• No results found

Stap 4: 'n Keuse van 'n ondernemingsvorm waarbinne die praktyk bestuur sal word, asook die daarstelling van die organisatoriese struktuur.

2.9 OPLEIDINGSDIMENSIES VIR SUKSESVOLLE PRIVAAT PRAKTYK

'n Analise van literatuur oor die bestuur van privaat praktyke toon in 'n groot mate oorvleueling met betrekking tot die elemente wat deur verskeie skrywers as dimensies van privaat praktykbestuur verreken word. McMahon, Palmer en Wilding (2005) groepeer noodsaaklike vaardighede vir privaat praktyk in drie hooftemas, naamlik besigheidsvaardighede, professionele vaardighede en persoonlike self- bestuursvaardighede. Deur die benutting van hierdie drie hooftemas as raamwerk, kan die elemente wat vir privaat praktykbestuur deur verskeie outeurs (Beigel, Earle, Fleischman & D'Andrea, 1990; Bernstein & Freiermuth, 1988; Buchele & Wynn- Williams, 1987; Donohugh, 1986; Lenson, 1994; Levin, 1983; Payne & Firth-Cozens, 1987; Pistorius & Pistorius, 1986 en Stout & Grand, 2005) beskryf word, soos volg opgesom word.

(i) Besigheidsvaardighede

• Die vermoë om die privaat praktyk as 'n besigheid te definieer.

• Die vermoë om tussen potensieel suksesvolle en onsuksesvolle ondernemings te onderskei (lewensvatbaarheidsaspekte).

• Selfkennis om die beste passing vir indiensneming (eie indiensneming of nie) te bepaal.

• Kennis om 'n eie onderneming te begin en die entrepreneuriese kwaliteite wat daarmee saamgaan.

• Keuse van die korrekte tipe praktyk (solopraktyk, groeppraktyk, eenstopdiens- praktyke, spesialispraktyke, voltydse of deeltydse praktyke, die koop of ontwikkeling van praktyke).

• Keuse van 'n optimale ondernemingsvorm vir die privaat praktyk. • Vermoë om 'n besigheidsplan te formuleer.

• Vermoë om 'n eie onderneming te finansier (vermoë om kapitaal te bekom, lenings te verkry en terugbetalingsbeplanning).

• Algemene bestuursvaardighede (beplanning, organisering, leiding, beheer en koördinering) insluitende menslikehulpbronbestuur, operasionele bestuur, strategiese bestuur en finansiële bestuur.

• Goeie finansiële beplanning, administrasie, beheer en vaardighede om prysbeleid en fooie te bepaal (rekeningsisteme, debiteur- en krediteurskontrole, bestuur van mediese fonds-voordele, prysbeleid vir kontantbetalers, afslagbeleid, glyskale, oorhandigingsbeleid, kontantvloei- beplanning, gelykbreekpunt-berekeninge, koste-bestuur, bestuursinligting versameling, belastingbeplanning, beplanning rondom besturende gesondheidsorg, begrotingsbestuur en finansiële projeksies).

• Die vermoë om risiko te minimaliseer. Dit sluit besigheids- en professionele risiko in en behels onder andere besluite oor praktykversekering.

• Vaardighede om eksterne faktore soos besturende gesondheidsorg te bestuur.

• Bemarkingsvaardighede soos die opstel van 'n bemarkingstrategie wat markte analiseer, marknavorsing insluit, verwysings maksimaliseer, kliënte lok, mediablootstelling bewerkstellig, advertensieveldtogte loods en produk- en diensontwikkeling behels om kliëntebehoeftes optimaal te dien en die skep van netwerke.

• Handhawing van sekuriteit en vertroulikheid.

• Vaardighede om die praktyk se fisiese infrastruktuur te skep soos keuse van praktykligging (tuispraktyk of nie, koop of huur), kommunikasiekanale met kliënte, rekordhouding, tegnologiese benodigdhede en toerusting.

• Die vermoë om besigheidsprosesse te ontwikkel en beleide in plek te plaas. • Kliëntediens- en kliënteverhoudingsbestuur wat die afspraakstelsel,

ontvangstelsel, administratiewe stelsel en alle kommunikasiestelsels met die kliënt/pasiënt insluit.

• Skakeling met professionele besigheidskonsultante en -adviseurs. • Instandhouding en praktykbeheer.

• Bestuur van praktykgroei en moontlike diversifikasie. • Praktyksluiting of uitfasering.

• Aftredebeplanning.

(ii) Professionele vaardighede

• Alle wetlike en etiese aspekte en voorskrifte van die professie. • Kompetensie/bevoegdheid van die praktisyn.

• Funksionering binne die riglyne van professionele liggame. • Professionele administrasie en bedryfsprosesse.

• Inligting aan kliënte/pasiënte. • Supervisie.

• Netwerkvorming en multi-professionele spanbetrokkenheid.. • Mediese en psigiatriese ondersteuningsnetwerke.

