• No results found

Hoofstuk 2 Inleidingsaspekte vir die eksegese van gekose kerntekste

2.3 Die konteks

2.3.1 Kontekstuele inleidende aspekte rakende die Markus-evangelie

2.3.1.5 Teologiese temas van die Markus-evangelie

2.3.1.5.2 Dissipelskap

Vakkundiges is dit eens dat dissipelskap ’n sentrale tema in, of motief vir, die Markus- evangelie is (bv. Malbon, 1983:29; Carson & Moo, 2005:194; Hurtado, 2011:10). Die evangelie handel dus oor meer as Christologie, dit spreek ook volgelinge/dissipels van Christus aan. Daar word selfs beweer dat die eintlike doel van Markus se Christologie is om die primêre motief, nl. die betekenis van dissipelskap, te aksentueer (Guelich, 1989:xl). Die Christologie vorm dan die grondslag vir Markus se lering aangaande dissipelskap.

’n Literêre oorsig van studies oor die Markus-evangelie dui daarop dat die omstandighede van die Markaanse geadresseerdes weereens voorgehou word as die motief agter hierdie dissipelskaptema. Markus gebruik die tradisie rakende Jesus om ’n lydende gemeenskap aangaande die betekenis en implikasies van die Jesus-tradisie te onderrig (Reploh, 1969:228-230).

Daar kan uit die Markus-teks afgelei word dat Jesus ’n unieke tipe dissipelskap (in vergelyking met eerste-eeuse Judaïsme en die Grieks-Romeinse wêreldse begrip van dissipelskap) gepromoveer het (Wilkins, 2004:52). Hierdie unieke historiese vorm van dissipelskap wat Jesus ingestel het, berus op ’n duidelike begrip van die uniekheid van die Meester, Jesus. Markus was dus daarop ingestel om sy narratief so te ontwikkel dat Jesus in die lig van lyding en die kruis voorgestel word en dit as basis vir lering oor Christen-dissipelskap te gebruik.

Peacock (1978:555-564) lewer ’n waardevolle akademiese bydrae met sy eksegetiese uiteensetting van Markus se fokus op dissipelskap. Die volgende opsommende punte kom uit sy navorsing na vore:

 Die eerste ding wat Jesus met die aanvang van sy bediening gedoen het, was om vier vissermanne te roep om hom as dissipels te volg.

 Die Griekse woord vir dissipel (μαθητής) kom ongeveer 40 keer in die Markus- evangelie voor en word reëlmatig met ’n besitlike voornaamwoord (myne, joune, syne, of Jesus se ... ) verbind om duidelik te stel dat hierdie dissipels Jesus sʼn was. Louw en Nida (1993:456, 470) wys op hierdie verbintenis aan die leier in hulle klassifisering van μαθητής onder ‘Lei, Dissiplineer en Volg’ as “ ... a person who is a disciple or follower of someone”.

 Louw en Nida (1993:470) verklaar wel die werkwoord “volg” (ὀπίσω) as “ ... a position behind an object or other position”, maar waar die werkwoord vir “volg” (ὀπίσω)in die Markus-evangelie gebruik is, dui die konteks in meer as die helfte van die gevalle op ’n duidelike verwysing na “word ’n dissipel” eerder as ’n eenvoudige letterlike “loop agter my aan” (bv. Mark. 1:20 en 2:14).

 Na aanleiding van die oproep tot dissipelskap in Markus moet daar op die volgende gelet word:

i. Die inisiatief in die oproep is altyd op Jesus. Dit val op dat Jesus dit nie toelaat wanneer mense aanbied om sy dissipels te word nie (bv. Mark. 5:18).

ii. Die oproep kom onverwags en sonder voorbereiding (gesien in die lig daarvan dat Jesus skielik opdaag, mense roep om hom te volg en dat hulle onmiddellik volg. Bv. Mark.1:16-20).

iii. Die reaksie op Jesus se oproep vereis dat alle ander toewyding prysgegee word (bv. vissermanne verlaat hul nette, bote en families [Mark. 1:18] om Jesus te volg. So ook gee Levi sy amp as tollenaar op [Mark. 2:14]). Die ryk jong man se weiering om sy rykdom prys te gee, word uitgebeeld as dit wat hom daarvan weerhou om Jesus te volg (Mark. 10:17-22). Hierteenoor word gemeld dat die dissipels alles prysgegee het om Jesus te volg (Mark. 10:28). Dít is vir Markus ’n nie-onderhandelbare vereiste in die oproep tot dissipelskap.

