• No results found

Die openbare uitsaaier as taalstandaardiseringsmag

Hoofstuk 3: Die uitsaaiwese in Suid-Afrika

3.6 Die openbare uitsaaier as taalstandaardiseringsmag

Volgens T.J.R. Botha (1985:238) “het die radio en televisie seker die meeste invloed en hoogste aansien” van al die kommunikasiemedia en ’n algemene beskouing heers dat die media in staat is daartoe om die samelewing te onderrig. Bell (1983:29) meen ook dat die taal wat by nuusuitsendings gebruik word, as die standaardvorm beskou word; die uitsaaiwese speel gevolglik ʼn kardinale rol by die uitbreiding en vestiging van ʼn standaardtaal (Bell, 1983:30; Cruywagen, 2012:210) – veral by die standaardisering van uitspraak (Roos, 1959:19).

Hugo (2009:96) voeg by dat die Afrikaanse radiodiens “ongetwyfeld ’n enorme invloed gehad het op die uitbouing van gesproke sowel as geskrewe Afrikaans” en die standaardvorm van ’n taal is by uitstek die taal wat deur die media gebruik word (vgl. Bell, 1983:29; Mesthrie, 1994:182).

Hugo (2009:97) maak die volgende opmerking: “Die taal van die Afrikaanse radio is inderdaad landwyd nageskryf en nagepraat”, maar sedert 1994 “het die radio in ’n groot mate dié rol verloor” (Hugo, 2009:97).

3.6.1 Die regulering van taalkwaliteit by die SABC

Du Toit (2004:47) sê navorsing toon “dat daar hoegenaamd nie genoeg aandag gegee word aan korrekte Afrikaanse grammatika en uitsprake nie”, veral in die uitsaaiwese. Hy meen voorts dat taalgebruik op die vlak van uitsaaiwese van kritieke belang is omdat “uitsaaiers op radio en televisie” as rolmodelle dien (vgl. Bell, 1983:29). Cruywagen (2012:211) eggo Du Toit se mening wanneer hy sê “daar rus ’n dure verpligting op alle uitsaaiers (omroepers, nuuslesers, nuusskrywers, programaanbieders of wat dan ook) om noulettend die vereiste waardes en norme in hulle taalgebruik te eerbiedig en in stand te hou”.

Dit is wel noemenswaardig dat die bevordering van standaardtaal nie deur die SABC se taalbeleid afgedwing word nie. Dié taalbeleid (SABC, 2004:27-35) fokus eerder op die regverdige en billike hantering van al die amptelike tale van Suid-Afrika (soos onder 3.4.2

bespreek). Beleidsdokumente stel slegs dat die gehalte van uitsendings aan die taalbehoeftes van kykers moet voldoen.

Roos (1957:18) voer aan dat omroepers noulettend moet wees op hulle taalgebruik, want ʼn fout wat oor die mikrofoon gemaak word “vind dadelik ingang in iedere huis dwarsdeur die land” (vgl. Bell, 1983:29). Roos benadruk ook dat daardie noulettende taalgebruik soms maklik kan “oorslaan na ʼn strewe na eenvormigheid” wat die taal sou verarm. Roos (1957:19) verwoord die rol van die SAUK goed wanneer hy sê dat die openbare uitsaaier se strewe nie na eenvormigheid van taal moet wees nie; eerder dat die uitsaaier hom moet beywer vir die “standaardisering van die ... uitspraak en taalgebruik”. ʼn Instansie soos die SAUK moet juis ruimte skep vir verskillende benaderings tot taal, omdat die verskille bydra tot die verryking van taal.

Cruywagen (2012:211) beskryf dan die kernbelang van norme in die uitsaaiwese ten beste wanneer hy sê die taalgebruik van ’n uitsaaier beïnvloed die taal van die luisteraars en

kykers en dit is die hoofrede waarom norme so ʼn vername rol in die bedryf speel. Is dit dan in

orde dat die SABC min of geen beheer uitoefen oor die standaard van die taalgebruik wat oor die radio en op beeldradio uitgesaai word nie? Die belangrikheid van norme kom eksplisiet in die uitsaaiwese na vore en Webb (1985:99) skryf juis dat dit algemene praktyk onder die Afrikaanse radio- en televisiediens is “om hulle publikasies [of uitsendings] aan die hand van ’n baie duidelike stel voorskrifte te laat versorg.”

