• No results found

HOOFSTUK 3: SUID-AFRIKAANSE ONDERWYS NA 1994: DIE OPKOMS EN ONTWIKKELING VAN UITKOMSGEBASEERDE ONDERWYS

3.2 Nasionale onderwyskurrikulum

3.2.4 Nasionale Kurrikulumverklaring (Grade 10-12) (NKV)

‘n Mediavrystelling deur die WKOD het in April 2002 onder andere die voorgestelde tydraamwerk vir die ontwikkeling en implementering van die NKV vir die verdere onderwys en opleidingsband (VOO-band) (Grade 10-12) as volg uiteengesit:

• Ontwikkeling van die kurrikulum vir 23 vakke in 2002 en die eerste helfte van 2003; • Onderwyseropleiding in 2003;

• Bekendstelling van VOO kurrikulum in Graad 10 in 2004, Graad 11 in 2005 en Graad

12 in 2006 (Gaum, 2002).

In Julie 2005 het die nasionale Departement van Onderwys egter die implementering van die Nasionale Kurrikulumverklaring in Grade 10 tot 12 oor die daaropvolgende drie jaar (2006- 2008) bekend gemaak (Hindle, 2005). Die aanvanklike tydraamwerk is dus op die ou einde met twee jaar aangeskuif.

Die Nasionale Kurrikulumverklaring Grade 10 tot 12 (Algemeen) is gebaseer op die volgende beginsels: sosiale transformasie; uitkomsgebaseerde onderwys; hoë kennis en vaardighede; integrasie en toegepaste bevoegdhede; progressie; artikulasie en oordraagbaarheid; menseregte, inklusiwiteit, omgewings- en sosiale geregtelikheid; die koester van inheemse kennissisteme; en geloofwaardigheid, kwaliteit en effektiwiteit (Departement van Onderwys, 2003a: 6). Hierdie beginsels vind aansluiting by en toon ooreenkomste met die beginsels van die HNKV, sowel as die beginsels van die NKR (sien onderskeidelik afdeling 3.2.1. en 3.2.2).

Al die vakke binne die NKV is opgedateerde, bygewerkte en uitgebreide weergawes van die vakke wat voorheen in Suid-Afrikaanse skole aangebied is en in die meeste gevalle het die benamings dieselfde gebly. Die name wat wel verander het, was ten einde internasionale

tendense te reflekteer. Lewenswetenskap vervang byvoorbeeld Biologie, Inligtingstegnologie vervang Rekenaarstudies, Rekenaartoepassingstegnologie vervang Tik en Rekenaartik, en Verbruikerstudie vervang Huishoudkunde. Die kognitiewe uitdagings van die vakke is in alle gevalle verhoog en daar is ook ’n groter klem op Afrika59 (Hindle, 2005). Aanvanklik is 24 vakverklarings en ’n oorsig dokument, National Curriculum Statement Grades 10-12 (General): Overview (2003a), as beleid verklaar, maar in 2004 is nog vyf vakke ingesluit in die NKV wat tans uit die volgende vakke bestaan:

• Tale: 11 amptelike tale (wat onderskeidelik op drie vlakke aangebied kan word,

naamlik as Huistaal, Eerste Addisionele Taal of Tweede Addisionele Taal); 13 nie- amptelike tale

• Wiskunde; Wiskundige Geletterdheid; Fisiese Wetenskappe; Lewenswetenskappe;

Inligtingstegnologie; Rekenaartoepassingstegnologie;

• Rekeningkunde; Besigheidstudies; Ekonomie

• Geografie; Geskiedenis; Lewensoriëntering; Godsdiensstudie • Verbruikerstudies; Gasvryheidstudies; Toerisme

• Dramatiese Kunste; Dansstudies; Ontwerp; Musiek; Visuele Kunste • Landbouwetenskappe; Landboubestuurpraktyke; Landbou Tegnologie

• Siviele Tegnologie; Elektriese Tegnologie; Ingenieursgrafika en -ontwerp

(Departement van Onderwys, 2007a: 2-3).

Daar word van leerders verwag om sewe vakke binne die NKV te neem, waarvan vier verpligtend is. Hierdie vier vakke is: twee Suid-Afrikaanse tale, waarvan een die taal van onderrig en leer (TOL) moet wees; Wiskunde óf Wiskundige Geletterdheid; en Lewensoriëntering. Brian Schreuder60 het na die bekendstelling van die infasering van die NKV die verpligte vakke (uitsluitend die tale) as volg toegelig:

Die voorgestelde verpligte komponent van Wiskunde of Wiskundige Geletterdheid het ten doel om te verseker dat alle leerders voorbereid is vir die lewe en werk in ’n toenemende tegnologiese, numeriese en datagedrewe wêreld. Lewensoriëntering het ten doel om burgerlike deelname en begrip te bou (Schreuder, 2005).

