• No results found

HOOFSTUK 4 Volkspele was “’n groot krag in die studentelewe”

4.3 Historiese ontleding van volkspele aan die PUK

Die jaar waarin die groot volkspelekursus in Bloemfontein plaasgevind het, 1941, was ook die jaar dat volkspele op die PUK-kampus sy inslag gevind het. Die Studenteraad notuleer op 27 Februarie 1941 dat die sekretaris opdrag gegee word om “prof LJ du Plessis mee (te) deel dat ons hier plaaslik iemand sal kry om die volkspele te leer” (Studenteraad, 1941:2). Ter verduideliking kan gemeld word dat prof Du Plessis vanaf 1933 tot 1946 huisvader van al die koshuise van die PUK was (Van Rooy, 1956:14). Hy is in 1926 met mej ES (Lilly) van der Merwe getroud.

In ’n huldeblyk in Die Veteraan van 1946 aan prof LJ du Plessis skryf DJ van Rooy (1946:35): “Ook mev Du Plessis het haar plek hier volgestaan. Ons dink onder andere ook aan die groot sukses wat sy hier en elders van volkspele gemaak het.” Die ywer van mev Du Plessis blyk vrugte af te gewerp het, want die volgende jaar word daar in Die Besembos só verslag gedoen (Botha, 1942:18):

89

Volkspele het vanjaar deur die toedoen van die ANS (Afrikaanse Nasionale Studentebond) goed ingang gevind en is goed ondersteun. Ons dank aan mnr Postma wat altyd as leier opgetree het, en aan die Volkspele-entoesiaste.

ILLUSTRASIE4.1

PROF LJ DU PLESSIS EN SY VROU LILLY.DIE FOTO HET

IN 1966 IN DIE VETERAAN VERSKYN EN IS GENEEM

TYDENS ’N REÜNIEDINEE VAN HEIMAT.PROF DU

PLESSIS WAS VANAF 1933 TOT 1946 KOSHUISVADER VAN DIE PUK(ANON.,1966C:3;GOUWS,2015:11).

90 ILLUSTRASIE4.2

LVPOSTMA WAT REGS AGTER STAAN, WAS DIE LEIER VAN DIE EERSTE VOLKSPELE-GROEP OP DIE PUK(ANON.,1942: 20A).

Teen 1943 word daar steeds entoesiasties volkspele gespeel. Dit het elke maand in die

Hoofgebousaal plaasgevind en die Studenteraad het mnr Fannie Botha op 22 Maart aangewys as leier (Studenteraad, 1943a:1). Met die stigting van die ABKK in 1945 word daar besluit om volkspele onder die ANS (Afrikaanse Nasionale Studentebond) te laat ressorteer (Studenteraad, 1945:1). Nadat die ANS teen 1947 vir etlike jare reeds op die PUK-kampus bestaan het, is daar in 1947 pogings aangewend om die Afrikaanse Studentebond, wat op ander Afrikaanse kampusse bestaan het, met die ANS saam te snoer (Spoelstra, 1947:2). Op 20 Junie 1947 is PANSO gestig. Dit staan vir PUK Afrikaanse Nasionale Studente-organisasie (Anon., 1947c:1). Verskeie kultuuraktiwiteite op die kampus het vir baie jare onder die ANS gesorteer, maar met die totstandkoming van die Algemene Bestuur vir Kuns en Kultuur in 1945 het die kultuurverenigings hieronder geressorteer (Kruger, 1945:9).

91

Die Afrikaanse Studentebond (ASB) is in 1948 gestig nadat verskeie Afrikaanse kultuurorganisasies op verskeie kampusse saamgesnoer het. In Junie 1948 het ’n konferensie van studenterade van die Universiteite van Pretoria, Oranje-Vrystaat, Stellenbosch en die PUK in Pretoria plaasgevind en die konsepgrondwet is in Augustus 1948 in Bloemfontein aanvaar (Gelofteland.org, ongedateer). Die Studenteraad keur dit in 1951 goed dat die laer voortaan as die PU-Volkspelelaer sou bekendstaan (Studenteraad, 1951). Dit was egter eers in 1952 dat die PU-Volkspelelaer volle

verteenwoordiging op die ABKK as kultuurvereniging kry (Lighthelm, 1952:4). Die jaarverslag van die Studenteraad (Lighthelm, 1952:4) omskryf dit so: “Hierdie onderliggaam is vanjaar die eerste keer op vaste basis geplaas met volle verteenwoordiging op die ABKK.” Die laer het gedurende ’n

landboutentoonstelling die Rembrandt-Volkspele-trofee gebuit. Dit is nie bekend waar dié

tentoonstelling plaasgevind het nie. Die Volkspelelaer het ook hulle eie geregistreerde volkspeledrag gekry.

