• No results found

Ondersoeke deur die hoër owerhede (kontrolerende owerhede) Ingevolge artikel 155 (6)(a) van Wet 108 van 1996 word bepaal dat

KONTROLEMAATREëLS VIR BEHEER EN VERANTWOORDING

5.2.9 Ondersoeke deur die hoër owerhede (kontrolerende owerhede) Ingevolge artikel 155 (6)(a) van Wet 108 van 1996 word bepaal dat

provinsiale owerhede voorsiening moet maak vir die monitering en ondersteuning van plaaslike regering in die betrokke provinsie. Ingevolge artikel 155(7) van Wet 108 van 1996 word ook bepaal dat nasionale- en provinsiale regerings moet toesien dat munisipaliteite hulle funksies doeltreffend verrig. Die nasionale- en provinsiale regerings is derhalwe sonder twyfel die kontrolerende- of toesighoudende owerhede oor plaaslike regering en administrasie.

In die meeste gevalle het die hoër owerhede, as kontrolerende owerhede oor plaaslike regering, die gesag om ondersoeke te gelas na die finansiële sake van munisipaliteite (Gildenhuys 1997:50). Ingevolge artikel 154(1) van Wet 108 van 1996 word bepaal dat nasionale- en provinsiale owerhede munisipaliteite moet ondersteun en bystaan eerder as om doelbewus in munisipale sake in te meng. In gevalle waar die finansies van ‘n munisipaliteit wanbestuur word, kan die hoër owerhede opdrag gee dat die betrokke munisipaliteit regstellende stappe moet onderneem. Indien die munisipaliteit nalaat om dit te doen, kan die kontrolerende owerheid, te wete die provinsiale owerheid, selfs so ver gaan om sekere raadslede uit hulle ampte te ontslaan, of selfs om die raad te ontbind en dan die munisipaliteit by ‘n ander munisipaliteit te inkorporeer (Gildenhuys 1997:50).

Ingevolge Hoofstuk 13 (Deel 2) van Wet 56 van 2003 word voorsiening gemaak vir provinsiale ingryping in munisipale finansies. Artikel 139(1) van Wet 56 van 2003 bepaal in hierdie verband dat “... indien ‘n munisipaliteit, as gevolg van ‘n finansiële krisis, nie in staat is om basiese dienste te kan lewer of nie sy finansiële verpligtinge kan nakom nie, of ‘n bekentenis maak dat hy nie in staat is om sy finansiële- of ander verpligtinge te kan nakom nie, die betrokke provinsiale owerheid die volgende stappe moet onderneem, te wete:

(a) Die Munisipale Finansiële Hersteldiens versoek:

(i) om die redes vir die krisis in die finansiële sake van die betrokke munisipaliteit te bepaal;

(ii) om die finansiële posisie van die betrokke munisipaliteit te evalueer;

(iii) om ‘n geskikte herstelplan vir die betrokke munisipaliteit voor te berei; en

(iv) om geskikte veranderinge voor te stel vir die begroting en inkomste-invorderingsmaatreëls wat effek aan die herstelplan van die betrokke munisipaliteit sal verleen.

(b) Met die burgemeester van die munisipaliteit konsulteer ten einde die samewerking van die betrokke munisipaliteit te verkry vir die implementering van die herstelplan, insluitende die goedkeuring van ‘n begroting en wetgewende maatreëls wat effek aan die herstelplan sal verleen.

Ingevolge artikel 150 van Wet 56 van 2003 word selfs voorsiening gemaak vir nasionale ingryping in munisipale finansies, indien nodig. Die hoër owerhede kan ook, in sommige gevalle, ‘n kommissie aanstel om ondersoek in te stel na wanbestuur en amptenare wat skuldig bevind word, afdank.

Kommissies van ondersoek kan enige aangeleentheid van openbare belang of van belang vir ‘n regering ondersoek. Derhalwe kan kommissies van ondersoek aangestel word om munisipale aangeleenthede te ondersoek, indien:

• ‘n oorweldigende angstigheid onder ingesetenes oor ‘n bepaalde aangeleentheid bestaan;

• omvangryke gebreke in die uitkomste/resultate van ‘n munisipale raad blyk betrokke te wees;

• omstandighede wat tot die ondersoek aanleiding gee, uniek van aard is, met die voorwaarde dat slegs ‘n beperkte aantal presedente toegelaat sal word;

• die aangeleentheid nie deur die benutting van byvoorbeeld geregshowe of deur die Openbare Beskermer opgelos kan word nie; en

• ‘n aangeleentheid relatief nuut is binne ‘n bepaalde area, kompleks of kontroversieël is sodat beleidsbesluite daaroor geneem kan word (The Department of Internal Affairs, New Zealand 2005).

