• No results found

Die christelike dissiplines en geestelike groei

4.6 Gebed as die reaksie op God se spreke

Ons wil kwaliteit-lewe hê op ons voorwaardes en nie op God se voorwaardes nie. Gebed lei dikwels nie tot dit wat die mens wil hê nie, maar tot dit wat God wil hê. Die gesprek met God (gebed) kan dus die mens se lewensverhaal (geloofsverhaal) grondig verander en lei tot geestelike groei. Die gesprek moet dan nie net vanuit die mens se hoek (behoeftes) kom nie, maar moet eerder God se verhaal met die mens as gespreksgenoot betrek. Rice beklemtoon die gedagte dat dit in gebed in die eerste plek om God gaan: “In The Lord’s Prayer, the focus of attention is on God rather than on our own needs” (1991:740). Patterson (1996:33-37) wys daarop dat die mens in sy besige lewe nie tyd maak vir gebed nie, omdat hy gebed nie sien as iets wat regtig ’n verskil kan maak nie: “It is a pleasant luxury that would be wonderful to spend more time on, if only we did not have so many necessities pressing in” (1996:34). Wanneer die hervormingskrag van kommunikasie met God ontdek word, sal gebed weer meer betekenis dra. Gebed is beslis meer as die aflewer van ’n behoeftelys. Gebed is ’n skeppingsdaad wanneer daar met God, op grond van sy verhaal in gesprek getree word.

Gebed is nooit die eerste woord nie, maar altyd die tweede woord. Gebed is reaksie op God se Woord (Velema 1993b:427). God moet altyd die eerste woord hê. Gebed is nie aanspreek nie, maar respons as aangesprokene (Peterson 1987:32; Postema 1997:130). Postema beklemtoon hierdie gedagte so: “It is in Scripture that we find the promises of God that form the basis of our prayer. It is in the Scripture we catch a vision of the purpose of God and in prayer that we move toward those purposes” (1997:88). Rice bevestig ook dat gebed in werklikheid antwoord op God se Woord is: “The prayer is one of willing abandonment of self to God’s will” (1991:75). Boeke wat handel oor gebed behandel dikwels die verskillende vorme van gebed soos dit in die Bybel gevind word, met ’n oproep dat die gelowiges ook so moet bid. Foster (1992) beklemtoon byvoorbeeld die eenvoudige gebed, die gebed van ondersoek, die gebed van trane, die gebed van oorgawe, die gebed van bewondering en aanbidding en nog vele meer. Die navorser is van mening dat kommunikasie met die Godsverhaal die vorm van die gebed sal en moet bepaal. In plaas van om te konsentreer op ’n spesifieke vorm van gebed, moet die gelowige eerder konsentreer op die boodskap van ’n teksgedeelte en in gebed reageer op die boodskap.

Hoewel God primêr in sy Woord gevind word, kan Hy ook in die natuur en in sy handewerk opgemerk word. Hierdie gedagte vra van die mens om waarnemend te leef en God te soek, nie net in sy Woord nie, maar ook in sy handewerk. Die klem op ’n spiritualiteit van dankbaarheid bepaal ook die belangrikheid van gebed in die danksegging en lof aan God. Postema beklemtoon ook die gedagte van dankbaarheid: “In prayer we can open our heart, be receptive, make space for God, and begin to give thanks” (1997:57). Op die vraag waarom gebed vir die Christen nodig is, antwoord die Heidelbergse Kategismus in Sondag 45 vraag en antwoord 116 soos volg: “Omdat dit die vernaamste deel van die dankbaarheid is wat God van ons eis...”

