• No results found

Hoofstuk 2 Inleidingsaspekte vir die eksegese van gekose kerntekste

2.3 Die konteks

2.3.1 Kontekstuele inleidende aspekte rakende die Markus-evangelie

2.3.1.3 Datering

Die datering van die Markus-evangelie kan help om die sosiohistoriese konteks van die geadresseerdes te identifiseer. Dit sou ook ’n belangrike hermeneutiese oorweging wees in die eksegetiese analise wat dit ten doel het om Christen-dissipelskap in die Markus- evangelie te definieer.

Van Bruggen (1988:21) se voor die hand liggende uitwysing dat die Markus-evangelie se datum van skrywe binne die raamwerk van twee gebeure moet val, is as algemene riglyn van waarde. Die evangelie moet naamlik vóór die dood van Johannes Markus (voorgestel as 68 n.C. [Hildebrandt, 1996:7-8]) en ná die afsluiting van die finale gebeure wat daarin beskryf word, naamlik Jesus se dood en opstanding in ±30 n.C. (Thomas, 2000:88-89), gedateer word. Vier moontlikhede word vir die datering van die Markus-evangelie voorgestel, waarvan die laaste datum self buite hierdie raamwerk val.

Alvorens hierdie voorkeure onder die loep geneem word, moet eers melding gemaak word van ’n belangrike historiese oorweging in die datering van die Markus-evangelie, naamlik of Petrus nog gelewe het toe Markus sy evangelie afgesluit het. Daar is twee skynbaar teenstrydige getuienisse saamgevat in vroeë kerkgeskiedenis aangaande die kwessie (Elwell & Yarbrough, 2005:89). Irenaeus (Adv. Haer. III. i. 2) skryf: “And after the death of these (Peter and Paul) Mark, the disciple and interpreter of Peter, also transmitted to us in writing the things preached by Peter”. Hiervolgens kan die afleiding gemaak word dat die Markus-evangelie na Petrus se martelaarskap in Rome in 64 n.C. geskryf is (Carson, France, Motyer & Wenham, 1994:946). Klemens van Aleksandrië (Eusebius [Eccl. Hist. II. Xv. 2; VI. Xiv. 6f.]) het egter getuig dat Markus sy evangelie geskryf het terwyl Petrus gelewe het. Waar dit ter sprake is, sal elkeen van die vier voorgestelde datums hul eie verduideliking van hierdie historiese data bied.

 Veertigerjare n.C.

Die jare tussen 40 en 50 n.C. is die eerste moontlikheid wat deur vakkundiges (bv. Torrey, 1947:261-262; O’ Callaghan, 1972:91-100; Wenham, 1972:97-102) voorgehou word vir die datering van die Markus-evangelie. Daar is hoofsaaklik twee argumente wat hier van belang is, naamlik: histories en papirologie. Op die historiese front sou Irenaeus se stelling dat Markus na Petrus se dood geskryf is, betwis moes word. Die moontlikheid word so voorgehou dat Irenaeus nie na Petrus se dood verwys nie aangesien hy die woord ‘eksodus’ vir ‘dood’ gebruik, wat natuurlik ‘vertrek’ kan beteken (Guthrie, 1990:86). Daar word dan voorgestel dat Markus na Petrus se vertrek van Rome geskryf is. Hierop kan die vraag aangaande die datum van hierdie ‘vertrek’ gevra word. Daar is bewyse wat voorgehou word dat Petrus Rome in die tyd van Claudius besoek het. Justin (Apol I.26,56) verwys byvoorbeeld na Simon Magus wat gedurende die tyd in Rome was, en gepaard

het, sou dit voorstel dat Petrus in 42 n.C. Rome besoek het. Dit sou beteken dat Petrus gedurende die jare 40’s, nadat hy uit die tronk vrygelaat is (Hand. 12:17), na Rome gereis het en dat Markus die evangelie gedurende hierdie tyd vanuit Rome sou kon geskryf het (Wenham,1972:97-102).

Dit sou dan ’n vroeë datering vir die Markus-evangelie net na Petrus se vertrek uit Rome ondersteun. Carson, Moo en Morris (1992:97) wys egter op die onwaarskynlikheid van hierdie argument aangesien Petrus teen 47/48 n.C. terug in Jerusalem moes wees vir die vergadering waarvan in Handelinge 15 geskryf word en dat dit terselfdertyd onwaarskynlik is dat Paulus en Barnabas, Markus saam met hulle op hul eerste sendingreis sou neem as hy so nou saam met Petrus in Rome gewerk het.

