• No results found

HOOFSTUK 3: NAVORSINGSMETODOLOGIE

3.6 DATA-INSAMELING

3.6.5 Data-insameling vir die kwalitatiewe komponent

3.6.5.3 Onderhoude met die Ekonomie-onderwysers

Daar is ná afhandeling van die intervensie onderhoude met die drie onderwysers gevoer om te bepaal hoe hulle die gevallestudieonderrig ervaar het en watter leemtes hulle in hulle professionele ontwikkeling met betrekking tot gevallestudieonderrig geïdentifiseer het. Gevallestudieonderrig is vir hierdie onderwysers ’n groot verandering, omdat hulle tot op daardie stadium die tradisionele metode van onderrig beoefen het.

Die doel van ’n kwalitatiewe navorsingsonderhoud is om die situasie wat bestudeer word, deur die oë van die deelnemer te sien (Maree, 2007) en sodoende waardevolle beskrywende inligting te verkry (Ary et al., 2006). Onderhoude verskaf inligting wat nie op ander wyses verkry kan word nie (Bless et al., 2009). As dit reg gedoen word, behoort onderhoude meer en ryker inligting te verskaf as wat met ’n gestruktureerde vraelys bekom kan word (Creswell, 2008).

Onderhoudvoering as navorsingsmetode handel oor die onderstaande aspekte waaroor die navorser sekerheid moet kry om ten einde onderhoudvoering tot voordeel van die studie aan te wend. Die navorser moet naamlik weet –

• wat onderhoudvoering behels;

• wat die doel van onderhoudvoering in navorsing is; • wat die waarde van onderhoudvoering is;

• watter soorte onderhoude gebruik kan word;

• wat die beginsels vir suksesvolle onderhoudvoering is; en • hoe die data opgeteken gaan word (Maree, 2007).

By kwalitatiewe studies behels onderhoudvoering dat die navorser vrae aan bepaalde deelnemers vra en die antwoorde word dan opgeteken (Creswell, 2008). Maree (2007) beskryf die onderhoud in navorsing as ’n tweerigtinggesprek met die onderhoudvoerder wat die deelnemer vrae vra om data in te samel in verband met die gedagtes, sienings, oortuigings, menings en gedrag van die deelnemer. Creswell (2008) beskryf ’n onderhoud in kwalitatiewe navorsing verder as ’n onderhoud waar die navorser aan die deelnemers algemene ‘oop’ vrae stel wat nie ’n gestruktureerde antwoord – soos slegs ’n ‘ja’ of ‘nee’ – het nie.

Maree (2007) beveel aan dat die persoon met wie die onderhoud gevoer word, vooraf ingelig moet word oor wat die doel van die onderhoud is en watter inligting verkry wil word. Die onderhoudvoerder moet taktvol en goed voorbereid wees en bereid wees om aandagtig te luister (Ary et al., 2010). Die onderhoudvoerder moet vrae vermy wat slegs ‘ja’ of ‘nee’ as antwoord het (Maree, 2007). Daar moenie leidende vrae gevra word nie, maar wel vrae wat indringend is en waar die antwoord ’n duidelike aanduiding sal gee van die deelnemer se siening en sy of haar begrip van sake (Bless et al., 2009). Die onderhoudvoerder moet ’n goeie luisteraar wees en nie die onderhoud oorheers nie en daarmee saam moet die onderhoudvoerder ook nie veroordelend en krities wees nie (Maree, 2007).

