• No results found

Individualiteit vs groepgeoriënteerdheid ( individualistic vs ‘dyadic’)

Hoofstuk 2 Inleidingsaspekte vir die eksegese van gekose kerntekste

2.4 Betekenis

2.4.1 Sosiologiese en kultureel-historiese begripswêreld

2.4.1.1 Individualiteit vs groepgeoriënteerdheid ( individualistic vs ‘dyadic’)

‘dyadic’)

Die meeste moderne Westerse samelewings kan as individualisties beskryf word (Rousseau, 2004:80) waar individuele en persoonlike doelwitte oor groep- of gemeenskaplike ideale of doelwitte gestel word en voorkeur geniet (Malina, 1998:74). Van Leeuwen (2001:31) se verwysing (weliswaar na die moderne Amerikaanse samelewing) som dit goed op: “ ... (the) individual self, one of America’s greatest idols”. Dieselfde sou uiteraard ook vanuit ’n Suid-Afrikaanse oogpunt gesê kon word, en die fokus van reklame en bemarking op die individu se waarde en oombliklike bevrediging sou as ’n goeie bewys vir hierdie individualistiese denkwyse dien.

In direkte kontras met moderne, Westersgeoriënteerde Bybellesers was daar in die eerste-eeuse Mediterreense samelewing eenvoudig nie sprake van so ’n persoonlike,

selfgesentreerde, individualistiese denkwyse nie, want dit was op groepoorlewing gefokus (Malina & Neyrey, 1991:72). Dit is foutief om die karakters van die Nuwe Testament vanuit ’n Westerse individualistiese uitgangspunt te verstaan, of as individue wat net uit eie keuse aan ’n groep toegewy was – hulle was mense wat heeltemal groepgeoriënteerd was (1991:72).

Hierdie groepgeoriënteerde kollektivisme (‘dyadic personality’ of ‘dyadism’) (vergelyk Malina & Neyrey, 1991:72-74; Rousseau, 2004:84) beklemtoon dat die basiese eenheid van sosiale analise nie die individu was nie, maar dat iemand ten nouste aan ten minste een sosiale groep (bv. verenigings, godsdienstige, militêre, maar spesifiek die familie) verbind was. In antieke Mediterreense gemeenskappe het iemand se familie vir hom alles beteken – dit was die bron van ’n persoon se status en ook sy vernaamste ekonomiese, godsdienstige, opvoedkundige en sosiale netwerk. Om hierdie familiekonneksie te verloor, het die skade en verlies van kardinale netwerke beteken13. Die verlies aan familie

is beskou as een van die tragiesste verliese wat ’n persoon kon ly (Malina & Rohrbaugh, 2003:414).

In hierdie groepsverband is ’n persoon se waarde bepaal en die groepverhouding is die nouste verband met die eer-en-skandewaardesisteem (verwys 2.4.1.2 hieronder) van die antieke Mediterreense gemeenskappe (Rousseau, 2004:85). ’n Persoon is nie geken of na waarde geskat omdat hy/sy op een of ander manier as individu uniek was nie, maar eer is volgens sy groepgeoriënteerde verwysingsraamwerk erken. Malina en Neyrey (1991:72) se stelling hieroor is waardevol:

Group orientated persons internalize and make their own what others say, do, and think about them because they believe it is necessary, if they are to be human beings, to live out the expectations of others. They need to test this interrelatedness, moving the focus of attention away from their own egos and toward the demands and expectations of others who can grant or withhold reputation or honor.

’n Toepaslike verskil tussen ’n individualistiese sameling en groepgeoriënteerde samelewing word deur Joubert (1992:61) aangeraak wanneer hy meld dat welvaart in individualisme behoort aan ’n persoon of individu, terwyl welvaart in ’n

13 Vir die wat van hul families vervreemd was, kon ’n ‘surrogate family’ ’n plek van ware toevlug wees

groepgeoriënteerde samelewings vir die groep in sy geheel voordelig is. Dit sou, weliswaar ietwat vooruit gegrepe, krities aangedui kon word dat hierdie sosiologiese verskil tussen die Bybelse konteks en dié van die moderne Westerse konteks alreeds die geldigheid van die Welvaartteologie kan bevraagteken. Welvaartteologie fokus grootliks op die welvaart van die individu in teenstelling met die Bybelse wêreld waar die voordeel van die groep prioriteit bo die voordeel van die individu geniet het (Osiek, 1992:29). Jesus sou dus nie kon geleer het dat dissipels op persoonlike welvaart as individuele voordeel kon aanspraak maak nie, gewoon omdat daar in die Bybelse begrippe nie so ’n konsep bestaan het nie.

