• No results found

Die lewensverhaal as sosiale konstruksie en geestelike groei.

3.2 Sosiale Konstruksionisme

3.2.1 Die sisteem as ruimte waar betekenis gegee word

Die mens orden sy wêreld binne sisteem-verband (Friedman 1985:14). Al die verskillende komponente beïnvloed mekaar wedersyds. Daar is dus geen sprake van ’n suiwer liniêre beïnvloeding nie, maar elke invloed op een van die komponente stuur ’n kettingreaksie deur die hele sisteem. Dit kan vergelyk word met ’n klomp snoekerballe wat almal gelyk beweeg en mekaar heen en weer stamp. Die oorspronklike beweging wat die reaksie aan die gang gesit het, is moeilik identifiseerbaar en in werklikheid irrelevant.

In die proses waar betekenis gegee word, speel al hierdie komplekse invloede ’n rol. Alles wat in die sisteem gebeur, word deur taal omgesit in betekenis en speel weer ’n rol in die gee van betekenis aan die volgende invloed of gebeure. Inligting word nie meer op ’n liniêre oorsaak-en- gevolg-wyse verwerk nie, maar klem word geplaas op die proses van inligtingverwerking. Hierdie proses wat deur taal verwerk word, veronderstel ’n verhouding. Dit is dinamies en lewendig, daarom word dit gesien as sosiaal (sosiale konstruksie). Die individu het as’t ware ’n verhouding met al die invloede en ook met die nuwe inligting waaraan betekenis gegee moet word. Daar is dus nie sprake van objektiwiteit nie. Dieselfde inligting sal deur twee persone verskillend verwerk word en verskillende betekenis sal aan die inligting gegee word aangesien die sisteem waarin individue funksioneer ’n dinamiese en unieke proses is. Daar bestaan dus letterlik ’n oneindige getal van moontlikhede met betrekking tot die konstruksie van betekenis aangesien elke lid ’n unieke uitwerking op ander lede het en die nuwe betekenis weer op sy beurt ’n kettingreaksie tot gevolg het.

Die sisteem-teorie beklemtoon dat elke lid van die sisteem ’n unieke standpunt het en dat elke standpunt waarde het. Die standpunt kan nie as reg of verkeerd afgemaak word nie, maar verteenwoordig net ’n ander siening van dieselfde sisteem. Volgens Maturana word kennis gevorm binne ’n sisteem. Die mens kyk deur ’n lens na die werklikheid en kry dus ’n ‘gereflekteerde’ beeld. Hierdie lens is die sisteem waarbinne die mens funksioneer (Simon 1985:32).

Die posisie van die individu is volgens die sisteem-benadering geweldig belangrik. Friedman

beklemtoon dat die posisie van ’n persoon in die sisteem baie druk op die persoon plaas. Hy stel dit soos volg, “The components do not function according to their ‘nature’ but according to their position in the network” (1985:15). As voorbeelde kan genoem word dat ’n seun wat byvoorbeeld die stamvader se naam dra baie meer druk beleef as ’n dogter wat gaan trou en later ’n ander van gaan kry. ’n Kind wat na die tragiese dood van ’n boetie of sussie gebore is, leef in ’n ander posisie in die sisteem as wat die kind wat dood is, sou geleef het. Die sisteem ‘breek’ nie op die swakste plek nie, maar op die plek waar die meeste druk is. Geestelike groei en geestelike volwassenheid kan nie van hierdie reël uitgesluit word nie. ’n Kind wat vreeslik gehoorsaam en voorbeeldig is, kan van buite as geestelik baie volwasse gesien word, maar die moontlikheid bestaan ook dat daardie kind geen persoonlikheid ontwikkel het nie en in die skadu van iemand

anders , of miskien onder die emosionele druk van ouers, so voorbeeldig is. Geestelike groei sal differensiasie van die ouers vra, wat op die oog af as sonde gesien sou kan word, maar in werklikheid groei tot volwassenheid is. Die mens leef nie net in die teenwoordigheid van God (coram Deo) nie, maar ook in die teenwoordigheid van die medemens (sisteem). Die term lewensverhaal kan ook beskryf word as geloofsverhaal aangesien die mens se hele lewe ’n geloofsantwoord op God en sy Woord is. Die posisie van die persoon binne sy gesin van

oorsprong en ook die posisie binne sy huidige sisteem en al die kragte wat op hom ’n invloed het, speel ’n beslissende rol in sy geloofsantwoord en sy vermoë tot verandering (geestelike groei).