Oor die jare het die jaarlikse bedrywighede van die laer nie veel verskil nie. Byeenkomste is dikwels op kampus gehou, waartydens daar informeel volkspele gespeel is. Daar is meesal weekliks geoefen en daar is ook aan saamtrekke deelgeneem. Voorts is daar vir die meeste jare ’n demonstrasiegroep gekies wat elders opgetree het. Die grootte van dié groep het van jaar tot jaar verskil.

In 1956 verwerf die laer se demonstrasiegroep ’n tweedeplek tydens die Kunswedstryd in

Johannesburg (Van der Walt, 1956a:132). In 1961 doen die studenteraadsvoorsitter verslag dat ’n demonstrasiegroep gekeur is en saamgestel is en het aan ’n kunswedstryd in Johannesburg deelgeneem (Krüger, 1961:111). Die volgende jaar is ’n demonstrasiegroep met 20 pare gekies (Du Plooy, 1962:93). In 1963 het die demonstrasiegroep uit tien pare bestaan en hulle het aan die ASB- Kunsfees deelgeneem (De Jager, 1963:104, 105). Aan die begin van 1965 is ’n demonstrasiegroep van 21 pare gekies wat elke Donderdagaand geoefen het (Van der Merwe, 1966a:2). Tien spelers is bygekeur aangesien talle lede van die groep dié jaar in hulle finale jaar was en sodat die groep van 42 so behou kon word. “Die intensiewe aandag aan verskeie spele en veral die moeilikes het vrugte afgewerp” (Van der Merwe, 1966a:2).

In die jare wat die ASB se Kunsfees jaarliks plaasgevind het, het die PU-Volkspelelaer gereeld deelgeneem en dikwels pryse ontvang. Tydens die ASB-kongres van 1954, “het die eer die PU- Volkspelelaer laer te beurt geval om die louere in te oes” (Visser, 1954:105). In 1955 het die laer die Afrikaanse Studentebondwisselbeker, volgens Die Besembos “weer eens” verower (Snyman, 1955:99). In 1961 is daar deelgeneem, maar daar is nie pryse gewen nie (Krüger, 1961:111). Die PU- laer het in 1966 die Uniewinkelstrofee gewen tydens die ASB-Kunstefees, nadat ’n groep van 12 pare ’n puntetelling van 89% verwerf het (Van der Merwe, 1966a:2).

92

Benewens deelname van die laer aan kunswedstryde, het enkele lede van die PU-Volkspelelaer nasionaal presteer. In 1953 is een van die PUK se volkspelers, Unita Scheepers, ingesluit in ’n Volkspeletoer oorsee (D’Assonville, 1953:3). Johan Schutte is in 1969 ook gekies as lid van die SA Volkspelegroep wat dié jaar oorsee getoer het (Anon., 1969c:126).

ILLUSTRASIE4.3

DIE PUK SE VOLKSPELEGROEP WAT IN 1955 TYDENS DIE ASB-KONGRES GEWEN HET (ANON.,1955I:61).

Benewens die demonstrasiegroep en deelname aan saamtrekke en kunswedstryde elders, is daar ook gereeld op die kampus volkspele gespeel. By dié geleenthede kon almal deelneem. Dit het bekendgestaan as “massa-aande”. In 1966 skryf Van der Merwe in sy jaarverslag as voorsitter dat agt sulke massa-aande plaasgevind het en dat 64 spelers gereeld daaraan deelgeneem het (1966a:2).

93

ILLUSTRASIE4.4

JOHAN SCHUTTE VAN DIE PU VIR CHO IS IN

1969 GEKIES AS LID VAN DIE SA

VOLKSPELEGROEP WAT OORSEE GETOER HET

(ANON.,1969C:126).

Uit die verslae van die Studenteraad wat in Die Besembos verskyn het, blyk dit dat die laer vanaf ongeveer 1953 ’n bloeitydperk beleef het. Onder voorsitterskap van JH Coetzee word die laer beskryf as “’n groot krag in ons Studentelewe” (D’Assonville, 1953:3). Twee jaar later berig PH Snyman in dié verslag (1955:99): “Gedurende die afgelope jaar het ’n besondere geesdrif en entoesiasme vir volkspele in die volkspelelaer geheers.” Toe die PU-Volkspelelaer in 1958 ’n ledetal van 100 lede bereik het, skryf Postma in Die Besembos dat dit ’n “getuienis van mooi belangstelling” is (1958:175).

