• No results found

Hoofstuk 3 Grammatikalisering van perifrastiese progressiewe

3.3. Perifrastiese progressiewe konstruksies in Afrikaans

3.3.2. Leksikale oorsprong van progressiewe konstruksies

3.3.2.3. Leksikale oorsprong van bezig en besig

Besig se leksikale betekenis impliseer dat ʼn subjek betrokke is by ʼn proses of situasie. Besig dien as ʼn adjektief by die kopula is of wees om ʼn bepaalde kwaliteit van die

subjek aan te toon, byvoorbeeld sinne (227) en (228). Die woord besig het egter in sy leksikale gebruik ʼn implisiete progressiewe of voortdurende betekenis.

(227) Afr: Ek is te besig om jou te help vandag. (228) Afr: Die dorp is baie besig.

Die ontwikkeling van die leksikale konstruksie besig tot ʼn grammatikale konstruksie wat progressiewe aspek uitdruk, kan verklaar word aan die hand van die beginsel van leksikale gemotiveerdheid (sien ook 3.3.2, voorbeelde (212)) – besig se leksikale gebruik hou betekenis in wat op sigself 'n mate van progressiewe betekenis uitdruk. In beide Afrikaans en Nederlands kan 'n perifrastiese konstruksie met besig/bezig gebruik word om progressiewe betekenis uit te druk. Geleyn (2010:1) gee die volgende voorbeelde ter illustrasie:

(229) Afr: Sowat elf brandweerwaens was tot in die vroeë oggendure nog besig om die brand te blus.

Ndl: Ongeveer elf brandweerwagens waren tot in de vroege uurtjes bezig

om de brand te blussen. (Geleyn, 2010:1)

Daar is egter enkele voorbeelde wat aandui dat die Afrikaanse en Nederlandse konstruksies nie gewoon vertaalbaar is nie en dat daar merkbare verskille tussen die twee tale se ewekniekonstruksie bestaan (Geleyn, 2010:1):

(230) Afr: Groot chaos is besig om onder sy neus te ontwikkel.

Ndl: ?Een grote chaos is bezig om zich voor zijn neus te ontwikkelen.

(Geleyn, 2010:1)

(231) Afr: Haar nuutste album is besig om goed te verkoop. Ndl: ?Haar nieuwste album is bezig om goed te verkopen.

(Geleyn, 2010:1)

Die Nederlandse vertaling van die bogenoemde sinne klink vir 'n Nederlandstalige ongewoon, terwyl die Afrikaanse konstruksie as heeltemal aanvaarbaar beskou word. In 2.4.2 is aangetoon dat perifrastiese konstruksies ontwikkel vanuit leksikale items. Daar is dus 'n stadium in die ontwikkeling van 'n grammatikale konstruksie waar daar 'n oorgang is van 'n konstruksie met leksikale betekenis na 'n perifrastiese konstruksie wat 'n grammatikale funksie verrig. Die perifrastiese konstruksie begin afstand doen van sy leksikale betekenis en kan daarom gebruik word in kontekste waarin die leksikale gebruik van besig nie voorkom nie. Wanneer 'n woord met 'n sterk leksikale gemotiveerdheid dus as progressiewe konstruksie geklassifiseer word, behoort eerstens bepaal te word hoe sterk die "perifrastiese aard" van die konstruksie is, oftewel hoeveel afstand gedoen is van die oorspronklike leksikale betekenis. Aangesien die verskillende items in 'n perifrastiese konstruksie toenemend meer afhanklik raak van mekaar, word 'n perifrastiese konstruksie ook gekenmerk deur gebonde (hoewel nie morfologies gebonde nie) konstruksie-eenhede (units of clusters). Hoe meer gegrammatikaliseer 'n perifrastiese konstruksie is, hoe vaster sal die struktuur van die konstruksie derhalwe wees.