(iii) Persoonlike selfbestuur- en selfsorgvaardighede

• 'n Besef van die redes en motiewe van eie indiensneming in privaat praktyk. • Bestuur van eie stamina.

• Bestuur van die stressore uniek aan privaat praktyk. • Bestuur en voorkoming van uitbranding.

• Eie kognitiewe en intrapsigiese welstand. • Tydsbestuur.

• Bestuur van vrye tyd en ontspanning. • Aftredebeplanning.

• Ondersteuningsisteme.

Browning en Browning (1986) stel as voorvereiste van privaat praktyk die besef en verbintenis tot die idee dat die praktyk 'n besigheid is en as sulks benader moet word, ten einde 'n bestaan daaruit te kan maak. 'n Aantal idees en beginsels word voorgestel vir die privaat praktisyn wat hopelik tot sukses sal lei:

• 'n Besluit oor die passing van die individu se profiel by die aard van privaat praktyk.

• Praktiese vaardighede om 'n praktyk op te rig. Dit sluit aspekte soos marknavorsing, keuse van praktykligging, tydsberekening, geleidelike infasering en besluite soos koop of huur in.

• Kennis van etiese standaarde, gedragsriglyne en ander wetlike beperkinge. • Bemarkingsaspekte soos erkenning in die gemeenskap, verkryging van

verwysings van allerlei instansies en individue en die rol van kliënte/pasiënte as verwysingsbronne, asook verskeie tipe bemarkingstegnieke.

• Metodes om inkomste te maksimeer.

• Praktiese aspekte van praktykoprigting soos administrasie, kantooruitleg, bestuurinligting en bedryfsprosesse.

• Die gereelde hersiening van praktykdimensies vir herevaluering en herbeplanning rondom aspekte soos kliëntebasis, kliëntegetalle en nuwe kreatiewe veranderinge.

• Selfsorg van die privaat praktisyn.

2.10

SAMEVATTING

Sielkundiges se opleiding fokus hoofsaaklik op die ontwikkeling van hul kompetensies as klinici. Wanneer sielkundiges binne 'n geakkrediteerde opleidingsprogram opgelei is en aan al die vereistes van die Beroepsraad vir Sielkunde voldoen, kan hulle onafhanklik as sielkundiges funksioneer. Die Sielkunde-professie word streng deur verskeie riglyne, kodes en wette gereguleer en daar is 'n beperkte aantal indiensnemingsopsies vir sielkundiges.

Sielkundiges in Suid-Afrika lewer jaarliks sielkundige dienste ter waarde van nagenoeg R2,5 miljard, waarvan die oorgrote meerderheid van dienste in privaat praktyke gelewer word. Privaat praktyk vir die sielkundige kan in 'n verskeidenheid van opsies beoefen word; word streng gereguleer en stel unieke eise aan die praktisyn. Die uitdagings van privaat praktyk, voor-en nadele van eie indiensneming en die unieke stel vereistes, uitdagings en belonings wat dit bied, definieer die privaat praktyk van die Sielkunde as 'n diensonderneming.

Dit wil voorkom of Sielkunde-opleiding, vanweë die fokus op klinies-professionele aspekte, nie die voornemende praktisyn genoegsaam vir die eise van privaat praktykbestuur voorberei nie en dus behoort hierdie kwessie ondersoek te word. 'n Omvattende reeks opleidingsinhoude vir die voornemende privaat praktisyn as bestuurder van 'n eie diensonderneming as werktuig om professionele dienste op 'n onafhanklike wyse te lewer, word voorgestel.

In die volgende hoofstuk word die oprigting van ‘n nuwe onderneming en hoe dit van toepassing is op die privaat praktyk van die Sielkunde, bespreek. Daar word ook in hierdie hoofstuk aandag geskenk aan spesifieke bestuursvaardighede wat die

privaat praktisyn benodig om van praktyk as ‘n sake-onderneming, ‘n sukses te maak.

3

3

OPRIGTING VAN ‘N NUWE ONDERNEMING

3.1 INLEIDING

Gedurende die laaste kwart van die vorige eeu is die ekonomieë van die wêreld en in besonder dié in die VSA radikaal getransformeer deur entrepreneurskap. In die VSA alleen is 95% van die welvaart deur entrepreneurs gegenereer (Timmons & Spinelli, 2003). Genoemde skrywers stel dat, na die Tweede Wêreldoorlog, die reusagtige ondernemings as die ruggraat van ekonomieë beskou is in terme van die skepping van welvaart. Dit het meegebring dat werk minder ekonomies relevant begin raak het. Die Fortune 500-maatskappye het byvoorbeeld sedert 1980 meer as 5 miljoen werkgeleenthede verloor, terwyl die entrepreneuriese kleiner ondernemings (minder as 500 werknemers) meer as 34 miljoen werkgeleenthede geskep het.

