• No results found

BEHEER EN VERANTWOORDING BY MUNISIPALITEITE

HOOFSTUK 4: INTERNE FINANSIëLE KONTROLE MAATREëLS VIR BEHEER EN

4.2 KONTROLEMAATREËLS VIR INTERNE BEHEER EN VERANTWOORDING BY MUNISIPALITEITE

4.2.9 Etiese gedragskodes

Munisipale raadslede, as demokraties verkose verteenwoordigers van die ingesetenes van ‘n bepaalde area, word van verwag om op ‘n eerlike en deursigtige wyse op te tree en te alle tye aanspreeklik teenoor die ingesetenes te wees. Daar is ‘n aantal wette en prosedures in plek om te verhoed dat munisipale raadslede en amptenare nie betrokke raak by korrupte aktiwiteite of “... not (to) become self-serving” (Accountability and Community Participation, undated).

Ingevolge artikel 41(1)(c) van Wet 108 van 1996 moet alle owerheidsinstellings doeltreffend en effektief funksioneer wat impliseer dat bepaalde etiese gedragskodes nagekom moet word in die bereiking daarvan (Raga & Taylor 2005:1). Dit dien as ‘n waarborg vir die ingesetenes dat munisipale raadslede en amptenare aan die hoogste professionele standaarde sal voldoen en dat hulle verbind is om die ingesetenes na die beste van hul vermoë te dien (Sentrum vir Besigheids- en Professionele Etiek 2004:16).

Hanekom (1984:58) verklaar dat etiek na aanvaarbare of onaanvaarbare en/of regte of verkeerde gedrag verwys. Die gedrag van munisipale raadslede en amptenare word aan bepaalde kriteria gemeet ten einde te bepaal of dit negatief of positief in terme van etiese waardes/beginsels is. Etiese waardes, integriteit en die “rule of law” is noodsaaklike elemente binne ‘n demokratiese bestel. Etiek behels nie slegs die bewerkstelliging van ‘n stel reëls of gedragkodes nie, maar ‘n voortdurende bestuursproses wat onderliggend aan owerheidswerksaamhede is (Pretorius 2006:174). ‘n Gedragskode is nutteloos as dit nie die waardes reflekteer wat aan professionele amptenare rigting verskaf of as dit nie praktiese vraagstukke binne werksverband aanspreek nie (Sentrum vir Besigheids- en Professionele Etiek 2004:16).

In die Verenigde State van Amerika het die Nolan Komitee die “Sewe beginsels van Openbare Lewe” in werking gestel om as ‘n raamwerk vir openbare amptenare in die (etiese) uitvoering van hulle werksaamhede te dien. Hierdie beginsels behels die volgende, te wete:

Onselfsugtigheid (Selflessness): Openbare amptenare moet besluite slegs in terme van openbare belang neem en nie om finansiële- of ander materiële voordele vir hulleself, familie of vriende te verkry nie.

Integriteit: Openbare amptenare moet nie hulleself onder enige finansiële- of ander verpligtinge vir ingesetenes of organisasies plaas

wat hul in die uitvoering van hul amptelike werksaamhede mag beïnvloed nie.

Objektiwiteit: In die uitvoering van owerheidswerksaamhede, insluitende openbare aanstellings, die toekenning van kontrakte of om amptenare vir meriete-toekennings aan te beveel, moet besluite van hierdie aard op grond van meriete geneem word.

Verantwoording: Openbare amptenare moet verantwoording oor hulle besluite en handelinge kan lewer en hulself, indien nodig, aan openbare ondersoek onderwerp.

Openheid: Besluite en handelinge van openbare amptenare moet so ver as moontlik aan die beginsels van deursigtigheid voldoen. Redes vir hul besluite moet verskaf en inligting behoort slegs beperk te word, indien dit in openbare belang is.

Eerlikheid: Openbare amptenare het ‘n plig om enige privaat belange wat met openbare pligte verband hou, te verklaar en stappe te onderneem om konflik van belange te voorkom.

Leierskap: Openbare amptenare moet voornoemde beginsels

bevorder en nastreef by wyse van leierskap en die stel van voorbeelde (Chapman 2000:230-231).

