• No results found

Hoofstuk 2 Inleidingsaspekte vir die eksegese van gekose kerntekste

2.3 Die konteks

2.3.1 Kontekstuele inleidende aspekte rakende die Markus-evangelie

2.3.1.4 Die geadresseerdes en hul omstandighede

2.3.1.4.1 Die geadresseerdes

Ofskoon die eerste gehoor as geadresseerdes, en by implikasie waar hulle hulself bevind het, nie met sekerheid bepaal kan word nie (Martin, 1972:63; Guthrie, 1990:71), word aanvaarbare bewyse egter deur verskeie navorsers voorgehou. Rome is die waarskynlikste plek vanwaar Markus geskryf het asook die plek waar sy geadresseerdes hulself bevind het (vergelyk Bacon, 1919:22; Martin, 1972:61; Lane, 1974:24; Gundry, 1981:79; Vorster, 1985:116; Brooks, 1991:27; France, 2002:40; Viljoen, 2002:456; Carson & Moo, 2005:177). Beide oorwegings is belangrik aangesien die bestemming van Markus se skrywe uit sy waarskynlike Roomse herkoms afgelei kan word (Vorster, 1985:118; Carson & Moo, 2005:182).

Benewens Rome is Galilea (Marxsen, 1969:41), Sirië (Kee, 1977:100-105) en Egipte (Smith, 1973 – vergelyk Guelich, 1989:xxx) ook as moontlikhede vir oorsprong voorgestel. Voor die belangrikste argumente vir en teen hierdie onderskeidelike denkrigtings onder die loep kom, kan uitgelig word dat daar wel redelike ooreenstemming onder vakkundiges bestaan dat die geadresseerdes heidene (nie-Jode) was. Twee belangrike interne teksgebaseerde argumente word as bewys aangedui:

i. Markus verduidelik Palestynse gebruike soos die Joodse reinigingsproses d.m.v. handewas voor maaltye (Mark. 7:3-4) (Guthrie, 1990:71). Hierdie verduideliking sou waarskynlik nie nodig gewees het indien die geadresseerdes Jode was nie.

ii. Van die Aramese uitdrukkings wat deur Markus in die teks behou is, word ook in Grieks vertaal (sien Mark. 3:17, 5:41, 7:34, 14:36 en 15:34). Dit skakel waarskynlik Aramees-sprekende lesers (soos Jode) as primêre geadresseerdes uit en dien as noemenswaardige bewys vir ’n gehoor wat nie met hierdie uitdrukkings vertroud sou wees nie (Guthrie, 1990:71). Hierdie punt word versterk deur Martin (1972:63) se uitwysing dat Joodse terme waarmee die heidense kerk wel vertroud sou wees, soos ‘amen’ (ἀμήν) (bv. Mark. 9:1) en ‘hosanna’ (ὡσαννά) (Mark. 11:9,10), sonder verduideliking deur Markus in gebruik geneem is.

’n Heidense gehoor dui egter nie noodwendig op Rome nie, maar kon enige plek pas wat ’n heidense invloed gehad het. Dit noodsaak die uiteensetting van verdere argumente onder die voorgestelde denkrigtings ter vasstelling van wie die geadresseerdes moontlik kon wees.

 Rome

Daar is ’n sterk eksterne tradisie dat die Markus-evangelie sy oorsprong in Rome aan ’n Romeinse gehoor gehad het. Die kerkvader Papias (Eus H.E. 3.39.15) se getuienis dat Markus as tolk vir Petrus in Rome opgetree het, was vir die vroeë twintigste-eeuse kommentator B.W. Bacon (1919:22) op sigself oortuigend genoeg. Bacon (1919:22) skryf hieroor soos volg:

In the second, third and forth centuries all parties are agreed in making the view of Papias fundamental ... for Papias was the fountainhead of tradition regarding Gospel origins ... . As regards ancient testimony to the provenance of our oldest Gospel it is certainly true that ‘all roads lead to Rome’.

Irenaeus (Adv. Haer. iii.I.2.) impliseer op sy beurt dat Markus na Petrus en Paulus se martelaardood in Rome geskryf het en Klemens van Aleksandrië (HE, iv.14.6f.) het gemeld dat Markus geskryf is terwyl Petrus besig was om in Rome te preek. Indien die omstredenheid aangaande die tydperk van skrywe tersyde gestel word, kan na die ooreenstemming van Rome gelet word. Indien vroeë kerkgeskiedenis se getuienis aangaande Petrus se teregstelling onder Nero in 64/65 n.C. in Rome aanvaar word, sou dit self aanleiding kon gee tot bevestiging van Markus se verbintenis met Rome (Brooks, 1991:28).

