• No results found

Hoofstuk 3 Grammatikalisering van perifrastiese progressiewe

3.2. Die ongemerkte infinitief in Afrikaans

Daar is 'n belangrike verskil tussen die Afrikaanse en Nederlandse sintaksis wat relevant is vir die bestudering van perifrastiese progressiewe konstruksies, en dit is dat die infinitiewe werkwoord in Afrikaans nie morfologies aangedui word nie, terwyl

die Nederlandse infinitiewe werkwoord morfologies gemerk word deur ʼn -en, byvoorbeeld die sinne in (182):

(182) Afr: Ek kom môre by die winkel help. Ndl: Ik kom morgen in de winkel helpen.

ʼn Infinitiewe konstruksie is 'n werkwoordvorm wat 'n situasie se betekenis uitdruk sonder dat dit as werkwoord by 'n onderwerp hoef te funksioneer (vergelyk Appleby, 1976:33; VAW, 2010b). Die verskil tussen 'n hoofwerkwoord en 'n infinitiewe werkwoord in 'n sin is dat die infinitiewe vorm eerstens nie geïnflekteer hoef te wees om grammatikale ooreenstemming te toon met die subjek van die sin nie, tweedens meestal nie as die enigste werkwoord in die sin gebruik kan word nie en derdens nie gemarkeer is om temporele, aspektuele of modale funksie uit te druk nie (Quirk et al., 1985:153). As 't ware kan die infinitiewe vorm van die werkwoord beskryf word as die "semanties mees neutrale" vorm waarin die werkwoord uitgedruk kan word.

In Engels bestaan daar twee vorme van die infinitief, naamlik die ongemerkte infinitief (bare infinitive) (byvoorbeeld (183)), en die infinitief wat ingelei word deur die partikel to (byvoorbeeld(184)):

(183) Eng: When we heard him play one number, we knew she was right.13

(184) Eng: She hopes to become a doctor and practice in impoverished nations to further the causes promoted by the IDC.

In (183) is die werkwoord heard die hoofwerkwoord van die sin, terwyl die werkwoord

play die ongemerkte infinitiewe werkwoord van die sin is. In (184) is die woord hopes

die hoofwerkwoord in die sin, en stem daarom grammatikaal ooreen met die subjek

she. Die infinitiewe werkwoord become, wat volg op die partikel to, toon geen

grammatikale ooreenstemming met die subjek nie.

Net soos in Engels, kan daar in Afrikaans ook twee soorte infinitiewe gevind word, naamlik die ongemerkte infinitief en die infinitief wat ingelei word deur die konstruksie om te. Ponelis (1976:243) verwys hier na die onderskeid tussen ʼn kort infinitief (voorbeeldsin (185)) en ʼn lang infinitief (voorbeeldsin (186)).

13 Voorbeeldsin (183): http://en.wikipedia.org/wiki/Donald_Hustad

(185) Afr: Ek hoor hom 'n liedjie speel. (186) Afr: Sy hoop om 'n dokter te word.

Buiten deur die om te-konstruksie wat in sommige sinskonstruksies die infinitiewe werkwoord voorafgaan, word die infinitiewe werkwoord – met die uitsondering van enkele werkwoorde soos hê en wees – in Afrikaans op geen ander manier aangedui nie. In Nederlands word die infinitiewe werkwoord in álle kontekste morfologies aangedui, óók in konstruksies waar om te reeds die infinitiewe werkwoord voorafgaan:

(187) Ndl: Ik hoor hem een liedjie spelen. (188) Ndl: Ze hoop om een arts te worden.

Die belangrikste verskil tussen die Afrikaanse en Nederlandse infinitiefkonstruksie is dus die feit dat die Afrikaanse infinitiewe werkwoord in geen kontekste morfologies gemerk word nie, en dat die infinitief in sommige konstruksies heeltemal ongemerk gelaat word (dit wil sê, sonder die gebruik van om te). Hierdie feit het bepaalde implikasies vir die ontleding van die progressiewe konstruksies, veral wanneer hierdie selfde konstruksies met die Nederlandse konstruksies vergelyk word. Vergelyk die volgende sinne:

(189) Afr: Die man is aan die werk. Ndl: De man is aan het werken. (190) Afr: Die man sit en werk.

Ndl: De man zit te werken. (191) Afr: Die man is besig om te werk.

Ndl: De man is bezig te werken.

Die infinitiewe werkwoord, werken, is in alle Nederlandse sinne duidelik herkenbaar vanweë die morfologiese markering met -en. Die Afrikaanse infinitiewe werkwoord,

werk, is egter nie morfologies herkenbaar nie, en moet uit die konteks afgelei word.