Die Nederlandse bezig-progressief is nie 'n frekwente konstruksie nie en word meestal nie by die literatuur oor die Nederlandse progressief ingesluit nie. Mortier (2008:9) bevraagteken selfs die grammatikale aard van die Nederlandse bezig- progressief. Die rede hiervoor kan hoofsaaklik toegeskryf word aan die feit dat dié konstruksie sintakties heelwat variasie toon, en dus nog 'n onvaste struktuur het.

The construction bezig zijn met is compatible with the infinitive as well as with nouns (for example ik ben besig met de was). It is, however, doubtful that this construction, as well as its variants with met + infinitive and te + infinitive, is really periphrastic by nature. We therefore chose not to treat them under the heading of verbal periphrases. (Mortier, 2008:9.)

Die Afrikaanse besig-progressief is egter (soos in 3.4.1.1 aangedui sal word) die mees frekwente Afrikaanse progressiewe perifrase. Die verskil tussen die frekwensie van die ewekniekonstruksies in die twee tale, is ʼn eerste aanduiding daarvan dat hierdie konstruksies verskillend in die twee tale gebruik word.

Volgens Geleyn (2010:4) bestaan die Nederlandse bezig-progressief uit die konstruksies bezig zijn om + TE-infinitief. Om 'n vergelyking tussen die Nederlandse

bezig-progressief en die Afrikaanse besig-progressief te tref, is egter moeilik,

aangesien die Nederlandse konstruksie op verskeie maniere gebruik kan word. Vergelyk byvoorbeeld die volgende Nederlandse sinne:

(232) Ndl: a. Ben jij bezig de krant te lezen?24 Afr: b. *Is jy besig die koerant te lees? (233) Ndl: a. We waren net bezig met eten.

Afr: b. *Ons was pas besig met eet. Afr: c. *Ons was pas besig met die eet. Afr: d. Ek is besig met die kos

Afr: e. Ek is besig met die maak van kos.

(234) Ndl: a. Ik ben bezig om mijn stukjes verder uit te werken. 25 Afr: b. Ek is besig om my stuk verder uit te werk.

Die drie Nederlandse konstruksies is almal grammatikaal, en het almal progressiewe betekenis, maar toon sintaktiese variasie. Die progressiewe konstruksie in (232)a het geen voorsetsel om nie, en (233)a is 'n konstruksie wat met die voorsetsel met vorm. Die laaste Nederlandse konstruksie, (234)a, vorm met die voorsetsel om en die partikel te.

Die toelaatbare Afrikaanse besig-progressiewe konstruksies, verskil egter van dié van die Nederlandse strukture. In (232)b word die voorsetsel om weggelaat, en dit veroorsaak dat hierdie sin ongrammatikaal is. Beide die voorsetsel om en die partikel

te is verpligtend in die Afrikaanse besig- progressiewe konstruksie (sien (234)b).

24Voorbeeldsinne (232) en (233): E-ANS, 18·5·5·2 (http://www.let.ru.nl/ans/e-ans/18/05/04/02/body.html) 25Voorbeeldsin (234): http://nl.wikipedia.org/wiki/Gebruiker:B222

Die Afrikaanse voorbeeldsinne in (233), dui daarop dat daar duidelike beperkings is ten opsigte van die gebruik van die besig met-konstruksie. Anders as in Nederlands, is dit ongrammatikaal om besig met te laat volg deur ʼn werkwoord (sien (233)b). Hoewel dit grammatikaal is om besig met te laat volg deur ʼn naamwoordstuk, is hiérdie tipe konstruksies nie progressiewe perifrastiese konstruksies nie, maar eerder konstruksies waarin besig in sy oorspronklike leksikale betekenis gebruik word. In 'n perifrastiese progressiewe konstruksie is die fokus op die handeling wat deur die infinitiewe werkwoord aangedui word, soos 'om iets uit te werk' in (233), en dus nie op die subjek se 'besig wees' nie.