iv. Hierdie oproep is ’n uitnodiging tot ’n intieme verhouding met Jesus (Mark. 3:14 “ ... om by Hom te bly ... ”). Die twaalf dissipels se intieme tye saam met Jesus in huise (bv. Mark. 9:33), die private onderrig wat hulle van Jesus ontvang (bv. Mark. 9:35-37 en 10:42-45) en die maaltye wat hulle met hom deel (Mark. 14:22v.) dui op die hegte verhouding wat hulle met Jesus gehad het.

Dissipelskap figureer dus deur die verloop van Markus se narratief. Die dissipels is ’n toonbeeld/gids vir Markus se lesers in hul eie navolging van Jesus. Soms is hulle ’n goeie voorbeeld waarna gestreef moet word, soos wanneer hulle alles los om Jesus te volg (Mark. 1:18, 20; 2:14 en 10:28-30) en hulle in Jesus se werk in verkondiging en verlossing deel (Mark. 3:14-15 en 6:12-13), maar hulle is ook swak rolmodelle in hul vrese en mislukkings (Mark. 4:40 en 6:49-50), selfsugtige ambisies (Mark. 9:34 en 10:35-45) en die verloëning van hul Meester (Mark. 14:66-72) (France, 2002:28-29).

Daar is twee aspekte van Markus se dissipelskaptema wat op die navorsing betrekking het, naamlik:

i. Markus se klem op die tekortkominge en mislukkings van die dissipels; en ii. die navolgingimplikasie: Lyding vir dissipels.

 Markus se klem op die tekortkominge en mislukkings van die dissipels Weeden (1968:145-158) se drie progressief verslegtende fases van die verhouding tussen Jesus en die dissipels het reeds lig gewerp op Markus se klem op die tekortkominge en mislukkings van die dissipels. Daar kan nie met sekerheid gesê word dat Markus se intensie was om die dissipels as voorstanders van die Θεῖος ἀνήρ- Christologie uit te beeld nie, maar daar blyk redelike sekerheid onder verskeie vakkundiges8 te wees dat Markus wel op die dissipels se wanbegrip van Jesus en sy

lydende Messiasskap, en die navolging-implikasies daarvan, wys.

So meen Wilkins (2004:59) dat daar op genoegsame voorbeelde in die Markus-teks gewys kan word ter ondersteuning van die dissipels se gebrek van begrip. Hulle verstaan nie die gelykenisse nie (Mark. 4:13 en 7:17-18); hulle kan nie identifiseer met Jesus se

8 Bv. Martin, 1972:152; Peacock, 1978:558; Cole, 1989:89; Guthrie, 1990:62; Telford, 1995:36; Viljoen,

ware identiteit as Seun van God in die stilmaak van die storm nie (Mark. 4:35-41 en 6:45- 52); hulle toon geen begrip van Jesus se potensiaal om groot skares op wonderbaarlike wyse te voed nie (Mark. 6:34-44 en 8:1-10); hulle verstaan nie die aard van Jesus se bediening of onderrig (Mark. 8:14-21) wat om die weg van die kruis (Mark. 8:31-33 en 9:30-32) deur nederige diensbaarheid (Mark.10:32-45) draai nie. Hierdie gebrek aan insig oor wie Jesus werklik is, is seker die duidelikste mislukking van die dissipels. Petrus se belydenis dat Jesus die Messias is (Mark. 8:29), word verwerp, terwyl die dissipels heeltemal verward voorkom as Jesus hulle leer dat sy werklike bediening lyding en dood is (Mark. 8:31vv., 9:30vv. en 10:22vv.). Dit lei uiteindelik na Judas was Jesus oorlewer (Mark. 14:43-46), al die dissipels wat hom verlaat (Mark. 14:50) en Petrus wat hom verloën (Mark. 14:54, 66-72).

