• No results found

HOOFSTUK 2 Literatuurstudie en agtergrond ten opsigte van die beoefening van kunskulturele

2.4 Oorsig oor die vroeëre kunskulturele aktiwiteite van studente

2.4.1 Vroeë kunskulturele liggame

Hierin sal oorsigtelik gehandel word oor die vroeë kunskulturele aktiwiteite van studente. Ter wille van kontinuïteit sal spesifieke kunskulturele studenteaktiwiteite, soos byvoorbeeld

18

toneelopvoerings, kore en die vroeë geskiedenis van die Alabama Studentegeselskap, wat voor 1980 plaasgevind het, in die hoofstukke wat oor dié spesifieke aspekte handel, ingesluit word.

Die buitemuurse of studenteaktiwiteite van die eerste studente wat vanaf 1869 aan die Teologiese Skool in Burgersdorp studeer het, is onbekend. Schulze (1919:26) reken dat daar voor die stigting van die Studenten Letterkundige en Debat-Vereeniging genoeg verenigingslewe was.

Van der Schyff (2003a:42) skryf dat die eerste georganiseerde studenteliggaam uit 1889 dateer. Nadat daar in Augustus ’n “Studenten Letterkundige en Debat-Vereeniging” (SLDV) gestig is wat tweeweekliks Saterdagaande vergader het, het dié vereniging met die 20-jarige bestaansviering ’n “Entertainment” aangebied.

Gemelde JD du Toit het as student aan die Teologiese Skool in Burgersdorp in 1897 ’n “Studenten Muziek Vereeniging” gestig (Van der Schyff, 2005:61) “om de schoone gave van muziek te beoefenen en te genieten” (NWU, 2009a:11). Die orkes het in 1902 nog gefunksioneer, soos blyk uit ’n foto van die orkes wat uit dié jaar dateer (Van der Schyff, 2005:61).

In 1894 is die Korps Veritas Vincet gestig (Schulze, 1919:26). Dié vereniging het tot stand gekom met die hoofdoel: “dat die ‘senior studente darem op ietwat hoër vlak binne die wye en oop ‘studente’- gemeenskap van destyds, insluitende persone van die heel laagste standerds kon kommunikeer” (Van der Schyff, 2003a:52). Die aktiwiteite van Korps Veritas Vincet het vir jare aan die kern van studenteaktiwiteite gestaan.

Na die verhuising na Potchefstroom in 1905, het die beoefening van kunskulturele bedrywighede weer herleef. Wat musiekbeoefening betref is in 1908 ‘een string band’ gestig en toe JD du Toit in 1911 professor aan die Teologiese Skool word, was hy volgens Van der Schyff heel waarskynlik die inspirasie agter die stig van die Aurora Sang- en Musiekvereniging wat dié jaar gestig is (Van der Schyff, 2005:61).

In 1914 het Korps Veritas Vincet die ideaal gehad om ’n “ommekeer te bring in die Suid-Afrikaanse volk” (Schulze, 1919:34). “Daar werd gepraat van die oprigte van spreekgeselskappe en van die stigte van ’n vereniging ‘ter bevordering van taal, letteren en kunst.’”

Dit blyk egter dat die dosentegeledere van die Teologiese Skool nie positief gesteld was teenoor toneelopvoerings nie. Hattingh skryf: “Daar was egter steeds geloofsbesware teen die

toneelbeoefening, onder meer deur prof Jan Lion Cachet wat dit in 1909 probeer teenwerk het dat die Akademie voor taal, letteren en kunst hom ook sou beywer vir die toneel” (Hattingh, 2010:17). Toe daar egter in 1919 geld ingesamel moes word vir die herstel van die tennisbane van die

19

samewerking met die Debat en Kultuurvereniging Susanna Reyniers op te voer, wat “dan ook onlangs ten tonele gebring (is) met skitterende sukses” (Schulze, 1919:88). In die vroeë twintigerjare word ’n toneelstuk in die stadsaal deur studente opgevoer. Wegelin skryf: “Ook die studente van die PUK voer ’n toneelstuk op naamlik Reg bo reg van Jan FE Cilliers.” Gedurende die pouse het die PUK- orkes onder leiding van G Munstra verskillende passende melodieë gespeel (Wegelin, 1965:187). Kunskulturele studenteaktiwiteite het dus klein begin van “’n string band”, toneelopvoerings om geld in te samel om die tennisbane te herstel en die eerste toere van 1929.

In 1926 het toneelbedrywighede op die PUK “begin”, aldus die 1975-program van die Thalia

Toneelgeselskap (Anon., 1975a), met die stig van die Amicitia-vereniging. Dié vereniging het in 1927 doodgeloop. Verdere toneelaktiwiteite word bespreek in die hoofstuk wat handel oor die Thalia Toneelgeselskap.

