• No results found

HOOFSTUK 4: ’N KRITIESE EVALUERING VAN DIE ONDERSKEIE DRAMAKURRIKULA IN DIE NASIONALE KURRIKULUMVERKLARING

4.1 Drama in die kurrikulum voor UGO

Die rol van drama in skole is vir baie lank beperk tot aktiwiteite soos die skooltoneelstuk (of die “skoolkonsert”) en spraakopleiding – waar laasgenoemde verwys na die reghelp van leerders met afwykende uitsprake en/of aksente sowel as swak taalgebruik (Pretorius, 1978: 109; Dalrymple, 1987; Dalrymple, 1990: 18). “Drama” was dus ’n buitemuurse of ekstra- kurrikulêre aktiwiteit wat bygedra het tot die volrondheid van leerders: “The school play was, well established as an extramural activity in schools, in Britain and in South Africa, concerned with providing a well-rounded education for their pupils” (Dalrymple, 1987). Die buitemuurse aktiwiteite is mettertyd uitgebrei om redenaars- en debatverenigings, opleiding vir eisteddfods en/of kunswedstryde en selfs dramavereningings met die oog op toneelwedstryde in te sluit.

Daar is egter min bewys wat gelewer kan word ten opsigte van formele drama-opleiding (met verwysing na drama/teater as kunsvorm) in die Suid-Afrikaanse skoolkurrikulum voor die 1970’s63. Alhoewel daar in 1971 in ’n ondersoek onder leiding van die RGN, genaamd Koördinasie op nasionale grondslag van leerplanne, kursusse en eksamenstandaarde en navorsing, ondersoek en beplanning op die gebied van die onderwys, onder andere aanbevelings gemaak is ten opsigte van die insluit van ’n verpligte nie-eksamenvak genaamd “Estetiese Opvoeding” in beide die primêre en junior sekondêre skoolperiode, is slegs kuns, musiek, sang en handwerk by die omskrywing van Estetiese Opvoeding ingesluit (Haasbroek & Venter, 1971: 6-7,11-12). Volgens Pretorius (1978: 3) het die konsep van estetiese 63 Opvoedkundige drama was wel voor die 1970’s in sekere tersiêre onderwysinstellings teenwoordig: “Between

1940 and 1970, English-speaking tertiary educators who introduced Educational Drama in South Africa through the univeristies and colleges of education, had either initially been trained in the UK or went there for refresher courses” (Morris, 2002: 135). Opvoedkundige drama is egter onder andere gemoeid met drama as onderrigmetode en nie drama as akademiese dissipline nie.

opvoeding ontwikkel as gevolg van ’n “klaarblyklike leemte in die opvoedkundige proses, nl. die miskenning van die belang van die kunste en hul potensiaal in die normale opvoeding van die kind”. Die doel van estetiese opvoeding sou wees om die “totale groei van die kind” te bevorder deurdat die “estetiese ten minste gelyke status [...] met die intellektuele” moes hê (Pretorius, 1978: 4).

In teenstelling met die RGN-verslag (soos reeds na verwys) sluit Pretorius in sy bespreking van die waarde van estetiese opvoeding64 drama as komponent in. Hy gaan voorts van die standpunt uit dat die “neiging om die kunste as ’n eenheid te sien” ’n goeie grondslag vorm vir die toepassing van estetiese opvoeding. Die onderlinge verband tussen die onderskeie kunsvorme word dus beklemtoon: “Die skilderkuns, dans, musiek en die argitektuur dra almal by tot die volledigheid van ‘drama’; in al die kunste is daar beweging, kleur, ritme en ontwerp” (Pretorius, 1978: 5). Teen die agtergrond van hierdie destydse voorgestelde vak, Estetiese Opvoeding, is die bekendstelling van die leerarea Kuns en Kultuur (soos in afdeling 4.2 bespreek) in die Suid-Afrikaanse UGO kurrikulum dus minder van ’n verrassing, aangesien die leerarea vier verskillende kunstevorms, alhoewel afsonderlik tog ook op geïntegreerde wyse aanbied, naamlik drama, musiek, dans en visuele kunste. Estetiese Opvoeding is egter nooit as verpligte vak (hetsy eksamen- of nie-eksamenvak) in skole infaseer nie.