In (233)e word ʼn tweede toelaatbare progressiewe perifrastiese konstruksie wat met

besig vorm aangetoon, naamlik die konstruksie besig met die V van NOBJ. In hierdie

konstruksie word besig met gevolg deur ʼn genominaliseerde werkwoord, met die voorwaarde dat dit ʼn situasie sal wees waarin ʼn objek ter sprake is. Die gebruik van hierdie konstruksie is dus beperk tot teliese situasies, en is ook ʼn baie skaars konstruksie. Die konstruksie besig met die V van NOBJ word slegs 20 keer in die TK-

korpus gevind. Daar is verder nie duidelike semantiese verskille tussen die betekenis van die besig om NOBJ te V-konstruksie en die besig met die V van NOBJ-konstruksie nie

(vergelyk (235) en (236)). Myns insiens word laasgenoemde gebruik as ʼn strategie om ʼn situasie te topikaliseer (topicalise).

(235) Afr: Ek is besig om kos te maak. (236) Afr: Ek is besig met die maak van kos.

Samevattend kan gestel word dat hierdie variasie in die sintaksis van die Afrikaanse en Nederlandse konstruksies die eerste aanduiding daarvan is dat die perifrastiese status in Afrikaans sterker is as dié van die Nederlandse konstruksie, en dat dit dus ook verder gegrammatikaliseer is as die Nederlandse konstruksie. In Afrikaans is dit onmoontlik om die konstruksie besig met te gebruik met 'n infinitiewe werkwoordstruktuur. Besig met vereis 'n naamwoordelike konstruksie en hierdie konstruksie sou nie as 'n progressiewe konstruksie geklassifiseer word nie. Dit is eerder 'n leksikale konstruksie waar besig in sy oorspronklike betekenis gebruik word. Verder is dit onmoontlik om in Afrikaans die progressiewe besig-konstruksie sonder die partikel te of sonder die voorsetsel om te gebruik. In die hoofsinvolgorde van die

besig-progressief, blyk dit altyd verpligtend te wees om besig en om langs mekaar te

plaas. Die Afrikaanse besig-progressiewe konstruksie het dus minder sintaktiese variasie en groter eenheidstatus as die Nederlandse bezig-progressief.

Die items waaruit die Afrikaanse besig-konstruksie bestaan, kan geanaliseer word as

is (wees) + besig + om + te +VINF. Die grootste verskil tussen die Afrikaanse en

Nederlandse besig/bezig-progressiewe konstruksies is die verpligte gebruik van die konstruksie om te in die Afrikaanse besig-konstruksie.

Soos in 3.2 aangedui is, word die konstruksie om te in Afrikaans gebruik om die infinitiewe werkwoord te merk. In (237) is sien die infinitiewe werkwoord en hoop is die hoofwerkwoord:

(237) Afr: Ek hoop om jou gou weer te sien.

Terselfdertyd is om te ook deel van 'n doelwitskonstruksie, wat gebruik kan word om aan te dui wat die doelwit of motivering is waarom 'n bepaalde aksie uitgevoer word, byvoorbeeld:

(238) Afr: Ek kom om jou te help.

Die moontlike afleiding wat gemaak kan word, is dat die doelwitkonstruksie om te, net soos die Engelse doelwitkonstruksie to (vergelyk Hopper & Traugott, 2003:2-3), verder gegrammatikaliseer het tot infinitiefsmarkeerder.

ʼn Hipotese wat in hierdie studie voorgehou word, is dat die ontwikkeling van die

besig-konstruksie tot ʼn progressief toegeskryf kan word aan 'n proses van reanalise

(sien 2.4.1.1.6) waar die konstruksie 'n interessante sintaktiese verandering ondergaan het, wat ook gesien kan word as 'n proses van ouksiliëring (sien 2.4.1.1.7). Die proses kan soos volg verduidelik word:

Die adjektief besig word in sy leksikale betekenis gebruik om aan te dui dat 'n subjek '(iets) druk aan die doen of maak is', soos in voorbeeldsinne (239) en (240).

(239) Afr: Los my uit, ek is besig!

(241) Afr: *Ek is besig met eet.