Die vroegste koor aan die PUK is in 1943 gestig. Volgens Die Veteraan van 1944 is ’n koor aan die begin van 1943 gestig, “wat sedertdien hoog presteer het. Vanjaar (1944) bv het die koor die groot Oratorio van Haydn, nl ‘Die Skepping’ aangedurf en met soliste uit Pretoria en Johannesburg drie agtereenvolgende uitvoerings gegee wat baie goed ondersteun is” (Anon., 1944a:29). Verdere kooraktiwiteite word bespreek in die hoofstuk oor die Koor.

Die Alabama-Boere-orkes is in 1943 gestig. Dié orkes het landswye toere onderneem wat wyd byval gevind het by gehore (Van der Schyff, 2005:64). Wat die styl van optrede betref, het die

verskeidenheidskonsert-styl, soos blyk uit die items in die eerste program van 1943, bly

voortbestaan tot aan die einde van 1960, waarna daar besluit is om operettes op te voer (Anon., 1943a:2, 3).

In 1960 is daar dus begin met die opvoering van operettes. Roothman (1963:45) sê dat daar sedert 1943, toe die eerste Alabama-toer plaasgevind het, talle reisende geselskappe die platteland besoek het en die “vreemde bekoring” wat Alabama se program vir gehore gehad het, het verdwyn. Johan van Rensburg, wat in 1964 die musiekleier van die Alabama Studentegeselskap geword het, is van mening dat die opvoer van operettes sy eie beperkings gehad het (Van Rensburg, 2014). Met die ondersteuning en aanmoediging van mnr HM Robinson, wat verbonde was aan die Departement Ontwikkeling, is die revuestyl ontwikkel. Nadat die orkes en koor tydens die

Lentekonsert sonder choreografie opgetree het, het Nesco du Toit, toe bibliotekaris op Klerksdorp, ’n Alabama-oefening bygewoon en voorgestel dat die koor oor die verhoog beweeg. “Daar is die choreografie gebore” (Van Rensburg, 2014).

20

Nadat daar na 1967 begin is om bestaande studenteaktiwiteite, soos die optredes van die Alabama Studentegeselskap, in te span vir werwingsgeleenthede (Van Eeden, Bütow & Ryke, 2006:384), is daar van owerheidsweë toenemend klem daarop gelê om die aktiwiteite van uitvoerende studentegroepe aan te moedig en te ondersteun.

2.4.2 Oorkoepelende liggame

In 1945 is die Algemene Bestuur vir Kuns en Kultuur (ABKK) as onderliggaam van die Studenteraad (SR) gestig. In die jaarverslag van die SR word dit só beskryf (Kruger, 1945:9):

Die ABKK as skakelkomitee, wat die kuns en kulturele sake in die studentlewe moet behartig, het hierdie jaar nog nie veel presteer om sy bestaan ten volle teregverdig nie, omdat die funksies en belange wat die bestuur moes behartig nog nie presies bepaal was nie. Deurdat die konstitusie gedurende die jaar eindelik voltooi is, sal daar egter van aanstaande jaar af met alle erns gewerk kan word.” Teen 1965 word gesê dat die ABKK “in 1945 in die lewe geroep is om as samesnoerende liggaam op te tree vir die wydvertakte kunskulturele organisasies aan die Universiteit (Van der Merwe, C.N., 1965a:1).

Die funksies van die ABKK was om skakeling te bewerkstellig tussen die Kultuurraad van Potchefstroom, die FAK, die ATKV (Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging) en ander

kultuurorganisasies. “Hulle het ook jaarliks ’n program opgestel vir aksies soos sing-songs voor Intervarsity, die deelname aan die ASB-kunstefees, die reël van kultuurfeeste en die samestelling van ’n sangbundeltjie” (Van Eeden et al., 2006:281). Nadat die PW Buys-trofee in 1955 ingestel is,

notuleer die ABKK op 9 September 1958 dat die “PW Buys-trofee word, volgens ’n SR-besluit toegeken aan ’n individu en nie aan ’n liggaam nie. Op grond van: individuele prestasies, wat die persoon doen vir onderliggame as geheel onder die ABKK (ABKK, 1958).

Teen 1965/66 het die ABKK self ’n Sing-songs-komitee, die Kunsfeeskomitee en ’n komitee vir fotografie en beeldende kunste gehad. Voorts het die Ontspanningskomitee en Diskoteekkomitee deel van die groep gevorm, terwyl die volgende onderliggame lid van die ABKK was: Alabama Studentegeselskap, PU Debatsvereniging, PU Skaakklub, Thalia Toneelvereniging, PU Volksanggroep, PU Volkspelelaer en Universiteitskoor (Van der Merwe, C.N., 1965a:1).

In 1975, toe die SR se naam verander het na Sentrale Studenteraad (SSR), is die Algemene

Ontspanningsbestuur (AOB – voorheen deel van die ABKK en die SSB) gekonsolideer as die Kultuur- raad van die SR (Van Eeden, 2006:251). ’n Ongedateerde grondwet van die Kultuurraad (ongeveer 1975), spel die take van die Raad as volg uit:

21

Die beginsels van die Calvinistiese lewens- en wêreldbeskouing op die terrein van kuns-kultuur en ontspanning te bevorder met toespitsing op die Afrikaanse Kuns-Kultuur en Ontspanning.