In die RGN-verslag word ook aanbevelings gemaak ten opsigte van moontlike gedifferensieerde studierigtings in die senior sekondêre skoolperiode, met ander woorde Grade 10 tot 12 (die destydse Standerds 8, 9 en 10). ’n Kunsstudierigting word as een van die opsies voorgehou, maar die enigste vakke wat egter binne hierdie studierigting voorgestel word, is musiek, ballet en kuns (Haasbroek & Venter, 1971: 13-15). Drama as skoolvak was dus nie in daardie stadium ’n akademiese oorweging nie.

Pretorius (1978: 148) verwys na die “ondernemingsgees” van die destydse Kaaplandse Onderwysdepartement toe dié in 1972 “Spraak-en-Drama”-betrekkings aan ses laerskole geskep het, naamlik Jan van Riebeeck, Zwaanswyk, Goodwood, Rustenburg, Boston en Vishoek. Die aanvanklike beleid van die Kaaplandse Onderwysdepartement word as ’n bylae deur Pretorius (1978: 183–185) aangebied en die rol van hierdie Spraak en Drama onderwysers was onder andere die volgende:

64 Sien Pretorius (1978) pp. 3-14: “Hoofstuk Een: Estetiese opvoeding, kreatiwiteit, die kreatiewe verbeelding

Die werk moet ten volle geïntegreer word in die skoolplan. Die spraakonderwyseres is nie ’n aanhangsel nie, maar die werk moet aansluiting vind by al die skoolvakke en met taalonderrig geïntegreer wees. Trouens, die spraakonderwyseres moet ’n studie maak van die verskillende klasse se werkskemas en haar werk daarvolgens en in oorleg met die klasonderwysers beplan. Dit moet dien as vaslegging van gedane werk, stimulering van nuwe werk en verryking van die kind se geesteslewe.

Uit bogenoemde word dit dus duidelik dat hierdie drama-betrekkings geskep is om as ondersteuning vir bestaande vakgebiede te dien – spesifiek taalonderrig. Die “verryking van die gesproke woord en die kind se taalagtergrond” moes as die “vernaamste uitgangspunt” van die werk van die drama-onderwysers gesien word (Pretorius, 1978: 183). Die betrekkings was met ander woorde gerig op Drama-in-die-onderwys aktiwiteite, eerder as die onderrig van drama as akademiese dissipline. Drama-in-die-onderwys word as volg deur Pretorius (1978: 89) omskryf:

Drama-in-die-onderwys is nie ’n vak nie, want dan moet bepaalde leerstof binne ’n bepaalde tyd aangebied en geassimileer word – en ’n bepaalde standaard moet daarin bereik word. Dit is ook nie ’n kunsvorm nie, want dan moet sekere vaardighede en tegnieke aangeleer word wat lei tot produkte waaraan kwalitatiewe standaarde gestel word. Dit is ’n proses, ’n fasiliteit wat aan leerlinge beskikbaar gestel word, sodat hulle deur die beoefening daarvan kan ontwikkel tot mense wat sintuiglik ontvanklik is, gevoelig is vir ander mense en verbeeldingryk en skeppend kan werk.

Op soortgelyke wyse is drama-onderwysers ook in hoërskole65 aangestel, alhoewel die drama-onderwyser gewoonlik ook of Afrikaans of Engels gegee het en die Drama-in-die- onderwys aktiwiteite beperk is tot die les-ure wat vir mondelingse werk in Afrikaans en Engels gebruik moes word. Die drama-onderwysers is dus onder die Taaldepartemente by skole sorteer. As gevolg van ’n hele aantal redes – wat deel uitmaak van Pretorius (1978: 147-153) se bespreking “Drama-in-die-onderwys as ’n fasiliteit vir alle leerlinge” en nie hier bespreek gaan word nie – het die vak en/of idee van Drama-in-die-onderwys in die meeste skole (beide laer- en hoërskole) nie geslaag nie.