Daar sou voorgestel kon word dat status, mag en glorie in die koninkryk die verwagting van die dissipels was, en nie lydende diensbaarheid nie (Martin, 1972:152; Telford, 1995:36). Hulle het selfs aangeneem dat rykdom ’n teken van God se seën is en daarom was hulle geskok met Jesus se lering dat besittings en rykdom ’n groot hindernis vir toegang tot die koninkryk van God is (Mark. 9:24) (Peacock, 1978:561). Hulle verwagting van ’n koninkryk gevul met aardse seëninge sou op pad na Jerusalem groei, maar met hul hoop verydel na Jesus se inhegtenisneming is dit te verstane dat hulle hom verlaat en vlug.

Die rede vir die uitwys van hierdie mislukkings en tekortkomings van die dissipels hou ’n belangrike navolgingimplikasie vir Markus se geadresseerdes in. As ’n evangelie wat waarskynlik aan vervolgde Christene geskryf is, leer Markus dat lyding ’n integrale deel van betrokkenheid met Jesus uitmaak (Kelleher, 2009:2).

 Navolgingimplikasie: Lyding vir dissipels

Die rede waarom Markus klem op onvermydelike lyding vir volgelinge van Jesus plaas, lê eerstens daarin dat sy onderrig aan die twaalf dissipels, ten tye van hul wanbegrip, dit beklemtoon het (Mark. 8:31-38, 9:31-37 en 10:32-45). Markus se geadresseerdes het moontlik die natuurlike menslike reaksie van teenkanting op so ’n ongemaklike dogma gehad en daarom is Markus se beklemtoning daarvan juis noodsaaklik (Cole, 1989:93). Markus se fokus op en beklemtoning van lydende dissipelskap sou dus binne die omstandighede van sy geadresseerdes belangrik wees.

Markus stel dit duidelik dat die oproep tot dissipelskap ’n persoon aan die moontlike verloëning van besittings, leefstyl en selfs familie blootstel (Mark. 1:16-20 en 2:13-14). Die gelykenis van die saaier (Mark. 4:1-9,13-20) leer dat teenkanting teen vervolging en ’n smag na rykdom en ander begeertes ’n hindernis tot Christen-dissipelskap is. Dit is egter Markus se koppeling van dissipelskap aan Jesus se lyde wat die grootste aanspraak maak op lydende dissipelskap. Hurtado (2011:10) vat dit soos volg saam:

Mark was concerned to emphasize that the cross was not only the key work of Jesus, but also the pattern for discipleship. ... Mark 8-10, especially, is concerned with Jesus’ description of his own sufferings as his essential duty, and his definition of discipleship as following his example (e.g. 8:27-38). Just as Mark wished to emphasize that the gospel is centered in Jesus’ suffering for others, so he wished to correct the notion of discipleship as an easy, triumphant life.

Hierdie observasie is ’n belangrike stelling in die lig van die hipotese van hierdie studie. Die teksgedeeltes waarna Hurtado verwys (nl. Mark. 8-10) word eksegeties ontleed om te toets of Jesus wel geleer het dat volgelinge van Jesus lyding kan verwag en of hulle op onbeperkte welvaart (finansiële en fisiese/gesondheidsvlak) op tydelike gebied aanspraak kan maak. Meyer (2002:231) laat geen ruimte vir ’n Welvaartteologie nie wanneer hy soos volg op Markus se teologiese temas kommentaar lewer:

Mark’s theological perspective, questions a theology of success and proclaims that the life of a disciple is lived with the reality of the cross. We (also) know of churches that preach what may be called a theology of success – from possibility thinking to the “be happy attitudes”. I hear the gospel of Mark proclaiming the life of discipleship in remarkably different tones.

 Voorlopige gevolgtrekking

Die Christologie en dissipelskap in Markus kan nie van mekaar geskei word nie. Sy voorstelling van Christologie het praktiese implikasies. Dit is die dissipels se ontdekking van en reaksie op wie Jesus is wat Markus gebruik om die leser se aandag aan te gryp. Jesus het met ’n nuwe leer ’n nuwe visie op die koninkryk gebring met die doel dat sy volgelinge kan weet wat dit in die praktyk beteken om hom te volg (vgl. Mark. 8:34-38). Hierdie navolging staan direk in verband met sy lyding (Vorster, 1985:133).

Markus se evangelie word gesien as ’n ernstige oproep tot Christen-dissipelskap, wat die dra van ’n kruis in die duisternis van lyding aanvaar (Guthrie,1990:70).