• No results found

2. DIE OMSTANDIGHEDE WAARONDER DIE

2.3 Die kerklike (godsdienstige) landskap van die 16de eeu

2.3.2 Guido de Brès – opsteller van die NGB

2.3.3.3 Calvyn en De Brès

Dit is reeds hierbo aangetoon hoe groot Calvyn se invloed op De Brès se denke was. Vonk (1956:555–620) haal uitvoerig aan en maak uittreksels uit Calvyn se brief aan Koning Frans I en boek IV (hoofstuk 11 en 20) van sy Institusie, asook uit die volgende geskrifte van De Brès: le Baston van 1555 (spesifiek die laaste 3 hoofstukke waarin hy oor die owerheid skryf); sy brief aan Phillips II; sy betoog aan die laere magistrate; sy brief aan die kommissarisse van Doornik; ‘n gebed van 1564 waarvan De Brès waarskynlik die outeur was; sy geskrif genaamd Die Wortel en Oorsprong wat spesifiek teen die Anabaptiste gemik was; die koninklike plakkaat van

26 Polman (s.j. b : 275) meen dat die beswaardes agter die 1905 besluit van die Gereformeerde

Kerken om art. 36 te wysig – wat Calvyn betref – nagelaat het om sy gedagtes vanuit sy preke na te spoor en daarom ‘n skewe beeld van sy gedagtes geskep het. Sien Hoofstuk 3 waar hierdie saak bespreek word.

27 Witte (2007:129,140) toon aan dat Beza (1519 - 1605) later in sy lewe van standpunt

verander het – op daardie stadium was De Brès egter lank reeds oorlede. In hoofstuk 4 gee ek in besonder aandag aan die verandering in Beza se standpunt.

14 Desember 1566 (waarin Vallenciennes tot rebelse stad verklaar is) en die burgers se antwoord daarop. Op grond van hierdie uittreksels maak Vonk (1956:620 – 625) tien “opmerkings” waarin hy die gedagtes van Calvyn en De Brès aangaande die sake wat in art. 36 aan die orde kom, saamvat: Ek gee vervolgens ’n samevattende oorsig van Vonk se stellings.

Een: Calvyn sowel as De Brès het met oorvloedige en oortuigende Skrifbewyse aangetoon dat owerhede deur God ingestel is en dat dit oor konkrete persone gaan – of dié nou goedhartig of boos was – wat gehoorsaam moes word.

Twee: Die owerhede het nie net ‘n taak ten opsigte van mense nie, maar beslis ook teenoor God, byvoorbeeld om sy eer en heilige Naam te beskerm binne die gebiede waaroor Hy hulle aangestel het. Albei tafels van die wet is hier van toepassing. Vonk (1956:621) wys in sy bespreking van Calvyn en De Brès op die Confessio Gallicana waarin uitdruklik bely word dat die owerheid nie net die tweede tafel van die wet in gedagte moet hou nie, maar beslis ook die eerste. Die owerheid moet dus nie net daarvoor sorg dat mense nie die sabbat ontheilig deur dit byvoorbeeld vir ander onmoontlik te maak om eredienste by te woon nie, maar het ook ‘n plig om op te tree wanneer dwaalleer tydens die erediens verkondig sou word. (Let egter op na my bespreking hierbo van die mate waarin die eerste tafel toegepas moes word.) Drie: God het aan die owerhede die swaardmag gegee en met goeie rede. Calvyn sowel as De Brès was oortuig dat almal voor die owerheid se swaardmag moes buig en die owerheid deur die betaal van belasting in staat moes stel om die swaardmag uit te oefen.

Vier. Die owerheid se mag was egter allermins onbeperk. Soos Sadrag, Mesag en Abednego hoef niemand ‘n opdrag te gehoorsaam wat duidelik met God se Woord bots nie, en mag hulle dit ook nie gehoorsaam nie.

Vyf: Volgens Calvyn moes die burgerlike en kerklike regering nie verwar word nie. Calvyn het hierdie punt veral beklemtoon in reaksie op mense wat hulle ten onregte op die Skrif beroep het om hul standpunt te staaf dat gelowiges nie aan aardse owerhede gehoorsaamheid of diens hoef te bewys nie.

Ses: De Brès was oortuig dat geen mens (ingesluit die owerheid) iemand tot geloof mag of kan dwing nie. Mense mag wegvlug as die owerheid hulle vanweë hulle ware geloof vervolg. De Brès meen ook as iemand wat geloofsaangeleenthede betref, iets uit dwang doen, dit niks werd is nie.

