteer. Die kerk mog hierdie “vyande van die godsdiens” uit die gemeenskap van die gelowiges weer, en lidmate mag hierdie mense uit die lidmate se sosiale en ekonomiese kringe verstoot. Maar niemand mag hierdie mense onderwerp aan ‘n gedwonge doop, vervolging, kruistogte of inkwisisie nie. In sulke gevalle kon kerklike dissipline maklik in ‘n slagting ontaard. Hierdie mense moet eerder met teregwysing en sagmoedigheid en gebed vir die Here gewen word. Witte wys daarop dat Calvyn hierdie gedagte in sy uitgawe van 1559 (vergelyk IV.12.10) weggelaat het. Hy het die weggelate sinne egter weer in die 1560 Franse uitgawe ingevoeg.

onregte vervolg is. Anders as die Anabaptiste wat vanweë hulle geloofsoortuigings vir alle praktiese redes anargisties was deur te weier om 'n eed van getrouheid aan die koning af te lê, belasting te betaal ensovoorts, wou die Franse gereformeerdes niks anders as waardevolle onderdane van die koning wees nie (vergelyk Calvyn, 1984:110; Vonk, 1956:556).

• Die owerheid se roeping ten opsigte van vryheid: Calvyn gaan van die standpunt uit dat die Anabaptiste nie rekening hou met die sonde wat nog deel is van hierdie bedeling waarin daar nog op Christus se koms gewag word nie. Dis om dié rede dat hulle verkeerdelik meen dat 'n Christen sonder 'n burgerlike owerheid kan klaarkom. Hoewel Christene inderdaad vry is en Christus as koning het, beteken dit geensins dat ‘n Christen nie meer onder die gesag van aardse owerhede staan of mag staan nie. Aardse owerhede word juis geroep om hulle "met die grootste sorgsaamheid daarop toe te lê om te voorkom dat die vryheid waarvan hulle die beskermers is, in enige opsig verminder word." (Institusie IV.20.8.35.)

• Die vorm van regering: Hoewel Calvyn nie 'n sterk voorkeur vir 'n bepaalde vorm van regering uitspreek nie, meen hy dat dit weens mens se gebreke "veiliger en draagliker is dat meer mense die regering in hulle hande moet hê sodat die een die ander wedersydse hulp kan verleen". Volgens Witte (2007:63) het Calvyn ‘n regering verkies wat saamgestel is uit die mense met die beste karakter – ‘n mengsel van demokrasie en aristokrasie. Calvyn het nie baie van suiwer demokrasie gehou nie aangesien dit na sy mening maklik in anargie ontaard het (vergelyk ook Britz, 2008:15).25

• Die rol van wette: Calvyn sien die owerheid as die beskermer en bewaker van die wette waarvolgens hulle regeer (Institusie IV.20.3.31). Hy onderskei tussen die sede-, seremoniële- en regswette in die Bybel (Institusie IV.20.15). Die sedewet gebied alle mense "wat begeer om hulle lewens volgens God se wil te skik" om “God met 'n suiwer geloof en godsvrug te dien" en hulle "medemense met opregte liefde te omhels." Die regswette daarenteen is

daardie wette wat deur die owerhede gegee word ter wille van billikheid en regverdigheid en waarvolgens onderdane in onskuld en rustigheid met mekaar kan saamleef. Hoewel volke vry is om tot hulle voordeel regswette na gelang van omstandighede te maak, moet hierdie wette aan die reël van die liefdeswet beantwoord. Hierop vervolg Calvyn: "Ek meen trouens dat barbaarse en wrede wette soos dié wat diewe vereer het, of wat vleeslike omgang sonder onderskeid toegelaat het, en ander wette wat baie afstootliker en absurder is, glad nie as wette beskou moet word nie." (Institusie IV.20.15.29. Vergelyk Calvyn, 1992:1841.) Let daarop dat die voorbeelde wat Calvyn hier noem die tweede tafel van die wet raak en nie die eerste as sodanig nie. Verder sê Calvyn ook dat die regswette wat volke maak aan die liefdeswet moet voldoen. In die definisie wat hy pas tevore van die sedewet gegee het, vermeld hy die liefde slegs ten opsigte van die naaste. (Hy praat egter nie van liefde teenoor God nie, maar slegs van 'n plig tot diens teenoor Hom). Hoewel Calvyn dus sê dat alle regswette van volke aan die liefdeswet gemeet moet word, vereis hy dus nie dat so ’n wet ook liefde tot die Drie- enige God uitdruklik moet bevorder nie. Ten opsigte van regswette is regverdigheid en billikheid die sleutelwoorde.

Anders as Luther wat in samehang met sy onderskeid tussen die kerk en die burgerlike owerheid, 'n onderskeid tussen die evangelie en die wet wou handhaaf, het Calvyn gemeen dat die wet ook van toepassing was op die openbare gestalte van die godsdiens soos wat dit in die burgerlike lewe tot uiting gekom het. Witte (2007:64) omskryf die doel van politieke owerhede en van die regswet: Albei moes God bystaan om mense so ver te kry om moreel in die openbaar te lewe (“to help achieve the civil use of the moral law”).

Ten slotte kan hier gewys word op 'n kwessie wat Polman (s.j. b : 275) na vore bring. Na aanleiding van sy bespreking van Calvyn se preke, kom hy tot die gevolgtrekking dat Calvyn ‘n onderskeid getref het tussen dié wat weet en dié wat nie weet nie. Christene is toerekeningsvatbaar – Jode en heidene (en

selfs Roomse lidmate) nié26. Dit is my indruk dat die verbondsgedagte hier ‘n

rol speel: Die verbondswraak teenoor ontroues of verbondsverbrekers is erger as teen dié wat nooit deel daarvan geword het nie. “Dit gaan dus nie daaroor dat alle (my beklemtoning) afgodsdienaars gestraf moet word nie, maar om dié wat afgode dien terwyl hulle goed bekend is met ‘n gevestigde kerk en sy vasgestelde liturgie” (Polman s.j. b : 278). Volgens Polman was De Brès (met verwysing na le Baston) en Beza27 dit op hierdie punt eens met Calvyn. Beza

begin sy werk Die straf op ketters (1554) deur die teregstelling van Servet uitvoerig te verdedig. Hall (1996:227) wys daarop dat waar Beza gemeen het dat Christelike prinse valse profete en ketters dus uiteindelik met die swaard moes doodmaak, die verdagtes se leer aan die Skrif gemeet moes word. Voorts moet dit ook in gedagte gehou word dat iemand uit onkunde of weens ’n misverstand kan dwaal. Daar moet boonop ook onderskei word tussen dié wat hulle gedagtes vir hulleself hou en die wat ‘n sekte wil begin. Laastens moet daar ook in gedagte gehou word dat sekere leerstellige sake moeilik en onduidelik is en dat iemand hierin meer beweegruimte gegun moet word as waar die leer duidelik geformuleer is.