59 Die konsep van die Afrikanisering van die kurrikulum word in afdeling 4.4 bespreek.

60 Brian Schreuder is tans (2011) die Adjunk-Direkteur-Generaal: Kurrikulum- en Assesseringsbestuur aan die

Wes-Kaap Onderwysdepartement. Tydens die vrystelling van die aangehaalde mediaverklaring in 2005 het hy die posisie beklee van Adjunk-Direkteur-Generaal: Onderwysbeplanning en -ontwikkeling ook aan die Wes- Kaap Onderwysdepartement.

Uit bogenoemde lys van vakke word dit duidelik dat daar vyf vakke op VOO-vlak is wat voortspruit uit die Kuns en Kultuur leerarea, naamlik Dramatiese Kunste, Dansstudies, Ontwerp, Musiek en Visuele Kunste. Die vak Spraak en Drama, wat soos reeds genoem die enigste vak binne die vorige onderwysstelsel was wat op drama-opleiding gefokus het, word met ander woorde binne die uitkomsgebaseerde NKV aangepas en herdoop tot Dramatiese Kunste. Drama-opleiding binne die VOO-band is gevolglik steeds in die vorm van ’n keusevak – soos wat die geval met Spraak en Drama was – en skole besluit self watter keusevakke hulle aanbied. Tog het die groter klem op die kunste (na aanleiding van die bekendstelling van die verpligte leerarea Kuns en Kultuur in die AOO-band) die belofte ingehou dat ’n vak soos Dramatiese Kunste meer geredelik en in ’n wyer verskeidenheid van skole aangebied sou word, as wat die geval in die verlede was61.

Elke Vakverklaring van die 29 vakke bestaan uit vier hoofstukke en ’n woordelys:

• Hoofstuk 1 is ’n generiese inleiding tot die Nasionale Kurrikulumverklaring Grade

10-12 (Algemeen).

• Hoofstuk 2 is ’n inleiding tot die betrokke vak. Hierdie inleiding sluit ’n definisie van

die vak, die doelstellings, omvang, opvoedkundige en loopbaan-moontlikheid, sowel as die leeruitkomste van die vak in.

• Hoofstuk 3 bevat die leeruitkomste en die gepaardgaande assesseringstandaarde,

sowel as die inhoud en konteks waarbinne die assesseringstandaarde verwerf moet word.

• Hoofstuk 4 fokus op assessering. Dit belig die beginsels van assessering en maak

voorstelle vir rekordhouding en verslaglewering ten opsigte van assessering. Dit lys ook vak-spesifieke bevoegdheid-aanwysers.

• ’n Woordelys word waar van toepassing ingesluit wat bestaan uit gekose algemene en

vak-spesifieke terme wat kortliks omskryf word (Departement van Onderwys, 2003a: 11).

Naas die onderskeie Vakverklarings is daar ook Leerprogramriglyne en Vak Assesseringsriglyne vir elk van die 29 vakke ontwikkel. Die Leerprogramriglyne se doel word as volg deur die Departement van Onderwys (2007a: 3-4) omskryf: “A Learning 61Sien onderskeidelik afdeling 4.1 vir ’n bespreking van Spraak en Drama as vak in die vorige onderwysbestel

en afdeling 4.2.4 vir ’n volledige bespreking van die aard en omvang van die huidige (2011) en hersiene (2012) Dramatiese Kunste kurrikulum.

Programme assists teachers to plan for sequenced learning, teaching and assessment in Grades 10 to 12 so that all Learning Outcomes in a subject are achieved in a progressive manner.”

Drie fases van beplanning word aanbeveel wat bestaan uit die ontwikkeling van onderskeidelik ’n vakraamwerk (fase 1), ’n werkskedule (Fase 2) en lesplanne (Fase 3). Die vakraamwerk bestaan uit onder andere ’n uiteensetting van die omvang van die vak (kennis, vaardighede en waardes), die inhoud, die verskillende kontekste of temas wat in die drie grade gedek moet word, ’n drie-jaar assesseringsplan vir die vak en ’n lys van die leerondersteuningsmateriaal (LOM) wat benodig gaan word. Daar is nie ’n spesifieke formaat waarvolgens hierdie vakraamwerk opgestel moet word nie, maar dit is belangrik dat al bogenoemde aspekte daarby ingesluit is (Departement van Onderwys, 2007a: 4). Die vakraamwerk strek dus oor die hele VOO-band.