Voornoemde beginsels is universeel van aard en word in die Republiek van Suid-Afrika as grondslag vir die bevordering van etiese gedrag by munisipaliteite sover moontlik nagestreef. ‘n Gedragskode verskaf derhalwe ‘n klimaat vir die bevordering van ‘n etiese kultuur en bevorder ‘n professionele etos onder openbare amptenare op alle owerheidsvlakke. Hierdie kodes is slegs van waarde indien daar maatreëls bestaan om dit af te dwing en bydra dat strafmaatreëls en dissiplinêre stappe teenoor oortreders daarvan, toegepas word (Raga & Taylor 2005:19-20).

‘n Munisipale raad sal slegs in staat wees om beheer en verantwoording af te dwing, indien die gedrag van die lede van ‘n raad van onberispelikheid en integriteit getuig. Ingevolge die bepalings van artikel 54 van Wet 32 van 2000 word voorsiening gemaak vir ‘n afdwingbare gedragskode vir raadslede en amptenare van munisipaliteite in die Republiek van Suid-Afrika. Die LUR vir Plaaslike Regering in Gauteng, me. Mahlangu, het in 2006 in haar gelukwense aan nuwe munisipale raadslede ‘n voortreflike boodskap gebring deur te verklaar dat nuwe raadslede “... must be guided by the Code of Conduct” (Go Gauteng: Local Government, 2006).

Die aanwesigheid van ‘n afdwingbare etiese gedragskode vir munisipale rade beklemtoon die belangrikheid daarvan dat daar van rade verwag word om hoë etiese standaarde in hulle werkverrigting te handhaaf. Pauw (2002:345) verklaar in hierdie verband dat ‘n gedragskode nie alleen daartoe bydra dat amptenare deugsaam sal optree nie, maar dat dit tog ‘n bydrae lewer om morele gedrag te bevorder. Daar is verskeie gedragskodes wat professionalisme en etiese gedrag in munisipale finansiële bestuur reguleer. Voorbeelde is:

• die Gedragskode van “IMFO” (“Institute of Municipal Finance Officers”);

• die Gedragskode vir munisipale raadslede wat ingesluit is in skedule 5 van Wet 117 van 1998;

• die Gedragskode vir munisipale amptenare wat ingesluit is in artikel 69 van Wet 32 van 2000; en

• die Gedragskode vir munisipale raadslede wat ingesluit is in artikel 54 van Wet 32 van 2000 en aanvullend is tot die Gedragskode van Wet 117 van 1998.

Ingevolge skedule 5 van Wet 117 van 1998 word byvoorbeeld bepaal dat munisipale raadslede alle vergaderings wat hulle veronderstel is om by te woon, moet bywoon, tensy hulle toestemming het om afwesig te wees. Munisipale raadslede kan ingevolge die voornoemde wet beboet word indien hulle nie raadsvergaderings bywoon nie. Indien hulle van drie of meer

agtereenvolgende vergaderings, sonder behoorlike verskonings afwesig is, kan hul uit hul ampte as raadslede ontslaan word (Accountability and Community Participation, undated).

Munisipale raadslede mag ook nie hulle invloed gebruik om enige voordeel te trek uit munisipale werk of munisipale kontrakte nie. Hulle mag ook nie vra vir enige geskenke, belonings of gunste vir dienste wat hul lewer nie en mag ook nie belonings aanvaar in ruil vir hul invloed in die raad nie. ‘n Munisipale raadslid mag geen vertroulike inligting bekend maak nie. Raadslede mag ook nie munisipale eiendom of bates gebruik, neem of enige voordeel daaruit trek nie, tensy hulle deur die raad daartoe gemagtig is. Indien munisipale raadslede nie voldoen aan die bepalings van voorgeskrewe gedragskodes nie, moet ‘n ondersoek na sodanige ongerymdhede onderneem word deur die voorsitter van die munisipale raad. Die bevindinge van die ondersoek moet aan die betrokke LUR vir plaaslike regering gerapporteer word. Munisipale raadslede wat aan onetiese gedrag skuldig bevind word, kan gewaarsku, tereggewys, beboet, geskors of uit hulle ampte ontslaan word.

