• No results found

Motiewe, ruimtes en personasies het herhaaldelik in al drie die tekste voorgekom. Daar is deurentyd in hierdie studie daarna verwys hoe motiewe uit die drie tekste oorvleuel, vooruitwys of teruggryp na mekaar en in meerdere gevalle kan ’n tematiese ontwikkeling ten opsigte van motiewe uitgewys word. Daar is aangetoon dat dieselfde persone, die Kaapse ruimte en ook die tema rond emigrasie in al drie tekste sentraal staan.

Wat ontwikkeling van die tema betref, het die eerste teks gehandel oor die bewuswording van die ontwrigting wat ’n emigrasie tot gevolg het en is die vervreemding van ’n gesin in daardie situasie beskryf soos waargeneem deur ’n afstandelike verteller. Die tweede teks het getoon dat die soeke na ’n tuiste vir ’n emigrant nooit ophou nie, dat kameleontiese gedrag ’n manier is om om te gaan met ’n verskeurde verlede, maar dat genesing lê in die opdelf van die geskiedenis en die aanvaarding van alle skoonheid en wreedheid daarin. Waar die eerste teks hoofsaaklik oor die outobiografiese karakter gehandel het, is daar ’n geleidelike beweging na mede- hoofkarakter in Tikoes en uiteindelik na ’n newe-karakter in die laaste teks wat ook nie meer net observeer nie, maar ook kommentaar lewer op die omgewing wat hom gevorm het.

Die laaste teks fokus op die ontheemding wat as gevolg van identiteitsloosheid diep psigologiese oorsake het en dat dit noodwendig lei tot ’n daad van regstelling. Dit is noodsaaklik om vorm aan die probleem te gee.

Van Woerden het aan sy gevoel van onvervuldheid vorm gegee deur drie tekste te skryf. Sy dilemma is die tematiese kern van die drie tekste wat in elke teks herhaal word,

naamlik die trauma van ’n landsverhuiser, die verskeurdheid, tuisteloosheid en ervaring van identiteitsloosheid wat dit tot gevolg het.

’n Totaalbetekenis word bewerkstellig wat nie in die afsonderlike dele gerealiseer is nie: vormgewing in die verwerking van ’n verskeurde verlede is ’n noodsaaklikheid. Dit is ’n pynlike proses, maar lei tot heling. Heling is noodsaaklik aangesien nóg afstandelikheid, nóg kameleontiese gedrag ’n identiteitsgevoel verseker.

Die drie tekste kom dus die voorwaardes van Van Coller se siklusdefinisie na en voortaan kan van Henk van Woerden se Kaapse trilogie gepraat word.

Hoofstuk 5

Henk van Woerden se Kaapse trilogie as ’n vorm van bekentenisliteratuur

5.1 Inleiding

Geen van die drie tekste in die trilogie van Van Woerden word met nadruk as óf ’n roman óf as ’n outobiografie gepresenteer nie. Veral die derde, Een mond vol glas, wat die lewe van Demitrios Tsafendas betrek, lê op die grens tussen feit en fiksie. Die boek het fel kritiek uitgelok by meerdere kritici en ook politici. Van Woerden is beskuldig daarvan dat hy nie ’n objektiewe presentasie gee van die spesifieke periode waarin die gebeure afspeel nie. Dit behels veral Van Woerden se beskrywing van die politieke situasie gedurende die apartheidsjare in Suid-Afrika. Die regse politikus Jaap Marais, gaan sover as om Van Woerden “’n politieke barbaar” rakende die Suid-Afrikaanse geskiedenis te noem (Marais, 2000:7). Boos skryf hy: “Van Woerden se bevatlikheid vir feite of sy redenasievermoë is kennelik gebrekkig, anders sou hy sy misvattings besef het.” En verder: “Hierdie boek met sy heen en weer slingerende brokke en grepe vanaf Tsafendas se geboorte in 1918 tot stukke oor die moslem-organisasie PAGAD (…) is blykbaar in geheime opdrag geskryf om veral die Suid-Afrikaanse geskiedenis van die sestigerjare om te dop” (Marais, 2000:12).

In hierdie ondersoek word die geldigheid van hierdie kritiek bevraagteken en geargumenteer dat hierdie teks anders beoordeel moet word en wel as deel van ’n trilogie behorende tot ’n bepaalde literêre genre. Die doel van die hoofstuk is om agter te probeer kom tot watter genre die betrokke siklus behoort en of dit inderdaad ’n verskil maak in beoordeling as die genre waartoe dit behoort, in ag geneem word.

Die probleem is dat die tekste oor ’n spesifieke historiese periode in die Suid- Afrikaanse geskiedenis handel en heelwat outobiografiese informasie oor Henk van Woerden bevat, maar terselftertyd kan baie fiksionele elemente geïdentifiseer word. Verander die genre waarin dit geskryf is die wyse waarop die tekste beoordeel moet word, byvoorbeeld, het die genre ’n invloed op hoe na die objektiwiteit van die skrywer gekyk word? Waarom lok hierdie manier van skryf soveel reaksie uit? Wat is die funksie van Van Woerden se manier van skryf, regverdig dit die vermenging van feit en fiksie? Wat is die risiko’s?

Die eerste deel van hierdie hoofstuk sal sekere teoretiese aspekte van skryf oor waarheidsgebeure en die skryf van fiksie behandel. Ingesluit in hierdie bespreking is die spel van “make-believe” en die kontrak tussen skrywer en leser. In die volgende deel sal

ondersoek ingestel word na moontlike genres waartoe Moenie kyk nie, Tikoes en Een mond vol glas kan behoort. Aangesien Henk van Woerden se beskrywing van sy eie ervaringe gedurende die jare 1957 tot ongeveer 1996 vermeng word met die lewensverhaal van ander karakters11, en omdat die sosio-politiese omstandighede van daardie tyd weergegee word, sal elemente van outobiografiese en bekentenisliteratuur sowel as historiese fiksie bespreek word in ’n poging om die tekste genologies te plaas. Verder sal gepoog word om aan te toon dat Van Woerden se manier van skryf aansluit by ’n ander erkende narratologiese stroom, naamlik New Journalism en dat ook Fludernik se definisie van experientiality ruimte laat vir ’n meer persoonlike representasie van “real- life experience”.