’n Werkskedule is slegs van toepassing op ’n spesifieke graad en word gelei deur die omvang en beplanning wat in die vakraamwerk gedoen is. Die werkskedule is ’n deeglik voorbereide dokument wat die onderrig en assessering uiteensit wat gaan plaasvind in die 36-40 weke van die skooljaar. Dit is met ander woorde die “verdeling” van die inhoud en die vasstel van wanneer assessering waaroor gaan plaasvind. Die werkskedule word verder onderverdeel in lesplanne. Lesplanne is nie noodwendig gelykstaande aan periodes op die skoolrooster nie. ’n Lesplan behoort ’n samehangende reeks onderrig-, leer- en assesseringsaktiwiteite in te sluit. Lesplanne verskaf dus die detail van die werkskedule en dit sal byvoorbeeld onder andere ook die leerondersteuningsmateriaal (LOM’s) aandui (Departement van Onderwys, 2007a: 5).

Daar word ’n onderskeid getref tussen die Verdere Onderwys en Opleiding Sertifikaat (VOOS) wat vir VOO-kolleges behou word en die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) wat na afloop van die skooleindeksamen uitgereik word. Beide hierdie kwalifikasies is egter op NKR vlak 4 geregistreer en het derhalwe gelyke status (Hindle, 2005): “Leerders wat die NSS of VOOS behaal, kan voortbeweeg na die werksomgewing, hoër onderwys of ander vorme van onderwys en opleiding” (Schreuder, 2005). Aanvanklik sou daar slegs gebruik gemaak word van ’n Verdere Onderwys en Opleiding Sertifikaat alhoewel daar onderskei sou word tussen drie weë wat gevolg kon word om dit te behaal. Hierdie weë is bepaal na aanleiding van verskillende opsies ten opsigte van onderwys- en opleidingsinstansies, naamlik: (1) Algemeen (skole), (2) Algemeen Vakopleiding (vocational) (VOO-kolleges), en

(3) Handel, Beroepsgerig (occupational) en Professioneel (kolleges en die industrie) (Departement van Onderwys, 2003a: 2-3). Die dokument The National Senior Certificate: A Qualification on Level 4 of the National Qualifications Framework (NQF) het egter die aanvanklike dokumentasie vervang wat die Overview en die Qualifications and Assessement Policy Framework ingesluit het (Departement van Onderwys, 2007a: 3).

Die Vak Assesseringsriglyne verleen ondersteuning aan onderwysers ten opsigte van verskillende assesseringstipes, -metodes en -instrumente. Assessering moet op ’n deurlopende basis geskied wat bestaan uit daaglikse informele assessering, sowel as ’n formele Assesseringsprogram (Departement van Onderwys, 2007b: 2).

Die doel van die assessering (informeel en formeel) is om: leerders se kennis, vaardighede en waardes te ontwikkel; leerders se sterk- en swakpunte te assesseer; leerders van addisionele ondersteuning te voorsien; leerders te motiveer en aan te moedig (Departement van Onderwys, 2007b: 1). In Grade 10 en 11 is alle assessering in die NKV intern, maar in Graad 12 tel die formele Assesseringsprogram wat intern opgestel (maar ekstern gemodereer) word 25% van die finale punt. Die oorblywende 75% word ekstern opgestel, gemerk en gemodereer. Lewensoriëntering is egter die enigste vak wat in totaliteit intern geassesseer word (Departement van Onderwys, 2007b: 2). Dramatiese Kunste het beide ’n praktiese en teoretiese komponent wat ekstern geëksamineer word in Graad 12 – dit word egter nie hier in oënskou geneem nie, sien afdeling 4.2.2 vir ’n volledige bespreking.

Die NKV (Grade 10-12) is tot en met 2011 die aanvaarde en goedgekeurde nasionale kurrikulum in Suid-Afrikaanse skole. Vanaf 2012 word die geleidelike infasering van ’n (weereens) hersiene kurrikulum egter in die vooruitsig gestel. Hierdie bygewerkte en aangepaste kurrikulum sal verpak word in wat bekend staan as die Kurrikulum- en Assesseringsbeleidverklaring (KABV). Die onderstaande afdeling gee ’n kort oorsig na aanleiding van beperkte beskikbare bronne ten opsigte van die beweegredes agter die hersienings sowel as die omvang daarvan.

