• No results found

Die algemene rol van taal by die ontwikkeling van die uitsaaiwese

Hoofstuk 3: Die uitsaaiwese in Suid-Afrika

3.2 Die SAUK/SABC voor 1994

3.2.2 Die algemene rol van taal by die ontwikkeling van die uitsaaiwese

Rosenthal (1975:133) voer aan dat tweetaligheid tydens die spits van die uitsaaiwese nie so algemeen of as vanselfsprekend aanvaar is nie en Engels is bó Afrikaans gekies as die algemene uitsendingstaal. Tweetaligheid in die uitsaaiwese het groot veranderinge ondergaan toe die ABC, onder leiding van Schlesinger, alle radiostasies in beheer neem (Rosenthal, 1975:116-119,133; Tomaselli & De Villiers, 1998:153; Van der Berg, 1974:209). Binne die ABC “het die gebruik van Afrikaans aansienlik” uitgebrei (Rosenthal, 1975:133). Dit het egter baie groeipyne meegebring, want met net een beskikbare sender “het dit beteken dat daar geen Engelse programme uitgesaai” is gedurende Afrikaanse programme nie (Rosenthal, 1975:134). Dit het baie klagtes tot gevolg gehad, maar dit het so voortgeduur tot en met die stigting van die SAUK.

3 Die Afrikaanse spelling van Afrikataal-taalname, soos in die AWS (2009) weergegee, word gebruik ten spyte van die feit dat die Suid-Afrikaanse Grondwet (1996) outonomiese taalname lys.

4 ’n Rediffusiesisteem verwys na ’n radiobedradingsisteem wat in die mynkampongs, hostelle en ander instansies geïnstalleer is in alle groot stede en dorpe wat toe radioprogramme begin uitsaai het (Tomaselli & De Villiers, 1998:154). Die programme is derhalwe via ’n kabel herlei en nie via radiogolwe uitgesaai nie.

Die omroepers en kunstenaars wat betrokke was by die Afrikaanse uitsendings by die ABC, was almal ewe gretig “om Afrikaans as taal bekend te maak en te bewys dat Afrikaanse letterkunde vir geen ander taal hoef agteruit te staan nie” (Rosenthal, 1975:134). Van der Berg (1974:210) meen ook dat “die eerste mense wat die Afrikaanse mikrofoon beman het” ʼn toegewyde taaltrots jeens Afrikaans gehad het en hulle het die onus op hulle geneem om te help om die taal en kultuur via die uitsaaimedium uit te bou. Sedert die vroegste Afrikaanse uitsendings deur die ABC is sterk klem gelê op die gehalte van die taalgebruik, en iemand soos me Sarah Goldblatt, wat as CJ Langenhoven se sekretaresse gewerk het, het haar toe reeds “beywer vir die verhoging van die standaard van Afrikaans oor die radio” (Rosenthal, 1975:135). Sy was ʼn lid van ʼn onderkomitee in Kaapstad wat die radio-owerheid wou beïnvloed om meer Afrikaans te gebruik en ook “om toe te sien dat die programme wat wel in Afrikaans uitgesaai word, minstens ʼn bevredigende standaard handhaaf” (Goldblatt soos aangehaal deur Rosenthal, 1975:135).

Die radio het hom gou gevestig as ʼn belangrike aspek in die ontwikkeling van Afrikaans en die medium is selfs gebruik by die samestelling van die Standaard Afrikaanse Woordeboek (Rosenthal, 1975:138). Ten spyte van blootstelling wat Afrikaans via die radiogolwe gekry het, was dit steeds min vergeleke met Engels (Roos, 1959:134; Tomaselli & De Villiers, 1998:153). Tot en met die stigting van die SAUK het Afrikaanse uitsendings bestaan uit drie nuusbulletins per dag met maksimum drie ander programme gedurende die week (Rosenthal, 1975:151). Ten spyte van Afrikaans se ondergeskikte posisie teenoor Engels in die uitsaaiwese, het die invloed van die BBC se Engelse voorbeeld ʼn groot rol gespeel by die wyse van taalversorging wat later by die Afrikaanse diens toegepas is (Steyn, 2014:361). Die BBC het gesorg “dat die taal nooit hoogdrawend word nie, maar steeds ʼn goeie ordentlike algemeen verstaanbare taal bly” en Afrikaanse omroepers het vervolgens hulle aanslag op taal op dié beginsel geskoei (Steyn, 2014:361).

Onder die NP-regering het Afrikaans buitengewone bevoordeling ontvang (Hugo, 2009:96; Louw, 2004:45; Tomaselli & De Villiers, 1998:154) en die eksponensiële groei van die SAUK tydens die apartheidsjare het op sy beurt aanleiding gegee tot verskeie verwikkelinge rakende die uitsaai van Afrikaans. Die staat het gesorg dat Afrikaans via die openbare uitsaaier bevorder word. Die staat het onder andere die vervaardiging van Afrikaanse programme en rolprente gesubsidieer, ingevoerde programme se vertaling in Afrikaans geborg en ʼn vereiste neergelê wat bepaal het dat alle advertensies in beide Afrikaans en Engels ontwikkel en beskikbaar gestel moes word (Louw, 2004:45). Voorgenoemde aspekte het ʼn beduidende toename in Afrikaans se taalstatus en die gebruik van die taal tot gevolg gehad.

