• No results found

Individualisme en sosiale verbondheid

Jaap Goedegebuure (2001) wys in sy referaat “Region as a mirror of the world” op voorbeelde van tekste wat gedomineer word deur die balans tussen individualisme en sosiale verbondenheid. Edgar du Perron byvoorbeeld, met sy outobiografiese Het land van herkomst (1935) en A.F.Th. van der Heijden met De tandeloze tijd (1983) is skrywers wat tipe en karakter, soos gemanifesteer in die verhouding tussen fiksie en realiteit, sintetiseer. Ook die Vlaming Louis-Paul Boon het herhaaldelik geskryf oor sy sosiale herkoms, naamlik as werkersklasinwoner van die industriële dorp Aalst, in Oos- Vlaandere. Sy werk is menigmaal beskou as ’n mengsel van feit en fiksie, van verbeelding en realiteit, van die situasie in sy onmiddellike omgewing en universele waarheid. Nie net in die uitbeelding van die omgewing waarin hy opgegroei het nie, maar ook in sy beskrywing van oorlogsgebeure. Goedegebuure noem literatuur, sover dit betrokke is by sosiale geskiedenis, ’n voorloper van historiografie. ’n Klein omgewing of persoonlike (soms outobiografiese) realiteit kan lig werp op ’n sosiale realiteit of

universele waarheid, en dit word gebruik deur meerdere Nederlandse skrywers. Van Woerden tel onder hulle. Sy leefwêreld as migrant dra die universele waarheid dat ontnugtering, ontheemding en die soeke na identiteit daarmee saamgaan. Sy ervaring van rassediskriminasie in ’n spesifieke land sê iets algemeen oor hierdie kwessie.

6.6 Slotsom

Van Woerden se “veelsydige” trilogie vind ’n plek in die Nederlandse literatuursisteem tussen tekste wat deur ’n oorvleueling van genres gekenmerk word, of meer spesifiek: wat wegdoen met duidelike grense tussen waarheid en fiksie. Dit behels veral tekste wat uit ’n gedrewenheid geskryf is, met aanvaarding of heelwording as groter ideaal as feitelike presisie. Die migranteliteratuur in Nederland waarmee Van Woerden se werk ooreenkomste toon, vind hierby aansluiting. Dit gaan hier oor skrywers wat aan ’n hunkering na wortels en identiteit gestalte gee in literêre vorm. Migranteliteratuur hang nou saam met (post)koloniale literatuur; kolonialisme het grootskaalse migrasies teweeggebring.

’n Ander aansluiting by die huidige literatuur in Nederland, vind Van Woerden se tekste by die literêre reisjoernalistiek. Verder toon dit ooreenkomste met heelwat tekste waarin daar ’n verband is tussen individualisme en sosiale verbondenheid - met ander woorde tekste waarin outeurs hul eie persoonlike beleefwêreld uitbeeld, maar daardeur ’n groter sosiale realiteit beskryf en ’n universele waarheid uitspreek.

Hoofstuk 7

Aansluiting by Afrikaanse tekste

7.1 Inleiding

Daar is in die vorige hoofstuk gekyk na die wyse waarop Henk van Woerden se trilogie aansluiting - tematies en met betrekking tot genre - gevind het by verskillende Nederlandse tekste. In hierdie hoofstuk gaan die drie boeke bespreek word in relasie tot Afrikaanse literêre tendense en spesifieke prosatekste. Dit behels literatuur sedert die laat sewentigerjare en nie alle strominge waarvan in hierdie tyd sprake was, sal aan bod kom nie, slegs dié waarmee Van Woerden se werk groot ooreenkomste toon.

Eers gaan die toepaslike tendense in die literatuur sedert die laat sewentigerjare kortliks en sover moontlik met voorbeelde bespreek word. Na elke bespreking gaan punte van ooreenkoms uitgelig word en waar Van Woerden se tekste interessante gesprekke aanknoop met Afrikaanse tekste of bydra tot ’n diskoers, sal dit aangetoon word. Die doel daarvan is om te kyk by watter literêre tendense Moenie kyk nie, Tikoes en Een mond vol glas aansluiting vind, te poog om Van Woerden se werk ’n plek te gee in die Afrikaanse literatuursisteem.

