• No results found

Aspekte van skryf oor waarheidsgebeure versus die skryf van fiksie

Wanneer die meeste teoretici hul uitlaat oor feitelik skryf teenoor fiktief skryf, word veral een ding duidelik; dit is dat die skrywer ’n ondubbelsinnige aanduiding moet gee as wat geskryf is op feite berus en hy/sy moet rekenskap gee van hoe die feite bekom is. De Jong wys daarop dat dit moontlik is om weer te gee hoe ’n teks gelees moet word:

De vraag of er controleerbare overeenkomst bestaat tussen het geschreven en de werkelijkheid waarover geschreven wordt, is in een autobiografie van minder belang dan in wetenschappelijke of journalistieke teksten. In welke mate een auteur de waarheid schrijft over zijn eigen leven, lijkt ook moeilijker achterhaalbaar. Maar wel bestaan er objectieve maatstaven om vast te stellen hoe de schrijver wenst dat zijn tekst zal worden gelezen: als een relaas van fictie of als een relaas van feiten (1989:110).

Dit is nie slegs moontlik om ’n aanduiding te gee van hoe ’n teks gelees moet word nie, dit kan van ’n outeur verwag word: “Het is de taak van een auteur zijn lezer duidelijk te maken volgens welk waarheidscriterium hij zijn tekst gelezen wil hebben. En het is een zaak van de lezer om vast te stellen of de auteur zijn boek of zijn boekje te buiten gaat” (De Jong, 1989:168).

Ann Rigney (1990:17) voel ook sterk daaroor:

(I)t is not enough for the historian (…) to succeed in constructing a coherent story, with a particular significance, from the diverse events which he chooses to present to the reader. If it is to be recognized as history, if it is to have authority as such, his narrative must also be seen to represent, in the sense of ‘standing for’, historical reality. At its simplest, this means that the historian-narrator must respect the conventions of historiographical discourse and in one way or another, indicate the basis of his account in fact: the extent of his research and the trustworthiness or ‘authority’ of his source text (…).

Net so belangrik is die skrywer se verantwoordelikheid om die leser te lei in die verwagting van die teks. Maatje (aangehaal in Jongeneel, 1989) praat van “een stilzwijgende afspraak” wat tussen leser en skrywer tot stand moet kom. As die teks op feitelikheid berus, moet dit aangedui word. As fiksie oorwegend die doel is, moet dit ook eksplisiet of implisiet duidelik gemaak word. Twee aspekte van fiksioneel skryf in

besonder kan nie misgekyk word nie, naamlik die representasie van iemand anders se bewussyn (waaroor Hamburger in 1957 al geskryf het) en die gebruikmaak van die “make-believe-game” (Rigney, 1998:138). Dit is onmoontlik om te bedink wat in ’n ander se gedagtes omgaan sonder om verbeelding te gebruik. Verbeelding aan die ander kant, funksioneer as die sleutelelement van fiksie: “Die term fiksie word in die algemeen gebruik om tekste aan te dui wat versin is, wat uit die verbeelding en deur die verbeelding van ’n outeur ontstaan” (Du Plooy, 1992:129). ’n Outeur se intensie om ’n verhaal te vertel wat deur die verbeelding ontstaan het, kan aan die leser duidelik gemaak word deur byvoorbeeld taalhandelinge. ’n Verhaal wat begin met, om Genette (1993:39) se voorbeeld aan te haal: “Once upon a time there was a little girl who lived with her mother at the edge of a forest”, word verstaan as die versoek: “Please imagine with me that once upon a time there was a little girl...”. Genette noem taalhandelinge soos byvoorbeeld “Eendag lank, lank gelede”, “acts of fiction” (1993:30). Dit is dus nie waar in die wêreld soos ons dit ken nie, maar die taalhandeling vra van die leser om hom of haar voor te stel dat dit in ’n ander tyd en ruimte so sou kon wees.

Behalwe die representasie van ’n ander se bewussyn, die gebruik van die make- believe-game, verbeelding en taalhandelinge, is daar ander aspekte wat fiksie aandui. In sy bespreking van Jan Wolkers se Terug naar Oegstgeest, blyk die gestruktureerde hoofstukindeling vir Van Coller13 ’n romanagtige ingreep op die persoonlike geskiedenis te wees. Hy noem ook dat die gebruik van ’n motto die interpretatiewe aard van die roman vooraf aandui.

