• No results found

Hoofstuk 2 Inleidingsaspekte vir die eksegese van gekose kerntekste

2.3 Die konteks

2.3.1 Kontekstuele inleidende aspekte rakende die Markus-evangelie

2.3.1.2 Genre

Dit is belangrik om die literêre genre van ʼn geskrif vir ’n akkurate interpretasie van ’n teks in ’n literêre werk aan te dui (Guelich, 1989:xixff; Carson, Moo & Morris, 1992:46; Van Wyk, 2009:114). Om hierdie rede word dit noodsaaklik geag om soveel as moontlik van die evangelies as genre te verstaan ten einde die interpretasie getrou te hou aan die skrywer se bedoeling (Duvall & Hays, 2012:269).

Die bewyse van die kompleksiteit van hierdie taak lê in die uiteenlopende standpunte en/of voorkeure aangaande watter genre die vier Nuwe Testamentiese evangelies (en

sodanig die Markus-evangelie) verteenwoordig. Om die beste of mees gepaste genre vir die Markus-evangelie te bepaal, word die algemeenste voorkeure kortliks aangedui.

 Εὐαγγελίον as nuwe genre

Die eerste vier boeke in die Nuwe Testament staan bekend as evangelies, afkomstig van die Griekse woord εὐαγγελίον. Louw en Nida (1993:413) hanteer die woord binne die semantiese domein van Kommunikasie en die subdomein Inlig (“inform”) en Aankondig (“announce”). As sodanig het dit nie met ʼn “boek” te doen nie, maar met “ ... news that makes one happy ... ” (1993:414) – inderdaad ‘die blye boodskap’ (Du Toit, 1985a:3). Die verwysing na evangelie as “boek” is waarskynlik in die tweede eeu deur die kerk in gebruik geneem (Du Toit, 1985a:3; Carson, Moo & Morris, 1992:46). Markus se gebruik van εὐαγγελίον in sy inleidingsin (Mark. 1:1) kon ’n belangrike rol gespeel het in die ontwikkeling van hierdie woord tot verwysing na ’n boekbenaming (Du Toit, 1985a:3). Die inleiding tot die Markus-evangelie lui: “Ἀρχὴ τοῦ εὐαγγελίου Ἰησοῦ Χριστοῦ [υἱοῦ θεοῦ]” (Aland

et al., 1993 - beklemtoning deur navorser), en Guelich (1989:xix) sowel as France

(2002:4) meld dat dit Markus se intensie was om die onderwerp van sy inhoud liewers as sy skryfstyl/genre bekend te maak. Dis sou juis onwaarskynlik kon gewees het dat Markus ’n bestaande ‘εὐαγγελίον’ genre gehad het om sy skryfstyl te lei en tog het Markus se opskrif/inleidende sin die vroeë kerk, in sy soektog na ’n gepaste titel vir die genre van die evangelies, daarvan voorsien (France, 2002:4).

Aansluitend hierby meen sekere vakkundiges (vergelyk Schweizer, 1978:383; Gundry, 1981:76; Brooks, 1991:25;) dat Markus die vroeë Christendom van ’n heeltemal nuwe en unieke literêre genre voorsien het en dus nie onder enige gevestigde literêre kategorie van hul tyd geklassifiseer kan word nie (Carson & Moo, 2005:113). Daar word selfs voorgestel dat ’n meerderheid vakkundiges met hierdie denkrigting sou saamstem (Du Toit, 1985a:18; Carson & Moo, 2005:114). Dit is die onderwerp van die evangelies wat waarskynlik met hierdie unieke styl te make het. Markus (asook die ander drie evangelies) bied ’n unieke kombinasie van die unieke dade en leringe van ’n unieke persoon, naamlik Jesus, ’n kombinasie wat nie eers met latere apokriewe evangelies (bv. die evangelie volgens Judas en die evangelie volgens Tomas) vergelyk kan word nie (Brooks, 1991:25). Hierdie uniekheid word aangevoer as rede tot die toekenning van die evangelies as ’n heel nuwe tipe literatuur.

 Markus-evangelie as bestaande/erkende genre

Ten spyte van die erkende uniekheid van die evangelies, wys verskeie vakkundiges op sekere eienskappe van antieke genres soos Grieks-Romeinse biografie, drama, Joodse apokalipties-eskatologiese geskrif en vertelling/prediking waarmee die evangelies moontlik ooreenstem. Van Wyk (2009:114) se omvattende studie oor (onder andere) die

genre van die Markus-evangelie se gevolgtrekking is, en illustreer, die moontlike/

waarskynlike eienskappe van verskeie antieke genres in die Markus-evangelie: “Ten opsigte van die genre van die Markus-evangelie kan gesê word dat dit ’n dramatiese, apokalipties-eskatologiese vertelling en biografie is” (2009:114).