Die feit dat die Afrikaanse infinitiewe werkwoord in sommige konstruksies nie morfologies of sintakties gemarkeer word nie, het soms betekenisimplikasies vir die

perifrastiese progressiewe konstruksies, spesifiek vir die VPOS en- en die aan die-

progressiewe.

In die VPOS en-progressief is die implikasie van hierdie ongemerkte infinitiewe

konstruksie, sowel as die feit dat 'n voegwoord en eerder gebruik word as die partikel

te, dat die VPOS en VINF-konstruksie in sekere kontekste meerduidige betekenis kan hê.

Vergelyk, ter illustrasie, die volgende twee voorbeeldsinne van sit en speel:

(192) Afr: Die kinders sit en speel buite. Dié wat sit roep ons eerste in, en dié wat speel laat ons vir eers buite bly. (Hedetyd)14 Afr: Die kinders het buite gesit en gespeel. Dié wat sit het ons eerste

ingeroep, en die wat speel het ons eers buite laat bly. (Verledetyd) (193) Afr: Die kinders sit en speel buite. Dit was 'n goeie idee om vir hulle

bordspeletjies te gee. (Hedetyd)

Afr: Die kinders het buite gesit en speel. Dit was ʼn goeie idee om vir hulle

bordspeletjies te gee. (Verledetyd)

In die eerste voorbeeld word die sintaktiese struktuur V en V gebruik, en dit stem vormlik ooreen met die V en V-sintaksis in die tweede voorbeeld. Dit is egter duidelik dat (192) 'n voorbeeld is van ʼn elliptiese verwysing 'party kinders wat buite sit' en 'party kinders wat buite speel'. Die konstruksie kan geanaliseer word as VLEX en VLEX.

Uit die konteks van die tweede sin kan mens duidelik sien dat die spreker bedoel dat die kinders besig is om te speel, terwyl hulle in 'n sittende posisie is. Hierdie situasie is dus ʼn progressiewe gebeurtenis en dit gaan hoofsaaklik oor die aksie van speel, en nie oor die sit-aksie nie. Dié konstruksie kan dus eerder geanaliseer word as VAUX.POS

en VLEX, en vorm saam die VP van die sin.

In die aan die-progressiewe konstruksie is daar vanweë die ongemerkte infinitief geen vormlike verskil tussen nominale en werkwoordkonstruksies nie. Vergelyk die volgende sinne:

14 Ter wille daarvan om die betekenisonderskeid aan te dui, word die verledetyd van die sinne ook

aangebied. In (192) word die twee werkwoorde sit en speel beide as leksikale werkwoorde gebruik, en dus word albei werkwoorde in die vereledetyd met ʼn ge-verledetydspartikel uitgedruk. In (193) is die handeling wat deur sit en speel uitgedruk word, se betekenis egter soortgelyk aan 'besig om te speel'. Sit het hier ʼn hulpwerkwoordbetekenis, en slegs die eenheid [sit en speel]kry die ge-verledetydspartikel, as ge[sit en speel].

(194) Afr: Kyk dogter, die huis is aan die brand!15 Eng: 16 'Look daughter, the house is burning!' (195) Afr: Talle motors is aan die brand gesteek.

Eng: 'A lot of cars were set on fire'.

(196) Afr: Hulle het hom doodgesteek terwyl hy op sy bed aan die slaap was. Eng: 'They killed him while he was sleeping on his bed'.

(197) Afr: Ten spyte van sy vermoeidheid raak hy nie dadelik aan die slaap nie. Eng: 'Despite his weariness, he does not fall asleep immediately'.

Hoewel daar geen vormlike verskil tussen (194) en (195), en tussen (196) en (197) is nie, verskil hierdie konstruksies wel op semantiese vlak. Voorbeeldsinne (194) en (196) is werkwoordelike konstruksies met progressiewe betekenis. Die werkwoord is in hierdie konstruksie word as hulpwerkwoord gebruik, terwyl die handeling wat deur die sinne voorgestel word onderskeidelik brand en slaap is. Sinne (195) en (197) is egter eerder voorbeelde van nominale konstruksies.

Dit sal waarskynlik nie vir 'n Afrikaanssprekende moeilik wees om uit die konteks van die sinne telkens die onderskeid tussen byvoorbeeld die leksikale en grammatikale betekenisse van die VPOS-werkwoorde te maak nie. Tog het die ongemarkeerdheid van

die infinitiewe werkwoord myns insiens, soos in 3.4.2 aangetoon sal word, wél 'n invloed op die ontwikkeling en beskrywing van die progressiewe konstruksies.