65 Alhoewel nie eksplisiet so uitgespel in Pretorius (1978) se ondersoek nie, maak ek die afleiding dat hy na die

stand van sake in die destydse Kaapprovinsie verwys en nie noodwendig na hoërskole in die hele Suid-Afrika nie en dan ook na uitsluitlik wit skole in Kaapland. Alhoewel daar ook nie ’n spesifieke tydsaanduiding ten opsigte van die verwikkelinge in hoërskole verskaf word nie, maak ek weereens die afleiding dat dit (na aanleiding van die gebeure in die laerskole en die datum waarteen die ondersoek voltooi is) heelwaarskynlik vanaf die middel of die laat sewentigs was.

Bogenoemde verwys egter slegs na pogings om ’n bepaalde vorm van drama-onderrig (naamlik Drama-in-die-onderwys) in skole gevestig te kry en die vraag ontstaan hoe en wanneer drama as ’n volwaardige akademiese dissipline – ’n erkende matriekvak – in skole bekendgestel is?

Die stryd om Spraak en Drama as eksamenvak erken te kry, het reeds in 1971 begin toe daar ’n volledig uitgewerkte sillabus aan die Onderwysowerhede voorgelê is. Ek gebruik met opset die woord stryd en spesifiek na aanleiding van Lynn Dalrymple (1987) se uitlating in haar doktorale verhandeling “Explorations in drama, theatre and education: a critique of Theatre Studies in South Africa”:

Speech and Drama is not a well established school subject in this country and its proponents fought a long and difficult battle to get the subject accepted by the Department of Education and Culture as a subject suitable for matriculation on higher grade. (My beklemtoning.)

Volgens Pretorius (1978: 153) was hierdie eerste poging in 1971 egter “té ambisieus” en dit is nie aanvaar nie. Terugvoering van die owerhede het die volgende ingesluit:

[D]ie sillabus was oorlaai; toneeltegniek is oorbeklemtoon “ten koste van die veel praktieser spraak, voordrag, voorlees en openbare optrede”, die sillabusse vir Afrikaans en Engels is nie in aanmerking geneem nie – daar is dus “enersyds oorvleueling en andersyds gebrek aan korrelasie”; die teorie beklemtoon sake wat volgens die betrokke Onderwysdepartement nie “op ’n skool [sic] tuis hoort nie” (Pretorius, 1978: 153).

In 1974 het die Gemeenskaplike Matrikulasieraad (GMR) besluit dat Spraak en Drama wel as matriekvak op standaardgraad ingestel kan word en gevolglik is die Komitee van Onderwyshoofde (KOH) versoek om ’n leerplankomitee vir Spraak en Drama saam te stel sodat ’n leerplan ontwikkel kan word. Die KOH het egter op die ou einde slegs ’n ad hoc- komitee saamgestel, bestaande uit verteenwoordigers van die destydse Transvaalse, Natalse en Kaaplandse Onderwysdepartemente. Hierdie komitee het vroeg in 1975 ontmoet om ’n “stuk ter oorweging” vir die KOH op te stel “oor die wenslikheid om ’n vak soos Spraak en Drama as skoolvak in te voer, wát so ’n vak kan behels en wat sy benaming behoort te wees” (Pretorius, 1978: 153-154). Nadat ’n positiewe aanbeveling deur die ad hoc-komitee gemaak is, is ’n leerplankomitee uiteindelik vir Spraak en Drama (die benaming vir die vak is behou)

saamgestel en in 1976 het die GMR die standaardgraad-sillabus goedgekeur66 met die verstandhouding dat die eerste eksamen in Spraak en Drama in November/Desember van 1979 afgeneem sou word (Pretorius, 1978: 154). Ten tye van die voltooiing van Pretorius se ondersoek in 1978, meld hy dat geen Provinsiale Onderwysdepartement in daardie stadium besluit het om Spraak en Drama as matriekvak in te stel nie (Pretorius, 1978: 155). Dalrymple (1990: 17) meld egter dat die Onderwysdepartement van Natal wel Spraak en Drama standaardgraad in 1978 in skole bekendgestel het.

