• No results found

Hoofstuk 4: Empiriese agtergrond: inhoudsanalise van radio-nuusbulletins

4.3 Data-analise

4.3.4 Resultate: Atlas.ti

4.3.6.4 Huidige taalregulering

Figuur 4.18: Netwerk van die huidige taalregulering op radio

 Kode 1: Sekere woorde kan as verouderd voorkom

Hoewel ons die taal deurentyd probeer vernuwe, is daar woorde wat deur die jare ‘huishoudelike’ Afrikaans gebly het – en ek dink vandag slegs deur ‘n handjievol mense gebruik word. Jonger skrywers by radio word warm onder die kraag wanneer die ouer skrywers verouderde Afrikaans gebruik. Almal is baie lief vir die uitgediende woord ‘bykans’ vir ‘byna’, en kan ook nie verstaan waarom ons elke keer van ‘vragmotor’ moet praat en nie sommer net ‘lorrie’ of ‘trok’ nie. Ek praat nie eers van ‘bedag maak op’ nie. [3:5]

Soos vroeër genoem (vgl. 4.3.4.3 kode 2) bestaan daar ’n afstand tussen jong skrywers en ouer skrywers aan die SABC en dit word ook gereflekteer in die woordkeuse op radio. Tog erken die respondente dat hulle bepaalde kernbronne wel gebruik ter wille van taalregulering.

 Kode 2: Naslaanbronne gebruik

Ons het verskillende woordeboeke en spelreels in die kantoor wat as naslaanbron gebruik word. [1:13]

ʼn Verskeidenheid woordeboeke – tweetalig, verklarend, Nuwe Woorde, die Skryf Afikaans van A tot Z, regs- en ekonomiese woordeboeke word daagliks gebruik. [2:8] ... ek gebruik die Verklarende Woordeboek, Spelreëls, HAT, Afrikaans op sy Beste, Skryf Afrikaans en Pharos se Afrikaans/Engelse Woordeboek die meeste. Ook die South African Concise Oxford Dictionary… [3:3]

Van die nuttigste bronne vir my is: Die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS). Kaapstad: Pharos. Die jongste uitgawe is altyd die gebruiklike. Nou is dit die tiende. Combrink, Johan en Spies, Johan. 1994. SARA: Sakwoordeboek van regte Afrikaans. Kaapstad: 1994. Tweede uitgawe; Hiemstra, L.W. 1980. Die juiste woord. Kaapstad: Tafelberg en Nasou; en Prinsloo, A.F. 1995. Afrikaans op sy beste. Pretoria: J.L. van Schaik Uitgewers. Dié boek van Anton Prinsloo, in 'n stadium hooftaaladviseur van die SAUK en as voorsitter van die Taalkommissie van die SA Akademie ook hoofredakteur van dieAWS (negende uitgawe), gee heelwat uitspraakriglyne. [4:7]

Afgesien van hierdie standaardbronne wat wel deur die skrywers vir radio gebruik word, is daar ook steeds bepaalde individue wat ’n regulerende funksie vervul

 Kode 3: Persone wat taal nagaan

In die jare negentig was daar selfs iemand wat in ons Johannesburgse nuuskantoor gewerk het wie se funksie dit was om joernaliste se skryf-en taalvaardighede te evalueer. [1:2]

By Afrikanse radio het die stasiebestuurder, ***, die rol van *** gehad. Sy sal op gereelde grondslag per e–pos riglyne uitstuur oor sekere taalreels en ook uitsprake sodat daar eenvormigheid is tussn die stasie ( RSG) se aanbieders en die van Nuus. [1:9]

Omdat die Afrikaanse nuus en nuusaktualiteit op RSG uitgesaai word, is *** die een wat vir die taalreels/styl verantwoordelikheid vat. Sy het ʼn paar mense buite die SAUK wat as Taalpolisie aangstel is en dat na die programme luister en terugvoer gee. Die info word dan weer aan ons deurgegee. [1:12]

Kwaliteit word behou deur deurlopend terugvoer aan mekaar te gee en ook die raad van kenners in te roep. Luisteraars speel ook ‘n waardevolle rol. Dit word op informele wyse gedoen deur middel van voorbeelde uit bulletins en wat aanvaarbaar is en wat nie. Daarna sal bepaal word wat die voorkeur woord byvoorbeeld sou wees en wat RSG gaan gebruik. Dit word dan aan al die joernaliste, skrywers en omroepers gestuur. Dit word ook elektronies opgeneem sodat dit toeganklik is vir latere navrae oor wat die gepaste woord sou wees. [2:6]

Die voorafgaande aanhalings bevestig weereens die belangrikheid van ’n persoon of persone wat na die taalkwaliteit oorhoofs by ’n uitsaaier omsien. Hierdie soort interne normering is van kardinale belang, maar kan ook ekstern deur middel van taalkenners ondersteun word.

 Kode 4: Taalkenners word gebruik

RSG het ook die hulp van prof Ernst Kotze wat as taalraadgewer optree. Wanneer daar vasgeval word met ʼn woord of skryfwyse word daar gewoonlik op hom gereken om uitsluitsel te gee en ʼn voorstel te maak. Die uiteinde van wat gebruik word lê by die stasiebestuurder, ***, om so eenvomigheid te verseker. [2:9]

Regter Frits van Oosten staan ons ook by tov regsterme. [2:10]

Prof Ernst Kotzé in die Baai het my gereeld gekontak wanneer iemand iets snaaks geskryf of gesê het [3:7]

Dit kom duidelik voor dat RSG gebruikmaak van bepaalde taal- en vakkenners.Dit is noemenswaardig dat prof. Ernst Kotzé, ’n bekende Afrikaanse taalkundige en voormalige voorsitter van Taalkommissie (LitNet, 2014), hierby betrek word. Die voorafgaande ondersteun die feit dat goeie taalgebruik steeds vir werknemers van RSG belangrik is.

