• No results found

Hoofstuk 4: Empiriese agtergrond: inhoudsanalise van radio-nuusbulletins

4.2 Metodologie

4.2.1 Kwalitatiewe navorsing

Soos reeds genoem, neem hierdie studie ʼn kwalitatiewe benadering aan. Kwalitatiewe navorsing ondersoek hoofsaaklik sosiale aspekte (Jupp, 2006:248) en Van der Merwe

5 Die inhoud van die nuus verwys na die nuusbulletin wat deur die aanbieder gelees word. In sommige gevalle word ’n woordvoerder se eie woorde via ’n klankgreep by ’n bulletin ingesluit. Hierdie eksterne klankgrepe sal saam met die inhoud van die bulletin geanaliseer word.

(1996:291) verduidelik dat kwalitatiewe navorsing daarop toegespits is om die menslike gedrag en ervarings beter te verstaan.

Toegepaste linguistiek sluit by die kwalitatiewe benadering aan omdat dit ook ʼn dieper begrip van taal en taalonderwys behels (Heighan & Croker, 2009:xi). Croker (2009:4) gaan voort deur te sê dat toegepaste linguistiek taal bestudeer soos dit in die werklikheid gebruik word wat voorts beteken dat taalanalise ʼn belangrike onderafdeling van dié gebied uitmaak. Tweedens is begrip van die konteks en ervarings van taalgebruik ook belangrik by toegepaste taalstudies. Op die gebied van linguistiese navorsing kan beide die kwantitatiewe en kwalitatiewe metodes gebruik word, afhangende van die data wat ingesamel is (Croker, 2009:4-5; Linguisticsnet, 2014). Die kwalitatiewe metode is egter meer gepas binne die linguistiek omdat kwalitatiewe navorsing die insamel van tekstuele data insluit wat dan deur middel van interpretatiewe

analisering ontleed word (Croker, 2009:5).

Individuele opvattings en ervarings vorm dus die grondslag van kwalitatiewe navorsing wat uit subjektiewe data voortspruit (Rudestam & Newton, 2007:36). Soos genoem, word kwalitatiewe studies gebruik om sosiale fenomene te bestudeer, maar wat belangriker is vir dié betrokke studie is die feit dat dit ook van nut is om die verandering van die sosiale aspekte binne die menslike ervaringsfeer te interpreteer ten einde dit te verstaan (Croker, 2009:7; Jupp, 2006:250).

Bogenoemde aangeleentheid sluit aan by die fenomenologiese benadering: die fenomenologie bestudeer fenomene en die aard van betekenis. Die fokus is op die wyse waarop dinge vir die mens voorkom, gesien deur die ervaringswêreld of bewustheid van elke individu (Kafle, 2011:181-182). Die hermeneutiese fenomenologie fokus op die subjektiewe ervaring van individue of groepe met die oog daarop om te ontsyfer hoe dit deel word van die lewens van mense (Kafle, 2011:186) en dit kan slegs kwalitatief bepaal word.

Van der Merwe (1996:291) definieer kwalitatiewe navorsing as studies wat verband hou “met die ontwikkeling van teorieë en begrip”. Kwalitatiewe navorsing poog spesifiek om ’n beter begrip van die menslike belewing, waarnemings, intensies en optredes te verskaf deur ’n benadering van konteksgerigte interpretasie te volg (Croker, 2009:7). Griffin (2005:103) sluit hierby aan en hy voer aan dat kwalitatiewe navorsing toepaslik is by die interpretasie van nie- eenvormige tekste. Met ander woorde data wat kwalitatief geanaliseer word, besit nie vorm of struktuur nie, in teenstelling met data wat kwantitatief verwerk word. Kwantitatiewe navorsing werk ten nouste saam met syfers en statistiek, terwyl kwalitatiewe data geensins numeries van aard is nie (Griffin, 2005:103). Croker (2009:7) sluit hierby aan en verduidelik dat kwantitatiewe navorsing daarop toegespits is om meetbare uitslae te vind, terwyl kwalitatiewe navorsing

eerder daarop fokus om die proses beter te verstaan. Vir doeleindes van hierdie studie word die data kwalitatief verwerk aan die hand van ʼn inhoudsanalise.