Die feit dat die openbare uitsaaier taalnorme bevorder, lei daartoe dat die SABC en ander uitsaailiggame direk verantwoordelik is vir die standaardisering van taal. Volgens die voormalige direkteur-generaal van die SAUK, Douglas Fuchs (soos aangehaal deur Van den Berg, 1974:223), is Afrikaanse radio “die grootste enkele vormende en standaardiserende” krag van Afrikaans. T.J.R. Botha (1985:247) voer aan dat normeerders ten doel het om taal korrek te gebruik en die openbare uitsaaier “moet beantwoord aan die aanvaarde taalgebruiksnorme” omdat standaardisering so geïmplementeer word.

Vroeërjare was die KTA en die voltydse taaladviseur verantwoordelik vir die regulering van taalnormering by al die Afrikaanse dienspunte (Botha, T.J.R., 1985:241). Dit was selfs só streng dat as ʼn omroeper ʼn fout op die lug gemaak het, ʼn rooi lig in die ateljee begin brand het, wat hom onmiddellik na die baas se kantoor geroep het (Steyn, 2014:361).

3.6.2 Normering in die uitsaaiwese

Norme in die taal hou weinig verband met die spelling van ’n woord, “omdat die spelling vas is” (De Villiers, 1977:2). De Villiers (1977:2) verduidelik dat norme oorwegend in openbare gebruik, in geskrewe en gesproke vorme, gevind kan word. ʼn Goeie voorbeeld van so ʼn openbare forum waar gesproke en geskrewe taal voorkom, is die media. Die media, en spesifiek die uitsaaiwese, moet egter nie in dié opsig streef na absolute homogeniteit in taal (Roos, 1957:19) en oordrewe purisme nie; die klem moet val op keurige, gemaklike en verstaanbare taalgebruik (Cruywagen, 2012:211).

Die realiteit is dat Afrikaans in die volksmond verander, maar Cruywagen voer aan dat “loslit- Afrikaans” verkeerdelik beskou word “as ’n ope uitnodiging om die taal met Engels te deurspek, slordig te praat en woorde verkeerd uit te spreek” (Prins, 2011). Cruywagen sê voorts “al is die taal wat ons praat informeler, losser en gemakliker beteken dit nie” die sprekers kan die taal na eie smaak verander nie. Veral as die spreker in ’n posisie staan waar sy taalgebruik ander sprekers se taalgebruik kan beïnvloed. Cruywagen verwys na sommige algemene taalfoute wat deur sprekers en selfs die media gemaak word en hy spreek sy misnoeë oor hierdie taalfoute uit. Hy sê mens “neem stappe pleks van stappe doen” en hy lê klem op die feit dat daar nie ’n woord soos “huidiglik” in Afrikaans bestaan nie. “’n Mens moet steeds kan onderskei tussen reg en verkeerd, al is jou Afrikaans minder formeel”.

Indien sulke foute in die media voorkom, kan dit ’n beduidende invloed op die gehoor en hulle woordeskat hê, omdat die taal wat deur die media gebruik word, as die standaardvorm beskou word. Carstens (1995:11) benadruk ook die belangrikheid van standaarde in die taalpraktyk. Indien ’n taalpraktisyn hom nie behoorlik oor taalkwessies kan uitdruk nie, sit hy met “’n groot probleem”. Enige beroep wat grootliks op die gebruik van taal berus, vereis kennis (van byvoorbeeld taalgebruiksaspekte en bruikbare taalbronne). Die kennis berus ook “op standaarde, op norme” wat aangeleer is en wat in die praktyk werk. Carstens meen dat “[j]ou sukses as taalpraktisyn ... tot ’n groot mate bepaal [word] deur jou kennis van taalstandaarde, van taalnorme, [en] van die bronne waarin die taalnorme uiteengesit is” (Carstens, 1995:11). Bogenoemde is direk van toepassing op die uitsaaiwese en die media omdat diegene wat in dié bedryf werk, bestempel kan word as die draers van norme en standaarde.

Hierteenoor noem Schutte (1985:296) ook ’n belangrike faktor van norme wat in die uitsaaiwese in ag geneem moet word. Hy sê “om grammatikaal te kommunikeer, is ... nie dieselfde as om elegant, paslik of doeltreffend te kommunikeer nie”. In nuusbulletins gaan dit soms wees dat die sin eerder paslik as grammatikaal geformuleer moet word.

Die belangrikheid van norme kom eksplisiet in die uitsaaiwese na vore. Webb (1985:99) skryf juis dat dit algemene praktyk onder die Afrikaanse radio- en televisiediens is “om hulle publikasies [of uitsendings] aan die hand van ’n baie duidelike stel voorskrifte te laat versorg.” Indien swak taalgebruik of iets dergeliks in die media toegelaat word, kan dit mettertyd moontlik daartoe lei dat dit deel kan word van die taal, “met die gevolglike verlies aan die sogenaamde ‘suiwer’ inheemse woorde” en taalgebruik (Webb, 1985:101).