• No results found

HOOFSTUK 3: NAVORSINGSMETODOLOGIE

3.5 GEMENGDEMETODE-NAVORSING

Terwyl kwantitatiewe navorsing voorheen die dominante vorm van navorsing was, het kwalitatiewe navorsing die afgelope tyd ‘n meer prominente posisie verkry (Maree, 2009). Kwantitatiewe en kwalitatiewe navorsingsmetodes sluit mekaar egter nie uit nie. Albei kan gebruik word en kan mekaar aanvul (Ary et al., 2010). Die basis hiervan is geleë in Lichtman (2011) se stelling dat een paradigma nie enige ander paradigmas uitsluit nie. ’n Positivistiese wêreldsiening sluit nie ‘n konstruktivistiese wêreldsiening uit nie en andersom. Hierdie beginsel maak gemengdemetode-navorsing moontlik. Lichtman (2011) meen ook dat navorsing verryk word deur van verskillende metodes gebruik te maak.

Die filosofiese begronding van gemengdemetode-navorsing is pragmatisme (Creswell, 2005). Die pragmatistiese filosofie voer aan dat die metode wat die beste werk om ’n navorsingsprobleem te verstaan, gebruik moet word. Volgens Maree (2016) is ’n belangrike argument van die pragmatisme dat kwantitatiewe en kwalitatiewe metodes verenigbaar is, want beide benaderings het genoeg ooreenkomste in fundamentele waardes om ʼn kombinasie van die twee in ’n enkele studie moontlik te maak.

Creswell (2014) beskryf gemengdemetode-navorsing as navorsing wat behels dat beide kwantitatiewe en kwalitatiewe data versamel word en in ’n enkele studie ‘vermeng’ word met die doel om die navorsingsprobleem beter te verstaan. Volgens ’n gemengdemetode- navorsingsbenadering word beide syferinligting en teksinligting versamel en geanaliseer om verskillende aspekte van dieselfde navorsingsprobleem te belig en sodoende tot ’n volledige begrip van die navorsingsprobleem te kom. Hierdie ontwerp word gebruik wanneer ’n navorser kwantitatiewe statistiese resultate met kwalitatiewe bevindings wil vergelyk en kontrasteer, of as die navorser die geldigheid van kwantitatiewe data met kwalitatiewe bevindings wil verhoog (Creswell, Plano Clark, Gutman & Hanson, 2003). Die term ‘gemengde’ in hierdie sin beteken dat die data op een of meer punte in die studie gekombineer word (Maree, 2009). Creswell (2008) meen dat ’n kombinasie van kwantitatiewe en kwalitatiewe metodes ’n studie versterk en ’n beter begrip van die navorsingsprobleem moontlik maak, en beklemtoon voorts dat dit nie net om die versameling van twee vorme van navorsing gaan nie, maar dat die samevoeging van die twee datastelle belangrik is.

Gemengdemetodes-navorsing is ook gesetel in die pragmatistiese paradigma. Die pragmatistiese paradigma impliseer dat die oorkoepelende benadering tot navorsing behels dat meer as een metode gebruik word om data te versamel en dat meer as een metode gebruik word om data te ontleed (Tashakkori & Teddlie, 2002). Pragmatisme fokus op “wat werk” betreffende die navorsingsvraag (Tashakkori & Teddlie, 2002).

Alhoewel die onderskeie leemtes of tekortkominge van kwantitatiewe en kwalitatiewe navorsing nie heeltemal uitgewis word nie, verseker ʼn gemengdemetode-studie wel dat meer genuanseerde bevindings gemaak kan word, en dat die navorser ʼn ryk beskrywing (thick description) (Geertz, 1973) van die verskynsel gee.

Creswell (2014) verdeel gemengdemetode-navorsing in vier vorme daarvan, naamlik die verkennende ontwerp (explanatory design), die ondersoekende ontwerp (exploratory design), die triangulasie-ontwerp (triangulation design) en die ingebedde ontwerp (embedded design). Die triangulasie-metode is die bekendste en gewildste van die vier gemengdemetode-ontwerpe (Maree, 2007). Dié metode behels ’n eenfasige ontwerp waar die navorser die kwantitatiewe en kwalitatiewe metodes gedurende dieselfde tydsraamwerk en met dieselfde gewig implementeer (Creswell et al., 2003). Dit behels die gelyktydige, maar afsonderlike versameling en ontleding van kwantitatiewe en kwalitatiewe data. Die twee datastelle word dan saamgevoeg en een algehele interpretasie word gemaak (Creswell et al., 2003:62).

Volgens Arthur, Waring, Coe en Hedges (2012) het die triangulasie-metode ontstaan uit die gedagte dat die samevoeging van bewyse wat uit twee of meer navorsingsmetodes voortspruit, die betroubaarheid en geldigheid van die navorsingsbevindings kan bevorder. Arthur et al. (2012)

omskryf triangulasie as die soeke na ineenloping (convergence) en bevestiging (corroberation) van resultate van verskillende metodes en ontwerpe wat gerig is op die ondersoek van dieselfde verskynsel. Fraenkel et al. (2015) meen dat die sterkpunte van die een vorm van navorsing kan kompenseer vir die swakhede van die ander vorm van navorsing.