’n Verdere historiese rede vir hierdie vroeë datering berus op vakkundiges (bv. Torrey, 1947:261-262) se argument dat Markus se aanhaling van die profetiese “gruwel wat verwoesting aanrig ... wat op die allerheilige plek staan” (Mark. 13:14) ’n verwysing na Keiser Caligula is wat sy beeld in die Tempel in Jerusalem in 40 n.C. wou opstel. Hierdie voorneme het nooit gerealiseer nie aangesien die Jode dit teengestaan het en Caligula in 41 n.C. vermoor is (Van Wyk, 2009:88). Die argument lui dat Markus se evangelie nie na hierdie gebeure as toekomstig sou verwys indien dit reeds plaasgevind het nie. Dus kan Markus so vroeg as 40 n.C. gedateer word. Hierdie siening word gekritiseer aangesien die aannames waarop dit rus, te onwaarskynlik is (Carson, Moo & Morris, 1992:97).

Behalwe vir hierdie historiese argumente vir ’n vroeë datering, het die Spaanse papiroloog O’Callaghan (1972:91-100) in 1972 gedeeltes van manuskripte van grot 7 by Qumran geïdentifiseer as fragmente van die Markus-evangelie wat paleografies (’n studie gebaseer op infrarooi en normale foto’s van die papirus) as 50 n.C. gedateer is (Van Bruggen, 1988:22). Hiervolgens word die Markus-evangelie as nie later nie as 50 n.C. gedateer aangesien hierdie fragmente reeds teen daardie tyd moes bestaan het. Na deeglike oorgewing van hierdie gekompliseerde ‘paleografiese’ proses spreek Lane (1974:18-21) homself krities uit oor O’Callaghan se metodologie. Hy toon dat die tesis van hierdie benadering vaag voorkom en dat hierdie fragmente boonop nie noodwendig Nuwe Testamentiese tekste verteenwoordig nie – m.a.w. selfs al sou hierdie proses soos deur O’Callaghan voorgestel akkuraat wees, moet die vraag steeds gevra word of hierdie fragmente na Markus se skrywe verwys en of daar ’n moontlikheid bestaan dat dit bloot

’n voorafgaande bron van die Markus-evangelie was. Die kritiese beskouing word afgesluit met behulp van Gerald Brown, ’n leier in die veld ‘papirologie’ aan die Harvard Universiteit, se mening dat datering van ’n manuskrip d.m.v. paleografie ’n grasie van 25 jaar moet toelaat (Lane, 1974:21). Op hierdie, sowel as ander gronde, sou die meerderheid vakkundiges hierdie argument en sy gevolgtrekking teenstaan (Carson, Moo & Morris, 1992:97).

 Vyftigerjare n.C.

Tweedens word voorgehou dat Markus moontlik sy evangelie tussen 50 en 60 n.C. kon neergepen het. Die datering van ander Nuwe Testamentiese boeke word as hoofargument voorgehou ter ondersteuning van hierdie voorkeur. Indien dit aanvaar word dat Handelinge in 62 n.C. geskryf is, aangesien dit eindig met Paulus se finale verhoor wat nog afwagtend was, sou dit beteken dat die evangelie volgens Lukas (deel 1 van Lukas se skrywe) voor hierdie datum geskryf moes gewees het (Gundry, 1981:79; Carson, Moo & Morris, 1992:97). Indien die populêre siening dat Markus as bron deur Lukas gebruik is4 verder aanvaar word, sou die gevolgtrekking kon wees dat Markus voor

Lukas, waarskynlik reeds in die vyftigerjare, geskryf is.

Die voorafgaande blyk ’n moontlike opsie vir datering te wees, maar die Markus-prioriteit en datering van Handelinge moet eers aanvaar word. Daar kan egter ander redes wees waarom Lukas besluit het om Handelinge op die spesifieke plek te eindig (Carson & Moo, 2005:180). Verder weeg Irenaeus se getuienis aangaande Petrus se dood moontlik te swaar teen hierdie opsie.

 Sestigerjare n.C.

Die derde moontlike datum vir die skryf van die Markus-evangelie is die periode tussen 60 en 70 n.C. Hierdie datum word oor die algemeen deur Nuwe Testament-vakkundiges as die geskikste moontlikheid aanvaar (Lane, 1974:17; Guthrie, 1990:88; Carson, Moo & Morris, 1992:98). As eksterne ondersteuning vir hierdie denkrigting word na Irenaeus se stelling aangaande die skryf van die evangelie ná Petrus se martelaarskap verwys (Carson & Moo, 2005:181). Volgens Lane (1974:17) kan die geskil met Klemens van

Aleksandrië (Eusebius [Eccl. Hist. II. Xv. 2; VI. Xiv. 6f.; Adumbr. In 1 Peter 5:13]) se stelling moontlik opgelos word met die verduideliking dat Markus sy evangelie gedurende Petrus se lewe begin skryf het maar dit eers na sy dood voltooi het.