Die bekendstelling van die matriekvak Spraak en Drama het op oneweredige wyse in die onderskeie provinsiale onderwysdepartemente geskied – in die lig van die gefragmenteerde onderwysstelsel van die apartheidsregime is dit egter nie verrassend nie. In ’n hersiene uitgawe van die verslag University Drama and Theatre Studies, South Africa 1990 in opdrag van ADDSA67 gee Dalrymple (1990: 14-21) ’n bondige uiteensetting van die stand van

drama-opleiding in Suid-Afrikaanse skole tot en met 1990. Ek gaan vervolgens ’n kort opsomming van Dalrymple (1990: 17-19) se bespreking gee – spesifiek met verwysing na die matriekvak, Spraak en Drama. Na aanleiding van die gefragmenteerde onderwysstelsel wat meegebring het dat provinsies outonoom van mekaar opgetree het, doen ek my opsomming (in ooreenstemming met Dalrymple se uiteensetting) volgens die vier provinsies van die apartheidsregime, naamlik: Transvaal, Natal, Oranje-Vrystaat en Kaapland.

In die Transvaal is Spraak en Drama in 1986 as hoërgraad matriekvak aanvaar en in die destydse Standerd 8 ingestel, met dien verstande dat dit slegs as sewende vak geneem kan word. Die enigste uitsonderings ten opsigte van laasgenoemde was wanneer Spraak en Drama as ’n vak in een van die drie spesiale skole vir kuns, ballet, musiek en drama geneem word, want dan was dit “indicative of an career in the entertainment industry” (Dalrymple, 1990: 17). Teen 1990 was daar ook omtrent tien nie-rassige onafhanklike skole in die groter 66 Sien Pretorius (1978: 240) Bylae I vir ’n afskrif van die omsendbrief wat aan die lede van die leerplankomitee

gestuur is in verband met hierdie aangeleentheid.

67 ADDSA staan vir Association of Drama Departments South Africa en lidmaatskap was beskikbaar vir

voltydse en deeltydse personeellede, sowel as verkose studenteverteenwoordigers van dramadepartemente in hoër onderwys en opleiding-instansies in Suid-Afrika (Dalrymple, 1990: 20). ADDSA is in 1984 gestig by ’n navorsingskongres op Stellenbosch wat deur Herman Pretorius (die destydse voorsitter van die dramadepartement van die Universiteit van Stellenbosch) gereël is. Die behoefte aan die stigting van so ’n organisasie is reeds vroeër in dieselfde jaar tydens ’n kongres by die Universiteit van Durban-Westville (29 Junie tot 3 Julie) uitgespreek (Hauptfleisch, 2011; Terblanche, 2011). Vanaf 1987 is nuusbriewe deur die organisasie uitgestuur, maar in die nuusbrief van Maart 1994 (nr. 24) word daar gemeld dat die nuusbriewe nie meer befonds kan word nie (Terblanche, 2011). Daar is wel verwysing na ’n nuusbrief nr. 27, November 1994 (sien Dalrymple, 1995: 64), maar daarna kom dit voor asof die organisasie doodgeloop het. Vanaf 2009/2010 was daar pogings om weer ’n soortgelyke organisasie/vereninging op die been te bring, maar tot op hede was daar nie werklik waarneembare resultate in hierdie verband nie.

Johannesburg-gebied wat Spraak en Drama in hul kurrikula ingesluit het. Hierdie skole het die Natal Senior Sertifikaat deur die GMR afgelê.

Die Natal Onderwysdepartement het dit op beide hoër- en standaardgraad as ’n eksamenvak vir die Natal Senior Sertifikaat aanvaar en dit is ook in Indiërskole aanvaar. Spraak en Drama standaardgraad is reeds in 1978 aanvaar, maar Hoërgraad is eers in 1986 ingestel – soos wat die geval in Transvaal was. Teen 1990 was daar 26 wit skole, 16 privaatskole en 49 Indiërskole wat Spraak en Drama aangebied het.