Afgesien van die staat se inisiatiewe om die groot hoeveelheid Afrikaanse programme in die uitsaaiwese te verseker, het ʼn verdere vereiste gevolglik ontstaan, naamlik om die taalstatus te bevorder deur die gehalte van Afrikaanse uitsendings te verhoog. Vroeg in die 1950’s is ’n Komitee vir Taaladvies (KTA) gevolglik gestig wat hom veral besig gehou het met die normering en standaardisering van Afrikaans (Botha, T.J.R., 1985:240; Hugo, 2009:97; Steyn, 2014:361). Die stigting van die KTA was van kardinale belang omdat kundiges vinnig die verreikende invloed van die radio begryp het en dit het meegebring dat omroepers ʼn taalhulpbron sou benodig. Die komitee is deur die SAUK, in samewerking met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, op die been gebring. Die KTA het bestaan uit bestuurders van die diens en taalkundiges van die Akademie (Hugo, 2009:97). Die komitee het hom uitsluitlik met Afrikaanse kwessies besig gehou, maar daar is mettertyd ook Engelse kundiges betrek (Roos, 1959:146).

Afgesien van die KTA wat slegs by geleentheid bymekaargekom het (Botha, T.J.R., 1985:240), is daar ook ’n voltydse taaladviseur by die SAUK aangestel. Die taaladviseur dien op die KTA maar die persoon “is die enigste personeellid in die SAUK wat amptelik verantwoordelik is vir alle aspekte van taalnormering by Afrikaanse dienspunte” (Botha, T.J.R., 1985:241). In daardie stadium het die taaladviseur daagliks na die SAUK se uitsendings geluister en omroepers op enige foute wat begaan is, uitgewys.

Omroepers kon ook die taaladviseur raadpleeg wanneer daar onsekerheid oor ’n taalverwante saak opgeduik het (Roos, 1959:146). Die komitee het veral ’n waardevolle bydrae gelewer tot die uitspraak van vreemde woorde en name en het bowenal goeie Afrikaans bevorder. ’n Hoë mate van sorg is aan die uitsaaitaal bestee en die KTA het dus gesorg dat die SAUK ’n groot bydrae kon lewer tot die standaardisering van Afrikaans en het ook ’n rol gespeel by die bevordering van taalnorme. Roos (1959:147) meen juis die doel van die KTA was om as ’n “kragtige stimulus” te dien “vir die triomfantlike ontwikkeling van Afrikaans”.

Die KTA se bevindinge rakende taal “is oorspronklik noukeurig opgeteken op indekskaartjies waarvan daar derduisende oor taaladvies en oor die uitspreek van woorde in Afrikaans is” (Van der Merwe & Engelbreg, 1990:3). “Die besluite, aanbevelings en uitsprake van die Komitee het te doen met taalverskynsels op elke denkbare terrein van die lewe, soos wat dit veral in uitsendings gevind word” (Van der Merwe & Engelbreg, 1990:3). Hierdie aktiwiteite van die KTA het verseker dat die uitsaaier tred kon hou met die “dinamiese taaldomein ... ten einde hom te vergewis van beduidende taalneigings, -verskynsels en -strominge in die samelewing (Van der Merwe & Engelbreg, 1990:5).

Die radio het van krag tot krag gegaan en die sukses van die Afrikaanse diens het gevolglik gesorg dat Afrikaans as uitsaaitaal gegroei en ontwikkel het in so ʼn mate dat die mense die radio beskou het as “die grootste enkele vormende en standaardiserende krag van Afrikaans” (Hugo, 2009:97). Ponelis (1992:79) het vroeër juis gesê dat Afrikaans die media broodnodig het ter ondersteuning en vestiging van Standaardafrikaans, veral in ʼn postapartheidsera.

Sedert die stigting van die Afrikaanse radio as kommersiële diens, het dit egter ʼn realiteit geword dat die uitsaaiwese ʼn meer informele baadjie aangetrek het met betrekking tot die aanbieding en taalgebruik in radioprogramme. Magdaleen Kruger, die uitvoerende bestuurder van RSG sedert 2004, voer aan dat die manier van praat verander het; “dis minder rigied” (soos aangehaal deur Schoombie, 2012:63). Sy meen hierdie informeler aanslag skep ruimte vir ʼn groter verskeidenheid tongvalle. Die klem val eerstens op goeie kommunikasie met ʼn strewe na keurige taalgebruik daarmee verweef. Kruger vertel dat ʼn losser aanbieding nie noodwendig ʼn slordige aanbieding beteken nie. Soos die radio het die televisie ook “geweldig baie vir Afrikaans beteken” (Steyn, 2014:402).