Op georganiseerde vlak die spesifiek kuns-kulturele en ontspanningsbelange van die studentegemeenskap te behartig.

Die werksaamhede van die liggame van die Kultuurraad te koördineer (Kultuurraad, 1975?). Die Kultuurraad reël in 1984 ’n kultuurkonferensie waarby hulle alle Afrikaanse universiteite en kolleges wou betrek. In ’n brief om dit bekend te stel word die rede vir die konferensie só verduidelik:

Na aanleiding van die teenswoordige kulturele insinking en onbetrokkenheid wat ons onder die studentemassa op ons kampus opmerk, het ons dit goed gedink om saam met die kulturele

leierskorps van ander kampusse bietjie koppe bymekaar te sit om nuwe idees uit te ruil en probleme wat ondervind word, te bespreek (De Beer, 1984).

Die hoofspreker by dié konferensie was prof Carel Boshoff.

Die Kultuurraad het in 1990 verskeie projekte gehad. Dit sluit in die Eerstejaarskonsert, die

kultuurtoer, die Standard Bank Kampustalentfees, die Sêrkompetisies, ’n Blokskilderkompetisie wat op Lentedag gehou is en ’n straatmark in die Wandellaan elke maand. Wapad van 6 Februarie vervolg dat die Raad ook volkfeeste bevorder. Die slag van Amajuba is van 23 tot 25 Februarie by Majuba in Natal herdenk en ook 21 Februarie, Totius se sterfdatum (Anon., 1990f:3).

In 2007 word veranderings aan die struktuur van die SSR aangekondig, wat die Kultuurraad grootliks beïnvloed. Wapad berig op 17 Oktober dat ’n besluit geneem is om nie-uitvoerende

kultuuronderliggame te skuif na die Verenigingsraad. Slegs uitvoerende kultuuronderliggame sou onder die Kultuurraad ressorteer. Dié veranderings sou in 2008 geïmplementeer word (Viktor, 2007:6).

Die PUK Gids van 2008 noem dat die liggame wat dus onder die Verenigingsraad val die volgende insluit: DAS (Deutsch Afrikanischer Studentebund), Landsdiens, Voortrekkers, GK267, Filmvereniging, Dumelang Intercultural Society, Le Cercle Francais, Wyngilde en Jagger Bequest Society.

Liggame wat dus insgelyks steeds onder die Kultuurraad geressorteer het was: Die PUK-Koor, Boulevard Harmoniste, Alabama Studentegeselskap (wat hulle laaste toer in 2007 onderneem het, maar herskep is na ’n produksiehuis), PUK-Serenaders, Cheerleaders, Thalia Toneel, Buzzin’ Blaasensemble, Teater Tegnies, Divaco, Muse Poesy en Disfunctional Beat (Anon., 2008c:25, 26). Met die totstandkoming van PUK Kunste in 2010, word daar terselfdertyd besluit om die naam van die Kultuurraad te verander na die Kunsteraad (Eastes, 2010). Dié naamsverandering van die

22

Departement Kultuur en die SSR Kultuurraad, is volgens Bütow, toe direkteur van PUK Kunste, gemaak “omdat hulle hoofsaaklik met die kunste werk en die woord kultuur ’n baie breë begrip is wat oor tyd ’n ander betekenis gekry het. “Ons taak is om die kunste te bevorder en nie breë kultuur nie” (Eastes, 2010).

Skakeling tussen die ATKV en die Universiteit het in die sestigerjare tot stand gekom. Veral na die stigting van die Kultuurkantoor in 1980 het verskeie gesamentlike projekte tussen die ATKV en PUK Kunste en sy voorgangers gevolg, soos verder uitgewys sal word. Die goeie samewerkingsverhouding bestaan vandag steeds (Lemmer, 2017). Die ATKV se webblad gee die volgende agtergrondsinligting: Die ATKV is in 1930 in Kaapstad deur twaalf mense gestig as ’n organisasie waar mense die lekkerte van Afrikaans-wees met mekaar kon deel. Vandag is dit dié Afrikaanse kultuurtuiste met ongeveer 70 000 hooflede en 30 kultuurprojekte per jaar wat bykans 55 000 inskrywings genereer en meer as 220 000 mense regstreeks betrek! (ATKV, 2017).

Kok (1992:113) omskryf verder: “Hierdie organisasie, waarvan net Spoorwegamptenare lede kon wees, se doelstellings was om Afrikaans binne sowel as buite die Spoorwegdiens te bevorder en om In lewendige belangstelling in die Afrikaanse kuns en kultuur aan te kweek.”

Die ATKV beskryf hom op sy webblad as volg: “’n Moderne voorlopermaatskappy wat dit regkry om op ’n volhoubare wyse sosiale en ekonomiese vooruitgang (te) kweek en sodoende (te) verseker dat die Afrikaanse lewende erfenis uitgebou en bewaar word” (ATKV, 2017).