• No results found

Hoofstuk 2 Die grammatikalisering van perifrastiese konstruksies en

2.3. Aspektuele betekenis

2.3.2.1. Leksikale aspek

2.3.2.2.3. Imperfektief

ʼn Imperfektiewe proses is 'n situasie wat aangebied word as 'n voortgesette situasie. Die fokus van 'n imperfektiewe oogpunt is op die vordering of deurlopendheid van die proses. Anders as 'n perfektiewe beskouing, is die begin- en eindpunte van die situasie nie noodwendig ingesluit by die fokuspunt nie (Smith, 1997:95). Volgens Langacker (1991:86) beskryf 'n imperfektiewe proses die uitbreiding van 'n stabiele situasie oor tyd heen. Hy identifiseer dan verder bepaalde eienskappe van die imperfektief (Langacker, 1991:87). Eerstens is die verskillende fases van 'n imperfektiewe uiting almal identies. Derhalwe is enige komponent van die proses verteenwoordigend van die geheelproses. Om hierdie rede kan gestel word dat die imperfektief intern homogeen is. Tweedens: as gevolg van die stabiele aard van 'n imperfektiewe proses, is die imperfektiewe proses temporeel onbegrens. (103) en (104) is voorbeelde van imperfektiewe hedetydsinne, en (105) en (106) is voorbeelde van imperfektiewe verledetydsinne:

(103) Eng: He is kicking me in the stomach. (104) Eng: ?He is liking me.

(105) Eng: The dog was drinking the water. (106) Eng: ?He was loving me.

Die imperfektiewe verlede- en hedetyd kan soos volg gekonseptualiseer word (Langacker, 1991:89):

Ooreenstemmend met die verduideliking in 2.3.2.2.1, word die oomblik van spraak, S, voorgestel deur die blok met skuinsstrepe. Die geprofileerde streep op die tydlyn (T) dui die verwysingspunt (R) aan. Die boonste geprofileerde reguit lyn dui, soos reeds genoem, 'n statiese en stabiele proses (E) aan. Die begin- en eindpunte is uitgesluit by die proses, aangesien imperfektiewe proses stabiel en onveranderend is. Die fokus is verder op die voortgesette proses. In 'n imperfektiewe verledetydsin soos (103) vind die oomblik van spraak (R) plaas nádat die situasie waarna verwys word, plaasgevind het. Hierdie skema korreleer met Reichenbach (1947:290) se skematisering van die gestrekte eenvoudige verledetyde (Figuur 2 (h), bl.29). In 'n imperfektiewe hedetydsin soos (105) vind S, R en E gelyktydig plaas. Dit korreleer met Reichenbach se skematisering van die gestrekte eenvoudige hedetyd (Figuur 2(j) , bl.29).

Comrie (1976) se indeling en beskrywing van die verskillende kategorieë van die imperfektief is vir ʼn aantal jare as primêre indeling beskou in literatuur oor grammatikale aspek. Figuur 7 bied 'n skematiese voorstelling van die verskillende imperfektiewe betekenisse wat Comrie (1976) onderskei. Comrie (1976) onderskei

tussen habituele en kontinuatiewe imperfektiewe, en verdeel kontinuatiewe aspek verder in progressiewe en nieprogressiewe aspek.

Comrie (1976:24) definieer imperfektiewe betekenis as "…explicit reference to the internal temporal structure of a situation, viewing a situation from within". Habituele betekenis word gedefinieer as "…characteristic of an extended period of time" (Comrie, 1976:26), en kontinuatiewe betekenis as "…imperfectivity that is occasioned by habituality" (Comrie, 1976:33). Progressiewe betekenis word gedefinieer as "…continuous combined with non-stative meaning" (Comrie, 1976:51). Nieprogressiewe betekenis word nie deur Comrie (1976) gedefinieer nie.

Bybee et al. (1994:139) het egter twee bepaalde probleme met hierdie indeling en beskrywing van Comrie, aangesien dit moeilik is om die resultate van 'n omvattende tipologiese data-ondersoek aan die hand van hiérdie indeling te groepeer.

Eerstens verwerp Bybee et al. (1994:139) alle negatiewe definisies (byvoorbeeld nieprogressiewe aspek). Daar is dus geen konstruksies wat met 'n afwesigheid van aspektuele betekenis geklassifiseer kan word nie.