Gebed is nooit op die mens gerig nie, maar altyd op God gerig. Gebed is ’n spontane en

openhartige gesprek met die Vader wat ook die mens se Vriend is (Nicol 1989:91). Die gelowige se gebed moet egter Woordbepaald wees, naamlik ’n reaksie op God se Woord. “As ’n mens se meditasie by ’n behoorlike oopstelling vir die Skrif uitgekom het, en jy die Here persoonlik met jou hoor praat het, kom gebed so vanself en maklik soos om ’n vraag van jou beste vriend te antwoord” (Nicol 1989:93). Die mens se hele bestaan is in werklikheid gebed, Postema beklemtoon dit ook: “The whole of existence ... is a conversation which God begins ... Our prayer is not making conversation with God. It is joining the conversation that is already going on in God” (1997:130). In die lig van die hipotese is gebed dus gesprek met die reeds bestaande

verhaal van God. In gesprek met die bestaande verhaal van God, skuif God se verhaal oor die mens se verhaal en vind geestelike groei plaas.

Gebed wat lei tot ’n ontmoeting met God is ook moeilik, omdat hierdie gesprek met God verandering bring. Nouwen (1995:13) beskryf die weerstand in gebed met ’n hand wat styf toe is in ’n vuis. In die hand hou die bidder sy sekuriteit styf vas: “You feel it is safer to cling to a sorry past than to trust in a new future”. Druk binne die sisteem om verandering teen te werk, kan ook lei tot ’n gebrek aan ‘in diepte’ gebed. Min gelowiges bid glad nie, maar hulle gebede lei dikwels nie tot ’n ontmoeting wat transformeer nie. Dit is dus belangrik dat die bidder ook sal vra: “Wat wys die Woord aan? Wat moet in my lewe verander? Wat verhinder verandering?” Die kragte

binne ’n sisteem kan dus meewerk tot biddeloosheid. Sodra hierdie kragte deur kommunikasie

(met die hulp van die Heilige Gees) uitgewys is, kan dit effektief aangespreek word. Biddeloosheid is nie noodwendig net sondige luiheid nie, dat kan ook dui op ’n onvolmaakte

sisteem. Die fokus moet op God wees wat die mens baie liefhet. Die navorser se keuse vir ’n

spiritualiteit van dankbaarheid asook Godsvertroue maak dit moontlik om die hand in kommunikasie oop te maak en God te vertrou dat die verandering genesing sal bring.

Hierdie gebed tot geestelike groei (transformasie) is ’n lewenslange gebed. “It is a long spiritual journey of trust, for behind each fist another one is hiding, and sometimes the process seems endless. Much has happened in your life to make all those fists, and at any hour of the day or night you might find yourself clenching your fists again out of fear” (Nouwen 1995:18).

Dear God

I am so afraid to open my clenched fists!

Who will I be when I have nothing left to hold on to? Who will I be when I stand before you with empty hands? Please help me to gradually open my hands

and to discover that I am not what I own, but what you want to give me.

And what you want to give me is love, unconditional, everlasting love.

(Nouwen 1995:21)

Die mens moet die Godsverhaal ernstig opneem. Wanneer gebed nie op God konsentreer nie, word gebed ’n lang lys van versoeke (Nouwen 1995:67). Geen groei vind in hierdie kommunikasie plaas nie. Rice beklemtoon dit dat daar eerstens op God gekonsentreer moet word: “One of the greatest problems that contemporary Christians have with prayer is that we have forgotten who God is. We allow our ideas of God to be determined by images other than Christ, and thus fall into fear that God will reject us and our petitions ” (1991:80). Die mens moet kommunikeer met die God wat verandering laat gebeur. Die mens moet kommunikeer met die God wat met hom wil kommunikeer. Die mens moet kommunikeer met die God wat hom liefhet. Die mens moet God weer die eerste Woord gee en reageer op daardie Woord. Daar is verskillende wyses waardeur die mens op God gefokus kan raak met die oog op gebed. Soos reeds gesê is die belangrikste en effektiefste wyse om God te ontdek, in sy Woord. Die mens moet egter ook waarnemend leef, opsoek na God in die omgewing, in mense en in die skepping