3.2.5 Kurrikulum- en Assesseringsbeleidverklaring (KABV)

In 2009 is ’n komitee deur die Ministerie van Onderwys saamgestel en opdrag gegee om die implementering van die Nasionale Kurrikulumverklaring62 te hersien. Angie Motshekga – die huidige minister van basiese onderwys (2011) – het op 6 Julie 2010 verslag gelewer oor van 62 Die Nasionale Kurrikulumverklaring verwys in hierdie instansie nie net na die VOO-band (Grade 10-12) nie,

maar na al die grade (Grade R-12) in beide die AOO-band en VOO-band. Die totale skoolkurrikulum is met ander woorde ter sprake.

die aanbevelings deur hierdie komitee en wat daaromtrent gedoen is. Die hersieningskomitee het onder andere bevestig dat onderwysers op kurrikulum en administratiewe gebied oorlaai word en korttermyn veranderinge is vanaf die begin van 2010 ingestel. Dit het die volgende ingesluit: ’n verminderding in die aantal projekte wat van leerders verwag word; leerderportefeuljes wat bewys lewer van assessering is afgeskaf; en die Gemeenskaplike Taakassesserings (GTA’s) wat van toepassing was op alle Graad 9 leerders is ook gestaak (Motshekga, 2010: 1). Ter inligting het me. Motshekga ook genoem dat die raad vir onderwysministers in ’n vergadering op 29 Junie 2010 saamgestem het dat alle leerareas en leerprogramme vanaf 2011 as vakke bekend sal staan.

Die KABV word vir elke vak ontwikkel om die huidige Vakverklarings, Leerprogramriglyne en Vak Assesseringsriglyne in Grade R tot 12 te vervang (Wes-Kaap Onderwysdepartement, 2010a), sodat elke vak in elke graad ’n enkele, omvattende en omlynde Kurrikulum- en Assesseringsbeleidverklaring kan hê. Die ontwerpkenmerke van die KABV sal die volgende insluit: die algemene doelstellings van die Suid-Afrikaanse kurrikulum; die spesifieke uitkomste van elke vak; duidelik gedefinieerde onderwerpe wat in elke kwartaal behandel moet word; sowel as die vereiste aantal en tipe assesseringsaktiwiteite wat in elke kwartaal moet plaasvind. Hierdie ontwerp van die KABV beoog dat uitkomste in meer toeganklike doelstellings geabsorbeer sal word en dat die inhoud en assesseringsvereistes van vakke duideliker uiteengesit sal wees. Temas/onderwerpe en assessering per kwartaal sal bepaal word na aanleiding van die tydtoedelings van elke vak (Motshekga, 2010: 2). Die basiese kurrikulum bly dus dieselfde, die inhoud en vaardighede in die KABV is soortgelyk aan die leeruitkomste en assesseringstandaarde van die NKV, maar is net herverpak en gestruktureer sodat dit meer toeganklik is (Wes-Kaap Onderwysdepartement, 2011a). Alhoewel die verwysing na leeruitkomste dus uit die hersiene kurrikulum verdwyn, kan die afleiding gemaak word dat die onderwysbenadering wat gevolg word, steeds ’n uitkomsgebaseerde benadering is (Lundie, 2011a). Dit is met ander woorde nie ’n totale transformasie en vernuwing van die onderwysstelsel, óf die bestaande kurrikulum nie, maar bloot ’n hersiening van die huidige kurrikulum – soos wat Kurrikulum 2005 hersien is en herverpak is in die HNKV.

Die Departement van Basiese Onderwys het die volgende strategie ten opsigte van die infasering van die KABV uiteengesit:

• 2012 – Infasering van KABV in Grade R tot 3 en Graad 10 • 2013 – Infasering van KABV in Grade 4 tot 9 en Graad 11

• 2014 – Infasering van KABV in Graad 12 (Wes-Kaap Onderwysdepartement, 2010a).

Die grootste verandering binne die grondslagfase is die wegdoen met leeprogramme en die byvoeging van ’n Eerste Addisionele Taal. In totaal is daar dus vier vakke in die grondslagfase: Huistaal, Eerste Addisionele Taal, Wiskunde en Lewensvaardigheid. Lewensvaardigheid word egter onderverdeel in ’n aantal studievelde, naamlik: Aanvangskennis, Persoonlike en Sosiale Welstand, Liggaamlike Opvoeding en Skeppende Kunste. Die studieveld Skeppende Kunste kan op sy beurt verdeel word in twee bane: Visuele Kunste en Uitvoerende Kunste. Drama as kunsvorm maak deel uit van die Uitvoerende Kunste-baan saam met dans en musiek (Wes-Kaap Onderwysdepartement, 2011a).