Meer indekse van fiksie is die genre-aanduiding op die voorblad van ’n teks, byvoorbeeld “roman” of andersins karaktername wat die waarde van romanmatige tekens het (Genette, 1993:79).

Van Zoest (1980) noem verder literariteit (1980:21), geykte literêre kunsgrepe (1980:22), die keurige indeling van ’n prosateks in leesbare brokke van oorsigtelike lengte (1980:24), teatraliteit (1980:25) en die identifikasie met karakters, as fiksionele indikasies (1980:17 en 60).

Den Boef (1990:6) beskou Terug naar Oegstgeest as ’n fiksionele teks op grond van die gebruik van prolepse, die herhaling van motiewe en simbole, literêre konstruksie en tematiese ooreenkomste met ander tekste in ’n skrywer se oeuvre. Oor die gebruik van prolepse as fiksionele gereedskap, het Genette ook geskryf (1990:757-759). Hy gaan ’n

13 Van Coller, H.P. “Terug naar Oegstgeest (Jan Wolkers) als autobiografie.” Ongepubliseerde

gesprek aan met Barbara Herrnstein Smith, wat na aanleiding van sy uitspraak dat anachronie meer dikwels voorkom in romans as in die epiese tradisie, argumenteer dat absolute chronologiese volgorde byna nooit in narratiewe voorkom nie, maar sou dit enigsins die geval wees, is die kans beter dat dit in selfbewuste, “kunstige” of “literêre” tekste gebeur as in feitelike narratief. Genette gee haar gelyk, maar noem nog daarby dat niks feitelike narratief verhoed om van analepse en prolepse gebruik te maak nie. Nog ’n punt rakende die vraagstuk rond die verskille tussen fiksie en nie-fiksie in hul hantering van chronologie word dan uitgelig. Die vraag is wanneer, en of wel, die vergelyking tussen die orde van die fabula en die orde van die sjuzet moontlik is. Herrnstein Smith se antwoord is dat dit alleen moontlik is wanneer die kritikus beskik oor ’n onafhanklike, ekstra-tekstuele bron van informasie oor die opeenvolging van die gebeure. Dit is alleen moontlik in die geval van fiksie wat gebaseer is op vroeëre werk, byvoorbeeld nog ’n weergawe van Aspoestertjie en in die geval van historiese narratief. Hierin verskil Genette van haar omdat anachronieë (tydsafwykinge tussen die fabula en sjuzet) in fiktiewe sowel as feitelike narratiewe in die teks self uitgelê word. Daarom vind Genette dat anachronie nie ’n onderskeid tussen fiktiewe en feitelike narratief klinkklaar kan aandui nie. In die bespreking wat later gaan volg oor of Van Woerden se tekste wel of nie fiktief is, gaan die gebruik van analepse en prolepse ook nie hanteer word as strategie wat alleen vir fiksie weggelê is nie, maar wel dat ’n feitelike weergawe sigself tot ’n mate fiksionaliseer daardeur, soos Genette voorstel (1990:773). Fiksionalisering volgens Van Gorp (1998:166), het betrekking op die proses waardeur die buitetekstuele werklikheid in ’n tekstuele werklikheid verander word. Vir Genette (1990:766, waar hy Käte Hamburger gelyk daarin gee) is ’n fiksionaliserende strategie die aanwesigheid van uitgebreide beelde en beskrywings en lang dialoë, asook interne fokalisasie (1993:68). Volgens Alyth Grant (1990:192) is dit gebruiklik dat skrywers fiksionele middele gebruik om gapings te vul in dokumentêre bewys wat spruit uit die verloop van tyd of beperkinge van kindertyd observasies. As fiksionele middele noem hy die konstruering van gesprekke. Die omgekeerde argument kom ook voor. Vir Collett (1989:344) is dit aanvaarbaar om feitelike gebeure te gebruik in fiksionele tekste as dramatiese strategie. ’n Laaste aspek van fiksie is dat dit nader aan die waarheid in ’n universele sin kan kom as ’n spesifieke of unieke feit (Du Plooy, 1992:129). Dit word onderstreep deur ander teoretici se idees oor historiese fiksie wat aansluit daarin dat die groter betekenis of funksie belangriker is as die korrektheid van feite.

Die bogenoemde middele kan dus prakties gebruik word om te toets of ’n teks in die kamp van fiksie geplaas kan word. Hierteenoor, as ’n teks as feitelik voorgehou word, moet dit duidelik vermeld en rekenskap gegee word van hoe die feite versamel is.