• No results found

Hoofstuk 2 Die grammatikalisering van perifrastiese konstruksies en

2.3. Aspektuele betekenis

2.4.3. Grammatikalisering van progressiewe betekenis

Soos in 2.4.1 aangetoon is, is daar tipologiese ooreenstemming in die wyse waarop verskillende grammatikale konstruksies ontstaan en ontwikkel. In hierdie afdeling word vanuit ʼn tipologies-vergelykende perspektief, gebaseer op Bybee et al. (1994), aangetoon hoe die aspektuele betekenis van progressiwiteit grammatikaliseer. Hierdie gedeelte vorm die basis van ʼn vergelyking tussen die algemeen-tipologiese grammatikaliseringsverskynsels van progressiewe konstruksies met dié van die Afrikaanse progressiewe konstruksies. Laasgenoemde word in die volgende hoofstuk aangetoon.

Bybee et al. (1994:127) beskou progressiewe imperfektiewe betekenisse as die spesifieke betekenis wat uiteindelik ontwikkel tot algemene imperfektiewe of hedetyd.

(xiii) Progressief  imperfektief/hedetyd

Progressiewe betekenis het 'n meer gespesifiseerde betekenis en word derhalwe ingesluit binne die meer algemeen-aspektuele betekenis van imperfektiwiteit en die tempusbetekenis van hedetyd. Vanuit 'n grammatikaliseringsperspektief kan voorspel word dat die progressief 'n semantiese bron (source) van imperfektiewe of hedetydskonstruksies is. Progressiewe konstruksies kom dus vroeg op die grammatikaliseringsroete voor en kan verder ontwikkel tot algemene betekenisse soos die imperfektief of hedetyd.

Dit blyk verder dat een van die mees algemene leksikale oorspronge vir progressiewe konstruksies, konstruksies met lokatiewe betekenis is (Bybee et al., 1994:129). Die motivering van die ontwikkeling van 'n progressief uit lokatiewe konstruksies is waarskynlik as gevolg van die betekeniskonnotasie van "be in the place of VERBing" of "be at VERBing". Die kombinasie met postulêre werkwoorde kan semanties vertaal word as "stand VERBing" of "sit VERBing" (Bybee et al., 1994:129-130).

ʼn Hipotese wat gestel word in Bybee et al. (1994:131) is dat, behalwe vir enkele bepaalde uitsonderings, alle progressiewe konstruksies uit lokatiewe betekenisse ontwikkel het:

Thus one strong hypothesis for sources of progressives would be that a progressive involving a stative auxiliary always derives from a construction which originally included an element with locative meaning. Or, stated another way, aside from movement sources, reduplications, and constructions with verbs meaning "to keep on", all progressives derive from locative constructions. (Bybee et al., 1994:131.)

Heine (1990) verskil egter hiervan, aangesien, volgens hom, progressiewe konstruksies ook afgelei kan word van gelykstellende sinne in die vorm van "X is a Y" soos byvoorbeeld He is (an) eating (one) (Bybee et al., 1994:131). Verder is daar ook bewegingswerkwoorde geïdentifiseer wat as leksikale oorsprong dien vir progressiewe konstruksies. Die Spaanse werkwoord seguir ('om te volg') word byvoorbeeld gebruik om kontinuatiewe aspek aan te dui, en in Nederlands en Afrikaans kan die perifrastiese konstruksie loop te VINF/loop en VINF gebruik word om

progressiewe betekenis uit te druk.

Die ooreenkoms tussen lokatiewe en bewegingswoorde is dat albei konstruksies 'n mate van lokatiewe betekenis uitdruk. Albei tipes konstruksies sê iets oor die ruimtelike plasing van die subjek en die aktiwiteit – hetsy dat die subjek êrens geplaas is en iets doen, óf dat die subjek (rond)beweeg (in 'n ruimte) terwyl hy iets doen (Bybee et al., 1994:133).

