• No results found

2.2 DIE ROL VAN SUID-AFRIKAANSE STATUTêRE LIGGAME IN SIELKUNDE

2.2.5 Gedragsreëls vir sielkundiges

Die Beroepsraad vir Sielkunde se missie is om die publiek te beskerm en om riglyne aan die Sielkunde-professie te bied soos uitgespel in die Wet op Gesondheidsdiensberoepe, Nommer 56 van 1974 (HPCSA, 2006).

Die Beroepsraad vir Sielkunde stel die grense van professioneel-etiese reëls duidelik in terme van 'n aantal afdelings/hoofstukke en waarsku dat versuim om die reëls na te kom, tot dissiplinêre aksie kan lei in terme van Hoofstuk IV van die Wet op Gesondheidsdiensberoepe van 1974. Die gedragsreëls vir sielkundiges kan baie kortliks soos volg opgesom word en skep die landskap vir etiese gedrag in sielkundige praktykvoering.

2.2.5.1 Professionele bevoegdheid

Hierdie afdeling handel oor die standaard van professionele kompetensie en sien toe dat kliënte teen praktyke beskerm word wat nie aan nasionale en internasionale beste-praktyke voldoen nie en dui aan dat die sielkundige persoonlik verantwoordelik bly om ten alle tye professioneel bevoeg te handel. Die afdeling dui aan dat die sielkundige nie buite sy/haar eie kompetensievlakke mag handel nie en moet toesien dat alle werk wat verrig word binne die wetenskaplike skopus van die veld van Sielkunde val. Dit spel verder uit op welke wyse die sielkundige, deur voortgesette professionele ontwikkeling, kompetensie moet behou en hoe nuwe kompetensies verwerf behoort te word. Die afdeling dui ook aan in welke buitengewone omstandighede 'n praktisyn toegelaat mag word om in belang van die pasiënt/kliënt, buite kompetensievlakke op te tree; hoe persoonlike inkorting die praktisyn mag inperk; hoe delegasie aan ander moet plaasvind en hoe tolke benut behoort te word.

2.2.5.2 Professionele verhoudings

Hierdie afdeling reguleer die sielkundige se gedrag binne verhoudings. Dit spel eerstens uit dat menseregte en individue gerespekteer behoort te word en dat die sielkundige daarna moet streef om ander se fundamentele menseregte te beskerm, selfs indien 'n pasiënt/kliënt se waardes, houdings en gelowe van dié van die sielkundige mag verskil. Dit spel verder die vrywillige en ingeligte deelname aan sielkundige prosedure en ander handelinge uit. Ander verwante aspekte wat in hierdie afdeling hanteer word, is onregverdige diskriminasie, seksuele teistering, ander vorme van teistering, die verpligting om leed te vermy, botsing van belange, derde partye as entiteite wat dienste namens kliënte aanvra, veelvuldige verhoudinge, plofbare verhoudinge, samewerking met ander professionele persone, die onderbreking van sielkundige dienste, dienste gelewer aan organisasies en die delegasie van en supervisie oor sielkundige dienste.

2.2.5.3 Privaatheid, konfidensialiteit en rekords

In die afdeling word aspekte aangeraak soos die reg op konfidensialiteit, uitsonderings op die konfidensialiteitsreël, limiete met betrekking tot betreding van privaatheid, bekendmaking, veelvuldige kliënte, hantering van wetlik afhanklike kliënte, die bekendmaking van vertroulike inligting, rapportering van mishandeling van minderjariges en kwesbare individue, professionele konsultasies, verskansing van konfidensiële inligting tydens aanbiedings en opleidingsessies en die opdatering, bewaring en verspreiding van rekords.

2.2.5.4 Fooie en finansiële reëlings

Die afdeling reguleer alle aspekte van fooie vanaf ooreenkomste oor bedrae, oormatige fooie, akkuraatheid in rekeninghouding, beperkte toegang tot dienste vanweë finansiële beperkinge, invordering van uitstaande gelde, die wederregtelike weerhouding van verslae en rekords op gronde van nie-betaling, rekening- spesifikasies, handeldrywing met kliënte en weerhouding van nooddienste.

2.2.5.5 Assesseringsaktiwiteite

Aspekte van gedrag wat in hierdie afdeling behandel word, sluit in die regulering van assessering in professionele konteks, die toepaslike benutting van assesseringsinstrumente, vrywillige deelname aan assessering, toetsontwikkeling, kulturele diversiteit, kommunikasie van assesseringsresultate, inligting aan ander professionele gebruikers, die interpretasie van assesseringsresultate, verduideliking van resultate, nasien van toetse en interpretasiedienste, vrystelling van toetsresultate, verouderde toetsresultate en handhawing van toetssekuriteit.