Verdere pogings om die konflik op te los, sluit ook die argument in dat Irenaeus nie vir Klemens weerspreek nie aangesien Klemens nie ’n kronologiese stelling gemaak het nie, maar slegs verwys het na die feit dat Markus Petrus se lering voortgesit het (Allan, 1915:2; Martin, 1972:61). Die periode waarna beide vroeë kerkvaders verwys, dui dan moontlik op die tweede helfte van die sewende dekade n.C. Martin (1972:62) maak Klemens se getuienis af as onbeduidend deur eenvoudig te meld dat dit normaalweg as onbetroubaar bestempel word. Die anti-Marcioniste-proloog tot Markus se evangelie ondersteun ook duidelik Irenaeus se getuie met die stelling: “ ... after the departure of Peter himself, he (Mark) wrote down this same gospel in the regions of Italy” (Grant, 1941:231v.). Daar blyk genoeg bewyse te wees wat daarop kan dui dat die Markus-evangelie eers na die dood van Petrus voltooi is.

Dit blyk ook dat interne bewyse so ’n gevolgtrekking kan ondersteun. Die interpretasie rakende Markus 13 sou weer ’n bepalende faktor daarvoor wees of die evangelie voor of na 70 n.C. gedateer moet word. Die verwysing na “vlug na die berge” in Markus 13:14 word deur sommige voorgestel as verwysing na Christene se vlug na Pella (Galilea) wat in Eusebius (Hist. Eccl. III 5:3) se geskiedenis vermeld word (Vorster, 1985:117). Voormelde sou dan na die uitbreek van die Joodse oorlog in 66 n.C. verwys waar Christene gedwing was om Jerusalem in afwagting van Jesus se wederkoms te verlaat. Dit weerspieël die situasie tydens die Joodse revolusie en voor Rome die stad binnegedring het (Van Bruggen, 1988:21; Carson & Moo, 2005:181). Omdat Markus skryf in afwagting van die vernietiging van die Tempel (Mark. 13:2) moet dit logies voor 70 n.C. gedateer word. Vorster (1985:118) maak die volgende gevolgtrekking in dié opsig:

Omdat daar geen direkte verwysing na die katastrofale gebeure van 70 of die oorlog self as iets wat in die verlede lê in Markus is nie, lyk dit waarskynlik dat die evangelie vóór die tyd gedateer moet word. Dit impliseer dat gegewens in Markus 13 as voorspellings beskou moet word waarteen geen dwingende beswaar bestaan nie.

Dit kom voor asof Markus in 13:14 die lesers waarsku om kennis te neem dat dit wat deur Jesus beloof is nou ’n onmiddellike afwagting vir hulle is (Guelich,1989:xxxii).

Die jare voor 69 n.C. kan wel as apokalipties van aard beskou word. Hierdie tydperk kon die Christene in Rome laat glo dat hulle in die eindtyd was (Viljoen, 2002:470). Ter ondersteuning kan gewys word op aspekte soos Nero se vervolging van Christene in 64 n.C., berigte van hongersnood aan die einde van Nero se regering, die Joodse opstanding van 66 n.C. en verskeie aardbewings in Italië in en om 68 n.C. (Viljoen, 2002:470). Hierdie toestande sou die beskrywings in Markus 13 relevant tot die lesers in die era tussen 64 en 70 n.C. maak.

Daar kan ook nie buite rekening gelaat word dat Markus baie te sê het oor lydende dissipelskap nie (Carson & Moo, 2005:181). Dit sou dan ook die era gedurende of kort na die begin van vervolging in 65 n.C. in Rome goed pas. Lane (1974:18) is eens hiermee en sê: “[t]he emphasis placed by the evangelist upon suffering and persecution (4:17, 8:34-38, 9:49, 10:29ff, 13:9-13) suggests that it was the Neronian persecution following the great fire of Rome (A.D. 64) that called forth the Gospel.”

Die lyding-aspek as verwagting vir dissipels word hipoteties in hierdie studie getoets. Indien die era tussen 60 en 70 n.C. as geskikte datum van skrywe as sterk moontlikheid aanvaar word, sou die omstandighede van die oorspronklike geadresseerdes en Markus se skrywe gedurende hul lydende omstandighede wel aandui dat dissipels lyding te wagte kon wees.