’n Bekende verskynsel in die Afrikaanse literatuur van die laat sewentigerjare, is dat skrywers hul dikwels besig gehou het met die tema van geweld. Roos (1998:82) noem dit ’n preokkupasie met die tema van geweld. Gedurende die tagtigerjare oorheers postmodernistiese literatuur in Afrikaans. In hierdie hoofstuk word geen poging gewaag om ’n definisie vir die breë terrein van postmodernisme te gee nie, maar slegs enkele kenmerke uit te lig wat op die bespreking wat volg, van toepassing is. ’n Belangrike tendens in hierdie tyd is die rol van die leser wat belangrik word: “Wat na vore kom, is literatuur as kommunikasie. Literatuur as in wese ’n gesprek. Tussen skrywers en lesers” (Botha, 1993:4). Die omringende konteks en “lewensdinge” (Botha,1993:3) in hierdie gesprek “het enersyds weer die belangrikheid van die literatuur as ’n geestesbesit én as funksie van die mens se gees na vore gebring” (Botha, 1993:3). Smuts (1993:23) lig uit dat in hierdie periode uitdrukking gegee is aan die ervaringswêreld van Suid- Afrikaners, “veral aan die gevoel van uitsigloosheid en magteloosheid”, want die jare tagtig was ’n periode van politieke neerslagtigheid in Suid-Afrika.

Metafiksionele tekste kom algemeen voor in die potmodernistiese periode. J.P. Smuts (1993:23-24) skryf dat die opkoms van die metafiksionele teks in die jare tagtig is.

Verder kan in die postmodernistiese literatuur ’n verheerliking van die alledaagse, betrokkenheid by die aktuele, ’n aftakeling van gesagsimbole en ’n politieke aversie gesien word. Dokumentêre realisme en die vervaging van die skeidslyne tussen waarheid en verdigsel, literêre genres en vorms, is belangrike kenmerke van postmodernisme (Roos, 1998 en Botha, 1993).

Afrikaanse literatuur in die negentigerjare toon ’n belangstelling in die persoonlike en kollektiewe verlede. Van Coller (2001:145) stel voor dat die groot belangstelling in die eie (Suid-Afrikaanse) verlede deur die honderdjarige herdenking van die Anglo- Boereoorlog (1899-1902) gesinjaleer is. Geskiedskrywing verskyn veral in die vorm van bekentenisliteratuur, en dit is veral verkapte outobiografieë wat talryk is in die negentigerjare. Mark Behr se Die reuk van appels (1993) en Jeanne Goosen se Ons is nie almal so nie (2000) tel onder die bekendstes.

Ook by swart skrywers, wat hoofsaaklik in Engels skryf, kan ’n groot belangstelling in die individuele, maar veral die kollektiewe verlede opgemerk word. Eduan Swanepoel (1996:20) toon hoe die Afrika-filosofie van ubuntu (’n persoon is wat hy is as gevolg van en deur ander mense) in outobiografieë van verskeie swart Suid-Afrikaanse skrywers neerslag vind. In baie van hierdie tekste word teruggekyk na die verlede en deur die beskrywing van die gemeenskaplike ervaring van die geskiedenis, verkry die tekste die funksie om groepsidentiteit te herstruktureer. Sam Raditlhalo behandel in sy proefskrif Who am I? die outobiografie as genre by swart Suid-Afrikaanse outeurs.

Nog ’n manier waarop omgegaan word met die kollektiewe verlede, is wat Van Coller (1997:14) noem post mortem-literatuur. Dit omvat literatuur wat op die prinsipe waarop ook die Waarheid- en Versoeningskommissie (WVK) gebaseer is, naamlik dat ’n nuwe begin na ’n onaangename verlede ’n konfrontasie daarmee en boetedoening noodsaak. Die laaste tendens waaraan hier aandag gegee gaan word, is postkolonialisme. Louise Viljoen (2003:1-18) toon in haar artikel “Postkolonialisme en die Afrikaanse letterkunde: ’n verkenning van die rol van enkele gemarginaliseerde diskoerse”, dat die Suid- Afrikaanse situasie, waar kolonialisme en postkolonialisme nie afsonderlike eenhede is wat maklik uitmekaar gehou kan word nie, kompleks en heterogeen is. Ander gemarginaliseerde diskoerse, byvoorbeeld dié oor feminisme en homoseksualiteit, dra by tot die postkolonialistiese diskoers aangesien dit ook uitspraak lewer teen blanke, manlike onderdrukking. Dit is veral tot hierdie diskoers wat Van Woerden se tekste ’n interessante bydrae lewer.