• No results found

HOOFSTUK 4 Volkspele was “’n groot krag in die studentelewe”

4.4 Besinning oor die waarde van volkspele aan die Universiteit

Meer as enige ander kunskulturele aktiwiteit wat deur studente aangepak is, was volkspele heelwaarskynlik dié een wat Afrikaners aanvaar het as ’n uitdrukking van hulle kultuur. Dit het gewild geword in ’n tydperk toe die Afrikaner ’n hernieude volksbewussyn beleef het (Coetzee, 1957:60).

Volkspele as ’n kulturele uitdrukkingsvorm kan teen die agtergrond van die opkoms van

Afrikanernasionalisme beoordeel word. Uit die hoofstuk is dit duidelik dat Volkspele ook ’n produk was van Afrikaner-nasionalistiese mobilisasie in die 1920's en 1930's. Pellissier het nie ’n ou tradisie laat herleef nie, maar ’n nuwe tradisie geskep, gebaseer op 18de en 19de eeuse piekniekspele,

98

geïnspireer deur ’n buitelandse model. Toe het hy dit verbind aan die Groot Trek om daaraan ’n tipiese Afrikanerkarakter te gee en dit met die Afrikaner se heroïese verlede te assosieer. Agter die skerms het die Afrikaner-Broederbond en die FAK as sy kulturele arm sekerlik ’n belangrike rol gespeel om Volkspele te bevorder (Giliomee & Mbenga, 2007:289). In die proses van verstedeliking van die Afrikaner (die Tweede Trek waarna onder andere dr DF Malan verwys het) was daar vrese by Afrikaanse kultuurleiers dat die Afrikaanse kultuur deur die dominante Engelse stedelike kultuur verdring kon word – dit was ’n rede vir die oorspronklike stigting van die Afrikaner-Broederband (Giliomee & Mbenga, 2007:289).

Die waarde wat die Uniale Raad vir Volksang en Volkspele verleen het aan die vestiging van volkspelelaers in stede, blyk uit die opmerking in Ons Eie Volkspele, wat in 1955 uitgegee is: Maar die grootste enkele faktor wat tot die uitbouing van volkspele bygedra het, was sekerlik die verskillende laers in die afsonderlike dorpe en stedelike gemeenskappe. Daar het hulle, die jong volkspelers, dikwels voor baie groot probleme te staan gekom maar, danksy die onkreukbare ywer en idealisme van die jeug, het hulle geseëvier sodat daar vandag reeds meer as 220 geaffilieerde

volkspelelaers met sowat 7 000 spelers, in Suid-Afrika bestaan. Hierdie laers word van die vanaf die hartjie van die Goudstad tot in die mees verafgeleë plattelandse dorpie gevind (Uniale Raad vir Volksang en Volkspele, 1955:xvi).

Saam met ander inisiatiewe (soos die skepping van die Voortrekkerbeweging, die ontwikkeling van jukskei as sport, ens.) moes Volkspele help om ’n unieke “eie” Afrikaanse kultuur te ontwikkel, wat terselfdertyd die Afrikaner se Europese (Westerse) herkoms uit die “stamlande” bevestig het. Daar was dus nasionalistiese ideologiese dryfvere agter die ontwikkeling van Volkspele. Dit het

saamgeloop met die opkoms en latere ondergang van Afrikanermag. In die 1940's en 1950's was daar steeds groot geesdrif vir die Afrikaner se “geestesgoed”. Teen 1980 skryf Van Rensburg in die 50-jarige gedenkblad van die ATKV: “Die vereniging sal moet aanvaar dat die huidige geslag nie die jare van stryd om gelykberegtig en erkenning binne die Afrikaanse gesinskring ervaar het nie; die prikkel van ’n minderwaardigheid wat uitgewis moet word, kan vir hulle nie as stukrag dien nie. Namate daar ’n geslag opstaan wat die smaad nie persoonlik ervaar het nie, gee daardie jare nie meer besieling nie (Van Rensburg, 1980:140). In terme hiervan was volkspele vir die deelnemers daarvan verrykend (kyk na paragraaf 1.2.3).

Dit blyk dat die wel en wee van Volkspele op die PUK-kampus maar net die tendense in die Afrikanersamelewing weerspieël het. Prestasies wat dié groep veral gedurende die laaste jare van die vyftigerjare in nasionale kompetisies behaal het, het waarskynlik daartoe bygedra om

99

dieselfde tydstip toe Afrikaners hul politieke beheer in die land prysgegee het. Mans bring dié afname in die populariteit van volkspele in verband met globalisering en reken dat klassieke en populêre Westerse musiek, veral Amerikaanse country-musiek, meer gewild onder Afrikaners geword het as volkspele en boeremusiek (Mans, 2003:42).

Dit bly ook ’n ope vraag of die gewildheid wat volkspele op die kampus beleef het, saamgehang het met die verbod wat daar op dans op die kampus geplaas is (Van der Schyff, 2005:207). Die studente mog nie op die kampus gedans het nie, maar kon wel volkspele gedoen het, wat ten spyte van De Ridder en Van Vollenhoven se kibbel daaroor vir die buitestaander as danse uitsien. In 1986 het die Universiteit besluit om toe te laat dat studente op die kampus dans, slegs vier jaar voor die PU- Volkspelelaer tot niet gegaan het (Anon., 1987k:7). Vir ’n student wat in 1960 ’n eerstejaar was, was die feit dat die Pukke mog volkspele gehou het, maar nie ge-“sokkie” het nie, vreemd (Gouws, 2010a:34). In dié opsig sou volkspele beslis deur talle studente as ’n alternatiewe bron van vermaak gesien word (kyk na paragraaf 1.2.3).

Die vervaging in die belangstelling in volkspele het hand-aan-hand gegaan met veranderende sentimente ten opsigte van Afrikaner-kultuur in die laat negentigerjare en die volkspelelaer op die kampus het tot niet gegaan.

Anders as Thalia, Alabama, die Koor, die Serenaders, die Boulevard Harmoniste en die PU-Kaners, is die volkspelegroep nooit gebruik as bemarkingsinstrument vir die Universiteit nie. Nes alle ander studente wat aan toere onder die vaandel van ’n vereniging van die Universiteit deelgeneem het, moes studente wat ’n volkspeletoer meegemaak het, ’n onderneming teken dat hulle optrede van so ’n aard sou wees dat dit nie die Universiteit se beeld skade aandoen nie (Mulder, 1974) en het dus indirek verband gehou met beeldbou (kyk na paragraaf 1.2.3). As sodanig kan die Volkspelelaer dan beskou word as ’n “passiewe” bemarkingsinstrument vir die Universiteit, in teenstelling met ander groepe, soos hierbo genoem, wat doelbewus so benut is. Dit hou verband met die beleid van reputasiebestuur wat die Universiteit toegepas het, soos bespreek in paragraaf 2.3.6.

101