Die Rome-hipotese word deur navorsers soos Martin (1972:62) ondersteun ter verwysing na die vroegste verklaring vir die gebruik van die Markus-evangelie in 1 Klemens 15:2 en Hermas Sim. 5:2, geskrifte wat beide met Rome geassosieer word. Ter verdere ondersteuning van die Rome-hipotese verwys navorsers soos Guelich (1989:xxix), Johnson (1960:15) en Gundry (1981:79) na die anti-Marconiste-proloog5 se stelling dat

Markus sy evangelie na Petrus se dood in die streke van Italië, neergepen het.

Daar blyk genoegsame eksterne bewyse te wees wat ondersteun dat Markus waarskynlik in Rome aan ʼn Rome-gehoor geskryf het, maar soos Martin (1972:63) se mening daar uitsien, sou die interne bewyse móét ooreenstem en selfs die swaarste moes weeg om hiervan te oortuig. ’n Aantal argumente kan in dié verband uitgelig word, waarvan Markus se unieke voorkeur vir die gebruik van Latinismes en/of Latynse leenwoorde veral oorweging onder vakkundiges geniet (vergelyk Martin, 1972:63; Lane, 1974:24; Gundry, 1981:79; Vorster, 1985:116; Guelich, 1989:xxix; Guthrie, 1990:71; Carson & Moo, 2005:177, ens.). Hierdie Latinismes verwys na Markus se verduideliking van Griekse uitdrukkings met behulp van Latynse ekwivalente (m.a.w. Latynse woorde in Griekse letters) en sluit onder andere in: Markus 12:42: “ ... twee geldstukkies (λεπτός), dit is ’n oortjie (κοδράντης)”; Markus 15:16 “ ... die binneplaas (αὐλή), dit is die goewerneur se paleis (πραιτώριον)” en Markus 15:39 “ ... die offisier (κεντυρίων)”. In die geval van ‘offisier’ gebruik Matteus (27:54) en Lukas (23:47) nie hierdie woord in hul weergawes nie, maar ’n suiwer Griekse woord, nl. ἑκατοντάρχης (‘offisier’). Hierdie Latinismes sou veral gepas gewees het as die skrywer homself op dieselfde plek as sy geadresseerdes bevind het (Guthrie, 1990:71).

Sekere vakkundiges meen egter dat die Latinismes nie oortuigend as bewyse vir die Rome-hipotese sou wees nie (Marxsen, 1969:66; Vorster, 1985:116). Vier opvallende redes word krities voorgehou: Eerstens bestaan die moontlikheid dat hierdie terme hul oorsprong in ‘voor-Markaanse’ tradisies/geskrifte kon gehad het, m.a.w. Markus het bloot die materiaal wat hy ontvang het, wat reeds hierdie Latinisme bevat het, op soortgelyke wyse oorgedra. Op hierdie kritiek sou die kritiese teenvraag dan moes wees hoekom Markus nie meer van hierdie terme uitgeskakel het nie? (Martin, 1972:63). Tweedens word Latinismes op ander plekke in die Nuwe Testament aangetref wat nie aan ’n

5 Dit is manuskripte-inleidings wat teen Marcionisme, ’n tipe Gnostiese dwaalleer, gerig is (Gundry,

Romeinse gehoor gerig is nie, soos Lukas 12:58 “ ... moeite doen ... ” (δὸς ἐργασία’). Dit is wel belangrik om daarop te let dat Markus hierdie terme meer beklemtoon en dat dit wil voorkom asof Matteus en Lukas oor die algemeen hierdie tipe woorde vermy (Johnson 1960:15; Martin, 1972:63). Derdens word die belangrikheid van die Latinisme se gebruik afgemaak as onbeduidend aangesien dit beperk is tot handel en militêre terme (Kummel, 1975:98). Laastens word daar krities na die Latinismes verwys as ’n blote feit dat die Markus-evangelie oorspronklik in Latyns geskryf is en daarna in Grieks vertaal is (Couchoud, 1928:35-79) – die Latinismes in die Griekse teks word bloot beskou as oorblyfsels na vertaling. Daar bestaan egter min bewyse dat dit die geval kon wees (Martin, 1972:64) en daarbenewens sou ’n geskrif wat oorspronklik in Latyn geskryf is in elk geval die denkrigting versterk dat Markus aan ’n Roomse gehoor geskryf het.

In die beskouing van die argumente sou dit tog voorkom asof Markus se gebruik van Latinismes Rome sou kon begunstig, maar op sigself nie genoegsame bewyse kon wees om van geadresseerdes in Rome te oortuig nie. Dit kan immers slegs beteken dat enige plek wat ’n heidense en Latynse invloed in die eerste eeu n.C. gehad het as moontlike opsies oorweeg sou kon word (Carson & Moo, 2005:177).