Bogenoemde tendense (Timmons & Spinelli, 2003) suggereer dat entrepreneurskap die bloudruk daarstel vir die 21ste eeu, met entrepreneurs wat welvaart skep, nuwe produkte, tegnologie en dienste daarstel en werkskepping teweegbring. Hierdie sieninge word deur Suid-Afrikaanse outeurs soos Van Aardt en Van Aardt (1997) en Sunter (1997) gedeel. Dit is van die uiterste belang dat entrepreneuriese gemeenskappe geskep en ontwikkel moet word ten einde relevant en kompeterend in hierdie eeu te kan wees (Kuratko & Hodgetts, 2001; Timmons & Spinelli, 2003).

Kuratko en Hodgetts (2001) definieer entrepreneurs as individue wat geleenthede sien waar ander persone slegs verwarring en chaos waarneem. Hulle verduidelik voorts dat die term entrepreneur beteken “om te onderneem” en as sulks is die

entrepreneur dus iemand wat onderneem om te organiseer, te bestuur en die risiko’s verbonde aan ’n onderneming te dra.

Gerber (1993) postuleer dat dit nie ondernemings self is wat sukses verseker nie, maar wel hul eienaars en dat hierdie eienaars hulself as entrepreneurs onderskei van blote bestuurders (wat mense en stelsels bestuur) en van besigheidstegnici (wat bloot tegniese kompetensie bydra). Die entrepreneur is volgens hom die persoon wat deur ’n entrepreneuriese benadering kan toesien dat die onderneming sonder hom sal kan funksioneer. Daar moet egter onderskei word tussen entrepreneurskap en die blote eienaarskap van 'n eie onderneming (Longenecker, Moore, Petty & Palich, 2006). Teenoor blote eienaarskap van 'n onderneming of self-indiensname, behels entrepreneurskap ideaal gesproke 'n lewens- en besigheidsfilosofie, 'n lewenswyse en besigheidstrategie (Chicken, 2000; Drucker, 1985; McGrath & MacMillan, 2000; Meyer & Heppard, 2000).

Volgens Longenecker, Moore, Petty en Palich (2006) bestaan daar entrepreneuriese geleenthede vir diegene wat goedere en dienste aan kliënte kan bied wat dit verlang en benodig. Hierdie geleenthede bestaan volgens hulle in die vorm van klein sake- ondernemings wat onderskeibaar is van die reuse maatskappye van die verlede. Hierdie klein sake-ondernemings verteenwoordig in die VSA nagenoeg 99,7% van alle werknemers en genereer jaarliks 60 tot 80% van nuwe werksgeleenthede.

Timmons en Spinelli (2003) beskryf die kern entrepreneuriese eienskappe en gedragspatrone as vereistes vir die individu wat die entrepreneuriese proses suksesvol wil aanpak. Voeg hierby Kuratko en Hodgetts (2001) se siening dat entrepreneurs addisioneel tot bogenoemde ook ’n behoefte aan outonomie het en oor die vermoë beskik om ’n verskeidenheid interpersoonlike vaardighede te implementeer, soos aggressiewe mededingendheid, selfvertroue, realisme en die vermoë om uit foute te leer. Longenecker, Moore, Petty en Palich (2006) stel dat die beloning vir entrepreneurs in winste, onafhanklikheid, vryheid, persoonlike satisfaksie en selfvervulling gesetel is.

In die vorige hoofstuk is dit gestel dat die Sielkunde- privaat praktyk as 'n diensonderneming gedefinieer kan word en dat die privaat praktisyn juis 'n individu is wat die voordele van onafhanklikheid wil benut. Voeg hierby die snel veranderende gesondheidsdiensomgewing en toenemende mededinging en dit raak duidelik dat die Sielkunde- privaat praktisyn nie net die eienaar van 'n eie onderneming is nie, maar ook oor entrepreneuriese kwaliteite moet beskik om die geleentheid van privaat praktyk te benut en van die diensonderneming (die Sielkunde- privaat praktyk) 'n sukses te kan maak.

Vir die privaat praktisyn wat die geleentheid om 'n eie onderneming (sielkunde- privaat praktyk) tot stand te bring, is dit noodsaaklik om die besigheidsgeleentheid sodanig professioneel te benader dat daar nie net 'n realistiese kans op sukses vir die onderneming is nie, maar ook dat die onderneming sal kan groei, mededingend kan wees en gevolglik optimale belonings vir die ondernemer se insette laat realiseer. In hierdie hoofstuk word riglyne vir die oprigting van 'n nuwe onderneming bespreek en op die privaat praktyk van die Sielkunde toegepas.

Die volgende gedeelte begin met 'n bespreking van 'n model vir die oprigting van 'n nuwe onderneming en volg die breë bepreking van die model op met 'n toepassing daarvan op die Sielkunde- privaat praktyk. Die onderskeie dimensies van die model word afsonderlik bespreek en op die Sielkunde- privaat praktyk toegepas.