In die leksikale gebruik is die besig-konstruksie kombineerbaar met 'n naamwoordstuk (byvoorbeeld met die kos). Die is kan geanaliseer word as die koppelwerkwoord, en die besig as 'n komplementstruktuur of adjektiefstuk. Dié konstruksie is beperk tot naamwoordelike konstruksies, en onkombineerbaar met werkwoorde (byvoorbeeld (241)), aangesien besig se leksikale gebruik vereis dat die subjek moet besig wees met iets.

In die volgende fase van ontwikkeling tot progressiewe konstruksie veralgemeen die

is besig-konstruksie om te kombineer met die doelwitkonstruksie om te. Die

konstruksie kry die letterlike betekenis 'is besig met die doel om te VINF'. Op hierdie

stadium is die konstruksie dus kombineerbaar met VINF wat uitdruk dat die subjek ten

doel het om die aksie wat deur die werkwoord uitgedruk word, uit te voer (byvoorbeeld (242)).

(242) Afr: Ek is besig om te help.

Afr: Lett.: 'Ek is besig met die doel om te help'.

Tydens hierdie fase het die eenheidstatus van is besig wel reeds begin vorm en die proses van ouksiliëring het reeds begin.

Die volgende en finale fase van die ontwikkeling tot progressiewe perifrase, is naamlik dat die om te in die is besig om te-konstruksie veralgemeen vanaf doelwitkonstruksie tot infinitiefmerker. Die werkwoord wat in die konstruksie gebruik kan word, is nie meer slegs werkwoorde wat die doelwit van subjek uitdruk nie, maar het veralgemeen tot enige werkwoord wat progressief van aard kan wees, byvoorbeeld (243)):

(243) Afr: Die vuur is besig om te brand.

Afr: Lett.: *Die vuur is besig met die doel om te brand.

Dit is egter belangrik om in gedagte te hou dat die om te-doelwitkonstruksie nie slegs in die progressiewe konstruksie tot infinitiefmerker gegrammatikaliseer het nie en dat hierdie laasgenoemde evolusie moontlik die ontwikkeling van die besig- progressief verder gemotiveer het.

Om hierdie hipotese te staaf, behoort dit vanuit ʼn diakroniese perspektief benader te word en aan die hand van ʼn diakroniese korpus getoets te word. Hierdie studie word egter vanuit ʼn sinkroniese perspektief aangebied, en slegs ʼn sinkroniese korpus is in hierdie studie gebruik. Daar is tans nog geen voldoende Afrikaanse diakroniese korpus beskikbaar wat gebruik kan word om die historiese ontwikkeling van die konstruksie aan te toon nie.

Die semantiese beperking van die Nederlandse bezig om te-progressiewe konstruksie word hier, vanuit ʼn sinkroniese perspektief, as ʼn motivering vir die waarskynlikheid van die hipotese aangebied. Soos in 3.4.2.3 aangetoon sal word, is die bezig om te- progressief (sien voorbeeldsin (234)a), in teenstelling met die bezig te- (in voorbeeldsin (232)a) en die bezig met-progressief (in voorbeeldsin (233)a), semanties beperk tot teliese situasies (vergelyk 2.3.2.1.1.3). In Nederlands kan die perifrastiese konstruksie bezig om te VINF skynbaar slegs gebruik word in situasies waar ʼn resultaat

verwag word, terwyl die ander twee variasies van die bezig-progressief ook met aktiwiteitswerkwoorde (sien 2.3.2.1.2.2) kan kombineer. In Nederlands is die bezig om

te-konstruksie dus meer semanties beperk as die Afrikaanse besig om te-konstruksie,

aangesien laasgenoemde konstruksie met beide teliese en ateliese situasietipes kan kombineer. Dit is dus moontlik dat daar ʼn fase in die ontwikkeling van die Afrikaanse

besig-progressiewe konstruksie was, waar besig om te semanties beperk was tot

situasies waar ʼn resultaat verwag word (dus teliese situasies).

Die voorgestelde ontwikkeling van die besig-konstruksie tot perifrastiese progressiewe konstruksie kan gevolglik uiteengesit word soos in Figuur 16.

3.4. Kriteria vir die analise van Afrikaanse perifrastiese progressiewe