• No results found

HOOFSTUK 2: LEWENSWETENSKAPPE IN ‘N INKLUSIEWE-ONDERWYSKONTEKS

2.7 Die leerder in die onderrig-leersituasie

2.7.2 Identifisering van die leerder met die struikelblok

Die DoE het in 2008 met die bekendstelling van die SIAS-proses (Strategy on Screening, Identification, Assessment and Support) ’n nuwe benadering tot leerderondersteuning onderneem. Volgens die DoE (2008a:1) sal die SIAS-proses ’n fundamentele rol speel in die identifisering van die leerder se ondersteuningsbehoeftes ten einde effektiewe deelname in die onderrig-leersituasie te verseker. Bouwer (2011:52) motiveer dat die SIAS-proses ten doel het om die huidige proses van leerderevaluering te verander na ‘n konstruktiewe ondersteuningsbenadering vir die leerder.

Die doel van die SIAS-proses is om die huidige identifiserings- en evalueringskriteria vir die leerder aan te pas en/of te transformeer om sodoende die korrekte vlak van addisionele ondersteuning te verskaf en die plasing in SSe te doen (DoE, 2008c:1). Die SIAS-proses volgens Raymond en Pienaar (2013:128) sal klem plaas op die voorsiening van ondersteuning aan die leerder deur geskikte ondersteuningsprogramme vanuit die skoolomgewing. Leerders wat struikelblokke ervaar sal dus die gepaste vlak van ondersteuning ontvang wat deurlopende gemonitor moet word en (DoE, 2007:22; 2008c:9) op ’n jaarlikse basis geëvalueer word. Die SIAS-proses bestaan uit verskeie stappe (cf. 2.7.2.1) wat gevolg en uitgevoer moet word deur die DGOS, IOS en onderwysers ten einde die intensiteitbehoeftevlak en ondersteuningsbehoeftes van die leerder te bepaal. Raymond en Pienaar (2013:113) onderskryf die verskeie stappe in die SIAS-proses omrede dit:

• meervoudige bronne gebruik om inligting van die leerder se struikelblok in te samel; • inligting oor ‘n tydperk in te samel;

• die leerder se vordering binne die onderrig-leersituasie deurlopend ondersoek; en • ‘n geheelbeeld van die leerder in ‘n profiel saamvat.

2.7.2.1 Identifiseringsstappe vir intensiteitbehoeftevlakke

Die SIAS-proses soos in die DoE (2008c:11) aangedui bestaan uit vier stappe. Die stappe sal in samewerking met die onderwysers, ouers, versorgers, DGOS, IOS en professionele

44

persone uitgevoer word om inligting van die leerder in te samel (DoE, 2008c:9). Bouwer (2011:54) stel dat die bevordering van die leerder met struikelblokke se geleenthede vir leer die samewerking van alle betrokke rolspelers in die leerder se omgewing moet insluit. Die inligting sal aan die betrokke rolspelers die nodige inligting en riglyne verskaf om die moontlike intensiteitbehoeftevlak wat bestaan te identifiseer om sodoende die gepaste assesserings-aanpassingspraktykstrategieë te bepaal.

Stap 1: Agtergrondinligting van die leerder.

Die DoE (2005d:18) beklemtoon dat die leerder die middelpunt is van alle ondersteuning wat voorsien moet word. Voordat aannames of voorspellings oor die ‘leerder se spesiale leerbehoeftes’ (SLB) gemaak word, moet die leerder eerstens as ’n individu beskou word. Die samestelling van ’n leerderprofiel spruit uit die insameling en aantekening van inligting wat deur verskeie persone en stappe verkry is. Die profiel sal die volgende inligting van die leerder bevat naamlik aspirasies, ervaring, verwagtinge, vermoëns en moontlike of spesifieke struikelblokke wat teenwoordig is. Uiteraard sal die profiel van elke leerder ook hulle moontlike rol in die onderrig-leersituasie beter toelig. Die leerder se huislike omstandighede, ouers of versorgers se perspektiewe rakende die leerder sal ’n belangrike bydrae lewer om die struikelblokke te identifiseer buite die onderwyskonteks (DoE, 2008c:12-13).

Die profiel van leerders met gestremdhede as struikelblokke, sal in samewerking met onderwysers, IOS en professionele persone opgestel word binne die skoolopset. Dit sal meebring dat die onderwyser alle nodige inligting rakende die leerder se struikelblokke tot onderrigleer moet bekom vir die samestelling van sy/haar aanvanklike leerderprofiel. Die finale leerderprofiel word egter bevestig wanneer stappe 2, 3 en 4 van identifisering en evaluering deurloop is (DoE, 2008c:13).