Waar Vonk hom tot op hierdie punt heelhartig met Calvyn en De Brès vereenselwig het, is hy vervolgens meer krities:

Sewe: Vonk (1956:623) kom tot die gevolgtrekking dat De Brès se siening dat geen mens iemand anders tot geloof kan dwing nie en sy aandrang dat die owerheid ketters moet straf, logies met mekaar bots. Vonk meen voorts ook dat De Brès wou gehad het dat die owerheid nie net teen die ketters wat die rus verstoor, moes optree nie, maar ook teen hulle leer of hulle nou die rus versteur het of nie. Hier is dus 'n belangrike verskil in die denke van Calvyn en De Brès.

Agt: Voorts vra Vonk hoe dit moontlik is dat iemand die opvatting kan huldig dat die owerhede ketters (wat die rus verstoor) asook ketterse leer moet bestry, as hy terselfdertyd ook geloofsdwang verwerp en boonop meen dat gelowiges die reg het om hulleself vir vervolgers te versteek. ‘n Ketter sou hom tog ook op laasgenoemde reg kon beroep. Hiermee saam wys Vonk ook op die skerp onderskeid wat Calvyn en De Brès tussen die burgerlike en kerklike owerhede getref het en vra dan hoe die burgerlike owerhede in die lig van dié onderskeid teen ketters en hulle leer kan optree. Vonk meen dat hierdie, na sy mening, logies-inkonsekwente gedagtegang van Calvyn en De Brès voortspruit uit “die al te grote gelykstelling van die owerhede onder die O.T. met die onder die N.T., waartoe Calvyn en De Brès hulle laat verlei het”. Hoewel Vonk toegee dat Calvyn niks wou weet van diegene wat elke regering afgekeur het wat nie volledig volgens die wette van Moses ingerig was nie, het Calvyn en De Brès tog gemeen dat die owerhede van Christenvolke die voorbeeld van Judese konings soos Asa, Hiskia en Josia moes navolg. Hierdie regeerders moes “de scherpte des zwaards” vir die kerk opneem en wel om (volgens Vonk vanselfsprekend) die kerk se burgerlike regte en vryhede te beskerm en om (volgens Vonk nie vanselfsprekend nie) ketterse leer te bestraf en om derdens bepaald die kerk se “voedsterheren” (oppassers

/ nursing fathers) te wees. Laasgenoemde is ontleen aan Jesaja 49:23 asof “die gedeelte spesifiek op Christenvorste of altans op vorste tydens die nuwe bedeling bedoel word en nie eenvoudig wys dat God Hom selfs deur die aansienlikste mense op aarde, soos Kores, sou laat bedien in die herstel van Sion, nie. Maar veral: asof die konings van Israel gelyk te gestel sou wees met die vorste van die Christene. En asof die koninkryk van Christus ooit met vleeslike wapens uitgebrei sou moet word (2 Kor. 10:4) in plaas van net met die swaard van die Gees, oftewel die Woord van Gods.” (Vonk, 1956:624.) Nege: Uiteindelik skryf Vonk: “Met die beste wil ter wêreld en ondanks die diepste respek wat ons jeens godvrugtige mense soos De Brès en Calvyn betaam, kan ons nie in hulle gedagtes aangaande die owerheid en die se taak jeens God, sy Woord en sy Kerk, ‘n volkome harmonie ontdek nie. Die gedagtes ly onder onderlinge teenspraak”. En:

Tien: “Was Calvyn en De Brès dus immuun teen die gees van kerkdrywery? Nee.” Hulle was wel bewaar van die, volgens Vonk, “belaglike absolutisme van die Dopers”. Hulle het hulle ook nie aan die oorskatting van die kerk deur die Rooms-Katolieke skuldig gemaak nie en het die leer van die twee swaarde wat volgens die Rooms-Katolieke albei in die hand van die pous sou wees, verwerp. Hoewel hulle van twee owerhede, die burgerlike en die kerklike praat, het hulle nie die ou Roomse opvatting dat die owerheid die ketters met hulle ketterse leer moes teenstaan, totaal verwerp nie. “Ons het wel die troos, al is dit skraal, dat hulle hierdie Roomse idee ten minste nie konsekwent gevolg het nie.”