ILLUSTRASIE4.5

DIE BYSKRIF AGTER OP HIERDIE FOTO LUI:“1954.HENNIE

COETZEE,SUSAN YSSEL,ELSA VAN WYK EN H VAN DER WALT IS DIE PUK SE ‘VOLKSDANSERS’

WAT SOMMER LANGS DIE TREINSPOOR VOLKSPELE GEDOEN HET TYDENS ’N TOER NA

NAMIBIË.”JHCOETZEE WAS IN

1953 VOORSITTER VAN DIE PU- VOLKSPELELAER (ANON., 1954D).

Nes talle ander studenteverenigings het die PU-Volkspelelaer ook gebuk gegaan onder die wisseling en skommeling in die bestuur. In 1959 het dit “die aksies van die Volkspelelaer benadeel” (Van der Walt, 1959:143). Wisselende bestuurslede blyk in 1960 steeds ’n probleem te wees (Van der Walt, 1960:166). Ten spyte hiervan het 22 volkspelers die laer op die Uniefeesvierings in Bloemfontein verteenwoordig.

94

Benewens die bywoning van saamtrekke op ander dorpe, het die laer in 1962 deelgeneem aan die 21ste bestaansviering van die volkspelebeweging, wat in Bloemfontein gehou is (Du Plooy, 1962:93). Met 98 lede wat in 1963 geaffilieer was by die Nasionale Raad vir Volksang en Volkspele, was die laer gewild op kampus. Die laer het ook ’n suksesvolle toer na Pongola gedurende die Aprilvakansie onderneem (De Jager, 1963:104, 105).

Onder leiding van Nico van der Merwe was die laer in 1965 nie alleen op die kampus bedrywig nie, maar ook die stukrag agter die stigting van ’n Nasionale Studenteraad vir Volksang en Volkspele (Van der Merwe, 1966a:2). Hierbenewens was die laer geaffilieer by die Nasionale Raad vir Volksang en Volkspele, lid van die Transvaalse Komitee vir Volksang en Volkspele en lid van die Wes-Transvaalse Wyksbond vir Volksang en Volkspele.

Daar is dié jaar ook ’n Volksangbundeltjie in gebruik geneem wat, volgens Van der Merwe (1965b), die oefen van meerstemmige koorverwerkings aansienlik vergemaklik het. Nadat ’n volksanggroep vir twee jaar ’n integrale deel van die laer se bedrywighede was, is daar in Maart 1965 oorgegaan tot die stigting van die PU-Volksanggroep. Nico Van der Merwe skryf in ’n artikel in Die Besembos dat sang kenmerkend is van volkspele (1965:109). Hy meen dat baie min volksdanse van ander lande met sang gepaard gaan. Van der Merwe vervolg: “Die PU-Volkspelelaer het hom vanjaar betoon as die toonaangewende volkspelelaer binne die geledere van die studentevolkspelers.”

Vir die 1970/71-termyn, beskryf die voorsitter van die ABKK die Volkspelelaer as die “bedrywigste van al die onderliggame” van die ABKK, nadat daar dié jaar drie selfstandige toere onderneem is. “Die gewoontelike [sic] Aprilmaand-toer is onderneem, ook is deelgeneem aan die R10-fees te Kaapstad en dan is ’n minitoer onderneem om aan Kuesta ’71 te Pretoria deel te neem. Die besondere ligte en goeie gees was ’n kenmerk van die laer” (Van Schaik, 1971:2).

Nes met ander verenigings het die brandstofkrisis in 1974 ook die werksaamhede van die

Volkspelelaer gekortwiek. So skryf die laerleier, FJ van Dyk, in sy jaarverslag. Hulle kon egter een keer ’n saamtrek in Germiston bywoon en het met privaatvervoer daarheen gereis. Stygende

vervoerkoste het ook die toer na die Kruger-wildtuin (18 Julie tot 22 Julie 1974) getref, maar die lede het ongeveer die helfte van die onkoste self gedra en die toer het voortgegaan (Van Dyk, 1974:1). In sy toerverslag skryf Fanie Mulder, die studenteraadsverteenwoordiger op die toer, dat hulle met die skoolbus van Hoërskool Fochville gereis het. Al is daar vooraf gereël om optredes by die kampe by Skukuza, Onder-Sabie en Pretoriuskop te hou, wou die kampbesture nie die optredes goedkeur nie, maar daar was nie besware teen spontane spel nie (Mulder, F., 1974:1). Mulder vervolg:

Daar is gevolglik saans na ete in volle Volkspeledrag voor die kafeteria op die grasperk Volkspele gespeel. Dit was kenmerkend dat veral buitelandse toeriste vasgevang was deur die spel. Hul

95

toejuiging was ook die mees spontane. Aangesien daar nie saans gery word in die Wildtuin nie, kon ons nie na ete by die ander kampe optree nie. Ons het dus bedags, terwyl ons rondgery het, by ruskampe sommer spontaan ’n paar speletjies gespeel. Dit het baie belangstelling gedek.

Die toerouers was mnr en mev Pieter Lourens van die PUK se Tegniese Departement en die verslag sê dat aangesien hulle self Volkspelers is, hulle nie gesukkel het om in te skakel by die toerlede nie (Mulder, F., 1974:1).

