• No results found

Hoofstuk 3 Grammatikalisering van perifrastiese progressiewe

3.4. Kriteria vir die analise van Afrikaanse perifrastiese progressiewe

3.4.4. Kombinasie met ander aspektuele betekenis

Die vierde kriterium, naamlik die perifrastiese progressiewe konstruksie se kombineerbaarheid met ander aspektuele betekenisse, is ʼn aanduiding van die mate

waartoe die konstruksie veralgemeen het, asook die eenheidstatus van die verskillende items in die perifrastiese konstruksie.

In 2.3.2.2.3 is 'n indeling van imperfektiewe aangebied. Daar is aangetoon dat daar onderskei kan word tussen imperfektiewe met habituele betekenis en imperfektiewe met progressiewe betekenis. Daar is ook aangetoon dat verskeie progressiewe en habituele betekenisse onderskei kan word. Progressiewe betekenisse kan onderskei word in vier tipes, naamlik fase-spesifiserende, frekwentatiewe, iteratiewe en kontinuatiewe imperfektiewe (vergelyk weer Figuur 8).

Die fokus van hierdie studie, soos reeds genoem, is perifrastiese konstruksies wat progressiewe betekenis uitdruk. Die perifrastiese progressiewe konstruksies wat vir Afrikaans geïdentifiseer is, is die aan die- en aan 't-progressief, die VPOS en-progressief

en die besig-progressief. Aangesien hierdie konstruksies progressiewe betekenis uitdruk, is die verwagting dat hierdie konstruksies só veralgemeen sal wees dat dit die volle bestek van progressiewe betekenisse sal kan uitdruk. Dit behoort dus moontlik te wees om konstruksies wat fase-spesifiserende betekenis (byvoorbeeld begin wat inchoatiewe betekenis uitdruk) te kombineer met die perifrastiese progressiewe konstruksies.

In Afrikaans word verskillende perifrastiese konstruksies gevind wat tipes progressiewe betekenis van 'n handeling spesifiseer, soos byvoorbeeld begin wat die aanvang van ʼn handeling aandui (oftewel inchoatiewe aspek, soos voorbeeldsin (371)), hou aan en bly wat aandui dat ʼn bepaalde handeling voortduur (dus

kontinuatiewe aspek (soos voorbeeldsinne (372) en (373) en hou op wat aandui dat ʼn progressiewe handeling eindig (oftewel eindigende aspek, soos voorbeeldsin (374)).

(371) Afr: Die man begin werk. (372) Afr: Die man hou aan werk. (373) Afr: Die man bly werk. (374) Afr: Die man hou op werk.

Hoewel daar die verwagting is dat die drie Afrikaanse perifrastiese progressiewe konstruksies met hierdie konstruksies sal kombineer, blyk dit nie die geval te wees nie. Die aan die-progressief kan gemaklik met ʼn verskeidenheid van inchoatiewe perifrastiese konstruksies (voorbeeldsinne (375) tot (379)), asook met bly as ʼn kontinuatiewe perifrastiese konstruksie kombineer (voorbeeldsin (380)). Dit is egter nie moontlik om die aan die-progressief met die hou aan- of hou op-perifrastiese konstruksie te kombineer nie.

(375) Afr: Die kinders gaan aan die speel. (376) Afr: Die man spring aan die werk. (377) Afr: Die mense kom aan die werk. (378) Afr: Die veld slaan aan die brand. (379) Afr: Die kinders raak aan die speel. (380) Afr: Die kinders bly aan die speel.

Hoewel dit moontlik is om die VPOS en-progressief met 'n kontinuatiewe perifrastiese

konstruksie te kombineer (sien (381)), blyk dit nie moontlik te wees om hierdie progressiewe konstruksie met ander progressief-spesifiserende perifrastiese konstruksies te kombineer nie, byvoorbeeld inchoatiewe of eindigende aspek nie (sien (382) en (383)).

(381) Afr: Die man bly sit en werk. (382) Afr: *Die man hou op sit en werk. (383) Afr: *Die man begin sit en werk.

Dit blyk nie moontlik te wees om die besig-konstruksie met enige van die genoemde progressief-spesifiserende perifrastiese konstruksies te kombineer nie (sien (384) tot (388))

(384) Afr: *Die man begin besig om te werk.

(385) Afr: ?Die man begin besig wees om te werk. (leksikaal, nieprogressief) (386) Afr: *Die man hou op besig om te werk.

(387) Afr: ?Die man hou op besig wees om te werk. (leksikaal, nieprogressief) (388) Afr: Die man bly besig om te werk. (leksikaal, nieprogressief) Hoewel 'n sin soos (388) grammatikaal aanvaarbaar is, is hierdie nie 'n voorbeeld van kontinuatiewe aspek nie. Die besig in hierdie sin word in sy leksikale betekenis gebruik, en die bly tree as koppelwerkwoord op om die betekenis van intensiteit van 'besig wees' uit te druk.