2.2.5.6 Terapeutiese aktiwiteite

Hierdie afdeling dui die parameters van terapeutiese aktiwiteite aan en handel oor ingeligte en vrywillige deelname aan terapie, die hantering van paartjies en gesinne in terapie, groepterapie, terapie vir diegene wat reeds by ander persone terapie ontvang, seksuele intimiteit met huidige kliënte, terapie vir vorige seksmaats, seksuele intimiteit met voormalige kliënte/pasiënte, onderbreking van terapeutiese dienste en die beëindiging van terapie.

2.2.5.7 Psigo-wetlike aktiwiteite

Die riglyne vir forensiese werk (psigo-wetlike aktiwiteite) word hier behandel. Die kompetensie/bevoegdheid om forensiese werk aan te pak, die basis vir forensiese opinies, gekwalifiseerde opinies, eerlikheid en opregtheid, konflikterende rolle, die ekspert getuienisrol, vorige verhoudings, en die rol as getuienis van feite word uitgespel.

2.2.5.8 Aktiwiteite met betrekking tot advertensies en ander publieke verklarings

Hierdie afdeling is veral van belang vir die privaat praktisyn se bemarkingsplan en alle bemarkingsaksies word hierdeur reguleer. Riglyne van toepassing op die bemarking van die praktyk behels eerstens akkuraatheid van voorstelling. Dit behels akkurate voorstelling van professionele kwalifikasies, ervaringe en kompetensies. Tweedens word dit duidelik gestel dat die sielkundige wat ander entiteite opdrag gee om namens hom of haar bemarking te doen, steeds die aanspreeklikheid van alle gekommunikeerde inligting behou. Daar berus ook 'n verantwoordelikheid by die privaat praktisyn om toe te sien dat alle gekommunikeerde advies en inligting wat tydens openbare optredes gemaak word, in teorie en praktyk gefundeer is. Praktisyns mag ook nie getuigskrifte van huidige kliënte of kwesbare persone aanvra en benut nie en stappe sal geneem word om enige doelbewuste of toevallige onakkurate inligting of voorstellings te korrigeer. Die afdeling spel ook grense vir die

maak van persoonlike onsedelike voorstelle. Definitiewe riglyne vir die bemarking van werkwinkels en opvoedkundige programme word uitgespel. Dit behels die ontwerp en ontwikkeling, asook die beskrywing van sodanige werkwinkels en opleidingsprogramme. Akkuraatheid en objektiwiteit tydens opleiding word uiteengesit en die terme van die verwagtinge rondom blootstelling deur studente en kursusgangers word bespreek. Die verpligte en geforseerde deelname aan groepterapie of eksperiënsiële aktiwiteite word verbied. Assesseringspraktyke vir opleiding word uiteengesit en seksuele intimiteit met studente word verbied.

2.2.5.9 Navorsing en publikasies

In hierdie afdeling word aspekte hanteer soos om aan die riglyne en standaarde van navorsing te voldoen, toestemming vir navorsing, navorsingsverantwoordelikhede en vrywillige deelname aan navorsing en afwykings vanaf laasgenoemde reël. Die aanbied van insentiewe om aan navorsing deel te neem, word bespreek, die kwessie van misleiding met navorsing, die ontlonting van deelnemers, die versorging van diere tydens navorsing, die rapportering van navorsingsbevindinge, plagiaat, krediete vir publikasies en die publisering van nie-oorspronklike data, asook die gemeenskaplike gebruik van data word bespreek.

2.2.5.10 Oplos van etiese kwessies

In hierdie afdeling word riglyne vir die sielkundige uitgespel met betrekking tot die hantering van onsekerhede in etiese kwessies, hoe om konflikte tussen etiek en die Wet te hanteer, asook om konflik tussen etiese riglyne en organisatoriese vereistes te beredder. Die verpligtinge teenoor ander kollegas wat etiese riglyne oortree en die verpligting om etiese oortredings te rapporteer en samewerking met etiekkomitees word uitgespel. Sielkundiges word verhoed om ontoepaslike en kwaadwillige klagtes teenoor ander kollegas te lê. Die hantering van persone wat klagtes teen die betrokke sielkundige gelê het, asook die aard en omvang van dissiplinêre sanksies, word verder hier bespreek.