ILLUSTRASIE4.6

DIE PU-VOLKSPELELAER HET IN 1971 AAN DIE REPUBLIEKFEESVIERING OP OLËNPARK OPGETREE.WAPAD VAN 4JUNIE

1971 SKRYF DAT HULLE ENKELE VOLKSPELE-LIEDJIES GESING HET “EN VAN SY SPELE GEDEMONSTREER HET”.BY HULLE IS DIE BURGEMEESTER VAN POTCHEFSTROOM, PROF JHGROBLER, EN DIE STADSKLERK, MNR FAAN OLIVIER (ANON., 1971E:7).

In 1976 het die Volkspelelaer ’n geslaagde kursus in die Aprilvakansie aangebied. Dit is afgesluit met ’n saamtrek. Gedurende die Julievakansie is die Suidkus van Natal besoek, waar saamtrekke

bygewoon is en demonstrasies gelewer is. In Augustus het die laer ’n kursus by die UOVS bygewoon (Anon., 1976b:57).

Nadat die Volkspelelaer vroeër berig het dat die Hoofgebousaal te “afgeskerm” is, het hulle aansoek gedoen om in die Totiussaal byeen te kom. Die voorsitter berig in sy verslag vir 1980: “Spel in Totiussaal het die toets geslaag, want baie studente het by die deure saamgedrom om te sien wat binne aangaan. Nuwe spelers is so gewerf” (Breytenbach, 1980).

96

In sy jaarverslag vir 1981 skryf die voorsitter van die Kultuurraad, Hannes Vorster, dat die Volkspele- groep elke naweek in die Hoofgebou “gespeel” het en “naweke rondgerits” het. Hulle was in groot aanvraag by byeenkomste. Terwyl die Hoofgebou gerestoureer is, het hulle verskuif na die ‘Gat’ in die SS (Vorster, 1981).

ILLUSTRASIE4.7

DIE FOTO VAN DIE PUK-VOLKSPELELAER VERSKYN IN DIE BESEMBOS VAN 1976(VAN MAARLEVELD,1976:54). In 1990 stel die PUK-Volkspelelaer hom ten doel om die Afrikanerkultuur uit te dra. Die Volkspelelaer was toe een van die verenigings wat gelys is in Kultuurbedrywighede, ’n sakgrootte boekie wat deur die Kultuurraad uitgegee is en waarin die doelstellings en aktiwiteite van verskillende

kultuurverenigings op die kampus beskryf is (Steyn, 1990:20). Hiervolgens word die belangrikste projek van die laer beskryf as die jaarlikse saamtrek. By dié geleentheid is volkspelers van oor die hele land genooi om dié aand saam met die PUK-Volkspelelaer volkspele te doen. Voorts kon lede ook toere meemaak. Slegs dié lede wat gereeld byeenkomste bygewoon het en wie se

lidmaatskapkaart oor jare gestempel is, kon in aanmerking kom vir toere. Daar is elke Saterdagaand in die Totiussaal byeengekom terwyl verskeie kursusse vir beginners, instrukteurs en begeleiers aangebied is.

Steyn skryf dat een van die doelstellings van die Volkspelelaer is om studente te betrek by “iets wat eg Suid-Afrikaans is” (1990:21). Volkspele is egter gewortel en gegrondves in Europese volksdanse.

97

Dit blyk uit ’n waarneming van Horst Bütow (2014a). Bütow sê dat ’n groep Duitse volkspelers, Volkstanz Heilbronn, Potchefstroom besoek het nadat hulle aan die nasionale Eisteddfod in Roodepoort deelgeneem het. Dié besoek aan Potchefstroom is gereël sodat hulle met die PU- Volkspelelaer kon kennis maak. “Toe kom hulle agter dat hulle danspassies en musiek feitlik dieselfde is as ons volkspele en hulle sing en speel saam. Die een groep sing in Duits, die ander in Afrikaans, maar dis dieselfde wyse. Boonop het die Duitse groep ’n orkes gehad, wat dit nog lekkerder gemaak het. Ons volkspelers was rasend!” (Bütow, 2014a) Daar is ook in 1989, toe die volksdansgroep Gfüllner uit Oostenryk die PU besoek het, so ’n gesamentlike byeenkoms met die PU-Volkspelelaer gereël. Dit het op 8 Augustus plaasgevind (Bütow, 1989b).

In 1991 verskyn die Volkspele die laaste keer in die PUK Gids in die lys van verenigings wat onder die Kultuurraad gepatroneer is, (Anon., 1991a:24) wat daarop dui dat die vereniging daarna ophou bestaan het.

ILLUSTRASIE4.8

DIE VOLKSPELELAER SE EMBLEEM SOOS UITGEBEELD IN DIE BROSJURE KULTUURBEDRYWIGHEDE, WAT IN 1990 VERSKYN HET (STEYN,1990:20).