Daar is dus 'n verskil tussen die Afrikaanse perifrastiese progressiewe konstruksies ten opsigte van die wyse waarop dit kan kombineer met konstruksies wat ander aspektuele betekenis uitdruk. Die vraag kan gevra word waaraan hierdie verskil in die moontlike kombineerbaarheid van die verskillende perifrastiese konstruksies toegeskryf kan word. Is die kombineerbaarheid van die aan die-progressief moontlik ʼn aanduiding dat hierdie konstruksie semanties meer veralgemeen is as byvoorbeeld die besig-progressief, wat met geen aspektueel spesifiserende perifrastiese kan kombineer nie? Is die feit dat die besig-progressief nie kan kombineer met inchoatiewe konstruksies soos begin, kontinuatiewe konstruksies soos hou aan en bly of eindigende aspektuele konstruksies soos hou op nie, moontlik ʼn aanduiding dat die

besig-progressief opsigself ʼn bepaalde fase van die progressiewe situasie spesifiseer?

In 1.2.2 is aangedui dat daar vyf prototipiese strategieë bestaan wat die Afrikaanssprekende kan gebruik om aspektuele betekenis te spesifiseer, naamlik deur i) leksikale konstruksies (byvoorbeeld bywoorde en voegwoorde); ii) affiksering van konstruksies; iii) reduplikasie van konstruksies; iv) passifisering van konstruksies; en v) perifrastiese konstruksies.

Terwyl dit nie moontlik is om die besig-progressief te kombineer met perifrastiese konstruksies wat tipe progressiewe betekenis spesifiseer nie, is dit wel moontlik om die besig-progressief te kombineer met leksikale konstruksies (byvoorbeeld deur die gebruik van bywoorde) wat tipes progressiewe betekenis spesifiseer (vergelyk voorbeeldsinne (389) tot (391)), en dieselfde geld vir die VPOS en-progressief (vergelyk

(392)) en die aan die-progressief (vergelyk (393)).

(389) Afr: Hy is op die oomblik besig om te werk. (Punktueel) (390) Afr: Hy is gereeld besig om te werk. (Frekwentatief) (391) Afr: Hy is al die hele dag besig om te werk. (Iteratief) (392) Afr: Hy sit gereeld en werk. (Frekwentatief) (393) Afr: Hy is gereeld aan die werk. (Frekwentatief)

Die beperking rakende die perifrastiese progressiewe konstruksies se kombineerbaarheid met ander aspektuele betekenisse blyk derhalwe nie ʼn semantiese beperking te wees nie, maar eerder ʼn sintaktiese beperking. Hierdie sintaktiese beperking het te make met die eenheidstatus van die items in perifrastiese konstruksies.

Daar is in 3.3.2.1 aangetoon dat die aan die-perifrastiese progressiewe konstruksie geanaliseer kan word as [is]+[aan die]+[komplement] (vergelyk Figuur 15). Die is- werkwoord is die inleidende koppelwerkwoord van die perifrastiese konstruksie. Aan

die het gereanaliseer tot ʼn interafhanklike eenheid in die perifrase, en die werkwoord

wat volg op aan die is die werkwoord wat die gebeurtenis van die progressiewe situasie uitdruk. Uit die analise van die aan die-progressief is dit duidelik dat die koppelwerkwoord is steeds die funksie van ʼn kopula verrig. Aangesien die koppelwerkwoord in aan die, in teenstelling met is in die besig-progressief (sien 3.3.2.3), nie veralgemeen en geouksilieer het nie, is dit moontlik om die is in die aan

die-progressiewe konstruksie te vervang met gegrammatikaliseerde werkwoorde soos bly of raak wat aspektuele betekenis spesifiseer (vergelyk weer voorbeelde (375) tot

(380)). Wanneer die genoemde werkwoorde die koppelwerkwoord is vervang, tree die werkwoorde as die "aspektueel-betekenisdraende" koppelwerkwoorde in die

konstruksie op. Die aan die-progressief kan nie kombineer met perifrastiese konstruksies wat geen koppelwerkwoord het nie (byvoorbeeld hou aan en hou op). In 3.3.2.2 en 3.3.2.3 is aangedui dat die VPOS en-progressief en die besig-progressief

gereanaliseer het, sodat die eenhede [VPOS en] en [is besig] onderskeidelik geouksilieer

het om die funksie van ʼn hulpwerkwoord te verrig. Vanweë hierdie ouksiliëring van [VPOS en] en [is besig], is dit nie moontlik om hierdie konstruksies te kombineer met

dieselfde perifrastiese aspektuele konstruksies as met die aan die-progressief nie, aangesien daar in hierdie twee perifrastiese konstruksies geen werkwoord is wat as koppelwerkwoord optree nie.