 Post-sewentig n.C.

Die laaste voorgestelde moontlikheid is dat die Markus-evangelie na 70 n.C. geskryf is. Dit sou beteken dat Markus na die val van Jerusalem (in 70 n.C.) geskryf is. Markus 13 moet hiervolgens as ’n terugflits na die werklike gebeurtenis, eerder as ’n voorspelling van Jesus, gesien word. Gundry (1981:79) meen egter dat so ’n ‘post eventum’ verwysing na die verwoesting van die Tempel sekerlik duideliker uiteengesit sou gewees het. Wat hierdie siening selfs meer bevraagteken is die aanname dat Jesus nie die gebeure kon voorspel nie, maar dat dit reeds moes gebeur het voor dit gesê (en dus deur Markus neergepen) is (Carson, Moo & Morris, 1992:98). In Gundry (1981:79) se stelwyse verkry hierdie metode van datering ’n ‘ ... backward historical reference ... ’ eerder as ‘ ... genuine

prediction by Jesus ... ’. Indien voorspellende profesie aanvaar word, kan hierdie rede

Bacon (1925:73vv.) hou nietemin voet by stuk dat 75 n.C. ’n realistiese opinie is. Hy verbind gebeure na die val van Jerusalem in 70 n.C. met gebeure soos beskryf in die Markus-evangelie om sy argument te staaf. In die voorgestelde jaar van 75 n.C. is ’n Sinikusfilosoof onthoof omdat hy Titus se immorele gedrag met Bernice, suster van Agrippa II, veroordeel het. Bacon het ’n ooreenkoms hiermee en die dood van Johannes die Doper (Mark. 6:17-29) gesien en Markus se spesifieke beskrywing van hierdie gebeurtenis uitgelig as ondersteuning vir sy datering met die verduideliking dat die geadresseerdes hierdie ooreenkoms raak sou sien (Guthrie, 1990:88). Hierdie argument is egter nie oortuigend nie.

Brandon (1967:240-266) het ook ’n poging aangewend om ’n datum na 70 n.C. te ondersteun. Viljoen (2002:465) som Brandon (1967:240-266) se argumente op as ’n

apologia wat Markus eers na die Joodse oorlog vir Romeinse Christene geskryf het om

hulle van Judaïsme te distansieer en sodoende die Romeinse regering gerus te stel. Brandon (1967:242-243) sien dit as nodige motivering vir die Markus geskrif aangesien die Christene in Rome vrese gehad het dat die Romeine hul sou sien as mense wat Joodse revolusionêre idees aanhang. Viljoen (2002:466) lys ’n paar interne bewyse in die Markus-evangelie wat Brandon voorhou as dit wat sy eksterne argumente ondersteun, soos bv. die sterk polemiek oor Judaïsme (Mark. 2:6) en die huldeblyk aan die Keiser (Mark. 12:13-17).

Elwell en Yarbrough (2005:89) meld dat beide Bacon en Brandon se bevindings, wat verwysings in die evangelie met latere gebeure na die val van Jerusalem verbind, as hoogs twyfelagtig beskou moet word. Met die aanvaarding dat Markus Johannes die skrywer van die evangelie is en dat sy martelaarskap in 68 n.C. plaasgevind het (Hildebrandt, 1996:7-8), sou dit die moontlikheid uitskakel dat die evangelie na 70 n.C. geskryf kon gewees het.

 Voorlopige gevolgtrekking

Alhoewel die datering van die Markus-evangelie nie met sekerheid bepaal kan word nie, blyk dit dat die tradisioneel aanvaarde 60-70 n.C. die sterkste moontlike opsie sou wees. Dit verantwoord Irenaeus se getuienis, toegegee dat Klemens se getuienis dit nie weerspreek nie. Verder neem hierdie datering die voorspellende profesie van Jesus in Markus 13 as toekomstige gebeurtenis self ten tyde van Markus se skrywe. Laastens pas

dit by die inhoud aangaande lydende dissipelskap van die Markus-evangelie. Van Wyk (2009:90) se stelling som die argument deeglik op:

Dit maak sin dat die geadresseerdes in sulke onsekere tye groot troos en bemoediging uit die Markus-evangelie kon put deurdat hulle nie net as gevolg van ’n situasie van vervolging van Jesus die lydende, gekruisde Seun van die mens kon identifiseer nie, maar ook mét Hom as die opgestane en terugkerende Seun van die mens, dié Oorwinnaar kon identifiseer.