(Foster 1992:92; Deist 1978:13 ). Die mens moet in sy soeke na God soek na iets om oor te bid. Die mens moet in die Woord soek na iets waaroor hy met God kan en wil praat. Die mens moet vra na dit wat die Woord in sy lewe wil aanspreek en wat in die pad van verandering staan. Nouwen beklemtoon dat daar in gebed verder as die ‘nou’ gekyk moet word. Gebed maak dus ook ’n toekoms van hoop oop, ”There can be life and movement only when you no longer accept things as they are now and look ahead toward that which is not yet ...However, when it comes to prayer, it seems that we do more asking than hoping” (1995:62-63). Waar die mens die eerste

woord het, groei daardie woord vanuit ’n gebroke werklikheid. Daardie woord is gebore in ’n ‘probleem bepaalde’ verhaal. Deur te luister na die Godsverhaal en daarmee in gesprek te tree, word die dominerende verhaal die genesende verhaal. Gebed wat reageer op God en

sy verhaal is gebed in hoop. “Whenever we pray with hope, we put our lives in the hands of God” (Nouwen 1995:73).

Die navorser het reeds aangedui dat kommunikasie ’n skeppingsdaad is. Gebed as antwoordende gesprek op God se Woord, is dus nie soos ’n afsetter se pistool wat die teken gee aan belangrike dinge om te gebeur nie. Gebed is die belangrike ding wat gebeur. Gebed skep, maar dan moet gebed ’n reaksie op God se Spreke wees. “Terwyl ons oor God mediteer, gaan die derde persoon dikwels in die tweede persoon oor, dit wil sê as ek weer sien, word die Hom oor wie ek mediteer, ’n U met wie ek praat:meditasie vloei in gebed in” (Nicol 1989:77).

In die lig van dit wat gesê is, wil die navorser met Peterson (1987:33) saamstem as hy sê dat ons gebed dikwels as ’n afgodsbeeld of towerstaf gebruik. Alles moet met gebed geopen en gesluit word (Deist 1978:3-4). Gebed het ’n kultuur-aksie geword (Patterson 1996:330). Om God opdrag te gee om iets te doen, of om deur middel van gebed in werklikheid ’n boodskap aan mense oor te dra, is om gebed te misbruik (Smith Sr 1996:60). Daar moet weer moeite gedoen word om gebed as reaksie op God se spreke te sien en nie as ‘aanspreek/toespreek’ van God nie. Dit wat gebeur ná die gebed moet as verlengstuk van die gebed (as reaksie op God se spreke) gebeur. Gebed is nie ’n wyse om God te manipuleer nie, maar juis ’n versoek om deur God ‘gemanipuleer’ te word. Terwyl gebed kommunikasie met God is, kan daar ook vooraf kommunikasie oor die kommunikasie gevoer word. Die volgende vrae kan gevra word: Waarom moet daar gebid word? Wat is die behoefte van die bidder? Wat is die verwagting wat die bidder

het? Is die verwagting in lyn met God se Woord en wil? Watter sake word deur die Woord op die gebedslys geplaas? As daar op die Godsverhaal gekonsentreer word, waarvoor moet daar gebid word? In plaas van om angstig in ’n oorvloed van woorde ’n versoek in spanning te herhaal, kan daar eerder vanuit die Woord kommunikasie met God gevoer word oor die moontlikhede van die situasie in die lig van God se Woord. In die klaagpsalms is dit duidelik dat die bidder aanvanklik vanuit die situasie bid, maar later val die lig van die Godskennis op die situasie en gaan die gebed meestal oor in ’n loflied. Gebed moet altyd poog om die lig van die Godsbeeld deur middel van kommunikasie (gebed) ook op die situasie te laat skyn. Gebed moet egter ook die emosie van die situasie asook die emosie wat deur die Godsverhaal opgewek word, reflekteer. Rice bevestig hierdie standpunt: “ Prayer is an affair of the mind and the heart .... We need to pray as both speakers and hearers” (1991:85).

