• No results found

Die taalbeleid van die SABC

Hoofstuk 3: Die uitsaaiwese in Suid-Afrika

3.4 Die taalbeleid van die SABC

Die taalbeleid van die openbare uitsaaier is onlosmaaklik aan die land se nasionale taalbeleid verbind (Du Plessis, 2006:85). Die rede hiervoor is dat taalbeplanners van mening is dat ʼn taalbeleid ʼn ideologiese funksie vervul wat daarop toegespits is om nasionale eenheid in ʼn land te bewerkstellig (Pokpas & Van Gensen, 1992:167). Naas die onderwysstelsel en ander burokratiese liggame is die media een van die primêre taalbeleidsagente binne ʼn land (Du Plessis, 2006:85).

3.4.1 Die taalbeleid vóór 1994

Dit is moeilik om hierdie ou dokumente in die hande te kry maar in die boek, Taalbulletin (Van der Merwe & Engelbreg, 1990:4) word ʼn opsomming van die SAUK se eerste amptelike taalbeleid wat in 1988 geformuleer en gepubliseer is, verskaf. Vir kontekstuele doeleindes sal slegs die toepaslike dele hier aangehaal en weergegee word.

Eerstens lui die dokument dat die SAUK nie deel is van die formulering van nasionale taalstrategieë nie, maar die organisasie sal deelneem as gespreksgenoot om sulke strategieë te formuleer (Van der Merwe & Engelbreg, 1990:4). Die SAUK sal ook deelneem aan die aktiewe bevordering van die doelwitte soos gestel deur die nasionale taalgesag.

Die taalbeleid gee voorts ook te kenne dat taalversorging ʼn kardinale rol binne die uitsaaibedryf speel “en die amptenare van die SAUK sal in hulle beroepsbeoefening, te midde van ʼn hoogtegnologiese werkomgewing, noulettend die vereiste waarde en norme in die taalgebruik van die nasionale uitsaaier eerbiedig en in stand hou” (Van der Merwe & Engelbreg, 1990:4). Binne die taalbeleid beloof die SAUK om “in sy formeler uitsendings” soos byvoorbeeld nuusuitsendings “die soort Afrikaans gebruik wat vir die Afrikaanssprekende formeel en gepas klink”. Hiermee saam erken die SAUK “die bestaan van taalvariante (soos in streek- en groepstale)” en hierdie variëteite sal op ʼn gepaste wyse in minder formele uitsendings gebruik word (Van der Merwe & Engelbreg, 1990:4).

Laastens lui die taalbeleid dat die SAUK, in samewerking met taal- en kultuurorganisasies, steeds wil voortgaan om “Afrikaans in sy ryke verskeidenheid vorme te bevorder – sonder om die taalskat en taaleie in te boet”. Die SAUK sal hierdie deugde met behulp van die KTA en sy

Taalburo najaag, deur te verseker om aan die voorpunt van taalverandering en taalverskynsels binne die Afrikaanse taaldomein te bly (Van der Merwe & Engelbreg, 1990:4-5).

3.4.2 Ontwikkeling van ʼn nuwe taalbeleid van die SABC ná 1994

Steyn (1998:458) voer aan dat taal waarskynlik die belangrikste kulturele element is wat ʼn mediabeleid kan beïnvloed. Dit is veral waar met betrekking tot Suid-Afrika in die lig van die land se sosiopolitieke geskiedenis en die omvangryke aard van meertaligheid in die land. Die taalbeleid van die SABC is egter nog altyd in omstredenheid gehul (Steyn, 1995:89-90) omdat die beleid nie daarin kan slaag om alle taalgemeenskappe tevrede te stel nie. Dit het veral ʼn spits bereik met die inkorting van Afrikaans tydens Suid-Afrika se oorgang na ʼn demokrasie. Voor 1994 het die SAUK hoofsaaklik ʼn tweetalige beleid gehad wat ingesluit het dat optimale lugtyd aan Afrikaans toegestaan is (vgl. Louw, 2004:45; Ponelis, 1992:77; Tomaselli & De Villiers, 1998:154, Van Staden, 2004:52). Dié beleid het gesorg dat 50% van die inhoud wat deur die SAUK uitgesaai was, in Afrikaans moes wees. Steyn (1995:89) konstateer egter dat dié bevoordeling teen die begin van 1993 drasties afgeneem het, met Afrikaanse inhoud wat tot 35% gereduseer is en Engels wat die meerderheid lugtyd gegun is.