ʼn Laaste konstruksie wat as oorsprong kan dien vir progressiewe konstruksies, is konstruksies met letterlike leksikale betekenis van progressie, soos byvoorbeeld keep

Opsommend kan daar dus hoofsaaklik drie leksikale oorspronge van progressiewe konstruksies geïdentifiseer word: i) konstruksies met lokatiewe betekenisse, ii) konstruksies met die leksikale betekenis van beweging, en iii) konstruksies met 'n letterlike leksikale betekenis van progressie.

Garcia (1990) wys daarop dat perifrastiese konstruksies ontwikkel om betekenis uit te druk wat nie reeds grammatikaal deur die huidige taalkonstruksies uitgedruk word nie. Alle tale het maniere om hedetyd en voortdurende aktiwiteite uit te druk, maar tale sonder eksplisiete progressiewe grammatikale items wat progressiwiteit uitdruk, gebruik gewoonlik dieselfde middele vir habituele situasies, voortgesette toestande en alle ander hedetydsituasies (Bybee et al., 1994:133).

Indien daar na die betekeniselemente van progressiewe perifrastiese konstruksies gekyk word, blyk dit dat die oorspronklike funksie van die progressief was om plasing van die agente te midde van 'n aktiwiteit aan te toon. Hierdie funksie blyk volgehou te word, selfs in goed ontwikkelde progressiewe vorme, byvoorbeeld die English progressive. Bolinger (1947), soos aangehaal deur Bybee et al (1994:133) gee die volgende voorbeeld om aan te toon dat die progressiewe konstruksie gebruik kan word as antwoord op 'n vraag wat te make het met plasing of ruimtelike bevinding.

(179) Eng: Q: Where is Lou?

A: He is taking a nap. (Bolinger, 1947)

Dit is ook moontlik om die besig om-progressief in Afrikaans te gebruik om hierdie vraag te beantwoord.

(180) Afr: V: Waar is Louis?

A: Hy is besig om 'n uiltjie te knip.

Verder argumenteer Bolinger (1947) dat 'n antwoord wat presies die gestelde vraag beantwoord (181) in der waarheid minder inligting sou oordra as 'n progressiewe konstruksie. Die progressiewe konstruksie (180) impliseer immers dat Lou in sy kamer is, maar bied ook verdere inligting rakende die handeling wat Lou in hierdie ruimte uitvoer.

(181) Eng: Q: Where is Lou? A: He is in his room.

As uitdrukking van ruimtelike plasing, word progressiewe konstruksies meestal op gepaste wyse gebruik met hoofwerkwoorde wat aktiwiteite beskryf wat een of ander karakteriserende ruimte of plek het, eerder as met werkwoorde wat interne en niewaarneembare toestande uitdruk. Dus, die bekende beperking van die gebruik van die progressief met dinamiese werkwoorde volg direk uit die oorsprong.

Soos reeds genoem, is 'n nielokatiewe progressiewe konstruksie baie skaars – "…if they exist at all" (Bybee et al., 1994:135). Die semantiese verandering wat plaasvind in die ontwikkeling van die progressief na 'n volgende konstruksie, is die geleidelike verandering weg vanaf die oorspronklike, voller betekenis van hierdie konstruksie. Die oorspronklike betekenis van die progressiewe konstruksie is dat:

A. ʼn Agent

B. ruimtelik geplaas is C. te midde van

D. ʼn aktiwiteit

E. op die oomblik waarna verwys word. (Bybee et al., 1994:136)

Op grond van hierdie algemene verskynsel word daar gereeld na progressiewe konstruksies verwys as voorbeelde van temporele kategorieë wat gebaseer is op lokatiewe kategorieë (Anderson, 1973; Traugott, 1978, soos aangehaal deur Bybee et al., 1994:137).