 Kode 5: Goeie taalgebruik steeds belangrik

Ja ek dink daar word steeds klem geplaas op goeie Afrikaans. [1:17] Daar word beslis ʼn hoë premie op taalgebruik geplaas tov nuus. [2:1]

ʼn Meer informele aanslag beteken egter nié dat korrekte taalgebruik saam met die badwater uitgegooi word nie. (Dit geld vir al die SAUK se taaldienste) [2:4]

Ja almal dra vandag nog steeds goeie Afrikaans op die hart, maar dit word nie meer noodwendig as belangrikste, of grootste prioriteit beskou nie. [3:11]

Al drie die respondente het hulle verbintenis tot goeie taalgebruik bevestig. Ten spyte van ’n ander benadering tot die formeelheid van die taal van die uitsending is korrekte taalgebruik ononderhandelbaar. Tog erken die respondente die invloed van Engels.

 Kode 6: Invloed van Engels

Ons het nie so ‘n obsessive met Engels of Engelse woorde nie. Ek glo ook daaraan dat ons die taal van die mense moet weerspieel. Joernaliste moet woorde gebruik wat hulle in hulle algemene omgangstaal gebruik nie. [1:16]

Anglisismes kruip daarom al hoe meer in die taalgebruik by radio in. [3:6]

Die invloed van Engels op Afrikaans is onkeerbaar in die Suid-Afrikaanse konteks en radio weerspieël hierdie toedrag van sake. Nie net reflekteer die radio die taal wat deur luisteraars gebruik word nie, maar word direkte beïnvloeding ook aangemoedig.

 Kode 7: Luisteraars as bron van norme

Ons word egter baie keer gekonfronteer met begrippe waarvoor daar nie woorde bestaan nie. Vrar dan luisteraars om te help met nuutskeppings . (veral as dit kom by goed soos die IT bedryf.) [1:14]

Kwaliteit word behou deur deurlopend terugvoer aan mekaar te gee en ook die raad van kenners in te roep. Luisteraars speel ook ‘n waardevolle rol. Dit word op informele wyse gedoen deur middel van voorbeelde uit bulletins en wat aanvaarbaar is en wat nie. Daarna sal bepaal word wat die voorkeur woord byvoorbeeld sou wees en wat RSG gaan gebruik. Dit word dan aan al die joernaliste, skrywers en omroepers gestuur. Dit word ook elektronies opgeneem sodat dit toeganklik is vir latere navrae oor wat die gepaste woord sou wees. [2:6]

Die respondente dui verder aan dat die luisteraars ook ’n rol kan speel met die skep van terme sowel as die regulering van kwaliteit. Hierdie regulering vind ook egter informeel op die radio self plaas.

 Kode 8: Informele taalregulering

Meeste van die taalregulering en terugvoering is egter op ‘n informele grondslag gedoen na die programme deur die redakteurs en meer ervare aanbieders. [1:4]

Kwaliteit word behou deur deurlopend terugvoer aan mekaar te gee en ook die raad van kenners in te roep. Luisteraars speel ook ‘n waardevolle rol. Dit word op informele wyse gedoen deur middel van voorbeelde uit bulletins en wat aanvaarbaar is en wat nie. Daarna sal bepaal word wat die voorkeur woord byvoorbeeld sou wees en wat RSG gaan gebruik. Dit word dan aan al die joernaliste, skrywers en omroepers gestuur. Dit word ook elektronies opgeneem sodat dit toeganklik is vir latere navrae oor wat die gepaste woord sou wees. [2:6]

Ons het wel riglyne wat van skrywer na skrywer na skrywer oorgedra is. Soos bv om die tyd en plek waar iets gebeur het vroeër in ‘n berig in te sluit. Ons begin ook met “Die president van Suid-Afrika, Jacob Zuma….” En nie soos koerante, Jacob Zuma, president van Suid-Afrika nie. Basiese riglyne bestaan wel. ʼn Skrywer by ʼn ander medium sal dus aanvanklik bietjie sukkel om by die radiostyl aan te pas, en andersom… [3:2]

Hierdie aspek hang saam met die feit dat die respondente reken dat goeie taalgebruik steeds belangrik is. Weens die verlies aan formele strukture wat taalkwaliteit nagaan, word regulering dan informeel deur die rolspelers by die radiostasie self hanteer. Dit alles vind plaas binne ’n konteks wat duidelik sedert die 1990’s verander het.

 Kode 9: Verandering in taalgebruik sedert 1990's duidelik

Dit is egter ʼn feit dat die taalgebruik aangepas en verander het sedert die middel 90-ger jare. [2:2]

Die konteksverandering by die SABC het ’n groot invloed gehad op die huidige stand van taal by die SABC se radiodiens in Afrikaans veral met betrekking tot die regulering en ondersteuning deur bestuur. Die respondente het egter ook enkele voorstelle ter wille van die verbetering van die omstandighede by die SABC se radiodiens voorgestel.