In die Republiek van Suid-Afrika word kommissies van ondersoek ook benut om soortgelyke aangeleenthede soos hierbo vermeld, te ondersoek. Die Spesiale Ondersoekeenheid is in die Republiek van Suid-Afrika gestig

ingevolge die Wet op Spesiale Ondersoekeenhede en Spesiale Tribunale, 1996 (Wet 74 van 1996). Hierdie eenheid was voorheen bekend as die Heath Spesiale Ondersoekeenheid. Die hoof van die eenheid, mnr. Willie Hofmeyer, wat vir Regter Willem Heath as voorsitter opgevolg het, is direk aan die President aanspreeklik. Hierdie eenheid het ‘n unieke rol te vervul in die bekamping van korrupsie. Die effektiwiteit van hierdie eenheid is geleë in sy bevoegdheid om snel te kan optree, openbare bates deur siviele regsprosedure te verhaal en te litigeer deur die Spesiale Tribunaal (Public Service Commissions Review of South Africa’s National Anti-Corruption Agencies: August 2001). Die effektiwiteit en doeltreffendheid van die optrede van hierdie eenheid is verder daarin geleë dat hulle in hul ondersoek slegs op ‘n bepaalde aangeleentheid kan fokus en soveel navrae as wat hul nodig ag, rig om die saak tot op die spreekwoordelike been oop te vlek. Hierdie eenheid was byvoorbeeld betrokke op nasionale owerheidsvlak by die ondersoek na die Regering se omstrede wapentransaksie van R30 miljard saam met die Openbare Beskermer, Ouditeur-generaal en die Nasionale Vervolgingsgesag (Die Volksblad: 24 Augustus 2004).

Die Spesiale Ondersoekeenheid is ‘n onafhanklike statutêre liggaam wat direk aan die President en die Parlement verslag doen. Hierdie eenheid funksioneer op bykans dieselfde wyse as ‘n kommissie van ondersoek waar die President sake na hulle verwys deur die uitvaardiging van ‘n proklamasie. Hierdie eenheid beskik nie oor die bevoegdheid om persone te arresteer of te vervolg nie, maar werk nou saam met ander wetstoepassers soos byvoorbeeld die Suid-Afrikaanse Polisiediens of die Skerpioene wat hierdie taak moet verrig (Legalbrief Forensic: 8 February 2007).

Die hooffunksie van die Spesiale Ondersoekeenheid is om korrupsie en wanbestuur te ondersoek en om dan siviele regstappe te neem om enige vorm van korrupsie en wanbestuur uit te roei. “South Africa’s Special Investigating Unit, also known as the Cobras, is working in the shadow of the headline-grabbing Scorpions – but it is proving to be just as effective in clamping down on criminals” (Legalbrief Forensic: 8 February 2007). Gedurende 2006 het hierdie eenheid ‘n besparing van meer as R3,6 miljard

vir die belastingbetalers bewerkstellig hoofsaaklik deur die sluiting en voorkoming van verdere onwettige welsynstoelaes en mediese fondseise (Legalbrief Forensic: 8 February 2007). Die eenheid funksioneer op ‘n relatief klein begroting van die Nasionale Tesourie van R50 miljoen per jaar. Tans is die eenheid betrokke by ondersoeke na bedrog, korrupsie en wanbestuur in die departemente van Maatskaplike Ontwikkeling, Korrektiewe Dienste en Vervoer asook op provinsiale- en munisipale regeringsvlakke in die Oos-Kaap, Gauteng, die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal (Legalbrief Forensic: 8 February 2007). Die Batebeslagleggingseenheid wat ook onder leiding van mnr. Hofmeyer funksioneer, is bevoeg om siviele aksies teen beskuldigdes te onderneem ten einde gesteelde- of geld wat verkeerdelik bekom is, te verhaal (Financial Mail: 2 February 2007). Mnr. Hofmeyer is van voorneme om staatsinstellings en veral munisipaliteite te oorreed om meer dikwels van die Spesiale Ondersoekeenheid gebruik te maak om korrupsie te takel in plaas daarvan om die dienste van private ouditfirmas vir hierdie doeleindes te bekom. Die Spesiale Ondersoekeenheid lewer ‘n “goeie waarde-vir-geld” diens en kan die werksaamhede vir ongeveer die helfte van die koste van privaat firmas verrig (Financial Mail: 2 February 2007).