Die verdere ontwikkeling van progressiewe konstruksies tot konstruksies wat algemene aspektuele betekenis (dit is imperfektiewe betekenis, vergelyk Figuur 8) uitdruk, blyk gemaklik plaas te vind. Om ruimtelik in 'n situasie geplaas te wees, impliseer immers ook om temporeel geplaas te wees. Die verandering wat plaasvind wanneer 'n progressiewe konstruksie tot 'n imperfektiewe konstruksie ontwikkel, is dus 'n geleidelike verlies van lokatiewe betekenis, en nie temporele betekenis nie (Bybee et al., 1994:138).

This particular direction of change is closely tied to the fact that grammaticalization requires the broadening of contexts of use: if a construction means "to be in the midst of doing", the only change that would give it more context of use would be the erosion and loss of the strict locative

meaning, which would then allow the expression of temporal meaning in a wider range of contexts. (Bybee et al., 1994:138.)

Wanneer 'n progressiewe konstruksie dus tot imperfektiewe of hedetydsbetekenis grammatikaliseer, vind daar 'n veralgemening van betekenis plaas.

Daar bestaan 'n baie nou semantiese ooreenkoms en verband tussen iteratiewe, kontinuatiewe en frekwentatiewe imperfektiewe. Kontinuatiewe imperfektiewe kom nie frekwent in die data van Bybee et al (1994) voor nie, maar word gekodeer deur enige grammatikale konstruksie wat die leksikale betekenis het van 'om aan te hou' ('continue' of 'keep on doing'). Die leksikale oorspronge van kontinuatiewe konstruksies blyk soortgelyk te wees aan dié van iteratiewe, naamlik woorde met die leksikale betekenis van 'alle', en ook woorde wat meervoudigheid aandui. Soortgelyk aan die oorspronge wat gevind kan word vir progressiewe konstruksies, is die leksikale oorspronge vir konstruksies met die leksikale betekenis van 'sit', 'bly' ('remain'), 'leef' en 'gaan' (Bybee et al., 1994:160-161).

Frekwentatiewe dra 'n betekenis oor van gereeldheid, met ander woorde dat 'n bepaalde aksie frekwent plaasvind. Dis soms moeilik om te onderskei tussen frekwentatief en iteratief. Die verskillende gebruike van die frekwentatiewe grammatikale konstruksies stem ooreen met die verskillende gebruike van dié gebruike van iteratiewe en kontinuatiewe konstruksies. Hierdie feit lewer weer eens bewys van die sterk verhouding wat bestaan tussen hierdie drie aspektuele betekenisse. Die verskil tussen die iteratief en kontinuatief is hoofsaaklik 'n kwessie van werkwoordtipe (dit wil sê die leksikale aspek) waarmee die betekenis uitgedruk word. Iterasie is slegs toepasbaar op punktuele of teliese werkwoorde, terwyl kontinuatiwiteit op beide teliese én ateliese werkwoorde toepasbaar is.

Dit is daarom maklik afleibaar dat iteratiewe kan veralgemeen tot kontinuatiewe, aangesien kontinuatiewe in meer kontekste gebruik kan word. Frekwentatiewe kan ontwikkel vanuit spesifieke iteratiewe betekenisse, en habituele en progressiewe betekenisse kan ontwikkel vanuit frekwentatiewe betekenis (Bybee et al., 1994:165).

It is therefore conceivable that an iterative might generalize to a continuative. Frequentative implies that the situation occurred on different occasions and thus also may be an extension from a specifically iterative meaning. Habitual and progressive are more general still, and we would suggest that habitual

develops out of frequentative meaning, while progressive comes from continuative meaning. (Bybee et al., 1994:165.)

Die bekendste grammatikaliseringsroetes van hierdie groep verskillende imperfektiewe kan soos volg opgesom word:

(xiv) Iteratief  Kontinuatief (xv) Iteratief  Frekwentatief (xvi) Frekwentatief  Habitueel (xvii) Kontinuatief  Progressief