Creswell et al. (2003) noem vier vorme van triangulasie, naamlik die konvergensie-model (convergence model), die datatransformasie-model (data transformation model), die validering (geldigmaking) van die kwantitatiewe data-model (validating quantitative data model), en die meervlakkige model (multilevel model). Die konvergensie-model is die tradisionele model van ’n gemengdemetode- triangulasie-ontwerp. As hierdie model toegepas word, versamel en analiseer die navorser die kwantitatiewe en kwalitatiewe data wat samelopend van dieselfde verskynsel af ingesamel is, afsonderlik en dan word die resultate saamgevoeg en geïnterpreteer deur dit te vergelyk en te kontrasteer (Creswell et al., 2003). Ooreenkomste en verskille tussen die twee datastelle word daarna bespreek.

In hierdie studie is ’n parallel-lopende gemengdemetode- triangulasie-ontwerp gevolg (concurrent

mixed methods triangulation design). Creswell (2014) beskryf dit as ’n vorm van

gemengdemetode-navorsing waar kwantitatiewe en kwalitatiewe data op min of meer dieselfde tyd ingesamel word en die data dan geïntegreer en geïnterpreteer word. Teenstrydige bevindings en gevalle waar daar nie ooreenstemming in bevindings is nie, word dan verder verduidelik en ondersoek (Creswell, 2014). Ary et al. (2010) meen dat ’n parallel-lopende gemengde metode nie noodwendig beteken dat die data van die kwantitatiewe en kwalitatiewe ondersoeke geïntegreer moet word om afleidings te maak nie. Elke datastel kan afsonderlik tot bepaalde afleidings aanleiding gee (Ary et al., 2010). Elke stel data kan dan apart opgeteken word (Ary et al., 2010). In hierdie navorsing is die parallel-lopende gemengde triangulasie-metode van navorsing gebruik om vas te stel hoe gevallestudies tydens Ekonomie-onderrig op skoolvlak aangewend kan word om selfgerigte leer by Ekonomie-leerders te bevorder. Om hierdie navorsingsdoelstelling te ondersoek was dit nodig om eerstens vas te stel wat leerders se siening van hulle vermoë tot selfgerigte leer was voor die gevallestudie-intervensie en daarna is die gevallestudie-intervensie met ’n reeks gevallestudies gedoen. Na afloop van die gevallestudie-intervensie is leerders se siening van hulle vermoë tot selfgerigte leer weer gemeet om te bepaal of daar enige verandering in hulle siening van hulle vermoë tot selfgerigte leer plaasgevind het. Terselfdertyd is leerders in die twee kontroleskole se siening oor hulle vermoë tot selfgerigte leer gemeet. Bogenoemde prosedure is ook in die twee kontroleskole gevolg. Die beoordelingskaal vir leerders se siening van hulle vermoë tot selfgerigte leer is aan die begin van die studie terselfdertyd op die twee kontroleskole toegepas. By die kontroleskole was daar geen gevallestudieonderrig nie. Die beoordelingskaal is weer aan die einde van die tydperk van die intervensie op albei die kontroleskole toegepas. ’n Geskikte skaal om leerders se siening van hulle vermoë tot selfgerigte

leer te bepaal is gebruik, ‘n selfgerigte leer-skaal genoem (SGL-skaal). Dit was die kwantitatiewe komponent van die parallel-lopende gemengde triangulasie-metode.

Die twee groepe rolspelers wat by hierdie studie betrokke was, was die Ekonomie-leerders en Ekonomie-onderwysers. Benewens die meting van die Ekonomie-leerders se siening van hulle vermoë tot selfgerigte leer is hulle ervaring met die gevallestudieonderrig ook deur middel van fokusgroeponderhoude ondersoek. Die Ekonomie-onderwysers se ervaring van die gevallestudie-intervensie en hulle siening van hulle vermoë om gevallestudieonderrig aan te bied, is met behulp van waarneming en onderhoude ondersoek. ‘n Waarnemingsprotokol, die hervormde onderrig waarnemingsprotokol (HOWP) is gebruik en het die basis van die waarneming gevorm. Dit was die kwalitatiewe komponent van die parallel-lopende gemengde triangulasie-metode.

Die rasionaal vir die gebruik van ’n gemengdemetode-benadering in hierdie studie was dat beide kwantitatiewe en kwalitatiewe metodes benodig word om toepaslike data te bekom en hierdie data moes gelyklopend bekom word in die tyd wat vir die navorsing beskikbaar was. Deur ’n gemengdemetode-navorsingsbenadering te volg, kon antwoorde op ‘wat’- en ‘waarom’- vrae verkry word, wat tot ’n meer volledige begrip van die navorsingsprobleem kon lei (Maree, 2009). ’n Gemengdemetode-benadering was dus noodsaaklik om vas te stel hoe gevallestudies in Ekonomie-onderrig op skool aangewend kan word om selfgerigte leer te bevorder.

Die parallel-lopende gemengde triangulasie-metode vir hierdie studie kan soos volg voorgestel word:

Figuur 3-1: Parallel-lopende gemengde triangulasie-metode

Bron: Creswell (2014)