Hierdie onkombineerbaarheid van die VPOS en- en besig-progressief met sommige

ander perifrastiese aspektuele konstruksies, bevestig die eenheidstatus van die gereanaliseerde items in die laasgenoemde perifrases. Dit is verder ook ʼn aanduiding dat of bevestiging daarvan dat die VPOS in die VPOS en-progressief en die

koppelwerkwoord is in die besig-progressief se betekenis verbleek het tot ʼn grammatikale konstruksie wat as hulpwerkwoord optree.

3.5. Gevolgtrekking

In hierdie hoofstuk is ondersoek ingestel na die wyse waarop die Afrikaanse perifrastiese progressiewe konstruksies gebruik word. Die ondersoek is gebaseer op 'n korpusondersoek, en die konstruksies is vergelyk aan die hand van vier kriteria. Die eerste kriterium was om te bepaal watter konstruksie die frekwentste gebruik word, aangesien dit 'n eerste aanduiding is van hoe veralgemeen die konstruksie is. Daar is bevind dat die besig-progressief die mees algemene progressiewe konstruksie is, en dat die aan die- en VPOS en- progressiewe konstruksies albei byna ewe frekwent

gebruik word.

Die tweede kriterium was om die werkwoordkollokasies van elke progressiewe konstruksie te bepaal, aangesien dit 'n verdere aanduiding is van die semantiese veralgemening van die progressiewe konstruksie. Hoe verder veralgemeen 'n konstruksie is, hoe minder sal dit gespesialiseerd wees om met sekere werkwoordtipes te kombineer. 'n Konstruksie wat meer veralgemeen is, sal in ʼn groter hoeveelheid kontekste bruikbaar wees. Daar is bevind dat die besig-progressief

met die grootste verskeidenheid werkwoordtipes kombineer, en dus die verste gegrammatikaliseer is. Die aan die/aan 't-progressief spesialiseer byvoorbeeld om eerder met aktiwiteitswerkwoorde te kombineer, en die VPOS en-progressief

spesialiseer om met sekere werkwoordtipes te kombineer, byvoorbeeld werkwoorde van menslike noodsaaklikheid, persepsie, sosiale interaksie, kreatiewe aktiwiteit en kognitiewe aktiwiteit, en werkwoorde wat aandui dat die subjek besig is om te wag. Die oorganklikheid van die verskillende konstruksies is as derde kriterium geneem om te bepaal hoe die verskillende konstruksies gebruik word. Deur die frekwensie van oorganklike werkwoorde met die progressiewe konstruksies te vergelyk, kan afleidings gemaak word rakende die werkwoordtipes waarmee die konstruksies kombineer. Só is daar byvoorbeeld weer bevestig dat die aan die/'t-progressief eerder met aktiwiteitswerkwoorde kombineer, en die frekwensie van oorganklike werkwoorde met hierdie konstruksie, sowel as met die VPOS en-progressief nie hoog is

nie. Die VPOS en-progressief kombineer ook nie algemeen met oorganklike

werkwoorde nie, en spesifieke en bepaalde objek se posisie is beperk in hiérdie konstruksie. Die besig-progressief het 'n hoë frekwensie van oorganklike werkwoorde. Verder is oorganklikheid 'n relevante kriterium om die gebruik van die verskillende konstruksies te vergelyk, aangesien die posisie wat die objek in 'n oorganklike progressiewe konstruksie inneem 'n aanduiding is van die perifrastiese konstruksie se eenheidstatus. Indien die items van die perifrastiese konstruksie hoë eenheidstatus het, is die posisie van die objek in die konstruksie nievarieerbaar. Hieruit was dit duidelik dat die besig-progressief slegs een sintaktiese struktuur het, en derhalwe 'n hoë eenheidstatus het.

Die laaste kriterium was om te bepaal tot watter mate die perifrastiese progressiewe konstruksies kombineerbaar is met ander aspektuele betekenisse, aangesien dit 'n aanduiding gee van die mate waartoe die konstruksie veralgemeen het. Dit is duidelik dat die aan die/'t-progressief gemaklik gekombineer kan word met sommige ander perifrasties-aspektuele konstruksies soos inchoatiewe en kontinuatiewe konstruksies. Die VPOS en-progressief kon egter slegs met kontinuatiewe konstruksies kombineer, en

die besig-progressief kan met geen ander perifrasties-aspektuele konstruksies kombineer nie.

Adri Breed – 2012 168