In dié lig gesien was die Reformatore kinders van hulle tyd. Die situasie waarin hulle, hulle bevind het, het ‘n rol gespeel in die formulering van hulle gedagtes - spesifiek ook in De Brès se formulering van art. 36. Die Reformatore moes in meer as een opsig aan twee dubbel fronte veg. Aan die een kant moes daar teen indifferentisme sowel as eksklusivisme gewaak word Aan die ander kant moes die Reformatore weerstand teen kerkdrywery sowel as geesdrywery bied.

nie noodwendig net as teenpole gesien moet word met die gereformeerdes as die gematigde middeweg nie. Die Anabaptiste het in baie opsigte steeds Roomse gedagtes aangehang sodat die stryd tussen die Anabaptiste en die Rooms-Katolieke selfs in terme van ‘n familiegeveg beskou kan word (Vonk, 1956:551). Hy wys ook op die felheid waarmee die Anabaptiste die “buitentrou” veroordeel het, en op die Anabaptiste se veragting van die opgeleide gereformeerde predikante.

2.3.3.4 'n Beoordeling van die verhouding van die owerheid en die kerk tydens die 16de eeu

In die moderne (Westerse) demokratiese samelewing word godsdiens (en kerklidmaatskap) hoofsaaklik as 'n persoonlike saak gesien. Jonker (1994:86) wys daarop dat die moderne staat feitlik nie anders kan as om van 'n skeiding van kerk en staat uit te gaan en vryheid van godsdiens vir al sy burgers te waarborg nie. Vir hom is die verhouding van die kerk tot die staat dieselfde as dié waarin die staat tot vrywillige organisasies staan. Dít is wêrelde verwyder van die situasie van die 16de en 17de eeue soos hierbo beskrywe. Op daardie stadium het die beginsel van cuius regio, eius religio wel 'n mate van godsdiensvryheid gebied – maar nog nie werklik op persoonlike vlak nie aangesien owerhede steeds bepaal het wat die wettige godsdiens van die mense onder hulle jurisdiksie was. Godsdiens en politiek was in baie gevalle skaars onderskeibaar. Wat vandag as flagrante owerheidsinmenging beskou sal word, was destyds die algemeen aanvaarde praktyk. In dié lig gesien is dit te verstane dat daar in artikel 37 van die NGB geheel sonder fanfare met die oog op die wederkoms gestel kan word: "Dan sal dit bekend word dat hulle saak, wat tans deur baie regters en owerhede as ketters en goddeloos veroordeel word, die saak van die Seun van God is" (my kursivering). Dis byna ondenkbaar dat 'n demokratiese regering hom vandag die verantwoordelikheid of die jurisdiksie sal toeëien om te besluit of iemand goddeloos of 'n ketter is - wat nog te sê om iemand daaroor te veroordeel en te straf.

Die vraag is dus nou hoe art. 36, wat opgestel is binne 'n milieu waarin die verhouding van die owerheid en die godsdiens, sowel as die van die kerk en

die staat, drasties van die hedendaagse situasie verskil, vandag verstaan en toegepas moet word.

Ek meen dat dit ook belangrik is om te onthou dat die samelewing van die 16de eeu kerklik gesproke hoegenaamd nie tot dieselfde mate as vandag gepolariseerd was nie. Daar is tans talle onafhanklike kerke of groepe in die samelewing – elk met sy eie standpunt. Hierteenoor was daar in die 16de eeu as’t ware slegs een omvattende kerk waarbinne verskillende standpunte gehuldig is. Selfs Luther wou byvoorbeeld nie met die Katolieke Kerk breek nie, maar het wel die dwaalleer en wanpraktyke daarbinne aangeval. Dis ook hierbo aangetoon dat die Anabaptiste ook tot 'n groot mate deel van die Roomse familie was. Dit sou vir baie lank nog die onderliggende gedagte wees dat een gebied net een kerk kan akkommodeer. Waar verskillende standpunte vandag kerke teenoor mekaar en toenemend langs mekaar opstel, het verskillende standpunte destyds met mekaar binne die een kerk gekompeteer. Met hierdie perspektief in gedagte, is dit verstaanbaar waarom verskillende denkrigtings tydens die 16de eeu nie so maklik geakkommodeer is as wat dit vandag gedoen word nie. As een mens vandag van iemand anders verskil, is dit verstaanbaar, want “hy is van ‘n ander kerk”. Ek kan hom gevolglik ignoreer as ek wil. In die 16de eeu was so iemand egter van my kerk (die kerk) en kon ek hom nie sonder meer ignoreer nie. Vervolgens is dit ook verstaanbaar dat Calvyn baie strenger teen ‘n ketter in eie midde sou wou optree as teen ‘n heiden daar buite. Binne die godsdienstige landskap was daar basies net die Christelike kerk, die Jode en die Moslems. Dit verklaar waarom die verskille tussen Christene anders beoordeel en hanteer is as vandag.