Bybee et al. (1994) het aanvanklik Comrie se indeling van die imperfektief aanvaar, naamlik dat die kontinuatief verdeelbaar is in progressiewe betekenis (dinamiese werkwoorde) en nieprogressiewe betekenis (statiese werkwoorde). Aangesien grammatikaliserende konstruksies veralgemeen in betekenis (sien 2.4.1.1.3), sou dit vanuit 'n diakroniese perspektief beteken dat progressiewe konstruksies sal evolueer tot kontinuatiewe betekenis. Sodoende sou die veralgemenende konstruksie

toenemend gebruik kan word in statiese én dinamiese werkwoorde. Bybee et al. (1994:139) vind egter dat hierdie afleiding nie ooreenstem met die resultate van hul tipologiese ondersoek nie. Hoewel daar uit hul resultate baie duidelik herkenbare progressiewe konstruksies geïdentifiseer kon word, kon daar nie ʼn duidelike onderskeid getref word tussen progressiewe betekenis wat beperk is tot dinamiese werkwoorde en kontinuatiewe aspek wat nie beperk is tot dinamiese werkwoorde nie.

Our conclusion, then, regarding Comrie's classification and definition of aspectual opposition is that a gram-type for each node of [above figure] does not exist. We have strong evidence for progressive, habitual, past imperfective, imperfective, and present as cross linguistic gram-types in our material, but a clear distinction between a progressive which is restricted to dynamic verbs and a continuous which is not does not emerge from our data. (Bybee et al., 1994:139.)

Hierdie twee punte van kritiek teen Comrie se indeling van die imperfektiewe vereis dat die imperfektiewe kategorie van nuuts af ingedeel moet word. Hoewel Bybee et al. (1994) geen skematiese voorstelling van die tipes imperfektiewe bied nie, kan hul onderskeidinge soos volg opgesom word: Twee duidelike onderskeidinge waaronder imperfektiewe kan groepeer, is imperfektiewe met progressiewe betekenis en imperfektiewe met habituele betekenis. Onder elk van hierdie kan ook verdere onderskeidinge getref word. Onder progressiewe imperfektiewe kan konstruksies onderskei word wat iteratiewe, frekwentatiewe en kontinuatiewe betekenisse uitdruk. Onder habituele imperfektiewe kan daar onderskei word tussen konstruksies wat statiese (states) en generiese (general of gnomic) betekenisse uitdruk.

Soos in 2.3.2.1.2.1 aangetoon is, ontstaan 'n toestandsituasie deur die gebruik van statiese werkwoorde. Wat Bybee et al. (1994:139-140) dus as statiese imperfektiewe kategoriseer, stem ooreen met wat in hierdie studie as ʼn leksikaal- aspektuele kategorie geklassifiseer word. Verder spesifiseer Bybee et al. (1994) nie waar aspektuele betekenisse wat spesifieke fases van ʼn progressiewe aksie aandui ingedeel behoort te word nie. Daar bestaan immers konstruksies wat spesifiseer dat ʼn situasie ʼn aanvang neem, soos byvoorbeeld begin (Afrikaans) en start (Engels), sowel konstruksies wat aandui dat dat ʼn situasie beëindig word of afloop, soos byvoorbeeld hou op (Afrikaans) en stop (Engels). Om hierdie rede word daar in hierdie studie ʼn bykomende tipe progressiewe betekenis onderskei, naamlik fase-spesifiserende betekenis.

Figuur 8 bied 'n skematiese indeling van imperfektiewe konstruksies soos dit in hierdie studie gebruik word. Hierdie skema is, soos genoem, hoofsaaklik gebaseer op die indeling wat Bybee et al. (1994) aanbied. ʼn Bespreking van elk van hierdie betekenisse volg hierna.

Bybee et al. (1994) baseer hul definisies van verskillende tipes imperfektiewe hoofsaaklik op die definisies van Dahl (1985) en Comrie (1976 en 1985), met enkele byvoegings of wysigings.

2.3.2.2.3.1. Habituele en generiese aspek en toestande

Habituele aspek word gebruik om situasies wat op verskillende geleenthede herhaal word, aan te dui. Situasies wat as 'gebruiklik' of as 'n 'gewoonte-handeling' beskryf kan word, sou as habituele aspek geklassifiseer kan word. Habituele betekenis kan gemaklik in hede- of verledetyd uitgedruk word. 'n Ander algemene term wat gebruik word om habituele aspek aan te toon, is gebruiklikheidsaspek (usitative) (Bybee et al., 1994:127). (107) tot (111) is voorbeelde van konstruksies met habituele betekenis.

