• No results found

2.5 DIE SIELKUNDE PRIVAAT PRAKTYK AS BESIGHEID

2.5.2 Riglyne vir sakepraktyke van privaat praktisyns

Die Raad op Aanvullende Gesondheidsberoepe (HPCSA, 2006) het 'n beleidsdokument geformuleer waarbinne ’n stel beginsels vir ongewensde sakepraktyke vervat word. Die doel hiervan was om binne die veranderende Suid- Afrikaanse sosio-ekonomiese konteks en die gevolglike impak daarvan op dienslewering in die gesondheidsdiensberoepe, duidelike riglyne vir praktykvoering daar te stel. Terwyl die bogemelde ondernemingsvorme van solopraktyke, vennootskappe, assosiasies en ingelyfde maatskappye aanvaarbare ondernemingsvorme of besigheidsmodelle vir die Sielkunde- privaat praktyk verteenwoordig, bestaan talle ander variasies van praktykvoering ten opsigte waarvan leiding vir die privaat praktisyn nodig is.

Dit is eerstens nodig om tussen korporatiewe eienaarskap en korporatiewe betrokkenheid te onderskei. Eienaarskap verwys na die beginsel waar 'n entiteit deur eienaarsbelang in ruil vir die verskaffing van kapitaal of infrastruktuur, 'n belang in die onderneming verkry in só 'n mate dat materiële gewin of bestuursbesluite wat uit die onderneming se aktiwiteite tot stand kom, na die entiteit gekanaliseer word. Gegee die definisie van eienaarskap, stel die bogenoemde beleid dat dit ontoelaatbaar is vir enige persoon wat nie by die Raad as praktisyn geregistreer is nie, om eienaarsbelang in 'n praktyk te besit. Korporatiewe betrokkenheid is wel binne die etiese riglyne van die professie toelaatbaar. ‘n Voorbeeld hiervan sou 'n persoon binne die maatskappy wees wat nie in winste deel nie, nie die professionele of bestuursbesluite beïnvloed nie, maar moontlik waardevolle diens in die maatskappy lewer, soos byvoorbeeld 'n rekenaarspesialis.

Wat indiensneming van professionele persone in gesondheidsdiensberoepe betref, is dit 'n komplekse proses waar faktore soos die motief vir indiensneming, aard van die spesifieke diens wat gelewer sal word, mate waarin opleiding van studente ter sprake is, die mate waarin die praktisyn klinies onafhanklik mag handel en die wyse van vergoeding, 'n rol speel. Die goue reël is dat indiensneming van professionele persone deur 'n ander instansie, wat by die Raad geakkrediteerd is, aanvaarbaar is, maar dat ander vorme van indiensneming soos byvoorbeeld vir 'n winsmotief, nie toegelaat word nie. Dit bring mee dat indiensneming van professionele persone dus beperk word tot publieke diens, universiteite en opleidingsinstansies vir doeleindes van opleiding en navorsing.

Agentskappe is as 'n ondernemingsisteem ontwerp om bedryfsregte aan ander individue te verkoop sodat hierdie individue die reg het om sekere produkte te ontwikkel, te benut of om sekere dienste te lewer in ruil vir agentskapsfooie of honorariums. Die agentskapshouer moet egter instem om aan bepaalde reëls, regulasies, prosedures en beleide te voldoen ten einde in aanmerking te kom vir hierdie voordele (agentskapsfooie). Die kern van 'n agentskapooreenkoms impliseer normaalweg 'n verlies aan professionele outonomie en is as sulks dus ontoelaatbaar as ondernemingsvorm vir die privaat praktisyn.

Die voorsiene groei en ontwikkeling op die veld van besturende gesondheidsorg in Suid-Afrika, noodsaak die hersiening van die bestaande beleide en onderstreep die belangrike rol van die Raad in die besturende gesondheidsorgsisteme om die belange van pasiënte/kliënte te beskerm. Die Raad stel beginsels van professionele onafhanklikheid in behandeling van pasiënte voor en beklemtoon die nodigheid van harmonie tussen die onderskeie belanghebbers in besturende gesondheidsorg. Die inmenging van derdeparty-betalers in die driehoek van diensverskaffer, kliënt/pasiënt en die betaler, word nie deur die Raad goedgekeur nie en stel dit dat indien voorskrifte deur betalers (mediese fondse) aan diensverskaffers (praktisyns) met betrekking tot intervensies gemaak word, sodanige derdeparty

medeverantwoordelik raak vir die kliënt/pasiënt se welsyn. Ondernemingsvorme vir praktisyns wat met besturende gesondheidsorg belyn word, moet dus met groot omsigtigheid hanteer word.

