• No results found

Soos uitgespel in 'n latere afdeling mag 'n sielkundige slegs in diens geneem word indien die werkgewer nie 'n winsmotief met die sielkundige se dienste beoog nie. Indiensneming vir sielkundiges word dus grootliks beperk tot werkgewers wat self by

die Raad geakkrediteerd is (HPCSA, 2006). Instellings soos publieke diens, universiteite en opleidingsinstansies vir doeleindes van opleiding en navorsing, asook privaat praktyk, word dus hierby ingesluit. In hierdie studie lê die fokus op die privaat praktisyn en slegs privaat praktyk as self-indiensnemingsopsie, sal bespreek word.

2.4.1

Voor- en nadele van privaat praktyk

In latere afdelings sal aangetoon word dat die privaat praktisyn oor eiesoortige vaardighede en eienskappe moet beskik ten einde suksesvol te wees. Dit is vir eers voldoende om uit te wys dat die praktisyn wat in diens van 'n organisasie is, versus diegene wat self-indiensneming in die vorm van privaat praktyk verkies, verskillende eise, uitdagings en belonings beleef. Outeurs soos Boice en Myers (1987); Glidwell en Livert (1992); Jayaratne, Vinokur-Kaplan en Chess (1995); Tyron (1983); en Wicherski, Woerheide en Kohout (1995) in Young en Weishaar, (1997), lys gesamentlik 'n aantal voor- en nadele van privaat praktyk.

Voordele sluit in:

• Privaat praktisyns ervaar meer selfbeheer, groter werksbevrediging, skynbare verhoogde emosionele stabiliteit en minder uitbranding as eweknieë wat by bepaalde instellings werksaam is.

• Laer vlakke van stres, fisiese- en psigiese probleme.

• Die luukse om te fokus op psigoterapie as die kernaspek van die beroep. • Professionele outonomie en onafhanklikheid van eksterne beherende faktore. • Hoër vlakke van inkomste.

• Entrepreneuriese potensiaal.

• Geleenthede om werksaamhede te diversifiseer. • Buigsaamheid in werksopset.

• Belastingvoordele van eie indiensneming. • 'n Ontsnaproete uit burokrasie.

Nadele sluit in:

• Tydsdruk.

• Probleme inherent aan terapeutiese verhoudinge is ’n konstante gegewe. • Professionele onsekerheid as gevolg van geïsoleerde werksomstandighede. • Skeduleringsprobleme.

• 'n Neiging om te oorwerk en uit te brand.

• Geen finansiële sekerheid ten opsigte van gereelde en gelykmatige inkomste en byvoordele nie.

• Die inmenging van besturende gesondheidsorg. • Alleenheid.

• Gebrek aan professionele ondersteuning. • Die emosionele las van psigoterapie.

Die keuse wat die praktisyn uitoefen oor die gekose praktykvariasie, bepaal in 'n groot mate die aard van die ondernemingsvorm wat vir die privaat praktyk geskik sal wees.

2.4.2

Ondernemingsvorme

Privaat praktisyns wat by die Raad op Aanvullende Gesondheidsberoepe van Suid- Afrika geregistreer is, mag hul praktyke op die volgende wyses bedryf:

• Solopraktyk • Vennootskap

• Ingelyfde maatskappy • Assosiasie (HPCSA, 2006)

Dit volg hieruit dat 'n privaat praktyk nie dienste mag lewer in die vorm van 'n beslote korporasie of 'n trust nie. Die praktisyn mag ook nie enige van die bogenoemde entiteite met leke-persone wat nie by die Raad op Aanvullende Gesondheidsberoepe geregistreer is, vestig en daarbinne professionele dienste lewer nie.

Dit staan praktisyns egter vry om 'n besigheidsentiteit te vestig waarmee die praktyk geadministreer word of wat eiendom kan besit en wat dit byvoorbeeld aan die praktyk verhuur. Sodanige entiteit mag selfs 'n beslote korporasie of 'n trust wees. Die riglyn is dat sodanige besigheidsentiteite slegs benut mag word vir nie- kliënt/pasiënt-verwante dienste. Voorts moet ook daarop gelet word dat daar nie voorsiening gemaak word vir enige ondernemingsentiteit, anders as 'n hospitaal en natuurlik die professionele persoon self, om fooie van kliënte/pasiënte te hef nie. Dit bring dus mee dat indien 'n beslote korporasie byvoorbeeld toerusting besit waarmee dienste aan die kliënt/pasiënt gelewer word, die praktisyn die fooi van die kliënt/pasiënt moet hef en dat die praktisyn die huur van die toerusting aan die beslote korporasie moet vereffen.

Duidelike riglyne vir die vorming van 'n Artikel 54A-maatskappy, word volledig in die Staatskoerant van 15 April 1994 uitgespel (HPCSA, 2006). 'n Opsomming van die belangrikste riglyne vir praktisyns in die gesondheidsdiensberoepe wat hul praktyke binne die riglyne van Artikel 54A-maatskappy wil bedryf, is soos volg:

• Die maatskappy se akte van oprigting of statute moet bepaal dat alle huidige en vorige direkteure gesamentlik en tesame met die maatskappy, aanspreeklik is vir die skulde en laste van die maatskappy wat gedurende hul ampstermyn aangegaan word/is.

• Slegs natuurlike persone wat ingevolge die Wet op Geneeshere, Tandartse en Aanvullende Gesondheidsdiensberoepe, 1974 (Wet 56 van 1974) as geneesheer, tandarts, sielkundige of in 'n aanvullende gesondheidsdiensberoep geregistreer is, mag 'n belang in die maatskappy

besit en aandele verkry. 'n Maatskappylid mag nie meer as 24% van die uitgereikte aandelekapitaal besit nie.

• Slegs 'n praktisyn mag 'n direkteur van die maatskappy wees.

• Indien 'n aandeelhouer sterf of nie meer aan bogenoemde vereistes voldoen nie, word die belang deur die boedel vir 'n maksimum tydperk van ses maande behou, tensy die Raad 'n langer termyn goedkeur.

• Aandeelhouding soos gemeld in die voorafgaande punt, bring nie stemreg mee nie; verseker nie dat ’n persoon/lid as direkteur van die maatskappy op direkte of indirekte wyse kan optree nie; is nie op direkteursvergoeding geregtig nie en deel nie in die winste wat deur die maatskappy verwerf word nie.

• Slegs ‘n gevolmagtigde lid wat 'n aandeelhouer is, mag namens 'n ander aandeelhouer praat of stem.

• 'n Aandeelhouer mag slegs die beroep waarin hy/sy ingevolge die Wet geregistreer is, beoefen.

• Elke aandeelhouer bly persoonlik onderworpe aan die bepalings van die Wet en die tugbevoegdheid van die Raad.

• Geen persoon, hetsy 'n natuurlike- of 'n regspersoon mag regstreeks of onregstreeks op enige wyse hoegenaamd in die winste of inkomste van die maatskappy deel of 'n belang daarin hê nie tensy hy/sy 'n aandeelhouer in die maatskappy is.

• Indien die maatskappy nie aan bogenoemde riglyne voldoen nie, kan die Raad tugstappe neem.

Dit behoort uit bogenoemde bespreking duidelik te wees dat die toetreding na privaat praktyk, met inagneming van die aanvanklike keuse van ’n ondernemingsvorm – geskik vir die beoogde praktykaktiwiteite – die praktyk as 'n onderneming of besigheid gedefinieer word. Spesifieke aspekte van die privaat praktyk as 'n besigheid word vervolgens bespreek.