Navorsers (bv. Johnson, 1960:15; Guthrie, 1990:71; Carson & Moo, 2005:177) bied verdere interne bewyse ter ondersteuning van Rome as plek van oorsprong en beoogde bestemming van Markus se skrywe. As bewyse van ’n gehoor wat moontlik nie met Israel bekend sou gewees het nie, word daar op Markus se verskeie verduidelikings gewys wat sy lesers se kennisinhoud andersins sou ontbreek het. Markus se identifisering van Gadara as uitgebrei tot by die See van Galilea (Mark. 5:1), die beskrywing van Betsaida as ’n ‘dorp’ (Mark. 8:26), die verwysing na Herodes se familie (Mark. 6:17), die aanname dat Jesus se verskyning voor die hoëpriester ’n ‘verhoor’ was, en die verwysing daarna dat ’n vrou van haar man kan skei wat teen die Joodse wet was (Mark. 10:12) word in die opsig deur vakkundiges gelys (Johnson, 1960:15; Guthrie, 1990:71). So ook is Rufus in Markus 15:21 geïdentifiseer as een van Simon van Sirene se kinders, en die inligting van Markus sou kon dui op die geadresseerdes se bekendheid met hom. Paulus verwys dan na ’n Rufus in Romeine 16:31 wat in Rome woonagtig was en dit sou Markus met Rome kon verbind (Gundry, 1981:79; Brooks 1991:28). Hierdie argument neem uiteraard aan dat Markus en Paulus na dieselfde Rufus verwys.

Beide Petrus en Paulus maak in hul Nuwe Testamentiese briewe bydraes tot Markus se verbintenis met Rome. Hierdie verbintenis dra veral vir Carson en Moo (2005:177) gewig en hulle verwys na 1 Petrus 5:13 waar Petrus vir Markus in Rome in die vroeë sestigs n.C. plaas (indien aanvaar word dat Babilon ’n verwysing na Rome is). Paulus se briewe ten tyde van sy gevangenis is uit Rome geskryf, en in Kolossense 1:24 sowel as Filemon 24 word Markus met Rome in die vroeë sestigs n.C. verbind (Brooks, 1991:27). 2 Timoteus 4:11 dui verder aan dat Markus gedurende die sestigs n.C. na Rome sou reis. Markus se talle verwysings na lyding en vervolging is waarskynlik vir vakkundiges die oortuigendste aspek wat die Roomse hipotese bevestig (vergelyk Lane, 1974:24; Guthrie, 1990:73; Carson & Moo, 2005:177). Markus se verwysing na vervolging is immers duidelik en tot die punt (verwys Mark. 8:34, 8:38, 10:30, 10:33, 10:45, 13:8 en 13:10). Meeste van hierdie teksgedeeltes val binne die kerngedeelte van die Markus-evangelie wat verderaan in die (eksegetiese) hoofstuk 3 onder die loep kom. Hierdie teksgedeeltes neem ’n belangriker betekenis aan wanneer dit gelees word teen die agtergrond van ’n kerk wat sy lot onder vervolging moes aanvaar (Martin, 1972:66). Hierdie moontlikheid van vervolging wat die lesers in die gesig gestaar het, word verder onder die geadresseerdes se omstandighede bespreek (verwys 2.3.1.4.2).

Die interne en eksterne bewyse wat deur vakkundiges voorgehou word. dui op Rome as beide die waarskynlikste plek van herkoms asook bedoelde bestemming van die Markus- evangelie. Daar bestaan geen dwingende argumente teen die vroeë kerkgeskiedenis se getuienis nie en die inhoud van die Markus-evangelie blyk versoenbaar hiermee te wees. Drie ander moontlikhede word ook voorgehou, nl. Galilea, Sirië en Egipte wat nou kortliks bespreek word.

 Galilea

In sy “redaksionele studie” oor Markus ondersteun Willi Marxsen (1969:41) Galilea as plek van oorsprong van die Markus-evangelie. Hy wys op die positiewe belangrikheid wat Markus aan Galilea in sy teks verleen en beweer dat dit die plek van openbaring vir Markus moes gewees het. Markus se verwysing na Jesus wat die dissipels na Galilea vooruitgaan (Mark. 14:28 en 16:7) word deur Marxsen gesien as ’n opdrag aan Christene om daar te vergader om vir Jesus se wederkoms te wag.