Ander spesifieke aspekte van besigheidspraktyke met betrekking tot besturende gesondheidsorg in Suid-Afrika, verdien aandag en sluit in:

• Vrystelling van vertroulike inligting deur die praktisyn wat slegs met die skriftelike toestemming van die kliënt/pasiënt mag geskied.

• Wanneer die diensverskaffer se beplande ingreep verskil van die voorgeskrewe en goedgekeurde ingreep van die betaler, die opsies skriftelik aan die pasiënt/kliënt verskaf moet word ten einde 'n ingeligte besluit oor die behandelingskeuse van die pasiënt/kliënt te fasiliteer.

• Mediese protokolle vir ingrepe wat deur besturende gesondheidsorgfirmas daargestel word, moet in belang van goeie praktyke deur praktisyns ontwikkel word en nie deur bestuurders van die firmas nie, aangesien hul vernaamste motief koste-besparings is en nie kliëntesorg nie.

• Diensverskaffers moet toesien dat wetlike, etiese en kliniese norme in besturende gesondheidsorg kontrakte nagekom word. Die doel moet wees om pasiënte/kliënte belange na te streef met behulp van bewysgebaseerde ingrepe.

• Dit is aanvaarbaar dat diensverskaffers vir koste-besparingsmeganismes beloon word mits hulle deur voorkomende ingrepe die lewenskwaliteit van kliënte/pasiënte bevorder, kwaliteit en bewysgebaseerde diens lewer en toesien dat besparings aan kliënte/pasiënte deurgegee word.

• Akkreditasie van diensverskaffers is aanvaarbaar, mits deursigtige kriteria soos professionele bevoegdheid, kwalifikasies en ervaring daargestel word. • Mediese skemas moet aan hul lede die volle besonderhede van die aard en

omvang van dienste wat by voordele in- en uitgesluit word, kommunikeer. • Diensverskaffers mag nie ten koste van diensbydraers (kliënte/pasiënte)

weerhouding van dienste aanmoedig en op beste-praktykbeginsels gegrond wees.

• Insentiewe mag nie benut word om onder- of oorbehandeling van kliënte/pasiënte te bewerkstellig nie.

• Insentiewe aan diensverskaffers ten opsigte van voorskrifte mag nie op grond van volume, prys of formule toegeken word nie, maar slegs op grond van beste praktyke met betrekking tot koste-effektiwiteit.

• Die aanstelling van 'n ‘hekwag’ ("gatekeeper") om namens bydraers tot die fonds, hul belange te verdedig, is toelaatbaar.

• Groeppraktyke word aangemoedig, maar nie vir patoloë en radioloë nie. Groeppraktyke oor dissipline-grense heen word nie summier onderskryf nie, maar aansoeke in die verband sal individueel beoordeel word.

• Diensverskaffers moet die reg behou om aan enige voorkeurverskaffernetwerk te kan behoort, mits dit aan kriteria van professionele kwalifikasies, kompetensie en kwaliteitsorg voldoen.

• Kwaliteit mag nooit in belang van koste-besparings blootgestel word nie en kwaliteitsversekeringsmeganismes moet in plek gestel wees.

• Vryheid van keuse is in ideale gesondheidsisteme gemaksimeer aangesien dit mededinging fasiliteer. In besturende gesondheidsorg is keuses ten opsigte van diensverskaffers, tipe ingreep en aard van verwysings soms beperk en behoort keuse-opsies vir pasiënte/kliënte ingebou te word, selfs al is dit teen 'n premie of addisionele koste vir die ontvanger van die diens. • Risiko in besturende gesondheidsorg moet gesamentlik deur verskaffers en

befondsers gedra word aangesien voorkomende intervensies en die risiko van voorafbetalingsooreenkomste te midde van onsekerhede oor die werklike volumes van dienste benodig, groot finansiële diskrepansies mag veroorsaak. Gereelde nagaan van voorafbetalingsooreenkomste tussen diensverskaffers en befondsers met betrekking tot 'n bepaalde pasiënte/kliënte-populasie is dus nodig.

• Voorafgoedkeuring moet aan die hand van wetenskaplik gefundeerde, kliniese riglyne geskied.

• Die bestuur van gevalleladings deur 'n medikus of verpleegpraktisyn is toelaatbaar in belang van optimale bestuur van die kliënt/pasiënt se finansiële voordele.

• Die opstel van verskafferprofiele is toelaatbaar mits dit dinamies en deursigtig geskied.