Die populêrste voorstel is dat die evangelies onder biografiese genre geklassifiseer kan word (Guelich, 1989:xix; Carson, Moo & Morris, 1992:46; France, 2002:4; Burridge, 2004:249; Van Wyk, 2009:98). Hierdie denkrigting word egter nie sonder kritiek aanvaar nie en dit blyk asof dit veral vakkundiges in die vroeë twintigste eeu is wat d.m.v. vorm- kritiek aangedring het dat die evangelies nie as biografies gesien moet word nie (France, 2002:5; Van Bruggen, 1988:10). Vorm-kritiek hou voor dat Markus as ’n versameling van tradisies gesien moet word (hoofsaaklik mondelings oorgedra). Elkeen van hierdie eenhede is ’n afsonderlike vorm in oorspronklike lewensomstandighede3 (Guelich,

1989:xxii). Die gevolg is dat die evangelie nie in sy geheel as ’n biografiese werk van Markus beskou sou kon word nie.

Daar word verder op meer eenvoudige wyse krities voorgehou dat die evangelies verskeie eienskappe van ware biografie ontbreek, soos byvoorbeeld kontemporêre historiese agtergrond, sielkundige analise van die karakter en sy persoonlikheid, en analisering van innerlike gedagtes van die held (Gundry, 1981:76). Die blote feit dat die Markus-evangelie anoniem was en geen melding maak van Jesus se geboorte, sy kinderjare of ’n uitgebreide beskrywing van sy familie-agtergrond insluit nie, asook omdat dit by tye kronologiese volgorde ontbreek (Duvall & Hays, 2012:270) sou die genre as biografie kon bevraagteken.

Ter ondersteuning van die biografiese aard van die Markus-evangelie merk France (2002:5) op dat Markus se literêre vorm vir ’n belese eerste-eeuse leser breedweg in die

kategorie van ander biografieë van die tyd sou val. Dit is belangrik om ’n onderskeid te tref en nie die Markus-evangelie met moderne biografieë se vereistes te vergelyk nie. Die knelvraag is eerder of die Markus-evangelie met antieke biografieë van die evangelie se eie tyd ooreenstem. France (2002:6) beaam blykbaar hierdie:

However different Mark may seem from what we today would see as biography, it is surely rightly classified as biography within the broad category of lives of famous people which were produced in the ancient Greco-Roman world.

Slegs een stel reëls/vereistes kan nie bloot voorgehou word as die norm waaraan biografiese werke van alle tye moet voldoen nie. Carson, Moo en Morris (1992:47) redeneer oortuigend dat die biografiese genre nog altyd ’n wye genre was en dat daar voorbeelde is van antieke Grieks-Romeinse biografieë wat nie aan al die sogenaamde vereistes van biografieë voldoen nie. Net soos daar ’n wye verskeidenheid Grieks- Romeinse biografieë is, so is Markus sy eie ‘meester’ wat nie verplig was nie om ’n patroon te volg wat deur iemand anders neergelê is (France, 2002:6).

’n Verdere belangrike punt wat voorgehou word ter verdediging van die Markus-evangelie as biografie wys op die algemene kronologiese intrige (Guelich, 1989: xix). Die intrige fokus op ’n historiese figuur, met ’n skrywer wat ’n bepaalde boodskap aan sy gehoor wil oordra (France, 2002:4). Dit in ag geneem, kan die Markus-evangelie beswaarlik as nie- biografies beskou word, aangesien hierdie elemente tog duidelik in Markus se skrywe ingesluit is.

Burridge (2004:185) (vergelyk Van Wyk, 2009:99) se gevolgtrekking dat die evangelies tot die genre antieke biografie behoort, sou derhalwe vereis dat dit bestudeer word met ’n fokus op die sentrale karakter, naamlik Jesus. Die evangelies is nie net biografiese geskrifte nie, maar hulle is Christus-gesentreerde biografieë. Die voorafgaande is ’n belangrike eksegetiese oorweging in die interpretasie van die Markus teks: die skrywer se vertelling van Jesus die Messias om sodoende aan sy lesers inligting oor te dra in die lig van wie Jesus is, en wat hy gesê en gedoen het. Twee gevolgtrekkinge ten opsigte hiervan is die volgende:

i. Die skrywer het sekere materiaal gekies en om sy narratief van Jesus georden. ii. D.m.v. hierdie narratief word iets belangriks aan die eerste lesers verkondig