Die Departement van Provinsiale en Plaaslike Regering in die Republiek van Suid-Afrika het ‘n Teen-Korrupsie Strategie vir Plaaslike Regering (“Local Government Anti-Corruption Strategy” - LGACS) van stapel gestuur wat gerig is op die voorkoming, naspeuring en ondersoeking van korrupsie by munisipaliteite (Go Gauteng: Local Government, 2006).

Dit vorm deel van die nasionale regering se teen-korrupsie veldtog wat op plaaslike regeringsvlak geloods word. Met hierdie strategie word die noodsaaklikheid vir die effektiewe implementering van die Gedragskode vir munisipale raadslede en amptenare van munisipaliteite beklemtoon.

In ooreenstemming met regulasie 46(4) en 46(5) van Wet 56 van 2003: Regulasies vir Munisipale Voorsieningskettingbestuur, moet die voorsieningskettingbestuursbeleid van ‘n munisipaliteit opgestel word volgens die Gedragskode vir praktisyns en ander rolspelers in voorsieningskettingbestuur wat deur die Nasionale Tesourie voorgehou word

(Nasionale Tesourie: Gedragskode vir praktisyns en ander rolspelers in voorsieningskettingbestuur 2005:1) By die aanvaarding van sodanige gedragskode, is dit bindend van aard op alle amptenare en ander rolspelers wat betrokke is by die implementering van die voorsieningskettingbestuursbeleid van munisipaliteite. Die doel van hierdie gedragskode is om wedersydse vertroue en respek te bevorder tussen alle rolspelers in voorsieningskettingbestuur asook om ‘n omgewing te skep waarbinne munisipale aangeleenthede met integriteit en op ‘n redelike en billike grondslag kan plaasvind (Gedragskode vir praktisyns en ander rolspelers in voorsieningskettingbestuur 2005:1). ‘n Universele gedragskode vir munisipale raadslede en amptenare blyk derhalwe noodsaaklik te wees om te verseker dat werksaamhede op ‘n etiese wyse afgehandel kan word.

Waardes soos byvoorbeeld:

• integriteit;

• deursigtigheid;

• verantwoording;

• professionalisme; en

houdings soos byvoorbeeld:

• verantwoordelikheid;

• aanpasbaarheid;

• betrokkenheid;

• doeltreffendheid;

• bewustheid van kwaliteit;

kwaliteite soos byvoorbeeld:

• kennis;

• leierseienskappe; en

• onafhanklikheid

word as belangrike kriteria vooropgestel vir die implementering en instandhouding van aanvaarbare, effektiewe en doeltreffende goedere- en dienslewering aan die ingesetenes van munisipaliteite (Raga & Taylor 2005:16-17).

Uit die voornoemde blyk die noodsaaklikheid van afdwingbare gedragskodes vir munisipale raadslede en amptenare van munisipaliteite en dit dien ook as bevestiging van die doelgerigte pogings van die nasionale regering om korrupsie, onetiese gedrag, bedrog en wanbestuur op plaaslike regeringsvlak te probeer bekamp.

4.3 SAMEVATTING

Munisipale finansiële bestuur in die Republiek van Suid-Afrika geskied binne die perke van die bepalings van Parlements- en provinsiale wette, asook munisipale regulasies. Soos die Parlement op nasionale vlak en provinsiale wetgewers op provinsiale vlak die toonaangewende politieke instellings is, is munisipale rade op plaaslike regeringsvlak daardie instansies wat moet toesien dat die funksies wat aan hulle toevertrou is, effektief en doeltreffend behartig word.

Die lede van ‘n munisipale raad is die verteenwoordigers van die ingesetenes en met inagneming van die demokratiese grondslae wat geldend is, sou van ‘n raad verwag kon word om op ‘n deurlopende grondslag verantwoording aan die ingesetenes te doen oor die verloop van die uitvoerende bedrywighede van ‘n munisipale raad. Aan hierdie vername grondslag van openbare bestuur word hoegenaamd nie na wense uitvoering gegee nie. Dit moet nie noodwendig as ‘n swakheid van die stelsel beskou word nie, maar eerder die onverskilligheid van die kiesers wat onwillig is om raadslede en amptenare tot verantwoording te roep.