Verder is die skepping ook ’n reaksie op God se spreke. Alles wat tot stand gekom het is ’n Woordgebeure. Die mens se lewe in God se skepping is ’n verdere reaksie op God se Woord en dus ook ’n gebed. Die mens se lewensverhaal moet reaksie wees op God se verhaal met die mens en in die sin ook ’n gebed. Die mens moet dus in konstante selfgesprek en gesprek met God wees oor sy ‘lewensgebed’. Die vraag kan gevra word oor hoe ander sy lewe interpreteer; In watter mate vertel sy lewe van God en God se verhaal van heelmaak en liefde? In watter mate word sy lewe deur God beheer en in watter mate deur ander mense? Indien God beheer oorneem, watter verandering sal daar in sy algemene lewe intree? Wat staan in die pad van hierdie veranderings? Indien iemand wat naby aan hom is sy lewe moet beskryf en dit wat verandering teëwerk, wat sal hy sê? Oor hierdie sake moet met God in gesprek getree word.

God se spreke kom eerste. Die mens se antwoord op God is nie net woorde nie, maar woorde en dade. Gebed is dus ’n gesprek in die wydste sin van die woord. Volgens Peterson is die psalms ’n voorbeeld van die omvattende gebedsreaksie op God se spreke: “The most of Scripture speaks to us; the Psalms speak for us ...Everything that a person can possibly feel, experience, and say is brought into expression before God in the Psalms” (1987:38-39). Postema beklemtoon dieselfde gedagtes (Postema 1997:116). Die navorser stem saam dat die Psalms ’n waardevolle voorbeeld is van gebedsreaksie op God se spreke, maar is van oordeel dat daar baie meer waarde kan wees in die skryf van ’n eie psalm. Hiermee wil die navorser nie te kenne gee dat hy oordeel

dat die mens se eie ‘psalm’ gelyk aan die Bybelse Psalm is nie, maar wel dat daar baie waarde is in die deurworstel van die situasie met God, terwyl die Woord as gespreksgenoot gebruik word. Die navorser pleit dus dat die kommunikasie-worsteling wat in die psalmis geboorte gegee het aan die Psalm soos ons dit in die Bybel kry, ook in die hedendaagse mens aangemoedig moet word. Daar kan byvoorbeeld genoem word dat die Psalm die produk was van ’n sekere skrywer se worsteling met God vanuit sekere omstandighede. Daar kan dan aan die betrokke lidmaat of lidmate gevra word om te dink aan ’n soortgelyke situasie in hul eie lewens. Hoe sal hulle psalm lyk as hulle vanuit hulle situasie reageer op God se spreke? (Postema 1997:117). Wat sien hulle in die Bybelse Psalm wat hulle help in hulle situasie? Hoe sal hulle die situasie van destyds nou hanteer as hulle hierdie Psalm as riglyn gebruik? Die navorser pleit dus vir kommunikasie eerder as die blote aanvaarding van ander se sienings, selfs al is dit Bybelskrywers se sienings. Die worstelstryd waardeur die Psalm gebore is, het waarde en moet aangemoedig word. Dit is gebed om so met God vanuit die situasie te worstel. Dit is gebed wat groei bring. Verdere groei kan plaasvind indien die persoon se psalm met ander se psalms in gesprek tree en die verskillende mense hulle worstelstryd wat tot die geboorte van die persoonlike psalm gelei het, met mekaar deel. Kommunikasie skep nuut. Worsteling is ook gebed en bring groei.

