• No results found

Konteks van die kerngedeelte Markus 8:22-10:52

Hoofstuk 2 Inleidingsaspekte vir die eksegese van gekose kerntekste

2.3 Die konteks

2.3.2 Konteks van die kerngedeelte Markus 8:22-10:52

Markus se materiaal en die literêre uitleg daarvan gee blyke van die fokus op Jesus as lydende Messias en die navolgingimplikasie van lydende dissipelskap. Soos reeds aangedui, is dit die hooftemas van die Markus-evangelie (verwys 2.3.1.5). Talle navorsers (so bv. Lane, 1974:292, Achtemeier, 1978:136; Schweizer, 1978:165; Williams, 1996:339-340; Carson & Moo, 2005:185) meen dat Markus 8:22-10:52 die kern van sy evangelie daarstel. Hiervan is Jesus se drie profesieë (Mark. 8:31, 9:31 en 10:33-34) aangaande die lyding wat op hom in Jerusalem gewag het goeie rede tot so ’n gevolgtrekking. Die argument dat Markus se vinnige tempo in hierdie gedeelte tot bedaring kom9 (Garland, 1996:321), dien moontlik as verdere bewys vir Markus se

bedoeling om hierdie gedeelte te beklemtoon.

Hierdie kerngedeelte kan as die ‘dissipelskap-afdeling’ van die Markus-evangelie beskryf word (so bv. Cox, 2007:14), en die radikale onderrig aangaande dissipelskap (en Markus se beklemtoning daarvan) wat hierin uiteengesit word kan nie misgekyk word nie. France (2002:29) definieer hierdie gedeelte as “ ... a drastic programme in re-education into the values of the Kingdom of God” en dit pas inderdaad in by wat Cox (2007:15) “ ... new ethics of discipleship” noem. Die kentering vereis ’n radikale heroorweging van wat dissipelskap behels, ’n proses wat vir Jesus se dissipels ’n stadige en pynlike ervaring was en dit sou gesê kon word dat Jesus se onderrig die dissipels uit hul gemaksones geneem en in onderdanigheid aan God se wil vir volgelinge ingedwing het.

Die literêre uitleg in hierdie kerngedeelte sien soos volg daaruit (enkele belangrike opmerkings word hier reeds gemaak terwyl ’n breedvoeriger eksegetiese analise in die opvolgende hoofstuk 3 volg):

2.3.2.1 Die twee genesings

Die kerngedeelte Markus 10:22-10:52 word ingelei met die genesing van ’n blinde man (Mark. 8:22-26) en afgesluit met die genesing van ’n blinde man (Mark. 10:46-52). Hierdie twee genesings omsluit die kerngedeelte van die Markus-evangelie (Garland, 1996:322)

en kan as ’n eenvoudige inclusio omskryf word (Stein, 2008:386). Dit kan grafies soos volg voorgestel word:

Tabel 2-2: Inclusio van die kerngedeelte Markus 8:22-10:52

Inleiding Inhoud Afsluiting

Markus 8:22-26 Markus 8:27-10:45 Markus 10:46-52 Die genesing van die blinde

man in Betsaida.

Onderrig aangaande dissipelskap om hulle van geestelike blindheid te genees.

Die genesing van die blinde Bartimeus.

Die inclusio kan moontlik ’n doelbewuste literêre tegniek van Markus wees om hierdie gedeelte as ’n eenheid saam te vat en die inhoud doelbewus te beklemtoon. Best (1989:45) meen tereg dat Markus se evangelie bedoel was vir voorlesing/prediking eerder as om dit self te lees. Benewens die moontlike geletterdheidspeil van minder as vyf persent (Malina & Rohrbaugh, 2003:7) moet ook in ag geneem word dat dit hoogs onwaarskynlik is dat daar meer as een kopie van die Markus-evangelie beskikbaar was om deur die geadresseerders gelees te kon word. Markus gebruik dus tegnieke om die gehoor se aandag vas te vang en op spesifieke gedeeltes/klimakse te vestig.

