• No results found

HOOFSTUK 3 Thalia Toneel

3.5 Gewilde koshuistoneel word ingestel

Die interkoshuis-toneelkompetisie, wat deur die Departement Kultuur, in samewerking met Thalia, in 1998 van stapel gestuur is, blyk ’n groot sukses te wees. Wapad (Viljoen, 1998a:7) berig dat dit

76

beloof om ’n jaarlikse instelling te wees. Horst Bütow skryf in sy jaarverslag van 1998 dat die interkoshuis-toneelkompetisie met groot sukses in die Cachet-Kleinteater en die Heimatsaal opgevoer is. “Die vertroue word uitgespreek dat toneel nou weer ’n volle kultuuraktiwiteit van die studente sal wees” (Bütow, 1998a).

In 1999, bied Thalia Die Buite-egtelike Ouma deur Nico Luwes aan. Louis Kotzé (1999:1) van Wapad resenseer dit op 13 Mei in K&V, ’n bylaag tot Wapad, onder die opskrif “Seks voor die huwelik is verkeerd”: Uitgehonger vir toneel en die sjerrie wat gewoonlik voor die aanvang van produksies bedien word, het ek met groot afwagting na Thalia Toneel se produksie Die Buite-egtelike Ouma in die Cachet-teater gaan kyk. Dit was ’n prettige produksie wat ek werklik geniet het. Die knoop van die stuk is belaai met intrige. Daar is ’n ouma wat brandgraag ’n kleinkind wil hê en dit dan sonder veel strategiese beplanning van haar seun kry. Laasgenoemde is geensins so beïndruk met sy buite- egtelike kind soos wat sy ma is nie, veral gesien in die lig dat hy ’n jong opportunistiese tandarts is wat enigiets wat ’n rok dra tot sy voordeel sal eksploiteer. Dit is dan ook presies wat gebeur toe hy een gesellige aand ’n pragtige oppervlakkige dame oornooi vir binnenshuise vermaak. Gelukkig eindig alles wel met ’n duisend legkaartstukkies wat mooi in plek val.

Kotze berig dat die opvoering vir drie aande in die Cachet-Kleinteater uitverkoop was. Hy vervolg: “Dit is verblydend om te weet dat die Potch-publiek so gunstig reageer op studente toneel. Te oordeel aan die vol sale elke aand kan ons aflei dat daar meer toneel produksies moet plaasvind in ons plattelandse stad.”

In teenstelling met die uitsprake van “geen belangstelling” wat Bütow in 1990 gemaak het, was dié oplewing in die belangstelling in toneel waarskynlik vir alle belanghebbendes verblydend. Kotze (1999:1) sluit af: “Ons is bly dat Thalia weer terug is in volle swang en ons sien met afwagting uit na toekomstige produksies”. Die regisseur was Wim Beukes en Kotze sluit af: “Gebruik gerus weer vir Wim Beukes as regisseur.”

In 2001 is Siener in die Suburbs op 10 en 11 Oktober in die Cachet-Kleinteater aangebied. Die verslag van die Departement Kultuur sê dat Thalia met dié aanbieding “nou weer hulle voete gevind het”. Horst Bütow (2002a:1) skryf daarin só oor Thalia:

Deur werwing en intense bestuursopleiding het Thalia Toneel nou uiteindelik in 2002 weer van die grond af gekom, na sy verdwyning en sukkelbestaan daarna. Die doelwit is om Thalia weer ’n volwaardige vereniging te maak wat aan studente se behoeftes kan voorsien.

Thalia blyk dus in 2002 met sukses ‘herstig’ te wees (Keogh, 2006a:3), alhoewel met slegs sewe lede. Wapad (Boshoff, 2003:7) skryf op 29 Augustus dat Thalia se aktiwiteite afgeneem het na die sluiting van die Universiteit se Departement Spraak en Toneel. ’n Nuwe logo is in gebruik geneem, terwyl

77

meer as 100 eerstejaars tydens Oriëntering en Bekendstelling aangedui het dat hulle by Thalia betrokke wil raak. ’n Reeks suksesvolle eenbedrywe is aangebied.

Die hoofproduksie was Noodkrag word met generators opgewek, deur Morné Malan, wat van 6 tot 8 Mei in die Cachet-Kleinteater aangebied is. Dit was hulle hoofproduksie van die jaar. Volgens Boshoff (2003:7) is dit met groot applous ontvang.