4.2.1.1 Die inhoudsanalise

In Maree (2007:99) word aangevoer dat kwalitatiewe data-analise gewoonlik gebaseer is op die interpretasiefilosofie, wat daarop gerig is om betekenisvolle en simboliese inhoud in tekste te ondersoek. Data-analise poog om persepsies, houdings, begrippe, kennis, waardes, gevoelens en ervarings uit die data vas te stel, en dit word ten beste bereik deur middel van die induktiewe analise van kwalitatiewe data. Data kan deduktief of induktief benader word maar by dié studie word die data spesifiek induktief geanaliseer, omdat die temas uit die data na vore kom, eerder as wat dit vooraf opgestel is (Heigham & Croker, 2009:311). Induktiewe benaderings berus op denke wat patroonmatigheid binne spesifieke observasies of gebeure waarneem wat dan gebruik word om ʼn algemene gevolgtrekking of teorie te vorm (Heigham & Croker, 2009:314). In teenstelling met die induktiewe benadering, begin die deduktiewe denkproses met ʼn bepaalde teorie wat empiries getoets word om vas te stel of dit as synde waar bewys kan word, al dan nie (Heigham & Croker, 2009:311).

Dit beteken dat die ondersoek daarop uit is om dominante, frekwente of beduidende temas wat in die rou data aanwesig is, te identifiseer (Maree, 2007:99). Inhoudsanalise is ʼn goeie metode om gesproke data, veral in die vorm van media-inhoud, te analiseer ten einde waardevolle bevindings te maak (Treadwell, 2011:177-178). Inhoudsanalise word algemeen gebruik by die analiserig van boeke, brosjures, geskrewe dokumente, transkripsies, nuusverslae en selfs visuele media (Maree, 2007:101; Saldaña, 2009:3).

Inhoudsanalise behels dat die data kwalitatief verwerk word aan die hand van kodes wat aan die data gekoppel word (Maree. 2007:105). Kodering is die proses aan die hand waarvan die navorser sorgvuldig deur die getranskribeerde data lees en die teks dan in betekenisvolle analitiese eenhede onderverdeel deur die data te kategoriseer (Maree, 2007:105; Treadwell, 2011:169). Wanneer betekenisvolle segmente geïdentifiseer is, moet die navorser die data dienooreenkomstig kodeer. Kodering word dus gedefinieer as die markering van segmente van data met behulp van simbole, beskrywende woorde of unieke titels (Böhm, 2004:271; Maree, 2007:105). Met ander woorde wanneer die navorser enigiets beduidend vind, word dit gekodeer en gemerk. Dit is belangrik om te noem dat ’n segment met meer as een kode gemerk kan word (Maree, 2007:107; Saldaña, 2009:5).

Nadat die kodes in die teks geïdentifiseer is, moet die kodes geïnterpreteer word. Die geanaliseerde data moet dan weer nagegaan word met die doel om ontluikende patrone,

assosiasies, konsepte en verduidelikings in die data op te spoor (Maree, 2007:111; Saldaña, 2009:149). Die uiteindelike doel van data-interpretering is om tot ’n bevinding of gevolgtrekking te kom, want hoe sterker die resultate van jou bewyse is, hoe sterker is die gevolgtrekking (Maree, 2007:113). Hierdie stap hou voorts ook verband met die aspek van gegronde teorie (Böhm, 2004:271; Saldaña, 2009:150).

4.2.1.2 Gegronde teorie (Grounded Theory)

Bernard (2000:468) voer aan dat ʼn inhoudsanalise nie ʼn alleenstaande metode is nie. Die inhoudsanalise word gekoppel aan ander vername konvensies. In die geval van dié betrokke studie word die inhoudsanalise se kategorisering in samehang met die gegronde teorie gebruik. Die gegronde teorie verwys na die benadering in navorsing waar ʼn teorie op ʼn induktiewe wyse vanuit die ondersoekte fenomeen gevorm word (Jupp, 2006:131; Maree, 2007:77; Neuman, 2003:52; Treadwell, 2011:170).

Maree (2007:77) verduidelik dit as die navorsingsmetode wat van ander metodes verskil in die wyse waarop die teorie uit die data geput word. Gegronde teorie ontwikkel die teorie waarop die data geanaliseer sal word vanuit die wyse waarop die data sistematies ingesamel en gekategoriseer word. Op die tradisionele wyse sal die teorie eerstens ingesamel word en die data daarvolgens geanaliseer word, in teenstelling met die gegronde teorie (Maree, 2007:77). Die gegronde teorie oorbrug derhalwe die gaping tussen harde teoretiese navorsing en empiriese navorsing tydens ʼn kwalitatiewe studie en dit word gedoen deur die menslike ervaring in ag te neem.