Die individu se optrede moet altyd binne die sisteemverband verstaan word. Navorsing wat handel oor geestelike groei of transformasie sal deeglik met die sisteembenadering rekening moet hou. Eerstens is dit duidelik dat enige effek op enige een van die lede binne die sisteem ’n kettingreaksie op die res van die sisteem het. Dit sou beteken dat ’n persoon indirek beïnvloed kan word deur op ’n ander lid van die sisteem te konsentreer of dat ’n enkeling deur die regte optrede die hele sisteem indirek kan beïnvloed. Verder sou dit ook beteken dat ’n eensydige verandering in een van die lede die hele sisteem positief of negatief kan beïnvloed. Verandering binne die sisteem is dus ’n aangeleentheid wat met groot omsigtigheid hanteer moet word. Die belangrike is egter om die individu binne die sisteem bewus te maak van die invloede (dinamika) en in ’n posisie te probeer plaas waar selfstandige besluite geneem kan word. Die persoon moet dus beheer oorneem in plaas van om beheer te word. In die proses speel die intellek ’n kardinale rol.

Die ontdekking dat die mens slagoffer is en dat kennis slegs gekonstrueer is, bring reeds ’n groot stuk bevryding.

Die beginsel met betrekking tot die posisie van die individu wat bepalend is, het verdere gevolge. Binne familie-terapie word gepraat van die geïdentifiseerde pasiënt. Die persoon met die simptoom word gesien as ’n waarskuwing dat iets in die sisteem verkeerd is, eerder as dat die persóón gediagnoseer word as die probleem. Binne geestelike verband kan die vraag dus gevra word na die aard van geestelike volwassenheid waar sommige lede van die sisteem oënskynlik baie naby aan die Here leef en ander lede van die sisteem duidelik in reaksie is. In Bybelse terme

is die individu ook verantwoordelik vir die sisteem se welsyn. Die ‘geïdentifiseerde pasiënt’ dwing dus die ander lede van die sisteem om te vra na hulle geestelike volwassenheid asook na die funksionering van die sisteem. Die sisteembenadering konsentreer op ’n gesonde sisteem

eerder as op gesonde lede. Wanneer ’n individu se geestelike lewe ’n golf van reaksie deur die

sisteem stuur gaan daar gevaarligte aan met betrekking tot ’n gebalanseerde geestelike lewe. ’n Lewe in die teenwoordigheid van God (coram Deo) behoort helend op die sisteem in te werk. Die individu wie se lewe reaksie ontlok moet dus seker maak dat dit die evangelie is wat aanstoot gee en nie die persoonlike lewe nie. Konstruktivisme beklemtoon ook dat diagnose subjektief is

en liefs vermy moet word. In die proses van diagnose rig die sisteem in werklikheid ’n vinger

na homself.

Verder beklemtoon die sisteembenadering dat die sisteem die eenheid is waar ‘behandeling’ plaasvind. As die sisteem nie genees nie, sal die simptoom net op ’n ander plek na die

oppervlakte kom. Die geïdentifiseerde pasiënt is ’n vriend tot groei. Terapie hoef ook nie net met die simptoomdraer gedoen te word nie. Aangesien die sisteem ’n dinamiese kettingreaksie veronderstel, kan daar ’n invloed op die sisteem uitgeoefen word deur op enige van die lede te konsentreer. Verandering kan byvoorbeeld bewerk word deur op die sterkste persoon in die sisteem of die gewillige persoon te konsentreer eerder as om die geïdentifiseerde pasiënt uit die sisteem te verwyder en te behandel. Indien betekenisverandering dus in ’n sisteem en sy individue bewerk wil word, kan daar slegs op een van die sisteemlede gekonsentreer word. Die vraag met betrekking tot verandering is nie wie die sterkste simptoomdraer is nie, maar wie die grootste potensiaal het om verandering te bewerk.