Later die jaar ontvang Thalia die toekenning vir beste kultuuronderliggaam. Só berig Wapad op 24 Oktober (Roos, 2003:12). Na ’n onderhoud met Bennie Botha, die voorsitter, skryf Roos dat Thalia se fokus op die studente is en daarom voer hulle nie ouderwetse hoogdrawende Shakespeare

produksies op nie, maar produksies wat van toepassing is op ’n hedendaagse student se lewe. “Vroeër vanjaar het hulle Raped naked en Rondomtalie opgevoer en hul advertensies tydens Bingle Sêr getuig van ’n funky en lewendige uitkyk op toneel.” Thalia-voorsitter, Botha, blyk ’n

deurwinterde toneelpersoon te wees en was nie slegs die voorsitter van Thalia nie, maar ook die eksterne direkteur van ’n jeugteater in Witbank. Vir die komende jaar is twee hoofproduksies beplan, terwyl Thalia ook sou hulp bied met die Eerstejaarskonsert en koshuistoneel.

Een van dié voorgenome toneelstukke word vanaf 4 Mei opgevoer, aldus Wapad (Groenewald 2004:7):

Thalia het gehore in Potchefstroom weer laat skaterlag. Die stuk Familiest(r)eke geskryf deur Ray Cooney en vertaal deur Wim Vorster is in die Cachet-Kleinteater aangebied. Onder regie van Leon Cloete het die toneelgeselskap van twaalf hul goed van hul taak gekwyt. Dit was hierdie jaar die derde keer dat Cloete betrokke is by Thalia. Familiest(r)eke is ’n klug (dis nou die tipe dramateks) en die naam sê byna alles. Die stuk handel oor misverstande en verwarde identiteit. Na aanleiding van die gehore se reaksie en luide gelag was die toewyding waarmee die akteurs betrokke was duidelik suksesvol. Die produksie is met energie en baie lewenslus gelewer wat gesorg het vir die sukses daarvan.

Wapad gee op 18 Oktober (Eloff, 2004a:10) ’n oorsig van Thalia se bedrywighede van 2004: Thalia het vanjaar vier produksies op die planke gebring en gesorg dat gehore tussendeur die gelag ook ’n traan weggepik het. ‘Dit is belangrik om te onthou dat die akteurs en regisseurs studente is, maar dat die kwaliteit steeds op ’n professionele vlak is, het Bennie Botha, voorsitter van Thalia gesê. Een van die produksies was The purple passion play wat gefokus het op seks en watter rol dit in die moderne samelewing speel. Verwronge Spel word beskryf as “’n interessante kykie na die psige van die mens”. Die Kongres is ’n klugspel en “het gesorg vir die meeste skater”. Die stuk, Tjello(esie) en Violin(ce) onder regie van Bennie Botha het “op ’n dramatiese wyse kleur aan die aand gegee”. Die stuk het gefokus op lewe na die dood en die invloed van geweld en jaloesie op ons daaglikse lewens.

78

Horst Bütow (2004a:1) beaam Thalia se sukses in sy jaarverslag vir 2004:

Thalia het in 2004 werklik van krag tot krag gegaan en ’n hoë standaard is gehandhaaf. Die blote feit dat nagenoeg 200 eerstejaarstudente by die keuring in Januarie opgedaag het, het aangetoon dat die belangstelling groot is. Hulle het ’n uitstekende bestuur wat die beplande jaarprogram tot volle uitvoer kon bring binne die begroting. So het hulle ook daarin geslaag om ’n klomp studente aan toneel bloot te stel. Twee vollengte stukke, sowel as die koshuistoneelkompetisie, het groot aftrek gekry. Die doelwit vir 2005 is om die standaard te volhou. ’n Nuwe gedagte word ondersoek om dalk professionele spelers buite die kampus te betrek in ’n produksie waar hulle en die studente figureer. ’n Ander moontlikheid is om vir die eerste keer in baie jare ’n produksie buite Potchefstroom te neem. In 2005 pak Thalia Die Skandaal aan en onder die opskrif “Skandaal maak opslae” berig Wapad (Eloff, 2005:8) op 9 Mei:

Wanneer Josie almal in die meenthuiskompleks saamroep om die aanbou van sy nuwe patio te bespreek, spat die vonke. Josie (die sensitiewe mens wat hy is) maak egter vinnig planne om sy patio te kry. En so ontstaan een van Thalia se mees suksesvolle hoofproduksies tot op hede. Die Skandaal uit die pen van Lizz Meiring en Eric Nobbs en Deon Opperman, het gesorg vir heelwat komedie en oorgenoeg drama. Onder regie van Leon Cloete het die groep van agt akteurs meer as drie maande aan die stuk gewerk.

Die resensent (Eloff, 2005:8) reken dat die harde werk die moeite werd was “as die gehore se reaksies enige aanduiding was – sommige tonele was só snaaks dat die akteurs eers die gehoor kans moes gee om klaar te lag.” Daar was egter tonele wat meer gewaagd was “en selfs byderwetse gehore stomgeslaan” het.