• No results found

2. DIE OMSTANDIGHEDE WAARONDER DIE

2.5 Samevatting

• Die doel waarmee die NGB opgestel is en die status wat dit verkry het: Kort na die opstel van die NGB het verskeie kerklike vergaderings geoordeel dat dit met die Skrif ooreenstem. Uiteindelik het die internasionale sinode van Dordrecht die NGB in 1619 as die amptelike een van die drie formuliere van eenheid aanvaar. Die NGB dien vandag nog (tesame met die Heidelbergse Kategismus) as formele samevatting van die hoofsake van die gereformeerde

leer. Guido de Brès het dit egter aanvanklik as belydenis van die gemeente van Doornik opgestel en wou Phillips II, die keiser van die Heilige Romeinse ryk en Heer van die Nederlande, daarmee oortuig dat die owerhede die (Nederlandse) gereformeerdes ten onregte saam met die Anabaptiste vervolg het. Die NGB het ‘n apologetiese inslag waarbinne art. 36 ‘n kardinale rol speel omdat die roeping van die owerhede – ook ten opsigte van die godsdiens - hierin verwoord word. Die voorafgaande artikels toon aan hoe suiwer en in ooreenstemming met die Bybel die gereformeerde leer is. Die verskille met Rome word inderwaarheid onderbeklemtoon in die NGB terwyl die verskille met die (anargistiese) Anabaptiste benadruk word. Anders as laasgenoemdes wou die gereformeerdes, soos uitdruklik bely in art. 36, juis wetsgehoorsame onderdane wees.

• ‘n Veranderende politieke milieu in die Nederlande

Die NGB is opgestel aan die begin van die jare lange tydperk waarin die Protestantse Nederlanders (wat aanvanklik deur hulle Roomse volksgenote ondersteun is) vir hulle onafhanklikheid en vryheid geveg het teen die Roomse owerhede van Spanje. Die NGB is as belydenisskrif aanvaar nadat die onafhanklikheid reeds effektief verseker was en Calvinistiese Nederlanders die politieke beheer in die Nederlande gehad het. Weens druk van die Calviniste het die situasie, wat Willem van Oranje voor sy dood voorsien het en waarvolgens al die godsdienste regsgelyk sou wees, nooit gerealiseer nie en het die Calvinisme (onder andere weens politieke redes) die staatsgodsdiens geword.

• Die Nederlandse polities-godsdienstige vryheidstryd was deel van die groter huishoudelike geveg binne Europa:

Die Nederlande se stryd was deel van ‘n groter proses waarin daar vanaf ‘n verenigde corpus christianum oorgegaan is na ‘n sisteem van landskerke wat op die cuius regio, eius religio beginsel gevestig is. Binne ‘n godsdiensstaat- model30 het godsdienstige geskille tot gewelddadige konflik gelei. Waar die Katolieke Kerk Europa (uitgesonderd die Ortodokse Ooste) op daardie

30 Ek gee hier onder aandag aan die vernaamste verskille modelle waarmee die verhouding

stadium vir eeue gedomineer het, is hierdie kerk nou in Rooms-Katolieke en Protestante verdeel. Hierdie feit moet in gedagte gehou word wanneer ondersoek word wat art. 36 met “afgodery en valse godsdiens” bedoel. Aangesien sowel die Protestante as die Rooms-Katolieke hulleself as die enigste ware verteenwoordigers van die Christendom beskou het, en boonop daaraan gewoond was dat die owerhede die kerk ondersteun het, het albei groepe op eksklusiewe owerheidsbeskerming en hulp teen die ander aangedring. Dis ook aangetoon hoe die Spanjaarde die Calvinistiese Nederlanders ten tye van die vryheidstryd van kettery sowel as hoogverraad aangekla het.

Let ook daarop dat die NGB opgestel is toe die Rooms-Katolieke die corpus christianum nog effektief as godsdiensstaat in stand wou hou. Toe die NGB egter as belydenisskrif aanvaar is, het daar in werklikheid alreeds ‘n staatsgodsdiens-model in die Nederlande gegeld.

• ‘n Persoon met wêreldlike gesag

Daar is in hoofstuk 2 daarop gewys dat die Reformatore nog eerder met persone in gesagsposisies as met “die staat” met sy velerlei staatsamptenare te make gehad het. Hierdie persoonlike inslag dra ook vrug in die formulering van art. 36. (Vergelyk hoofstuk 3.) Selfs vandag waar “die staat” dreig om alles te wil oorheers, is dit nog steeds ‘n “persoon agter ‘n lessenaar” wat prakties die besluite neem en wat aangespreek kan word.

• ‘n Waardige, gesekulariseerde (maar nie-sekularistiese) plek vir die staat.