2.4.1.2 Eer-en-skandewaardesisteem (‘honour-shame’)

In die antieke Mediterreense kultuur was ‘eer’ die hoogste waarde – Malina en Rohrbaugh (2003:369) noem dit ‘pivotal’ want alles het daarom gedraai of daarop gebalanseer – eer en skande was lewensbepalend. Alle ander sosiale aspekte is direk of indirek hiermee verbind, en Osiek (1992:27) se opmerking dat ‘honour ... (was) to be preferred over wealth and even life itself’ dui op die bepalende aard daarvan. Rousseau (2004:99) onderskraag hierdie mening in sy gevolgtrekking dat deug hoog op prys gestel is en dat deug in enige moontlike toename in ‘eer’ bestaan en nie in toename in welvaart nie – welvaart was nie die alfa en omega van lewe nie, maar eer was die belangrikste sosiale waarde.

’n Eenvoudige definiëring van eer, soos gesien deur die oë van eerste-eeuse Mediterreense kollektiewe persoonlikhede, was ’n openbare erkenning van iemand se sosiale waarde (Malina & Neyrey, 1991:26). Hiervolgens het iemand se siening van homself nie veel beteken om sy eergradering te bepaal of te verhoog/verlaag nie, maar was die publieke opinie die belangrikste – soos Malina en Rohrbaugh (2003:370) dit stel: “ ... to claim honor without public recognition is to play the fool”.

Eer kon op een van twee maniere bekom word: dit was óf toegeskryf óf dit kon verwerf word (Malina & Neyrey, 1991:27). Toegeskrewe eer het berus op die groep waaraan ’n persoon verbonde was. In dié opsig sou jou geslagsregister/familieverband dan uiters belangrik en waardevol gewees het. Hierdie toegeskrewe eer kon ook bekom word d.m.v. die seën van ’n hoëprofielpersoon soos bv. ’n koning (Malina & Neyrey, 1991:28).

Aan die ander kant was die verwerwing of wen van eer ’n aktiewer proses waar dit verdien en verdedig moes word. Bogenoemde kon veral vermag word deur ’n teenstander, wat op gelyke sosiale vlak was, in sosiale interaksie te oorheers. Malina en Rorhbaugh (2003:371) beskrywe dit as ’n “ ... game of challenge and riposte”. Dit gebeur wanneer persone mekaar volgens gedefinieerde sosiale reëls in die publiek uitdaag (bv. met uitdagende vrae) om eer van hul opponent weg te neem en vir hulself te wen.

Eer was soos alle ander goed beskou as iets wat in ’n beperkte mate beskikbaar was, en gewonne eer sou noodwendig verlies van eer vir ’n ander beteken het (Malina & Neyrey, 1991:29). Enige publieke uitdaging het ten doel gehad om die reputasie van ’n ander te skaad/verminder en in die proses eer te wen. Om as verloorder in ’n ‘challenge and

riposte’ uit die stryd te tree, of om nie op ’n publieke uitdaging te reageer nie, sou tot

verlies van reputasie in die publiek se oë lei en outomaties tot die eer van die uitdagende groep getel word (Malina & Neyrey, 1991:31). Die groep (soos familie) se eer moes tot elke prys verdedig word.

2.4.1.3 Ryk, arm en beperkte-beskikbaarheid (‘rich, poor and limited

good’)

Daar is reeds melding gemaak van hierdie sosiologiese aspek onder die bespreking van die sosiologiese omstandighede van Markus se geadresseerdes (verwys 2.3.1.4.2). Dit is egter belangrik om te herhaal dat in ’n wêreld van ‘limited good’ iemand sy besitting net ten koste of nadeel van ’n ander kon vergroot. Die gevolg van ‘limited-good’ in ’n samelewing wat deur die eer-en-skandewaardesisteem beheer is, word deur Rousseau (2004:100) beskryf as “ ... resulting in an honorable striving to maintain your station in life instead of moving on and ‘getting ahead’ (Esler, 1990:35) by whatever form of accumulation (such a person ran a definite risk of being regarded as a shameless person).”

Rousseau (2004:100) bou voort op sy stelling met ’n verwysing na Oakman (1993:153) se bevinding dat moderne samelewings op ’n ‘moet-hê-mentaliteit’ gebou word. Dit kontrasteer met hoe mense in die Bybelse tyd gedink en gehandel het, ’n konteks waarin bitter min mense in ’n posisie was om enigsins oor onmiddellike, persoonlike bevrediging d.m.v. toevoeging as moontlikheid te dink (Rousseau, 2004:101). Dit blyk juis die taktiek

is op konsepte soos vinnig, maklik en oorvloedig sou Welvaartteologie realisties kon klink, maar in ’n eerste-eeuse Mediterreense kultuur was dit nie net ’n onbekende paradigma nie, maar in alle opsigte ’n ondenkbare paradigma.

In ’n eer-en-skandewaardesisteem was altruïsme belangrik: om lewensmiddele met behoeftiges te deel, was van onskatbare waarde, selfs meer as die besittings self. Dit was ’n manier om ‘eer’ te behou (Pilch, 1993a:8) sodat selfverryking ter wille van ‘eer’ inderdaad tweede viool gespeel het.