Ingevolge artikel 179(1) van Wet 108 van 1996 word voorsiening gemaak vir die stigting van ‘n enkele Nasionale Vervolgingsgesag in die Republiek van Suid-Afrika. Die Nasionale Vervolgingsgesag bestaan uit die Nasionale Vervolgingsdiens, die Direktoraat: Spesiale Operasies, die Getuie- Beskermingsprogram, die Batebeslagleggingseenheid en gespesialiseerde eenhede soos die Eenheid vir Seksuele Misdrywe en Gemeenskapsaangeleenthede, die Gespesialiseerde Handelsmisdaadeenheid en die Integriteitbestuurseenheid (South African

Government Information: National Prosecuting Authority of South Africa, undated). Vir doeleindes van hierdie geskrif sal daar in hierdie rubriek veral gefokus word op die Direktoraat: Spesiale Operasies (DSO) of te wel die Skerpioene. Die breë wetgewende mandaat van die DSO is verminder na vier misdaad-fokusareas ten einde hulle in staat te stel om hul mandaat suksvesvol oor die volgende te kan uitvoer, te wete:

• georganiseerde misdaad;

• georganiseerde korrupsie;

• ernstige en komplekse finansiële misdaad; en

• afpersing en geldwassery.

Die verskil tussen die Skerpioene en die Spesiale Ondersoekeenheid (Die Kobras) word deur die Redakteur van “Financial Mail” soos volg verklaar: “... (t)he Scorpions, for instance, are geared to capturing big fish, while the Special Investigating Unit (Cobras) of Mr. Willie Hofmeyer is like a trawler that must try to net the tens of thousands of small fish whose underhanded activities would otherwise never be discovered” (Financial Mail: 2 Febraury 2007). Die Skerpioene kan beskou word as gespesialiseerde agente wat veral op georganiseerde misdaad fokus (Crime Prevention and Integrated Justice Sector: Media briefing, 12 February 2001).

Die Skerpioene word ook toenemend ingespan om korrupsie en bedrog op plaaslike regeringsvlak in die Republiek van Suid-Afrika te ondersoek. Die Skerpioene het ook al heelwat sukses behaal met ondersoeke na bedrog by munisipaliteite. Hier kan byvoorbeeld verwys word na die betrokkenheid van die Skerpioene in Junie 2005 toe tenderbedrog van meer as R150 miljoen by die Mangaung plaaslike munisipaliteit in Bloemfontein blootgelê is. Die Redakteur van die Volksblad het op 24 Junie 2005 soos volg hieroor berig: “(D)ie Skerpioene se ondersoek hou verband met bedrog en korrupsie betreffende tenders, waarby glo meer as twintig hooggeplaastes en amptenare in die munisipaliteit, onder andere die burgemeesterspaar, die munisipale bestuurder, die Speaker, die bedryfshoof, asook die politieke raadgewer van die burgemeester betrokke is.”

Senior Superintendent van Jaarsveld (mededeling: Bloemfontein: 27 September 2007) is die hoof van die Handelstak van die Suid-Afrikaanse Polisiediens in die Vrystaat en hy bevestig dat daar tans verskeie bedrogsake in Vrystaatse munisipaliteite is wat deur hierdie eenheid ondersoek word. Dit hou verband met onder meer tenderbedrog, bedrog met

petrolkaarte, diefstal van openbare geld en gevalle waar munisipaliteite nie aan die vereistes van Wet 56 van 2003 voldoen nie. Die publiek of werknemers van ‘n munisipaliteit kan ‘n klag direk by die Handelstak lê of omvangryke korrupsie- en bedrogsake kan ook deur ander eenhede binne die Suid-Afrikaanse Polisiediens na hulle verwys word. Die saak word dan deur lede van die Handelstak ondersoek en daar word teruggerapporteer aan die klaer sowel as aan die betrokke munisipale bestuurder oor hulle bevindinge (Mededeling: Senior Superintendent Buks van Jaarsveld: Suid-Afrikaanse Polisiediens. Hoof van die Handelstak in die Vrystaat. Bloemfontein: 27 September 2007).

Gildenhuys (1997:50) verklaar dat “… this type of external control is the ultimate power reserved for the controlling authority to save a local government from bankruptcy and to ensure that the common property of the community does not become attached.” Hierdie bevoegdhede word net in uiterste gevalle gebruik, aangesien daar ander maatreëls bestaan en die Ouditeur-generaal ook alreeds die nodige waarskuwingstekens, indien nodig, sou uitgewys het.