(107) Afr: Ek het altyd hiernatoe gekom om skoene te koop. (108) Afr: Ek fliek elke Dinsdag.

(109) Eng: I used to come here on Wednesdays. (110) Eng: I come here to shop.

(111) Ndl: Ik kom hier om te winkelen.

Die onderskeidinge, veral tussen die habitueel, toestand en algemene of generiese stelling, is egter nie altyd so duidelik soos mens sou kon verwag nie. Byvoorbeeld, die generiese stelling in (112) verskil van die habituele stelling (113):

(112) Eng: Dogs pant to cool off. (Bybee et al., 1994:152) (113) Eng: My dog pants to cool off. (Bybee et al., 1994:152)

Beide (112) en (113) maak karakteriserende stellings oor die subjek, en albei se geldigheid strek verby die oomblik van spraak. Die verskil tussen die twee sinne is egter dat (112) 'n generiese, eerder as 'n spesifieke subjek het, soos in (113).

Buiten vir die minimale verskil tussen 'n habituele en generiese stelling, is die verskil tussen 'n habitueel en 'n toestand ook minimaal. Die verskil is dat 'n habitueel 'n dinamiese aksie uitdruk wat gewoontelik herhaal kan word. 'n Toestand is egter slegs 'n statiese voortgaande situasie (Bybee et al., 1994:152). Beide generiese konstruksies en toestande kan as tipes habituele imperfektiewe gekategoriseer word.

2.3.2.2.3.2. Progressief

Deur die gebruik van 'n progressiewe konstruksie word die situasie aangebied as voortgeset of aan die gang. Selfs 'n situasie wat in die verlede afspeel, kan aangebied word as 'n progressief (vergelyk (114)), aangesien die beëindiging van die situasie nie deel uitmaak van die beskouing van die progressiewe konstruksie nie. In voorbeeldsin (115) is daar die aanname dat die wasgoed klaar gewas is daardie oggend.

(114) Eng: I was doing my laundry this morning . (progressiewe verledetyd) (115) Eng: I had already done my laundry this morning. (nieprogressiewe

verledetyd) Progressiewe konstruksies word prototipies eerder in dinamiese werkwoorde gebruik – met ander woorde by werkwoorde waar aangedui word dat die aksie of handeling 'n konstante inset van energie vereis. Daar word soms in die literatuur oor aspek na die progressiewe aspek verwys as "duratiewe" of "kontinuatiewe" aspek (Bybee et al., 1994:126), maar soos aangetoon sal word, behoort hierdie twee aspektuele betekenisse, tesame met iteratiewe en fase-spesifiserende aspektuele betekenisse, eerder as tipes progressiewe geklassifiseer te word, en nie as sinonieme vir die progressief nie.

Voorbeelde van situasies met progressiewe betekenis is: (116) Afr: Die kind is besig om die bal te skop. (117) Afr: Die kinders is aan die speel.

(118) Afr: Die kind sit en huiswerk doen.

(119) Eng: The children were playing in the dollhouse. (120) Ndl: De kinderen waren aan het spelen.

(121) Ndl: De kinderen zitten huiswerk te doen.

2.3.2.2.3.3. Kontinuatief

Konstruksies met kontinuatiewe betekenis druk uit dat die subjek 'aanhou om die aksie te doen', en word dikwels gelykgestel aan die progressief. Hierdie twee konstruksies verskil egter wel van mekaar, aangesien die kontinuatiewe aspek gemaklik ook met statiese werkwoorde (vergelyk 2.3.2.1.2.1) gekombineer kan word. Progressiewe konstruksies kombineer meestal slegs met dinamiese werkwoorde (vergelyk 2.3.2.1.2.2 tot 2.3.2.1.2.4) (Bybee et al., 1994:126). Die kontinuatief word ingesluit by progressiewe betekenis, maar spesifiseer verder ook dat die agent van die aksie doelbewus besig is om die aksie aan die gang te hou. Voorbeelde van kontinuatiewe betekenis is:

(122) Afr: Die kinders hou aan om stout te wees. (123) Afr: Hy bly grappies maak.

(124) Eng: The child kept on crying. (125) Eng: He continues to annoy me.

(126) Ndl: Zij blijft mij maar om Nederlandse voorbeelden vragen.

