• No results found

HOOFSTUK 3: NAVORSINGSMETODOLOGIE

3.6 DATA-INSAMELING

3.6.4 Data-insameling vir die kwantitatiewe komponent

Om te bepaal of die graad 11-leerders wat Ekonomie as vak geneem het, se vermoë tot selfgerigte leer verander het met die ingryping van gevallestudies, is ‘n geskikte objektiewe instrument gebruik om leerders se siening van hulle vermoë tot selfgerigte leer te bepaal (SGL- instrumente). Daar is ‘n aantal SGL-meetinstrumente beskikbaar, naamlik die SGL-instrumente van Guglielmino (1977), Fisher, King en Taque (2001) en Williamson (2007) (sien Cheng et al., 2010:1153). Die eise waaraan so ’n instrument moes voldoen vir die vereistes van hierdie studie, was dat dit werklik leerders se siening van hulle vermoë tot selfgerigte leer moes meet (dit moes dus ’n geldige en betroubare instrument wees) en dit moes inpas binne die tydsraamwerk wat vir die navorsing beskikbaar was. Dit moes dus binne 30 minute afgehandel kon word. Dit moes dus bondig wees en ook maklik leesbaar en verstaanbaar vir graad 11-leerders. Dat die SGL- instrument binne die tydperk van een klasperiode toegepas kon word, was kardinaal vir hierdie studie.

Daar is nie spesifieke meetinstrumente vir selfgerigte leer vir graad 11-leerders beskikbaar nie. Die naaste wat beskikbaar was vir leerders van hierdie ouderdom was meetinstrumente vir persone wat pas die skool verlaat het en wat direk daarna met ‘n ander vorm van opleiding sal begin.

Die SGL-instrumente van Guglielmino (1977), Fisher et al. (2001) en Williamson (2007) is te lank vir gebruik by skole. Guglielmino (1977) se instrument het 58 items, Fisher et al. (2001) se

instrument het 40 items en Williamson (2007) se instrument het 65 items (Cheng et al., 2010). Cheng et al. (2010) se selfbeoordelingskaal vir selfgerigte leer het 20 items, wat dit ‘n baie bruikbare instrument maak. Dit kan gedurende ’n klasperiode van 30 minute afgeneem word. Cheng et al. (2010) se instrument is gevolglik aangewend om ’n objektiewe bepaling van die leerders se siening van hulle vermoë tot selfgerigte leer te verkry (sien Bylae C). Die SGL- instrument van Cheng et al. (2010) wat gebruik is, was die Self-Directed Learning Instrument (SDLI) for Nursing Students. Cheng et al. (2010) het dié instrument ontwikkel om gebruik te word by verpleegkundestudente in hulle eerste jaar van opleiding, en meet studente se siening van hulle vermoë tot selfgerigte leer. In hierdie studie word na dié instrument verwys as die Cheng et

al. (2010) se selfbeoordelingskaal vir selfgerigte leer.

Die 20 items in die SGL-instrument van Cheng et al. (2010) is in vier domeine verdeel, naamlik motivering om te leer, beplanning en implementering van leer, selfmonitering van leer, en interpersoonlike kommunikasie. Hierdie domeine word gemeet op ’n 5-punt- Likert-tipe skaal, naamlik: 1 – stem glad nie saam nie; 2 – stem nie saam nie; 3 – neutraal; 4 – stem saam; 5 – stem volkome saam. Die items in die toets is almal positief gestel (dus geen sinne met ‘nie’ daarin nie). Die totale moontlike tellings strek van 20 tot 100. Die tellings wat behaal kan word, dui die mate aan waartoe leerders oor die vermoë tot selfgerigte leer beskik, naamlik:

• 20–46: ’n lae vlak van selfgerigte leer;

• 47–72: ’n gemiddelde vlak van selfgerigte leer; en • 73–100: ’n hoë vlak van selfgerigte leer.

As ’n meetinstrument gebruik word, moet dit ’n geldige en betroubare instrument wees (Creswell,

et al. 2005). Geldigheid verwys na die mate waartoe die instrument meet wat dit veronderstel is

om te meet (Bless et al., 2006). Daar is drie vorme van geldigheid, naamlik inhoudsgeldigheid, siggeldigheid en konstrukgeldigheid (Cohen, Manion & Morrison, 2007). As ’n instrument hoë inhoudsgeldigheid het, is daar genoeg kontrole oor veranderlikes (anders as gedurende die navorsingsintervensie) en kan aanvaar word dat die intervensie die faktor is wat veranderinge in die afhanklike veranderlike meegebring het (Bless et al., 2006). Inhoudsgeldigheid word bevorder deur die gebruik van ’n kontrolegroep as ’n eksperiment uitgevoer word (Mouton, 2001). In hierdie studie is van twee kontrolegroepe gebruik gemaak, wat bygedra het tot die inhoudsgeldigheid van die studie.

