• No results found

Politiek en die SAUK voor 1994

Hoofstuk 3: Die uitsaaiwese in Suid-Afrika

3.2 Die SAUK/SABC voor 1994

3.2.4 Politiek en die SAUK voor 1994

Soos genoem, is die struktuur van die SAUK geskoei op die model van die BBC, wat behels dat die SAUK enersyds ’n staatsdiensinstansie is, maar andersyds ook enkele kenmerke van ’n private instansie toon (Roos, 1957:2). Roos (1957:6) gaan voort deur te verduidelik dat Suid- Afrika só ’n stelsel moet hê omdat die bevolking besonder heterogeen is, wat betref “veelrassigheid, veelkleurigheid, veeltaligheid en met baie minderheidsgroepe” en dit is vandag steeds die geval. Die doel met die stelsel is dat die SAUK as ʼn outonome organisasie op ʼn billike en regverdige wyse in diens van die hele volk moet staan. Laastens is dit noodsaaklik om te noem dat die SAUK verantwoording moet doen aan die Parlement. Tydens die bewind van die NP-regering het dié party sy rentmeesterskap oor die openbare uitsaaier uitgebuit deur Afrikaans uitermate te bevorder en aan ander tale die vereiste minimum lugtyd toe te staan (Louw, 2004:45; Ross, 1999:134).

Tussen 1948 en 1994, onder die regering van die Nasionale Party, is Afrikaans uitermate bevorder en Afrikaans is in die media gebruik om die nasionalistiese idees aan die mense oor te dra (Ross, 1999:134; Steyn, 1987a:92; Tomaselli & De Villiers, 1998:155). In 1963 is die streng

stelsel van sensuur ingestel met die Publikasieraad aan die spits daarvan (Giliomee, 2004:485; Hugo, 2009:90). Dié raad het die mag gehad om boeke en rolprente te verbied “wat die openbare sedes en veiligheid” moontlik kon ondermyn.

Via die Publikasieraad het die regering beheer uitgeoefen oor die taal wat voorkeur in die media geniet, maar die staat het ook die media in al sy vorme onder streng sensuur geplaas (Ross, 1999:134). Die regering het drie doelwitte met dié streng beheer van die media in die oog gehad. Eerstens is verklarings deur enige opposisieparty afgekeur (formele, sowel as informele beperkings het die pers doelbewus verhinder om verslag oor die ANC te doen), tweedens is liberale, sosialistiese idees wat van oorsese bronne afkomstig kon wees sovêr moontlik verban, en derdens is “morele reinheid” bevorder in die vorm van sensuur (Giliomee, 2004:485). Om hierdie doelwitte te bereik het behels dat boeke, tydskrifte, musiek en rolprente eers ’n keuringsproses moes ondergaan wat dan dikwels veroorsaak het dat die meerderheid materiaal verban is. Dié keuring is deur die Publikasiebeheerraad gedoen (Ross, 1999:134; Hugo, 2009:90).

Die regering se Wet op Publikasies en Vermaaklikhede van 1963 (die wet is in 1974 hersien) het talle popliedjies afkomstig van die VSA en Brittanje uit die staanspoor reeds in Suid-Afrika verbied, wat die volgehoue streng beheer oor die uitsaaiwese verder verstewig het (Hugo, 2009:127). Die plaaslike filmbedryf het ook daaronder gely omdat sommige filmmaatskappye selfsensuur toegepas het (Hugo, 2009:90). Omdat rolprente met sosio-politiese temas die gevaar geloop het om verban te word, is dit uit die staanspoor reeds nie vervaardig nie.

Die plaaslike musiekbedryf was egter nie so finansieel gedrewe soos die filmbedryf nie en talle liedjies is deur die sensuurwet verban. Dit het ’n groot impak gehad op die radiobedryf en die musiek wat deur die SAUK se radiodiens gespeel is (Hugo, 2009:126). Die SAUK het tot in die laat-1980’s talle kritiese stemme stilgemaak. Afrikaanse musikante soos Koos Kombuis en Johannes Kerkorrel wat byvoorbeeld verbonde was aan die “Voëlvry”-beweging, is dadelik deur die sensors by die SAUK verbied (Hugo, 2009:118, 127).

Daar was wel in die 1970’s ’n opkoms wat bekend gestaan het as die “Musiek-en-Liriek”- beweging (Hugo, 2009:126; Steyn, 2014:403). Die doelwit was om Afrikaanse musiek van hoë gehalte te skep, veral met betrekking tot die Afrikaanse lirieke (Hugo, 2009:126). Die SAUK het die beweging aktief ondersteun omdat dit weereens besig was met die bevordering van die Afrikaanse taal. Kunstenaars moes egter nog steeds versigtig wees vir die sensuurwet van die tyd.

Sensuur in Suid-Afrika het ʼn hoogtepunt in die 1980’s bereik namate die regering sy greep op die publiek verloor en ʼn noodtoestand aangekondig het (Merrett, 2001:51; Steyn, 1998:456).

Die regering het ʼn gevestigde sensuurstruktuur gehandhaaf en teen 1982, met die instelling van die Wet op Interne Sekuriteit, kon die regering organisasies en individue beheer (Merrett, 2001:51). Dié wet het behels dat die regering enige publikasie in die ban kon doen en die regering basies oorlog teen enige anti-Apartheidsbeweging of veldtog wat die vrede versteur het, kon verklaar. Die SAUK het derhalwe die staat gehoorsaam en die NP-regering steeds in ʼn positiewe lig uitgebeeld, te midde van negatiewe internasionale publisiteit. Webb (1992:10) noem ook dat die Nasionale Party die Afrikaanse taal gebruik het as deel van die party se ideologie van apartheid. Dit het beteken dat die SAUK, soos die regering, Afrikaans in ʼn hoë mate bevoordeel het omdat die staat dit so vereis het (Ponelis, 1992:77).

Die regering het streng beheer oor die radio en alle uitsendings via die medium uitgeoefen. Die regering het ook geweier dat ’n televisiediens op die been gebring word, met die doel om sy beheer sovêr moontlik te monopoliseer (Ross, 1999:134; Tomaselli & Tomaselli, 1989:84). Nadat die Meyer-kommissie bevind het dat die koms van televisie onvermydelik was, het hulle die regering gerusgestel met die volgende strategie: die televisie is ʼn vorm van eenrigtingkommunikasie wat die regering in staat sou stel om sekere idees aan mense oor te dra, in plaas daarvan om die mense die geleentheid te gee om hulle eie sienings en waardes uit te leef (Tomaselli & Tomaselli, 1989:85).