In die Vrystaat was daar teen 1990 slegs twee skole wat Spraak en Drama as matriekvak aangebied het, een Afrikaans-medium skool en een Engels-medium skool.

In die Kaapprovinsie was Spraak en Drama egter teen 1990 nog nie erken as ’n matriekvak nie. Ses privaatskole het wel die vak aangebied, maar het, soos in die geval van die onafhanklike skole in die Transvaal, die Natal Senior Sertifikaat afgelê. Dalrymple (1990: 17) meld wel dat drama ’n verpligte module vir alle laerskoolonderwysers in wit en bruin onderwyskolleges was en dat dit gevestig was as ’n opsie in laerskole. In die lig van die bespreking van Pretorius (1978) se ondersoek na Drama-in-die-onderwys was dit op laerskoolvlak egter eerder gemik op drama as onderrigmetode en nie noodwendig op drama as onafhanklike kunsvorm nie.

In vergelyking met die ander provinsies was Natal baie verder gevorder ten opsigte van die vestiging van Spraak en Drama as geredelik beskikbare skoolvak. Dalrymple (1990: 17) sê die volgende in dié verband:

Both the Natal Education Department and the Department of Education and Culture of the House of Delegates have an in-depth understanding of the potential of drama as a general formative course, and they have appointed subject advisors for Speech and Drama.

Nodeloos om te sê was Natal die enigste provinsie waar hierdie inisiatief van stapel gestuur is. Spraak en Drama is boonop nie as ’n matriekvak in swart skole in enige van die provinsies bekendgestel nie: “The Department of Education and Training (DET) does not include drama in the school syllabus at any level and nor do the Departments of Education and Culture of the various ‘homelands’” (Dalrymple, 1990: 19). Daar was wel ’n aantal Kulturele Sentrums teen 1990 wat onafhanklik van staatsbefondsing was, en wat óf op drama gefokus het, óf ten minste drama in hul kurrikula ingesluit het:

Notable in the Johannesburg area are the Soyikwa Institute of African Theatre in the Funda Centre, the Federal Union of Black Artists (FUBA), the Afrika [sic] and Alexander Cultural Centres, Kopano, and the Theatre Laboratory. In Cape Town the New Afrika [sic] Theatre Project, the Action Workshop, the Young People’s Theatre Trust, the Community Arts Project (CAP) and Jazzart are among the better known organisations that offer drama, dance and theatre courses for the local community (Dalrymple, 1990: 19).

Volgens Dalrymple (1987) was daar baie ooreenkomste tussen die Spraak en Drama sillabus op skoolvlak en die sillabus wat op universiteitsvlak aangebied is. Die sillabus68 is in twee oorhoofse afdelings verdeel, naamlik teorie en prakties. Op hul beurt is die twee oorhoofse afdelings onderverdeel in die volgende: die teoriekomponent het bestaan uit beginsels van die drama (insluitend teatergeskiedenis en teksstudie) en beginsels van spraak (insluitend stemproduksie, uitspraak en tegniese vereistes vir vertolking); die praktiese komponent het bestaan uit skeppende vertolking (insluitend poësie, prosa, bladlees en redevoering), beweging en drama-oefeninge (insluitend improvisasie, opvoering van tonele uit dramas, temaprogramme) (Pretorius, 1978: 241-249; Dalrymple, 1987).

Te danke aan wat Carklin (1997: 206) beskryf as “lobbying of arts educators” het die belangrikheid van drama en teater as ’n skoolvak uiteindelik inslag gevind in die skoolkurrikulum op nasionale vlak na die eerste demokratiese verkiesing in 1994. Vir die eerste keer het ’n nasionale beleidsdokument die waarde van onderrig in die kunste (insluitend drama en/of teater) erken:

Education in the arts, and the oppurtunity to learn, participate and excel in dance, music, theatre, art and crafts must become increasingly available to all communities on an equitable basis, drawing on and sharing the rich traditions of our varied cultural heritage and comtemporary practice (Republiek van Suid-Afrika, 1995: hfst. 4, par. 15).