Stap 2: Identifisering van struikelblokke wat leer en ontwikkeling beïnvloed.

Tydens stap 2 van die SIAS-proses sal die leerder wat op ’n daaglikse basis struikelblokke ervaar met die uitvoering van (DoE, 2005d:18) onderrigleer-aktiwiteit deur die onderwyser

45

geïdentifiseer en assesseer word (DoE, 2008c:13). Die struikelblokke kan by die leerder manifesteer as gevolg van intrinsieke en ekstrinsieke faktore. Die onderwyser moet dus die struikelblokke ondersoek en in die leerderprofiel insluit, omrede dit die leerder se onderrig-leersituasie ontwrig. Inligting wat in stap 2 van die SIAS-proses benodig word (DoE, 2008c:14) sluit die volgende in:

• intrinsieke faktore soos kurrikulumstruikelblokke wat deur die leerder in verskeie vakke ervaar word; en

• identifisering van ekstrinsieke faktore wat bydra tot die manifestasie van struikelblokke by die leerder (geweld, armoede en/of HIV/VIGS).

Die insameling van bostaande inligting, speel ’n belangrike rol om die oorsake en aard van die leerder se struikelblok vas te stel wat sal meehelp om die behoefte vir die ondersteuningsvoorsiening te bepaal.

Stap 3: Bepaling van die intensiteitbehoeftevlak.

Die evalueringsproses om die leerder se intensiteitbehoeftevlak te bepaal sal in samewerking met onderwysers, ouers, professionele persone, die DGOS en IOS uitgevoer word (DoE, 2005d:18). Die stap is die formele evalueringsproses (DoE, 2008c:15) waar inligting van stap 1 en 2 gebruik word om die leerder se intensiteitbehoeftevlak te bepaal.

Wanneer die leerder se intensiteitbehoeftevlak vasgestel is, sal die samestelling van ’n individuele ondersteuningsplan om die struikelblokke aan te spreek plaasvind. Die individuele ondersteuningsplan sal ondermeer die karaktereienskappe van die leerder en die progressie wat gedurende die akademiese skooljaar gemaak word insluit. Die ondersteuningsvoorsiening moet belyn wees met die geëvalueerde intensiteitbehoeftevlak en uit verskeie hulpbronne wat in die onderwysstelsel en gemeenskap beskikbaar is bestaan (DoE, 2005d:19).

’n Leerder met ‘n intensiteitbehoeftevlak 4-5 (soos in die geval van die studie) wat met ’n ouditiewe struikelblok geïdentifiseer is, sal ondersteuning moet ontvang in terme van

46

gebaretaal en FM gehoortoestelle in ’n SS om die struikelblok aan te spreek. Ten opsigte van assesseringspraktyke sal die leerder gebruik maak van ’n rekenaar en/of amanuensis as aanpassing vir ondersteuning om die assesseringsinstrument te voltooi.

Die leerder se intensiteitbehoeftevlak en ondersteuningsbehoefte soos in Tabel 2.3 aangedui sal bydra om die assesserings-aanpassingspraktyke in die Lewenswetenskappe te bepaal. Die keuse van aanpassings (cf. 3.10) moet die leerder se behoefte aanspreek en die geleentheid bied om uitkomste te bemeester. Addendum J bespreek die aard van die leerder se struikelblokke en gepaste assesseringsaanpassings in besonder.

Stap 4: Implementering en monitering van die proses.

Die finale stap in die SIAS-proses verwys na die implementering en monitering van die ondersteuning wat aan die leerder verskaf moet word. Die voorsiening van ondersteuning aan die leerder sal op ’n koste-effektiewe basis geskied wat meebring dat hulpbronne vanuit die gemeenskap benut en voorsien moet word. Die benutting en voorsiening van die hulpbronne sal ‘n fundamentele rol speel om die ekstrinsieke faktore soos deur leerders ervaar aan te spreek (DoE, 2008c:14). Alle ondersteuning wat aan die leerder verskaf word moet volgens die DoE (2005d:19) gerapporteer en aangeteken word in ‘n leerderprofiel waarvan die effektiwiteit-evaluering jaarliks heroorweeg word deur die DGOS en IOS.