Siggeldigheid verwys daarna of die instrument op die oog af toets wat dit veronderstel is om te toets (Cohen et al., 2007). As ’n instrument te eenvoudig of te kompleks voorkom, voldoen dit nie aan siggeldigheid nie (Bless et al., 2006). Die aard van die vrae en veral die indeling van die vrae

– in die geval van hierdie navorsing, motivering om te leer, beplanning en implementering, selfmonitering en interpersoonlike kommunikasie – verseker die siggeldigheid van die instrument. Konstrukgeldigheid behels ʼn bepaling van die mate waartoe ’n instrument die teoretiese konstruk meet (Creswell, 2008). Die meetinstrument moet verband hou met die teorie wat betrekking het op die begrippe wat gemeet word (Bless et al., 2006). Hoe meer die instrument verband hou met die teorie, hoe groter die mate van konstrukgeldigheid (Bless et al., 2006). In hierdie studie was die teoretiese konstruk die leerders se siening van hulle vermoë tot selfgerigte leer.

• Betroubaarheid verwys na die konsekwentheid waarmee ’n meetinstrument sekere resultate lewer wanneer die entiteit wat gemeet word, nie verander het nie (Creswell, 2008). Die betroubaarheid van toetstellings is die mate waartoe toetstellings toegeskryf kan word aan sistemiese faktore eerder as toevallige faktore (Bless et al., 2006). Verskille in toetstellings moet dus dui op werklike verskille tussen die persone wat die toets afgelê het (Bless et al., 2006). Die betroubaarheid van ’n toets kan bepaal word deur Cronbach se alfa-waarde vir die toets te bepaal (Creswell, 2008).

• Tydens die samestelling van die SGL-meetinstrument het Cheng et al. (2010) die betroubaarheid van die instrument bepaal. Cronbach se alfa-waarde vir die totale skaal is .916 en vir die vier domeine onderskeidelik .801, .861, .785 en .765 (Cheng et al., 2010). Alfa- waardes van 0.70 of hoër word beskou as konsekwent en kan as betroubaar aanvaar word (Maree, 2009). Die SGL-instrument van Cheng et al. (2010) is dus ’n betroubare instrument om leerders se siening van hulle vermoë tot selfgerigte leer te bepaal. Shen, Chen & Hu (2014), het die geldigheid van hierdie SGL-instrument bepaal en bevind dat die selfbeoordelingskaal vir selfgerigte leer van Cheng et al. (2010) ’n instrument is wat geldige resultate lewer.

Leerders in beide die drie eksperimentele groepe en die twee kontrolegroepe het Cheng et al. (2010) se selfbeoordelingskaal vir selfgerigte leer voltooi voor die intervensie met gevallestudielesse begin het. Albei groepe het dit weer na afloop van die gevallestudie- intervensie voltooi (die twee kontrolegroepe het dit dus ook ná vier maande weer voltooi). Die toets is in klasverband afgeneem onder toesig van die Ekonomie-onderwyser en die navorser. Die voordele daarvan was dat al die graad 11- Ekonomie-leerders in ’n skool die toets gelyktydig kon aflê, dat ’n groot aantal van dié leerders die toets in ’n kort tyd kon aflê en dat die navorser byderhand was om hulp te verleen en vrae te beantwoord (Ary et al., 2010). Daar was egter ook nadele: leerders wat vrae of prosedures nie verstaan het nie, kon moontlik onwillig gewees het om voor die groep om ’n verduideliking te vra en deelnemers kon moontlik die vraelyste sorgloos ingevul het, omdat hulle dit spoedig wou afhandel (Maree & Pietersen, 2012). In hierdie studie is hierdie nadele beperk deur leerders te motiveer om die vraelyste sorgvuldig te voltooi.

Die doel met die eerste aanwending van die SGL-instrument was om te bepaal wat die leerders in die drie eksperimentele groepe en die twee kontrolegroepe se siening van hulle vermoë tot selfgerigte leer op daardie stadium was. Die doel met die tweede aanwending van die SGL- instrument was om te bepaal of die siening van leerders in die eksperimentele groep oor hulle vermoë tot selfgerigte leer verander het as gevolg van die gevallestudie-intervensie en of daar in die kontrolegroep enige verandering in die leerders se siening van hulle vermoë tot selfgerigte leer plaasgevind het wat nie aan gevallestudieonderrig toegeskryf kon word nie. Die data is ingesamel met betrekking tot veranderinge in leerders se siening van hulle vermoë tot selfgerigte leer in die geheel en met betrekking tot veranderinge in een of meer van die vier domeine in die SGL-instrument aangedui.