Die bekendste van Markus se literêre tegnieke word die ‘sandwich-method’10 genoem

(France, 2002:9, 18) (sien bv. Mark. 3:21-35, 5:21-43 en 6:7-32) waar ’n insident in ’n ander gebeurtenis ingedruk word. Ander van die sinoptici maak ook van hierdie metode gebruik, maar Markus se gebruik hiervan staan duideliker uit (France, 2002:18). Markus gebruik nie altyd hierdie metode op dieselfde manier nie – soms omsluit hy een narratief met ’n ander, maar soms stel hy ook parallelle tonele, met opeenvolgende beweging van die een na die ander, op. France (2002:19-20) meen dat Markus se bedoeling met hierdie metode beide literêre sowel as teologiese redes kan hê, maar veral om spanning te skep. Die kerngedeelte Markus 8:22-10:52 se begin met die genesing van ’n blinde en afsluiting met die genesing van ’n ander blinde sou moontlik as ’n tipe ‘sandwich method’ gesien

kon word. Alhoewel die genesing van die blinde mans twee afsonderlike gevalle is, wil dit voorkom asof Markus moontlik die gedeelte (Mark. 8:22-10:52) afbaken met hierdie literêre tegniek om sodoende aandag te vestig op die materiaal wat tussen hierdie twee genesingsvertellings lê (m.a.w. Mark. 8:27-10:45). Best (1989:48) bied ’n beter beskrywing, naamlik dat dit ’n ‘circular argument or ring composition’ is waar materiaal van so ’n aard is dat die begin en einde, met ’n beklemtoonde gedeelte in die middel, ooreenstem. Hierdie tegniek was deur die voorste sprekers van daardie tyd gebruik (Best, 1989:48).

Markus het die hoofafdelings van sy evangelie met oorganggedeeltes verbind (Best, 1989:50) en die genesing van die blinde in Markus 8:22-26 lei die hoofafdeling Markus 8:27-10:45 in (lydensvoorspelling en implikasie vir dissipelskap), terwyl die genesing van die blinde in Markus 10:46-52 die hoofafdeling Markus 11:1-16:8 (lydingsverhaal) inlei. Jesus se aanvanklike, gedeeltelike genesing van die blinde in Markus 8:22-26 sou dan ’n oorgang wees van sy uitspraak dat die dissipels oë het maar nie sien nie (Mark. 8:18) na die dissipels se gedeeltelike insig oor watter tipe Messias Jesus is (Mark. 8:32). Hulle het beter insig nodig – dit is wat Jesus se onderrig in Markus 8:27-10:45 bied (Best, 1989:53- 54; Guelich, 1989:xxxvii, 430; France, 2002:323).

2.3.2.2 Jesus se drie lydensvoorspellings

Die drie lydensvoorspellings word in die volgende Markus-tekse vervat: i. Markus 8:31 – Eerste lydensvoorspelling

ii. Markus 9:31 – Tweede lydensvoorspelling iii. Markus 10:33-34 – Derde lydensvoorspelling

Hierdie drie voorspellings word as die hart van Markus 8:22-10:52 beskou (Lane, 1974:292,293, Culpepper, 2007:271). Met hierdie lydensvoorspellings in die kerngedeelte (Mark. 8:22-10:52) beklemtoon Markus dat Jesus se weg dié van lyding is (Viljoen, 2002:456) en in oorstemming is met die wil van God. Jesus dui op die noodsaaklikheid van hierdie weg van lyding volgens God se wil en Jesus se voorkennis met die ‘moet’ (δεῖ) (Mark. 8:31) (Gundry, 1993:428).

Tabel 2-3: Parallelle en verskille tussen die drie lydensvoorspellings van Jesus

Parallelle Verskille

Al drie voorspellings verwys na Jesus as die Seun van die mens.

Markus 8:31 meld dat Jesus sou ly, terwyl Markus 9:31 en Markus 10:33 op sy oorlewering fokus.

Al drie voorspellings noem die aandeel van die Joodse owerhede in Jesus se lyding.

Die identifisering van die verantwoordelike mense vir sy lyding en dood verskil in al drie voorspellings.

In al drie voorspellings word duidelik gemeld dat Jesus doodgemaak sou word.

Dit is slegs Markus 8:31 wat melding maak van die verwerping van Jesus.

Laastens dui al drie voorspellings op Jesus se opstanding wat na drie dae sou

plaasvind.

Die laaste voorspelling in Markus 10:33-34 brei meer uit oor Jesus se lyding as die eerste twee.

2.3.2.3 Die reaksie van die dissipels

Die reaksie van die dissipels op Jesus se lydensvoorspellings word in die volgende Markus-tekste vervat:

i. Markus 8:32-33 – Petrus berispe Jesus.

ii. Markus 9:33-34 – Die dissipels stry oor wie die belangrikste sou wees.

iii. Markus 10:35-40 – Jakobus en Johannes se versoek om aan Christus se regter- en linkerhand in sy koninkryk te sit.