Een van die uitstaande kenmerke van openbare verantwoording wat uit die aard van die saak ook by munisipaliteite voorkom, is die rekenpligtige funksie. Die vernaamste kenmerk van rekenpligtigheid by munisipaliteite in die Republiek van Suid-Afrika is dat ‘n enkele beampte, te wete ‘n munisipale bestuurder, persoonlik vir al die uitgawes van al die departemente/afdelings van ‘n munisipaliteit verantwoordelik gehou word. ‘n Munisipale bestuurder moet derhalwe gebruik maak van interne kontrolemaatreëls wat hom in staat stel om beheer oor al die werksaamhede van departemente/afdelings van die munisipaliteit te kan uitoefen, sodat hy aan die munisipale raad verantwoording kan doen oor die werksaamhede van al die departemente/ afdelings van die raad.

Munisipaliteite in die Republiek van Suid-Afrika moes derhalwe interne finansiële kontrolemaatreëls ontwerp en implementeer wat daartoe kan bydra om voortreflike finansiële beheer vir verantwoordingdoening te bewerkstellig. Die toepassing van sodanige kontrolemaatreëls stel ‘n munisipale bestuurder as rekenpligtige beampte van ‘n raad nie slegs in staat om verantwoording te kan doen aan die raad nie, maar dra ook by om te verseker dat gemeenskapsdoelwitte doeltreffend en effektief nagestreef word.

Interne kontrole is ‘n funksie wat hoofsaaklik deur toesighouers uitgeoefen word om byvoorbeeld die produktiwiteit van funksionarisse te verhoog. ‘n Effektiewe interne kontrolestelsel is derhalwe noodsaaklik om die bates van ‘n munisipaliteit te beveilig, betroubaarheid van rekords te verseker, operasionele rekords te verskaf, die nakoming van beleide aan te moedig en om die risiko van bedrog by munisipaliteite aansienlik te verminder. Interne kontrole moet op ‘n deurlopende grondslag by munisipaliteite toegepas word om ongerymdhede te kan opspoor sodat tydige aanpassings en regstellings gedoen kan word.

Interne kontrole by munisipaliteite in die Republiek van Suid-Afrika behels finansiële kontrole wat deur die leidinggewende funksionaris(se) uitgeoefen word om onder meer die leidinggewende funksionaris(se) in staat te stel om verantwoording aan ‘n munisipale raad te doen. Dit impliseer dat interne

kontrole by munisipaliteite ‘n interne aangeleentheid is en derhalwe, sover moontlik, deur interne finansiële regulasies en prosedurehandleidings voorgeskryf moet word. Interne kontrolemaatreëls wat by munisipaliteite toegepas moet word, moet gerugsteun word deur instruksies en regulasies uitgevaardig deur die hooffinansiële beampte, finansiële regulasies en prosedurehandleidings, interne ouditering, kosteberekeninge en – vergelykings, verslaggewing, inspeksies en die afdwing van etiese gedragskodes.

Interne kontrole sal inderdaad ook by munisipaliteite verstewig kan word deur die inskerping van pligsbesef, werkywer, integriteit, arbeidsaamheid, selfontwikkeling en ‘n groter beroepstrots by die amptenary. Voortreflike beheerresultate sal inderdaad verkry word indien munisipale raadslede en amptenare besiel kan word om selfbeheer en selftug toe te pas.

Die interne kontrolemaatreëls wat by ‘n munisipaliteit geïmplementeer word, moet op ‘n volgehoue wyse geëvalueer word om te bepaal of dit nog aan die vereistes van effektiwiteit en doeltreffendheid voldoen. Dit is egter noodsaaklik dat voortdurend daarna gestreef sal word om die bestaande interne kontrolemaatreëls by munisipaliteite in die Republiek van Suid-Afrika effektief en doeltreffend toe te pas en tydige aanpassings te maak, sodat daar nie eers reageer word nadat ‘n krisis ontstaan het nie.