Guthrie (1990:72) meen dat die skrywer bekend was met Palestina aangesien hy Dalmanutha (Mark. 8:10) noem wat andersins onbekend is. Hierdie argument is egter onoortuigend aangesien dit nie onmoontlik is dat hierdie pleknaam korrek is nie, ten spyte daarvan dat daar nie ander inligting hieroor bewaar is nie (Guthrie, 1990:72). Die Joodsheid van die evangelie word ook voorgehou as bewys vir die Galilea-hipotese maar dit kan moontlik toegeskryf word aan Petrus se stem op die agtergrond eerder as aan die plek van oorsprong (Elwell & Yarbrough, 2005:90).

Die beskikbare bewyse regverdig nie die aannames van die Galilea-hipotese nie. Alhoewel hulle nie op die besonderhede uitbrei nie meen Carson en Moo (2005:179) dat hierdie teorie vele probleme inhou en dat daar geen oortuigende argumente is wat op Galilea as plek van herkoms sou kon dui nie.

 Sirië

Sirië, oftewel Antiochië, word ook voorgestel as moontlike plek van oorsprong (Bartlet, s.a.:5-6). Dit is naby Palestina geleë wat sou kon verduidelik waarom Markus aanneem dat sy lesers Palestynse plekname sou ken. Verder was Sirië ’n groot Romeinse kolonie en dit verduidelik moontlik Markus se Latinismes. Petrus se verbinding met Antiochië versterk ook die Sirië-hipotese en dan is daar ook die feit dat die ‘presbiter’ waarna die kerkvader Papias verwys, van die Ooste afkomstig was (vergelyk Carson & Moo, 2005:178).

Kee (1977:100-105) redeneer vanuit moderne sosiologiese perspektiewe dat Markus net voor die val van Jerusalem in Sirië aan ’n apokaliptiese groep geskryf het wat van die gemeenskap vervreemd was. Brooks (1991:22) sou egter tereg opmerk dat die apokaliptiese element in die evangelie te skraal is en dat dit ernstige vrae oor hierdie teorie meebring. Saamgeneem, blyk dit daar nie betroubare redes is om Sirië (Antiochië) as realistiese opsie te oorweeg nie (France, 2002:40).

 Egipte

Grisostomus (354-407 n.C.) (Matthaeum Homilae 1.3) is ’n uitsondering in die vroeë kerkgeskiedenis in sy mening dat Markus sy evangelie in Egipte geskryf het. Hierdie mening is oor die algemeen onder vakkundiges gesien as ’n waninterpretasie van Eusebius (H.E. 2.16.1) se opmerking dat Markus die eerste een was wat die evangelie in

Markus se skrywe vanuit Egipte word ook gebaseer op sy diens as biskop in die kerk in Aleksandrië (Brooks, 1991:27). Morton Smith (1973) (vergelyk Guelich, 1989:xxx) het ook ’n bydrae gelewer deur die posisie te verdedig dat Egipte as plek van oorsprong beskou kan word. Sy ontdekking van ʼn skynbaar verlore brief van Klemens van Aleksandrië in ’n klooster in Mar-Saba, Egipte, gee aanleiding tot hierdie sienswyse (Carson & Moo, 2005:178). In die brief meld Klemens dat Markus, nadat hy sy evangelie in Rome saam met Petrus geskryf het, na Aleksandrië gegaan het en vandaar ’n tweede uitgawe, bekend as die Geheime evangelie, geskryf het. Daar is egter dispuut aangaande die egtheid van hierdie brief van Klemens en selfs al sou dit as betroubaar aanvaar word, kan dit bloot aandui dat Markus se eerste weergawe, wat in die Kanon opgeneem is, in Rome neergepen is. Smith self dui aan dat die huidige Bybelse weergawe nie die ‘Geheime evangelie’ is nie (Guelich, 1989:xxx). Daar word voorgehou dat Klemens die orde verkeerd gehad het en dat die kanoniese Markus ’n verkorte weergawe van hierdie Geheime evangelie is, maar dit kom met min oortuiging oor en word wyd deur vakkundiges gekritiseer (vergelyk Carson & Moo, 2005:178).

Egipte, alhoewel die sterkste aanspraakmaker van alternatiewe, skiet ook tekort wanneer dit vergelyk word met die bewyse wat vir die Rome-hipotese voorgehou word.

 Voorlopige gevolgtrekking

Met inagneming van al die beskikbare interne en eksterne gegewens kan die geadresseerdes van die Markus-evangelie steeds nie met sekerheid vasgestel word nie. Onder vakkundiges geniet Rome nietemin voorkeur as die waarskynlikste plek van ontstaan sowel as die plek waar die geadresseerdes hulself bevind het.