Markus se uitwys van die dissipels se tekortkominge bereik moontlik ’n klimaks in hierdie kerngedeelte. In sy kommentaar op Markus 9:1-10:52 meld Gromacki (2004:104) dat die dissipels skynbaar ʼn hemelse koninkryk gevul met politieke en materiële welvaart wou sien – iets wat Lukas (19:11) ook beskryf en wat hierdie argument stellig sou kon versterk: “ ... aangesien Hy naby Jerusalem was [het] hulle gedink die koninkryk van God sou

Na elkeen van die drie lydensvoorspellings beklemtoon Markus die dissipels se skynbaar onnadenkende reaksies: in Markus 8:32 berispe/vervloek Petrus vir Jesus, in Markus 9:32-34 stry hulle oor wie die belangrikste is en in Markus 10:35-40 vra Johannes en Jakobus om die eerbaarste plekke in die koninkryk tot ergernis van die ander dissipels. Dit sou dus voorkom dat Jesus se volgelinge nie van ’n lydende Messias wou hoor nie, maar dalk eerder van ’n Messias wat vir Israel ’n aardse koninkryk met welvarendheid op alle terreine kom (her)vestig. ’n Moontlikheid sou geponeer kon word dat dit vanuit hierdie verwagting van die dissipels was dat hulle Jesus se lydensvoorspelling nie verstaan of wou aanvaar het nie. Hulle reaksie dui dan juis op ’n verwagting van ’n Messias wat as oorwinnaar oor Israel se vyande vir sy dissipels koninklike seën sou bring – daarom berispe Petrus vir Jesus wanneer Jesus sy dood voorspel; daarom stry die dissipels oor wie die belangrikste in die koninkryk sou wees; en daarom versoek Jakobus en Johannes eerbare posisies in die koninkryk. Terwyl die navolgingsverwagtinge van die dissipels op oorwinning, belangrikheid en welvarendheid vir hulle kon gewees het, lig Jesus hulle in Markus 8:22-10:52 egter juis daarteenoor in wat ware Christen-dissipelskap inhou. Hierdie hipotese word in die eksegese (verwys hoofstuk 3) van nader beskou.

2.3.2.4 Jesus se onderrig aangaande dissipelskap

Jesus se onderrig aan die dissipels word in die volgende Markus-tekste vervat: i. Markus 8:34-38 – Die weg na ‘lewe’ is kruisdraende selfverloëning. ii. Markus 9:35-37 – Die weg na ‘belangrik wees’ is om laaste te wees en ’n

dienaar te wees.

iii. Markus 10:41-45 – Die weg na ‘grootheid’ is opoffering en diens – waarvan Jesus self die klinkklare voorbeeld is (Mark. 10:45).

Jesus se onderrig aangaande dissipelskap in hierdie perikope hou verband met sy lydensvoorspellings asook Markus se ontbloting van die dissipels se verwerping daarvan soos uitgewys in hulle reaksie wat op die voorspellings volg. Binne konteks sou gesê kon word dat Jesus se bedoeling in hierdie onderrig aangaande dissipelskap was om verkeerde navolgingsimplikasies van die dissipels te korrigeer en hulle op die ‘weg’ van die Messias/Meester te wys as voorbeeld vir die ‘weg’ van sy navolgers.

2.3.2.5 Voorlopige gevolgtrekking

’n Patroon kom na vore in die drie teksgedeeltes aangaande Jesus se lydensvoorspelling. Dit kan skematies soos volg uiteengesit word:

Tabel 2-4: Die patroon in die drie lydensvoorspellings van Jesus

Lydensvoorspelling Reaksie van die dissipels Onderrig aangaande dissipelskap

Mark. 8:31 Mark. 8:32-33 Mark. 8:34-38

Mark. 9:31 Mark. 9:33-34 Mark. 9:35-37

Mark. 10:33-34 Mark. 10:35-40 Mark. 10:41-45

Best (1970:328), Guelich (1989:xxxvi), Stein (2008:386) en Beavis (2011:133) onder andere meld dat die kerngedeelte (Mark. 8:22-10:52) om dié drie siklusse (Markus 8:31- 38, 9:31-37 en 10:32-45) opgebou is: Eerstens, Jesus se lydensvoorspellings, tweedens die dissipels se reaksie en derdens Jesus se onderrig aangaande ware dissipelskap. Dit bied die raamwerk waarbinne die onderwerp vir die kerngedeelte van die Markus- evangelie uiteengesit is (Lane, 1974:292). Genoemde drie teksgedeeltes volg ’n patroon ter beklemtoning en dit sou dan ’n gepaste keuse wees om die hipotese van hierdie studie te toets, aangesien dit op Jesus (en Markus) se onderrig aangaande Christen- dissipelskap fokus.