Daar is aangetoon hoe Luther (en Calvyn) ‘n eie waarde, naas die kerklike, aan die burgerlike lewe toegeken het. Kerklike sowel as wêreldlike owerhede is egter steeds as medewerkers in diens van God se koninkryk beskou. Waar die kerk hom op mense se innerlike moes toespits, moes die wêreldlike owerhede eerder op die uiterlike en veral die openbare uitlewing daarvan fokus. Indien die kerk nie tevrede was met die uitlewing nie, en die persoon nie deur verkondiging en tug oortuig kon word om hom te bekeer nie, kon die wêreldlike owerhede se hulp ingeroep word. Die steun van die wêreldlike

owerhede was dus as noodsaaklik geag vir die welsyn van die kerk en die samelewing. Anders as die Rooms-Katolieke, het die Reformatore tereg besef dat iemand se gewete in werklikheid ‘n onaantasbare terrein bly. Mense kan (byvoorbeeld met geweld) tot gehoorsaamheid gedwing kon word, maar nie tot geloof nie. In hierdie opsig het die Reformatore veel gedoen om die onregmatige beheer te verbreek wat die Roomse hiërargie oor elkeen se gewete en die lewe in die algemeen wou toepas.

• Calvyn het die Reformasie wat Luther begin het, verder gevoer.

Calvyn het beter as Luther daarin geslaag om die implikasies van die nuut ontdekte evangelie na die openbare lewe deur te trek – deels weens sy siening van die verhouding tussen kerk en staat. Hierdie siening het uit sy antropologie voortgespruit. Calvyn was van mening dat die Rooms-Katolieke die onderskeid tussen die innerlike en uiterlike mens en die gepaardgaande onderskeid tussen kerk en wêreld misken het. Gevolglik het die Roomse kerk wêreldlike middele soos geweld gebruik om mense geestelik te (probeer) dwing om te glo. Calvyn het nie net die Roomse siening van die kerk bo die wêreld verwerp nie, maar ook Luther se siening waarvolgens kerk en wêreld langs mekaar staan. Vir Calvyn was die kerk in, maar nie van die wêreld nie. Die owerhede moes toesien dat 'n openbare beeld van hulle godsdiens onder Christene bestaan asook onderlinge beleefdheid tussen mense. Die owerhede moes ketters vervolg, selfs met geweld, omdat hulle die openbare orde bedreig het (en nie weens hulle kettery as sodanig nie). Die owerheid is voorts die beskermer en bewaker van die wet. Waar die sedewet die mense help om God lief te hê en reg te dien, help die regswet om die vrede tussen mense te bewaar. Hierdie regswette moes nie net regverdigheid en billikheid bevorder nie, maar ook aan die eis van die liefde voldoen.

• ‘n Mengsel van aristokrasie en demokrasie

Calvyn het nie ‘n sterk voorkeur vir ‘n regeringsvorm uitgespreek nie. Hy het wel ‘n regering deur diegene met die beste karakter voorgestaan en verkies dat die mag nie in enkeles se hande sal setel nie. Calvyn het, soos Plato vantevore, gemeen dat suiwer demokrasie maklik in anargie ontaard het.

• De Brès het op Calvyn se uitgangspunte voortgebou.

Daar is aangetoon hoe De Brès op Calvyn se gedagtes voortgebou het, en soos Calvyn op grond van die Bybel van mening was dat owerheidspersone deur God aangestel is en gevolglik gehoorsaam moes word. Hierdie owerhede moes, met inagneming van toerekeningsvatbaarheid, help toesien dat mense God dien en hulle swaardmag hiervoor gebruik. Niemand moes of kon egter tot geloof gedwing word nie. Dit is ook (veral op grond van Vonk se argumentasie) aangetoon dat Calvyn en De Brès, hoewel hulle aan die Anabaptistiese Geesdrywery ontkom het, hulle uiteindelik steeds tot ‘n mate aan “kerkdrywery” skuldig gemaak het. Let daarop dat Vonk egter ook argumenteer dat en waarom hierdie “kerkdrywery” nié in art. 36 neerslag gevind het nie (vergelyk hoofstuk 3).

• Die verband tussen artikel 36 en 37

Waar artikel 36 vandag begin met: “Ons glo...” het die woorde aanvanklik gelui: “Ons glo ten slotte...” Hoewel artikel 37 die laaste artikel van die NGB vorm, het laasgenoemde formulering hierdie twee artikels besonder nou verbind. Albei doen ‘n beroep op die owerhede – artikel 36 op die aardse owerhede wat vanuit die Hemel aangestel is, en artikel 37 op die Hemelse Owerheid self.

• Inhoudelik na aan die mediaan

Wat die inhoud betref, staan die NGB redelik in die middel van die spektrum van Reformatoriese belydenisskrifte.

• ‘n Sinvolle en netjies struktuur

Artikel 36 is noukeurig aanmekaargesit sodat die struktuur beklemtoninge en kontraste ondersteun.

In die volgende hoofstuk gee ek aandag aan wat daar in art. 36 oor die owerhede bely word.