Binne die sisteem bestaan daar ook homeostase. Die verskillende ‘kragte’ binne die sisteem

balanseer mekaar uit. ’n Goeie voorbeeld is die planete wat in so ’n mate kragte op mekaar uitoefen dat elkeen in sy baan bly. Die oomblik wanneer daar ’n invloed op enige een is, sal dit al die ander beïnvloed (Anderson & Goolishian 1988:376; Hoffman 1990:3). Verandering word ook deur die kragte teëgewerk. In die verband is Maturana reg as hy sê dat die sisteem ’n “informational closed” sisteem is (Simon 1985:34). Enige inligting hou ’n bedreiging in vir die homeostase binne die sisteem en word so gefiltreer dat dit geen verandering bring nie. Hierdie kragte binne die sisteem produseer selfs soms ’n simptoom om die aandag van die spanning

binne die sisteem af te trek. Hierdie teorie van homeostase binne die sisteem, plaas ’n groot

vraagteken oor die modernistiese wyse van beïnvloeding, naamlik die deurgee van inligting. Selfs die vermoë van die preek om geestelike groei te bewerk, asook die kategese en

Bybelstudies wat op die deurgee van inligting gerig is, se suksesvolheid lyk verdag. Die sisteem filtreer gewoon die inligting op so ’n wyse dat verandering teëgewerk word. Soos reeds genoem, sal die poging om geestelike groei te bewerk ’n verskil binne in die sisteem moet maak. Inligting van buite het volgens hierdie teorie weinig waarde.

Verder beteken dit dat enige verandering by enige van die sisteemlede al die ander lede dwing tot verandering. Indien daar enige simptome by ’n lid opduik is dit sinvol om te vra waarom die simptoom opgeduik het en waarom dit die besondere lid van die sisteem is. Die toestand van die lede sê altyd iets van die sisteem. Homeostase beteken dat enige verandering met groot mag binne ’n sisteem beveg word. Soos reeds in die vorige paragraaf verduidelik, staan homeostase verandering teë. Dit verduidelik grootliks waarom lidmate elke Sondag in die kerk is en na nuwe inligting luister, maar hulle lewens verander nie baie nie. Indien die evangelie effektief in

mense se lewens geplant wil word, sal daar rekening gehou moet word met homeostase en die kragte wat verandering teëwerk. Die lidmate moet gelei word om te vra wat hulle

verhinder om te verander. Wie sal almal beïnvloed word indien die boodskap uitgeleef word? Waarom het hierdie boodskap nog nooit in die betrokke persoon se lewe uitgewerk nie, terwyl die boodskap nie onbekend is nie? Is dit wat as verskoning aangebied word, werklik vir God ’n probleem? Waarom sal God dit eis as Hy ook dink dit is onmoontlik? Kan die persoon aan situasies dink waar die boodskap wel uitgeleef is? Hoe het hy dit reggekry en watter gevolge het dit gehad? Die beklemtoning van relatiewe beïnvloedingsvrae wat die persoon in ’n objektiewe posisie plaas, word later in die hoofstuk behandel.

Om bloot net op die krag van die Heilige Gees terug te val, is volgens die navorser nie verantwoordelik nie. Geestelike groei (transformasie) moet gebruik maak van die beskikbare wetenskaplike kennis wat transformasie kan bevorder. Deur gebruik te maak van die kennis word die krag van die Heilige Gees geensins onderskat of buite rekening gelaat nie.

• Die mens orden sy lewe deur middel van sy lewensverhaal binne sisteemverband.

• Binne die sisteem is daar ’n dinamiese werking tussen die verskillende dele. Die konstruksie van betekenis is ’n baie komplekse proses.

• Die posisie van die individu is baie belangrik met die oog op die skep van betekenis.

• ’n Skuif in enige van die lewens veroorsaak ’n kettingreaksie.

• ’n ‘Probleem-persoon’ wys op ’n ongebalanseerdheid in die sisteem.

• Diagnoses of die uitwys van skuldiges is in werklikheid ’n selfveroordeling deur die sisteem.

• Geestelike volwassenheid is nie net ’n individuele saak nie, maar raak die hele sisteem.

• Geestelike groei moet streef na die groei van die hele sisteem.

• Binne die sisteem bestaan daar homeostase en daar is onsigbare kragte wat enige versteuring van die homeostase teëwerk.

• Inligting vanaf buite met die oog op verandering (geestelike groei) word sterk beveg.

• Suksesvolle verandering moet binne die sisteem aangesteek word.