2.3.2.2.3.4. Iteratief

Iteratiewe aspek is 'n aspektuele betekenis wat gereeld gevind word en het 'n baie gespesifiseerde betekenis. Iteratiewe dui aan dat 'n situasie op 'n gegewe oomblik herhaal word. Iteratiewe aspek verskil van habituele en frekwentatiewe aspek,

aangesien habituele aspek aandui dat ʼn dinamiese situasie gewoontelik herhaal word, en frekwentatiewe aspek dat 'n situasie op verskillende tydstippe herhaal word. Iteratiewe is leksikaal beperk, aangesien dit slegs voorkom by teliese situasies, met ander woorde situasies met 'n duidelike eindpunt. Iteratiewe aspek word soms ook repetatiewe of herhaaldelike aspek genoem (Bybee et al., 1994:126). Voorbeelde van iteratiewe betekenis is:

(127) Afr: Die kraan drup-drup die hele dag.

(128) Eng: He searched for his keys all morning. (Bybee et al., 1994:161) (129) Ndl: Hij zocht de hele dag naar zijn sleutels.

2.3.2.2.3.5. Frekwentatief

Frekwentatiewe betekenis dui aan dat 'n situasie frekwent plaasvind gedurende die genoemde tydsperiode (Bybee et al., 1994:126). Frekwentatiewe betekenis sluit habituele betekenis in, maar spesifiseer verder die gereeldheid van die situasie. Voorbeelde van frekwentatiewe aspek is:

(130) Afr: Ek kom gereeld na hierdie plek toe. (131) Eng: I come here really often.

(132) Ndl: Ik kom hier vaak.

2.3.2.2.3.6. Fase-spesifiserende betekenisse

Konstruksies wat spesifiseer of ʼn situasie ʼn aanvang neem, oftewel inchoatiewe aspek (byvoorbeeld (133) tot (134)) of beëindig word, oftewel eindigende (cessative) aspek (byvoorbeeld (135) en (136)), kan as fase-spesifiserende konstruksies beskou word. Verder is daar ook konstruksies wat fokus op ʼn fase of spesifieke oomblik gedurende die uitvoering of voortduring van die situasie (byvoorbeeld (137)). Enige konstruksie wat derhalwe op ʼn bepaalde fase van die progressiewe situasie fokus, kan as fase- spesifiserende betekenis geklassifiseer word.

(133) Afr: Ek begin werk. (134) Ndl: Ik begin te werken. (135) Afr: Ek hou op werk. (136) Eng: I stop working.

(137) Afr: Ek is op die oomblik besig om te werk.

2.3.2.2.4. Samevatting

Grammatikale aspek het te make met die interne temporele struktuur van die gebeurtenis, en die oogpunt van waaruit die situasie beskou word. Daar kan twee soorte grammatikale aspektuele betekenisse onderskei word: imperfektiewe en perfektiewe grammatikale aspek.

Imperfektiewe aspek bekyk die interne struktuur van 'n situasie asof met 'n onbegrensde en homogene struktuur. Perfektiewe aspek bekyk 'n situasie as geheel, begrens en met 'n heterogene struktuur.

Imperfektiewe betekenis kan ingedeel word in imperfektiewe met habituele betekenis en imperfektiewe met progressiewe betekenis. Daar is twee soorte habituele betekenisse, te wete generiese betekenisse en toestande. Verder kan daar vyf soorte progressiewe betekenisse onderskei word, te wete kontinuatiewe, iteratiewe, frekwentatiewe en fase-spesifiserende betekenisse. Die fokus van hierdie studie is op perifrastiese konstruksies wat die progressiewe kategorie van imperfektiwiteit uitdruk.

2.4. Grammatikalisering

Dit is nuttig om die onstaan, ontwikkeling en gebruik van die progressiewe perifrastiese konstruksies in Afrikaans vanuit 'n grammatikaliseringsperspektief te ondersoek. Die grammatikaliseringsteorie bied insig in die wyse waarop die meerduidige tempuskonstruksies van Afrikaans tot stand gekom het, sowel as in die ontwikkelingsproses wat die genoemde perifrastiese konstruksies ondergaan. Sodoende kan aangetoon word hoe die gebruik van die verskillende perifrastiese progressiewe konstruksies van mekaar verskil. In hierdie hoofstuk word eerstens 'n teoretiese verduideliking van grammatikalisering gebied. Tweedens word daar ook

vanuit ʼn algemeen-tipologiese perspektief aangetoon hoe perifrastiese konstruksies grammatikaliseer (sien 2.4.2), asook die wyse waarop aspektuele, spesifiek progressiewe betekenis (sien 2.4.3) evolueer.