Teen die einde van 1994 het die taalbeleid van die SABC radikale wysigings ondergaan (Olivier, 2011:226; Steyn, 1995:92-93, Truter, 2003:45). Truter (2003:46-51) wys op hoofmomente rakende die taalbesluite van die SABC wat hewige reaksie onder Afrikaanse kykers uitgelok het. Eerstens is daar in 1994 aangekondig dat die SABC se amptelike interne bestuurstaal voortaan net Engels sou wees (Truter, 2003:46). In dieselfde jaar het die SABC ook Engels verhef tot die ankertaal van al die televisiekanale, wat gelei het tot die verdere beperking van Afrikaanse uitsendings. Engels is toe 180 uur van die beskikbare 227 uur per week oor die televisie uitgesaai. Die derde hoofmoment word gekoppel aan die finale konseptaalbeleid wat die SABC bekendgemaak het vir die “nuwe” Suid-Afrika (Truter, 2003:47). Dié konsepbeleid het behels dat die uitsending van Afrikaanse programme met die helfte verminder sou word, wat tot groot ontevredenheid onder Afrikaanse kykers gelei het (Truter, 2003:48). Vierdens is daar in 1995 ʼn besluit aangekondig wat lui dat die agtuurnuus slegs in Engels uitgesaai sou word en Afrikaans is met die ander minderheidstale saamgegroepeer (Truter, 2003:48). Die ontevredenheid wat voortgespruit het uit die inkorting van Afrikaans op televisie, het ʼn omvattende boikotaksie tot gevolg gehad om die uitsaaikorporasie hom sy noodsaaklike advertensie-inkomste te ontneem.

3.4.3 Die huidige taalbeleid van die SABC

Die geboorte van die Suid-Afrikaanse demokrasie het ’n breë spektrum veranderings in die land se wetgewing teweeggebring, wat ook na die uitsaaiwese oorgespoel het. Eerstens is die amptelike interne bestuurstaal van die SABC ná 1994 tot slegs Engels beperk (Truter & Lubbe, 2002:201). Die nuwe demokratiese Grondwet van Suid-Afrika is in 1996 gepromulgeer en het in 1997 in werking getree. Dit het ʼn stel implikasies vir die uitsaaiwese gehad en in 1999 het ʼn nuwe Uitsaaiwet (Wet 4 van 1999) alle vorige uitsaaiwetgewing vervang (Du Plessis, 2006:90). Hierdie Uitsaaiwet se taalwetgewing is in samehang met die Grondwet van 1996 se taalbepalings geformuleer. Die Uitsaaiwet bestaan uit drie kategorieë uitsaaidienste in Suid- Afrika, naamlik die openbare uitsaaidiens, die kommersiële uitsaaidiens en die gemeenskapsuitsaaidiens (Du Plessis, 2006:90, Van Zyl, 2003:8).

Du Plessis (2006:88) tref duidelik onderskeid tussen die SABC se taalmandaat (wat deur uitsaaiwetgewing bepaal word) en die SABC se redaksionele taalbeleid (wat deur die beheerraad van die SABC bepaal word). Die taalmandaat stipuleer dat die SABC verplig is om sy eie taalbeleid te formuleer in oorleg met die taalbeleid van die land (Du Plessis, 2006:91). Sedert die vestiging van die “nuwe” SABC het die SABC reeds twee redaksionele taalbeleide gehad teen die nuwe demokratiese agtergrond. Die eerste beleid is in 1995 ingestel, maar die inhoud was onderhewig aan hersiening na aanleiding van ʼn geweldig intensiewe beraadslagingsproses met die publiek (Du Plessis, 2006:91). Die hersiene beleid is toe in 2004 ingestel as deel van die SABC se algemene redaksionele beleid.

Die redaksionele beleid van 2004 raak verskeie onderwerpe aan, maar vir doeleindes van hierdie studie is dit belangrik om die gedeelte wat oor taal handel, uit te lig. Du Plessis (2006:94) voer aan dat die beleid van 2004 toon dat daar verseker moet word dat al die amptelike tale korrek in sy gesproke vorm aangewend moet word. Die beleid stipuleer voorts dat die dinamiek van taal in ag geneem moet word sodat daar deurlopend rekening gehou moet word met die ontwikkeling, aanpassing en algemene evolusie van die omstandighede van taal in die uitsaaiwese. Die beleid vermy egter ooglopend om in te sluit hoe die gebruik van taal op ʼn kwantitatiewe wyse gemonitor moet word, wat beteken dat geen regulering van taalstandaarde ingestel is nie (Du Plessis, 2006:95). Die beleid reguleer slegs die toepassing van die taalbepalings van die beleid self (SABC, 2004:33-34).

Die SABC se redaksionele beleid bevat afsonderlike taalbepalings vir radio (SABC, 2004:28-29) aan die een kant en vir televisie (SABC, 2004:29-33) aan die anderkant, met ʼn slotgedeelte wat handel oor die monitering en implementering van die inhoud van die taalbeleid. Weereens is hier ook geen melding van die regulering van taalstandaarde nie (SABC, 2004:33-34) omdat die taalbeleid van die SABC hoofsaaklik fokus op die regverdige behandeling van die amptelike tale

en die toekenning van uitsaaityd vir elke taal (Du Plessis, 2006:95; Olivier 2011:226-227). Dit beteken dat die taalbeleid op die statusbeplanning van taal fokus terwyl die beleid vaag is wanneer dit kom by die kwessie van korpusbeplanning (Du Plessis, 2006:96).