Wanneer die mens selfs sy woede of worsteling met betrekking tot ’n persoon of situasie en selfs woede teenoor God en worsteling met God, met God bespreek, kom daar nuwe perspektief op God. Die mens moet sy hele lewe met God deel. Die mens mag ook die oomblikke van twyfel en gebrek aan verstaan met God deel (Deist 1978:17-18). Postema bevestig Deist se standpunt, “Our first response to such feelings is to hide them from God in the belief that they have no place in our spiritual life. In so doing, however,we limit our relationship with God to pious moments or sentimental hours” (1997:136). In die proses word dit wat regtig vir die mens belangrik is, weggehou van God en die lig van God se verhaal, en bly dit onveranderd. God se verhaal met die mens loop ook deur donker dieptes en oomblikke van vertwyfeling. Terwyl die mens in gebed met God worstel, is God in werklikheid baie naby. God was naby in Jakob se worsteling, asook in Job se worstel-geprek toe hy nie verstaan het nie. God het vir Jeremia en Hanna geantwoord terwyl hulle in vertwyfeling was. God is naby in ’n worstelstryd met Hom (Postema 1997:136). Hierdie worstelgesprek met God is baie effektief in die skep van ’n nuwe visie op God. In die ontmoeting wat vanuit die worsteling spruit, word God nuut beleef. ’n Nuwe verstaan van God

lei tot ’n nuwe verstaan van die self binne God se verhaal en lei tot nuwe optrede. Jakob se naam wat verander is na Israel, is ’n bewys van hierdie stelling: “The name Israel, the ‘God-Wrestler’, was later given to a whole race of people - a people whose protest often mixed with their praise, not as a sign of lack of faith, but as a sign of depth of faith, as an expression of love” (Postema 1997:137). Israel wat beteken, ‘hy stry met God’, is deur God aan Jakob as teken van ’n nuwe mens gegee en later ook aan God se volk. Uit hierdie naam is dit baie duidelik dat God nie net ruimte laat vir ’n worstelgesprek met Hom nie, maar dit in werklikheid veronderstel. Jakob word geseën, omdat hy met God geworstel het. Die navorser maak die afleiding daaruit dat God

gesprek met Hom verwelkom. Dit beklemtoon weereens die korrektheid van die hipotese,

naamlik dat gesprek tussen die mens (en sy lewensverhaal) en God (se verhaal) lei tot geestelike groei. Postema se opmerking bevestig volgens die navorser die korrektheid van die hipotese as hy sê: “As we learn more about spirituality and prayer, about what it really means to belong to God, we may dare to wrestle with God - and end up with a covenantal hug!” (1997:138). Die

worstelaar is beslis nader aan God as die persoon wat ander se geloof aanvaar sonder om dit te deurleef. Die kommunikator kom tot ’n ontmoeting met God, terwyl die persoon wat alles

aanvaar sonder om met God te kommunikeer geestelik arm is.

Die noodsaaklikheid van kommunikasie met God word verder geïllustreer in die ritme van die skepping, naamlik dag en nag asook die sewende dag as rusdag. Die breuk aand/môre herinner aan God wat sorg terwyl die mens slaap. Verder voed Hy en versterk Hy die mens deur die slaap. Die mens se verhouding met God is een van genade. Aand sê ‘God gee rus’. Die eise van die dag het nie die laaste sê nie. Oggend kondig ’n geleentheid aan om God se handewerk te geniet. Die mens leef in ’n wêreld wat hy nie gemaak het nie, maar God se gawes kan ontgin. God praat met die mens deur dag en nag. Die mens se antwoord op God se spreke is gebed. Die mens se hele lewe is gebed.

Die rusdag (Sabbat/Sondag) is ook ’n spreke van God. Exodus sê God het alles in ses dae gemaak en toe gerus. As God dit kon doen en nodig geag het om te rus na ses dae se werk moet ons dit ook doen. Deuteronomium plaas weer die klem op menslikheid. Die Israeliete het vir vierhonderd jaar nooit ’n dag af gehad nie, daarom het God die rusdag ingestel. Mense is dus meer as masjiene of werkseenhede. Die mens het vir God meer waarde as om net te produseer