Die volgende vorme van onderhoude kan gebruik word: die oop onderhoud (non-scheduled

interview), die semi-gestruktureerde onderhoud, en die gestruktureerde onderhoud. Die oop

onderhoud neem die vorm aan van ’n gesprek, met die onderhoudvoerder wat die deelnemer uitvra oor sy of haar sienings, gedagtes, oortuigings en houdings met betrekking tot bepaalde verskynsels (Bless et al., 2009). Die onderhoudvoerder kan wel inmeng deur vrae te vra om die gesprek in ’n bepaalde rigting te stuur (Bless et al., 2009). Die semi-gestruktureerde onderhoud behels dat die deelnemer voorafbepaalde vrae moet beantwoord (Maree, 2007). Wanneer nodig, kan die deelnemer gevra word om sekere stellings te verduidelik (Bless et al., 2009). Dit kan dan lei tot ʼn nuwe rigting in die ondersoek wat verdere lig op die probleem kan werp (Maree, 2007). Die voorafbepaalde vrae is dus nie totaal rigied nie (Palaiologou et al., 2016).

Met die gestruktureerde onderhoud word die vrae vooraf geformuleer en presies dieselfde vrae word aan al die deelnemers gestel (Bless et al., 2009). Die onderhoudvoerder kan ook spontaan ander vrae vra as iets opduik waarvan die onderhoudvoerder meer wil weet (Bless et al., 2009). Antwoorde kan op ’n voorafgestruktureerde vorm beantwoord word, wat ontleding van die antwoorde baie vergemaklik (Palaiologou et al., 2016).

In hierdie studie is van die gestruktureerde onderhoud as navorsingsmetode gebruik gemaak toe onderhoude met die onderwysers gevoer is. Vrae is vooraf geformuleer en dieselfde vrae is afsonderlik aan al drie die onderwysers gestel (sien Bylae E). Dit is gedoen om die drie onderwysers se sienings oor dieselfde sake te kry en verskille en ooreenkomste uit te wys. Daar is ook addisionele vrae gestel wanneer dit nodig was om onderwysers se antwoorde duideliker te formuleer. Die doel van die vrae was om inligting te bekom oor hoe die onderwysers gevallestudieonderrig ervaar het, hoe hulle die rol van die leerders tydens die gevallestudieonderrig ervaar het, watter problematiese aspekte van gevallestudieonderrig hulle geïdentifiseer het, en watter leemtes hulle in hulle professionele opleiding geïdentifiseer het. Die vrae het met die komponente van die HOWP-skaal verband gehou. Dit is gedoen om ooreenstemming tussen onderwysers en leerders se ervaring van gevallestudieonderrig en die waarneming wat aan die hand van die HOWP-skaal gedoen is, te bewerkstellig.

In hierdie studie is die onderwysers vooraf ingelig oor die doel van die onderhoud en watter inligting bekom wil word. Geen vrae met slegs ‘ja’ of slegs ‘nee’ as antwoord is gevra nie. Slegs vrae wat meer lig kon werp op hoe die onderwysers gevallestudielesse ervaar het, moontlike problematiese aspekte, hulle vermoë om gevallestudielesse aan te bied en die leemtes wat hulle in hulle professionele ontwikkeling om gevallestudielesse te hanteer, beleef het, is gevra. Die onderwysers het voldoende geleentheid gekry om te antwoord, sonder dat die navorser ingemeng het. Daar is ook nie kritiek gelewer op onderwysers se antwoorde nie. Elke vraag is van ’n kort inleiding voorsien om die onderwysers te oriënteer ten opsigte van die agtergrond van die vraag (sien Bylae E).

Die opteken van data moet ’n ware weergawe wees van die onderhoude. Aantekeninge kan tydens die onderhoud gemaak word, maar dit is tydrowend en kan die onderhoudvoerder se aandag aftrek (Maree, 2007). Klankopnames kan gemaak word, maar dit skakel nie die byhou van aantekeninge uit nie (Palaiologou et al., 2016). Klankopnames moet getranskribeer word om data-analise moontlik te maak (Maree, 2007). Video-opnames van onderhoude kan gemaak word, maar etiese oorwegings moet dan in aanmerking geneem word (Palaiologou et al., 2016). Tydens hierdie navorsing is ’n klankopname van die onderhoude gemaak en getranskribeer sodat ontleding van die data gedoen kon word.