Ten opsigte van onderwys in laerskole en die eerste twee jaar van hoërskoolonderwys (met ander woorde die hedendaagse Gr. R tot 9, of te wel die algemene onderwys en opleidingsband) het die bekendstelling van die leerarea Kuns en Kultuur as deel van Kurrikulum 2005 drama-opleiding vir die eerste keer aan alle Suid-Afrikaanse leerders bekendgestel. Aangesien die infasering van K2005 oor ’n hele klompie jare versprei is (en

68 Sien Pretorius (1978: 241-249) Bylae I vir ’n volledige voorbeeld van die eerste Spraak en Drama

boonop in die tussentyd hersien is) ontstaan die vraag wat met die hoërskoolvak, Spraak en Drama, gebeur het voordat die NKV in Grade 10 tot 12 bekendgestel is69?

Volgens Carklin (1997: 207) is ’n hersiene oorgangsillabus vir Spraak en Drama deur die Nasionale Onderwys en Opleidingsforum (National Education and Training Forum – NETF) se Drama-subkomitee opgestel gedurende die tweede helfte van 1994. Die werk van dié komitee is deur drie beginsels gerig. Die eerste beginsel was gebaseer op die idee dat “our ways of seeing or experiencing and expressing our local South African world are generally more immediate, whereas our experience of the rest of the world tends to be mediated to a greater degree” (Carklin, 1997: 207). Dit het inslag in die sillabus gevind deurdat daar ’n groter klem gelê is op Suid-Afrikaanse toneelstukke en dat teatergeskiedenis vanuit die oogpunt van ’n Afrika-konteks behandel moes word. Nadat Suid-Afrikaanse teater en dramaturge en performance vorme eie aan die Suid-Afrikaanse konteks behandel is, is die sillabus uitgebrei om die res van Afrika, Europa en Asië in te sluit. Die oorwegend Westerse (of Eurosentriese) fokus binne die aanvanklike Spraak en Drama kurrikulum is dus aangepas. Die tweede beginsel het te make gehad met onderrigmetodologie waarin die fokus verskuif het vanaf onderwysgerigte pedagogieë na leerdergerigte pedagogieë70 en die derde beginsel

wat in ag geneem is tydens die opstel van ’n oorgangsillabus was dat drama beide as die bemeestering van ’n spesifieke “body of knowledge” beklemtoon moes word, sowel as ’n manier waarop geleer kan word (Carklin, 1997: 207-208).

Spraak en Drama was teen 1997 nog in geen van die histories swart skole aangebied nie en in bitter min van die staatskole buite die grense van KwaZulu-Natal (Carklin, 1997: 208). Vanaf die draai van die eeu het hierdie prentjie egter stelselmatig begin verander en Spraak en Drama as vak het veral in histories wit skole toegeneem. Morris (2002: 122) gaan egter van die volgende standpunt uit:

Today Arts and Culture is established as one of the eight basic learning areas in the national curriculum, but the struggle for the recognition of Drama and Theatre – indeed all the arts – as a school subject has only just begun.

69 Sien afdelings 3.2.2, 3.2.3 en 3.2.4 vir volledige besprekings van onderskeidelik Kurrikulum 2005, die

Hersiene Nasionale Kurrikulumverklaring (Grade R-9) en die Nasionale Kurrikulumverklaring (Grade 10-12).

70 Ten tye van die opstel van die oorgangsillabus (1994) was UGO as benadering tot onderwys in Suid-Afrika

nog nie amptelik bekendgestel nie, maar binne die konteks van die onderwyshervorming wat in alle erns in 1994 begin het, is die fokusverskuiwing ten opsigte van metodologie nie verbasend nie. Sien ook afdeling 3.1. vir ’n volledige bespreking van UGO in Suid-Afrika.

Voor die amptelike bekendstelling van Dramatiese Kunste (wat Spraak en Drama in die UGO-kurrikulum vervang het) as een van die vakke van die Nasionale Kurrikulumverklaring (Grade 10-12) in 2006, het die onderskeie provinsies steeds relatief onafhanklik van mekaar