• No results found

Hoofstuk 2 Inleidingsaspekte vir die eksegese van gekose kerntekste

2.3 Die konteks

2.3.1 Kontekstuele inleidende aspekte rakende die Markus-evangelie

2.3.1.1 Outeur/Skrywer

Aangesien die skrywer van dié evangelie nie d.m.v. ’n direkte stelling in die geïnspireerde teks genoem word nie, berus die identifisering van die outeur se identiteit op beide interne en eksterne gegewens wat Markus as die moontlike en/of waarskynlike skrywer sou identifiseer. Die opskrif “volgens Markus” was nie deel van die oorspronklike teks nie en kon waarskynlik later (gedurende die tweede eeu n.C. bygevoeg gewees het (Vorster, 1985:106). Sommige vakkundiges (vergelyk Carson, Moo & Morris, 1992:92) meen dat hierdie opskrif reeds so vroeg as 125 n.C. (toe ʼn behoefte ontstaan het om die evangelies van mekaar te onderskei) by die gekopieerde manuskripte ingevoeg kon gewees het. Alvorens die eksterne en interne gegewens rakende outeurskap ondersoek word, sou dit eerstens nodig wees om te bepaal wie die Markus is waarna in die opskrif tot die evangelie verwys word. Grant (1943:52) meen byvoorbeeld dat Markus se identiteit nie met sekerheid aan Johannes Markus, die neef van Barnabas (vergelyk Kol. 4:10) en metgesel van Paulus en Barnabas op hul eerste sending (vergelyk Hand. 12:25) gekoppel kan word nie, aangesien Markus ’n algemene naam in die eerste-eeuse Rome was. Hierdie argument sou geldig wees, maar Guthrie (1990:81 – nota 2) se kritiese vraag hierop kan ook nie buite rekening gelaat word nie: “But were the Roman Christians likely to attribute a gospel to an unknown Mark if they had any knowledge at all that a man named John Mark had been associated with both Peter and Paul?”. Die denkrigting dat

ʼn bekende Markus se evangelie meer gesaghebbend sou wees as ’n onbekende Markus sʼn, is oortuigend.

Die interne gegewens maak nie duidelik aanspraak op ʼn Markaanse outeurskap nie en dus berus dit hoofsaaklik op eksterne bewyse. Die beste benadering sou dus eerstens wees om die eksterne gegewens te analiseer en dan te probeer om vas te stel tot watter mate die interne gegewens dit ondersteun of nie.

 Eksterne bewyse vir Markaanse outeurskap

Die kerkvader Papias (Eus H.E. 3.39.15) se verwysing na die tradisie ontvang van die “presbiter”, waarskynlik ’n verwysing na die apostel Johannes – (Schaff & Wace, 2004:172 – nota 2), dat Markus die skrywer van dié evangelie is, dien as hoof- eksterne getuienis. Sy getuienis lui soos volg:

This also the presbyter said: Mark having become the interpreter of Peter, wrote down accurately, though not indeed in order, whatsoever he remembered of the things said or done by Christ. For he neither heard the Lord nor followed him, but afterward, as I said, he followed Peter, who adapted his teaching to the needs of his hearers but with no intention of giving a connected account of the Lord’s discourses, so that Mark committed no error while he thus wrote some things as he remembered them. For he was careful of one thing, not to omit any of the things which he had heard, and not to state any of them falsely.

Uit hierdie aanhaling/vermelding moet twee beweringe krities oorweeg word: eerstens dat die vroegste tradisies dui op die aanvaarding van Markus as skrywer van die evangelie en tweedens dat die teks van die evangelie op Petrus se leringe gegrond is. Kümmel (1975:95) sou nietemin krities beweer dat Papias Markus se verbintenis met Petrus opgemaak het om die evangelie teen sy teenstanders te verdedig. Carson, Moo en Morris (1992:93) ontken hierdie kritiek en wys daarop dat Papias nie Markus se outeurskap of sy konneksie met Petrus probeer verdedig het nie, maar dat sy fokus ingestel was op die verdediging van die betroubaarheid van die evangelie, teen die klag dat dit “orde” ontbreek.

Ter ondersteuning vir Papias se verklaring word die kerkvader Irenaeus (Against

Heresies, III. i.1) se stelling deur vakkundiges (bv. Gromacki, 2004:95) voorgehou: “(a)fter

the death of Peter and Paul, Mark delivered to us in writing things preached by Peter.” Ander kerkvaders soos Justinus die Martelaar, Klemens van Aleksandrië, Tertullianus, Origenes en Eusebius se stellinge is eweneens belangrik ter bevestiging van Markus as

skrywer van dié evangelie (Guthrie, 1990:81; Gromacki, 2004:95). Desnieteenstaande beskou sommige hierdie getuienisse as onbetroubaar in die lig van die mening dat hierdie kerkvaders se stellinge bloot deur Papias gelei is (vergelyk Guthrie, 1990:81).

Daar is nie teenstellende bronne uit die vroeë kerkgeskiedenis wat die Markaanse outeurskap van die evangelie bevraagteken of ʼn alternatief vir outeurskap aanbied nie. Carson, Moo en Morris (1992:93) voer dit aan aangesien dit die vroeë kerk se tradisie was om apostels met die Nuwe Testament se boeke te verbind. Indien Markus onbekend was en daar nie goeie rede was om te glo dat ’n apostel (naamlik Petrus), op welke wyse ook al, invloed gehad het nie, is dit onwaarskynlik dat hierdie evangelie in die vroeë kerk aanvaar sou word.

Indien die denkrigting beaam word wat beweer dat die kerk in Rome Markus se geadresseerdes was (verwys 2.3.1.4.1), sou Markus se verbintenis met Petrus van belang wees, aangesien tradisie op ’n uitgebreide bediening van Petrus onder die gelowiges in Rome dui (Irenaeus, Against Heresies, III,1), waar Markus waarskynlik die rol van tolk vervul het (Eus H.E. 3.39.15). Petrus maak juis melding van Markus se teenwoordigheid saam met hom in Rome vanwaar hy sy eerste brief geskryf het (1 Pet. 5:13 – hierdie verwysing van Petrus na Markus as sy seun pas goed by die verhouding tussen die twee en dien as kritiek teen die idee dat Papias hierdie noue band tussen die twee self opgemaak het) (Carson, Moo & Morris, 1992:93). Ter verdere ondersteuning van Markus se teenwoordigheid in Rome kan Paulus se verwysing na hom tydens sy eerste gevangenskap in Rome (vergelyk Kol. 4:10 en Fil. 24) uitgewys word.

Daar blyk genoegsame eksterne bewyse te wees om Markus, as die outeur en waarskynlike mondstuk van Petrus, met dié evangelie te verbind.

 Interne bewyse vir Markaanse outeurskap

Sekere verwysings rakende outeurskap kan in die Markus-evangelie sowel as ander Nuwe Testamentiese boeke as moontlike bewyse voorgehou word om dit wat die eksterne bronne aanbied, te beaam. Daar word vyf keer na Markus in Handelinge (nl. Hand. 12:12, 12:25, 13:5, 13:13 en 15:37) en vier keer in ander Nuwe Testamentiese briewe (Kol. 4:10, Fil. 24, 2 Tim. 4:11 en 1 Pet. 5:13) verwys. Die Markus waarna in die opskrif tot die evangelie verwys word, moes redelik bekend gewees het vir kerkvaders

(Carson, Moo & Morris, 1992:93). Die feit dat hy die seun van ’n prominente vrou in die Nuwe Testament (Hand. 12:12) en ook neef van Barnabas (Kol. 4:10) was, sou sy bekendheid ondersteun, en daar sou na hom verwys kon word met die aanname dat die geadresseerdes sou weet van wie gepraat word. ’n Onbekende Markus (iemand anders as Johannes Markus) is onwaarskynlik.

Daar is al vele male deur Nuwe Testamentici na Markus verwys as die jong man wat tydens Jesus se inhegtenisneming in die tuin van Getsémané naak gevlug het (Mark. 14:51-52) (vergelyk Carson, Moo & Morris, 1992:93). Hierdie unieke verwysing in die Markus-evangelie word as bewys voorgehou van ’n outobiografiese herinnering (Bruce, 1956:441-442). Die probleem wat dít egter sou skep, is dat Papias se verwysing na die feit dat Markus nie ’n ooggetuie was nie dan in twyfel getrek sou moes word.

Na Carson, Moo en Morris (1992:94) se mening is daar twee aspekte van Markus se lewe, soos na verwys in die Nuwe Testament, wat hom ʼn goeie kandidaat vir die skrywer van die evangelie maak. Eerstens is die Griekse skryfstyl eenvoudig en die tipe Semitisme wat jy van ’n Joods-getoë Christen sou verwag, kom gereeld voor; tweedens is Markus se verbintenis met Paulus ’n verduideliking vir wat baie vakkundiges as tipiese Pauliniese teologie in dié evangelie beskryf (Carson, Moo & Morris, 1992:94).

Die interne bewyse mag dalk nie oorvloedig wees nie, maar die punt is dat daar geen interne bewyse is wat die tradisie van die eerste eeu (dat Johannes Markus die skrywer van dié evangelie is) onder verdenking plaas nie.

 Petrus se invloed op die Markus-evangelie

Ter ondersteuning van interne bewyse wat dui op die stem van Petrus as die bron in die skryf van die Markus-evangelie bied Gundry (1993:29) twee argumente: Eerstens dat Petrus eers met Jesus vertroud geraak het as volwassene, daarom fokus Markus glad nie op Jesus se vroeëre lewe nie; tweedens word melding gemaak van Johannes die Doper as Markus se eerste onderwerp, aangesien Petrus Jesus begin volg het vandat Johannes se bediening begin het (vergelyk Joh. 1:35-51 en Hand. 1:21-22).

Die denkrigting dat Markus eksklusief van Petrus as hulpbron gebruik gemaak het, word deur sekere vakkundiges bevraagteken (vergelyk Carson, Moo & Morris, 1992:94). Hierdie kritiek stel voor dat daar ruimte gelaat moet word vir die gebruik van ander bronne

in Markus se skrywe. Steeds is dit nie noodwendig teenstrydig met Papias se getuienis aangaande Markus se gebruik van Petrus se leringe nie, aangesien Petrus nog as sentrale bron erken kan word.

Die kritiese uitbeelding in Markus van die dissipels as lafhartig, geestelik blind en hard van hart dui op sterk invloed van ’n apostel aangesien dit slegs vir ’n apostel self moontlik sou wees om die apostels so sterk te kritiseer (Carson, Moo & Morris, 1992:95). Petrus is seker die prominentste apostel in die Markus-evangelie en dit motiveer Petrus se bydrae. Dit is verder ook opvallend dat Matteus (Mat. 16:17) se aanhaling van Jesus se stelling aan Petrus “En ek sê vir jou jy is Petrus en op hierdie rots sal ek my kerk bou” nie in Markus se evangelie weergegee word nie. Dit sou ’n aanduiding kon wees van ’n nederige Petrus soos hy vanuit vroeë kerkgeskiedenis bekend is (Viljoen, 2002:469).

 Voorlopige gevolgtrekking

Wanneer die eksterne en interne bewyse in oënskou geneem word, blyk daar genoegsame rede te wees om die betroubaarheid te aanvaar van Papias se verklaring dat Markus, as spreekbuis van Petrus se leringe, dié evangelie neergepen het. In die konteks van hierdie studie is hierdie waarskynlike stem van Petrus in die Markus- evangelie van belang. Petrus, as een van die twaalf dissipels, is ’n direkte ontvanger van Jesus se onderrig aangaande Christen-dissipelskap in die lig van sy (Jesus se) lyding. Petrus se onkunde aangaande watter tipe Messias Jesus sou wees en die daaropvolgende implikasies op Christen-dissipelskap, word spesifiek in die eerste Skrifgedeelte (Mark. 8:31-37) eksegeties uitgewys.