Die hersieningskomitee het ook voorgestel dat die aantal vakke (voorheen leerareas) in die intermediêre fase van 8 na 6 verminder moet word. Dit gevolg hiervan is dat Tegnologie en Natuurwetenskappe gekombineer word, en dat Kuns en Kultuur ingesluit word by Lewensvaardigheid. Ekonomiese en Bestuurwetenskappe is uitgehaal uit die intermediêre fase en word eers in die senior fase aangebied (Motshekga, 2010: 2). Die manier waarop Kuns en Kultuur – en by implikasie drama-opleiding soos dit tans in skole voorkom – by Lewensvaardigheid ingesluit word, stem ooreen met die onderverdeling van Lewensvaardigheid soos dit in die grondslagfase aangetref word. Skeppende Kunste is ’n studieveld binne Lewensvaardigheid, wat onderverdeel in twee bane, waarvan die Uitvoerende Kunste-baan drama-opleiding insluit (Wes-Kaap Onderwysdepartement, 2011a). In die senior fase word Skeppende Kunste ’n vak in eie reg, bestaande uit vier kunsvorme, naamlik dans, drama, musiek en visuele kunste. Daar is dus duideliker ooreenkomste met die huidige Kuns en Kultuur leerarea in die senior fase. Alhoewel leerders in die KABV van Skeppende Kunste ’n keuse tussen twee van die vier kunsvorme uitoefen, en dus nie meer in die senior fase aan al vier kunsvorme blootgestel word nie. Die vakkeuses in die VOO-band bly dieselfde soos wat dit tans daar uitsien, Dramatiese Kunste is dus steeds ’n keusevak binne die hersiene nasionale kurrikulum.

Watter implikasies die insluiting van Kuns en Kultuur (in die vorm van Skeppende Kunste) by Lewensvaardigheid op die lange duur gaan hê ten opsigte van drama-opleiding op skoolvlak, kan nie in hierdie vroeë stadium bepaal word nie. Die voorgestelde aangepaste

Lewensvaardigheid KABV van beide die grondslag- en intermediêre fase word wel in afdelings 4.2.1 en 4.2.2 in oënskou geneem in ’n poging om te bepaal tot hoe ’n mate die dramakomponent aangepas en/of ingekort is. Op soortgelyke wyse kom die voorgestelde Skeppende Kunste KABV vir die senior fase, sowel as die Dramatiese Kunste KABV in die VOO-band in onderskeidelik afdelings 4.2.3 en 4.2.4 onder bespreking. Die voorgestelde veranderinge ten opsigte van vakke in die onderskeie fases van die AOO-band word in Figuur 3 uiteengesit.

Leerareas / Leerprogramme

2011 implementering 2012-2014 Voorgestelde vakke vir

GRONDSLAGFASE (Grade R-3)

Syfergeletterdheid Geletterdheid Lewensvaardighede

(Alle leerareas word binne hierdie drie leerprogramme ingesluit)

Huistaal

Eerste Addisionele Taal Wiskunde Lewensvaardighede 2 Aanvangskennis 2 Persoonlike en sosiale welstand 2 Liggaamsopvoeding 2 Kreatiewe Kunste INTERMEDIÊRE FASE (GRADE 4-6) Tale Wiskunde Natuurwetenskappe Lewensoriëntering Sosiale Wetenskappe Tegnologie Kuns en Kultuur Ekonomiese en Bestuurswetenskappe Huistaal

Eerste Addisionele Taal Wiskunde Lewensvaardighede 2 Kreatiewe Kunste 2 Liggaamsopvoeding 2 Persoonlike en sosiale welstand Natuurwetenskappe en Tegnologie Sosiale Wetenskappe SENIOR FASE (Grade 7-9) Tale Wiskunde Natuurwetenskappe Lewensoriëntering Sosiale Wetenskappe Tegnologie Kuns en Kultuur Ekonomiese en Bestuurswetenskappe Tale Wiskunde Natuurwetenskappe Lewensoriëntering Sosiale Wetenskappe Tegnologie Kreatiewe Kunste Ekonomiese en Bestuurswetenskappe

Figuur 3: Voorgestelde veranderinge ten opsigte van vakke aangebied (KABV) (Wes- Kaap Onderwysdepartement, 2010b; 2011a)

Ten opsigte van assessering sal ’n hersiene verhouding tussen skoolgebaseerde assessering (SBA) en die eindjaareksamenpunte vanaf 2012 toegepas word. Hierdie verhouding sien soos volg daaruit: