• No results found

In Tikoes kan weereens baie outobiografiese gegewens van Henk van Woerden geïdentifiseer word en Suid-Afrika speel opnuut ’n sentrale rol.

Die tema is die herontdekking van ’n land in ’n landsverhuiser se soeke na ’n tuiste. Af te lei uit die teks is die visie dat ’n landsverhuiser noodgedwonge die eienskappe van ’n verkleurmannetjie aanneem om hom op verskeie van mekaar verskillende plekke of situasies aan te pas. Dit is die behoud van ’n emigrant, maar in die proses word so iemand genoop om ontrou aan homself te wees en bly ’n ware, durende identiteit en tuiste uit.

Die hoofkarakter en verteller heet in Tikoes Thys. Hy keer uit Nederland na ’n tydperk van twintig jaar (in 1989) terug na die land waar hy vanaf sy negende tot een-en- twintigste jaar grootgeword het. Die rede van sy terugkeer word nie vermeld nie, en daar word ook nie baie besonderhede gegee oor hoe hy kort vantevore sy Duits-Javaanse vriendin, Tikoes, wat hom op sy reis na Suid-Afrika vergesel, ontmoet het nie. Aan vriende verklaar hy dat hulle vir ’n paar maande in die Kaap is met die doel om vir Tikoes die land te wys waar hy grootgeword het. Vir die leser word dit egter gou duidelik dat die rede veel dieper lê en dit vir beide karakters ’n soort pelgrimsreis word. Namate die boek vorder, blyk dit dat die reis vir Tikoes ’n wegvlug van haar gewelddadige verlede is. Die verhaal wat sy aan Thys vertel op die reis, kry mettertyd in brokke en nagtelike uitbarstings gestalte. Dit behels haar lewe as dwelmkoerier tussen Duitsland en Nederland, haar worsteling as verslaafde en opgenome pasiënt in ’n inrigting, haar traumatiese verhouding met ’n gewelddadige handelaar wat daartoe lei dat sy hom doodskiet en gevolglik gevangenisstraf moet uitdien.

Vir Thys is die reis ’n herontdekking van die land wat hy twintig jaar eerder verlaat het omdat dit tóé nie vir hom as buitestaander ’n tuiste kon bied nie. Hy is steeds soekend nadat hy in Nederland, Engeland en Griekeland ook geen tuiste kon vind nie.

Hul reis lei hul van ’n vriend se woonstel in die Kaap, by familie en vriende langs die binneland in, tot weer terug in die Kaap. Van die karakters herken ons uit Moenie kyk nie. Thys se broer, Leo, toon ooreenkoms met sy jongste broer uit Moenie kyk nie wat hom by die polisiemag aangesluit het. Leo is nou getroud met sy derde vrou, hy het uit die polsiekorps getree en sy eie veiligheidsbesigheid begin. Tante Chris, waar die hoofkarakter en Hans uit Moenie kyk nie vakansies deurgebring het, toon merkwaardige ooreenkomste met Emma. “Net als vroeger, toen Leo en ik iedere zomer in veertien lange uren naar Gamkasdal waren getuft voor een vakantie bij tante Em (…)” (p 61), “Misschien wel deel van de trein die Leo en mij dertig jaar of langer geleden naar Gamkasdal had gebracht, om tante Em op te zoeken, die zo mal was geweest hier te komen boeren” (p 102). Met Thys en Tikoes se besoek aan tante Emma in ’n tehuis vir bejaardes, dink hy terug aan ’n keer toe sy ’n twee meter lange boomslang met die pistool uit die takke geskiet het (p 123). Uit Moenie kyk nie weet ons dat tante Chris ’n grens vir boomslange ver om die huis vasgelê het en dat enige boomslang wat daardie grens oorsteek dadelik geskiet sou word. Sy was ook, soos tante Chris, ongetroud.

Met die ontmoeting van tante Emma, leer die leser dat Thys se moeder vroeg gesterf het (p 122). Dit is ’n feit wat nie net in Moenie kyk nie gestaaf kan word nie, maar wat ook outobiografiese juis is. Op pagina 94 word dit duidelik dat sy moeder gesterf het toe Thys tien jaar oud was, ’n gegewe wat klop met die werklikheid. Ander gegewens wat klop met die werklikheid en ook in Moenie kyk nie én Tikoes van vertel word, is dat die hoofkarakter in ’n Engelse hoërskool was met die leuse: “nil nisi optimum” (p 56). Verder vertel Thys hoe Leo met “een vlinderdasje onder zijn kin, en naar vaders voorbeeld te veel Brylcream in zijn haar” (p 86) na die Sondagskool gegaan het. Overigens word ook van ’n Port Jackson-boom gepraat voor die gesin se huis (p 190). En dan is daar die Browniefototoestel wat Thys van sy vader na sy moeder se dood ontvang het en waarna ook op pagina 144 van Moenie kyk nie verwys word.

Hul reis deur Suid-Afrika word gekleur deur besoeke aan mense uit allerlei verskillende situasies: Engelse en Afrikaanse, plattelandse en stedelike gemeenskappe. Oral val geweld op as synde ’n karaktertrek van die land. Uiteindelik moet hulle die besluit neem of hulle hul in Suid-Afrika wil vestig of na die noorde toe terug wil gaan. Tikoes met haar gewelddadige verlede en Thys wat grootgeword het in die geweld van

Kaapstad se voorstede, herken in Suid-Afrika ’n tuiste: ’n gevoel van bekendheid in die nabyheid van geweld. ’n Gevoel van vertroudheid is egter nog nie ’n tuiskoms nie en uit die slot kan afgelei word dat hulle peregrinesend tussen die noorde en suide sal bly (p 211): “(…) we kunnen toch heen en weer blijven vliegen, zoals iedereen?” “Ik glijd naast haar in bed en streel haar rug. Eerst het zuiden, westelijk van haar stuit. Dan langzaam langs de holte van haar heupen en de ruggegraat omhoog, opnieuw naar het noorden” (p 211). Opnuut na die noorde sê iets van die gedurige voortsetting van hierdie reis.

3.3 Motiewe