In ooreenstemming hiermee word voorgestel dat Markus as dramatiese vertelling of prediking voorgehou kon word (Du Toit, 1985a:18; France, 2002:10). Hierdie dramatiese eienskap kan gevind word in die noukeurige ontwikkeling van die intrige (“plot”) en die spesifieke opbou van spanning loop uit op ’n finale konfrontasie in Jesus se kruisdood (France, 2002:10). Markus het sy dramatiese biografiese vertelling so georganiseer dat Christus op betekenisvolle wyse in die konteks van krisis praat en optree (Lane, 1974:25). Wanneer die evangelies as dramatiese vertellings cum biografieë met die fokus op Jesus gelees word, kan die Christologiese sleutel gebruik word om die teks te verstaan: dit wat oor Jesus geskryf is, dien ’n spesifieke doel. Van Wyk (2009:100) se opmerking is in hierdie opsig belangrik vir die hipotese van hierdie studie:

Die hoofsaak waaroor dit in elke gedeelte van die Evangelies gaan is nie die dissipels nie, maar die subjek van die biografie, naamlik Jesus van Nasaret. Hy is iemand wat moeilik is om te verstaan en moeilik is om te volg. In die lig van die positiewe en negatiewe uitbeelding van die dissipels moet die geadresseerdes nie verbaas wees as hulle dissipelskap moeilik vind nie.

Indien Markus as biografie aanvaar word, sou daar eksegetiese rede wees vir stellings in Christus se onderrig aangaande moontlike of selfs waarskynlike lyding vir dissipels. Dit sou dan gestel kon word dat die Markus-evangelie ’n unieke boodskap uitbeeld d.m.v. ’n evangeliese biografie wat op Jesus se lyde en die implikasies daarvan op Christen- dissipelskap fokus. Brooks (1991:25) stel dit so: “His (Mark’s) purpose was to describe Jesus in such a way as to promote loyalty to him and his teaching.” Markus se bedoeling is om die aandag op Jesus te vestig sodat sy lesers die lesse aangaande dissipelskap kan leer, na aanleiding van die lering van die hoofkarakter, Jesus. France (2002:10) vat dit so saam:

This distinctive character (of Mark’s biography) may be traced first to its subject matter in that it is a Christian work inspired by the conviction that Jesus of Nazareth was more than just a great man, and that he remains alive as the worthy object of devotion and commitment.

Dit is hierdie navolging-implikasies wat ook ondersteuning sou bied vir die denkrigting dat daar sterk apokalipties-eskatologiese trekke in die Markus-evangelie voorkom (Viljoen, 2002:459). Ter ondersteuning van die apokalipties-eskatologiese aard van die Markus- evangelie word na tekste verwys soos Markus 13 se apokaliptiese fokus, asook Markus 4 se gelykenisse wat aandui dat die koninkryk in die toekoms sal realiseer. Hierdie Joodse

van die finale triomf van God (Viljoen, 2002:459). Van Wyk (2009:97) meen dat die toekomstige hoop op Jesus se wederkoms gebruik kan word om die hele Markus- evangelie te definieer (Mark. 8:38). Dit is hierdie toekomstige vooruitsig wat dissipels in staat stel om moed te skep in hul huidige moeilike omstandighede, soos Viljoen (2002:459) dit stel: “With a perspective on the future, the present becomes bearable.” Hierdie voorgestelde apokalipties-eskatologiese aard van die Markus-evangelie sou omstandighede kon impliseer wat as ondraaglik vir die lesers sou voorkom. Jesus as lydende Ebed Jahweh, Kneg van God, plaas die lesers se moontlike lydende omstandighede in konteks en bemoedig hulle dan met die hoop op die koms van die koninkryk.

Alhoewel daar toegegee kan word dat die Markus-evangelie trekke van apokalipties- eskatologiese geskrif bevat, moet dit nie oordryf word nie. Markus kan hoegenaamd nie met dieselfde benadering as die apokalips Openbaring gelees word nie. Nietemin kan met Van Wyk (2009:97) se gevolgtrekking saamgestem word dat die Markus-evangelie beskou kan word as “ ... ’n vertelling met sterk apokalipties-eskatologiese trekke”.

 Voorlopige gevolgtrekking

Die navorsing dui daarop dat die Markus-evangelie se genre nie ’n uitgemaakte saak in wetenskaplike kringe is nie en dit wil voorkom asof daar ’n meer oorvleuelende aard tussen biografie, dramatiese vertelling en apokalipties-eskatologiese geskrif kan bestaan. Ten spyte van ’n verskeidenheid opsies en voorkeure van navorsers vir watter genre die beste vir die Markus-evangelie sou wees, blyk die een sekerheid te wees dat die skryfstyl Jesus as die lydende Messias beklemtoon, en daaropvolgend hoe sy woorde en dade die lesers in die hede sou aanspreek. ’n Dramatiese vertelling, apokalipties-eskatologiese geskrif en biografie sou almal op tekens van Jesus as lydende dienskneg en die implikasies hiervan op Christen-dissipelskap kon dui. In die konteks van hierdie studie sou ons kon sê dat die Markus-evangelie as gepaste bron sou dien.