• No results found

HOOFSTUK 3: NAVORSINGSMETODOLOGIE

3.8 ETIESE OORWEGINGS IN HIERDIE NAVORSING

Die etiese beginsels wat in opvoedkundige navorsing toegepas moet word, spruit uit die filosofie van etiek, wat reëls en kodes voorstel vir ’n morele wyse om navorsing te doen (Palaiologou et

al., 2016). Die etiese kodes wat vir opvoedkundige navorsing geformuleer is, is gegrond op ’n

groter stel beginsels wat die hele veld van menseregte dek, soos die Verklaring van Menseregte wat in 1948 geformuleer is (Palaiologou et al., 2016). Hierdie verklaring en ander verklarings van menseregte skryf die volgende basiese beginsels voor (Palaiologou et al., 2016):

• die mens het die reg tot oorlewing en ‘n menswaardige lewe;

• die mens moet oor die regte en vryhede beskik wat menswaardigheid, kreatiwiteit en intellektuele ontwikkeling moontlik maak; en

• alle mense het die reg tot vryheid en fisiese sekuriteit.

Kwantitatiewe en kwalitatiewe navorsing het elkeen eie vereistes waaraan voldoen moet word om te verseker dat navorsing op ’n etiese wyse geskied. Volgens Ary et al. (2006) stel kwalitatiewe navorsing besondere etiese vereistes, omdat die navorser gewoonlik vir ’n relatief lang tydperk persoonlike interaksie het met die persone van wie inligting verkry moet word. Die insameling van die data behels dat persoonlike onderhoude en waarnemings van deelnemers gedurende hierdie tydperk gedoen word, en dit is gedurende hierdie tydperk dat situasies mag ontstaan wat ’n etiese dilemma vir die navorser kan meebring.

Fraenkel et al. (2015) en Check en Schutt (2012) doen die onderstaande riglyne aan die hand wat gevolg moet word as navorsing op kinders gedoen word:

• Ouers en wettige voogde moet ingelig word oor die navorsing wat gedoen gaan word en moet skriftelike toestemming gee.

• Alle inligting wat deur kinders verskaf word, moet as vertroulik beskou word. • Kinders mag nie gedwing word om aan navorsing deel te neem nie.

• Kinders se privaatheid moet beskerm word. • Kinders moet met respek behandel word.

Lichtman (2013) ondersteun hierdie beginsels en voeg die onderstaande by:

• Daar mag geen skade gedoen word aan enige persoon betrokke by die studie nie. • Vriendskapsverhoudinge met die deelnemers moet vermy word.

• Die navorser moet nie inbreuk maak op die deelnemers se tyd, persoonlike ruimte en persoonlike lewe nie.

• Die navorser moet hom- of haarself nie skuldig maak aan onbehoorlike gedrag van ’n persoonlike of seksuele aard nie.

• Die navorsingsdata moet nie wanvoorstellings of bedrog bevat nie.

Ary et al. (2006) meen dat die deelnemers aan die navorsingsprojek iets van hulleself gegee het om die navorser te help, en die navorser behoort aan die deelnemers iets terug te gee vir hulle tyd, samewerking, die moeite wat hulle gedoen het en die verdra van die navorser se teenwoordigheid in die klas. Die navorser kan daarvoor kompenseer deur sy bevindinge bekend te maak aan die skool of sy of haar hulp aan te bied met projekte waaraan die skool werk (Ary et

al., 2006).

Die navorser moet by al die belanghebbende instansies, soos die universiteit, onderwysdepartement, die skoolhoof, die onderwyser, die ouers en leerders toestemming kry om die navorsing te doen (Ary et al., 2006).

Hierdie studie het aan al die etiese vereistes wat aan ’n studie van hierdie aard gestel kan word, voldoen. Hierdie studie was nie van ’n sensitiewe aard nie. Die studie het ook nie sake van ’n persoonlike of private aard betrek nie. Geen individuele leerder of onderwyser word in die navorsingsresultate geïdentifiseer nie.

Daar is streng by die etiese riglyne wat op die studie van toepassing kon wees, gehou. Etiese riglyne is eerbiedig by die opstel van die waarnemingslyste wat vir die leswaarnemings gebruik is, asook by die samestelling van die vrae vir die individuele onderhoude met onderwysers en die fokusgroeponderhoude met geselekteerde leerders. Die waarneming van die gevallestudielesse, die onderhoude met die betrokke onderwysers en die fokusgroeponderhoude met die leerders het in die normale skoolsituasie geskied. Dit het in skooltyd in die Ekonomie-klaskamer plaasgevind, die Ekonomie-onderwyser was teenwoordig en geen periodetyd is oorskry nie. Daar was dus geen moontlikheid dat leerders se veiligheid bedreig kon word nie.

Anonimiteit is deurgaans gewaarborg en geen onderwyser, leerder of skool word in die navorsingsresultate geïdentifiseer nie. Kodes word gebruik om skole en deelnemers te klassifiseer. Die eksperimentele skole word geïdentifiseer as Eksperimentele Skool 1 (E1), Eksperimentele Skool 2 (E2) en Eksperimentele Skool 3 (E3). Die kontroleskole word geïdentifiseer as Kontroleskool 1 (K1) en Kontroleskool 2 (K2). Die onderwysers van die

eksperimentele skole word aangedui as Onderwyser 1, Onderwyser 2 en Onderwyser 3 onderskeidelik.

Goedkeuring om die navorsing te onderneem, is eerstens by die relevante etiekkomitee van die Noord-Wes Universiteit verkry. (Die twee relevante etieksertifikate word as bylaes ingesluit.) Daar is doelbewus besluit om plaaslike agtergrond (en, waar van toepassing, inheemse kennis) in te sluit by die gevallestudies, en daarom het my studie ingeskakel by die groter Nasionale Navorsingstigting (NNS)-studie, “The affordances of indigenous knowledge for self-directed learning”. Uiteraard is die nodige etiese toestemming ook vir die “Affordances of cases for self- directed learning”-navorsingsprojek verkry). Nadat hierdie toestemming verkry is, is toestemming vir die navorsing by die Onderwysdepartement van Noord-Wes verkry. ’n Skriftelike versoek is aan dr. Motara , die distriksdirekteur gerig om die navorsing te onderneem en hy het toestemming verleen.

’n Skriftelike versoek is aan die vyf skoolhoofde gerig om die studie te onderneem, asook aan die ouers van die leerders en die leerders self. In die versoeke is verduidelik dat daar geen gevare vir die leerders is nie en dat geen leerder of onderwyser in die studie geïdentifiseer sal word nie. Daar is ook duidelik gemaak dat daar geen aktiwiteite is wat ’n oortreding van landswette of skoolreëls is nie.

Al die deelnemers aan die studie het ‘n instemmingsbrief onderteken, met die verstandhouding dat enige deelnemer enige tyd kan onttrek as hy of sy dit sou verkies.