• No results found

Die lewensverhaal as sosiale konstruksie en geestelike groei.

3.2 Sosiale Konstruksionisme

3.2.2 Betekenisgewing as “multi generational emotional process”

Die sisteem is in werklikheid ’n produk van die verskillende invloede wat deur die eeue en ook vanuit die nabye verlede en hede op die verskillende lede van ’n groep inwerk en hulle gedrag bepaal. Hierdie kragte en wyses van hanteer balanseer mekaar uit sodat daar homeostase bestaan.

Al hierdie invloede werk op die emosionele vlak en plaas emosionele druk op die verskillende lede. Hierdie proses word ’n “multi generational emotional process” genoem.

Volgens Kerr & Bowen (1988:222) is elke nukliêre familie ’n produk van 62 nukliêre families oor vyf geslagte en oor die 1000 nukliêre families oor nege geslagte. Hoewel daar binne hierdie nukliêre gesinne geweldig baie moontlikhede van optrede is, het navorsing tog uitgewys dat daar sekere funksioneringspatrone oor geslagte heen oorgedra word. Gedragspatrone wat nou in families bestaan, bestaan waarskynlik al reeds vir geslagte.

Die proses waarin betekenis gevorm is, word sosiaal bepaal. Die mens is oor geslagte heen sosiaal beïnvloed . Die mens kan hom nie losmaak van die invloede wat deur geslagte heen op hom ingewerk het nie. Volgens McGoldrick & Gerson (1985) kan dinge soos die samestelling van die gesin, die posisie van die verskillende kinders (sibling position), geboortes en dood, die fase van die familie of die individu tydens ingrypende gebeure, familiename, die rol van belangrike persone in die familie en individue se lewens, traumatiese gebeure en vele meer ’n belangrike rol speel. Hierdie gebeure beïnvloed die betekenis wat aan huidige sake toegeken word en dus die lewe van die persoon. Dikwels is die individue nie eens bewus van die gebeure wat hul konstruksie van betekenis en dus hul lewens grondig beïnvloed nie (Roukema-Koning 1993:409). Hulle word dus beheer sonder dat hul weet waardeur. Mense is produkte van hul “multigenerational emotional process”. Om te kan verander moet hierdie proses aangespreek word en moet die individu “beheer” oorneem in plaas van om beheer te word. Hierdie proses sal later onder die begrip self-differensiasie in detail bespreek word. Geestelike groei vereis ’n

bevraagtekening van sekere patrone en die skep van nuwe (eie) betekenis vanuit die verbondenheid aan God.

’n Begrip wat baie belangrik is met die oog op verandering is chroniese angstigheid (chronic anxiety). Angstigheid verwys hier na die beginsel dat die emosionele die optrede bepaal. Die persoon tree op in reaksie in plaas van om self te besluit oor gepaste optrede. Die persoon word dus beheer in plaas van om beheer uit te oefen. Elke sisteem het elemente van emosionele druk wat sekere verandering teenstaan. Volgens Kerr (1988:225) hanteer mense in gesinne hierdie angstigheid op een van drie maniere, naamlik konflik tussen die huweliksmaats, of die verskynsel

waar een van die twee lewensmaats feitlik eie identiteit verloor ten einde konflik te vermy, of deur angstigheid op een van die kinders te konsentreer.

Chroniese angstigheid moet hanteer word deur beheer te neem in plaas van om beheer te word. Die mate waarin situasies vanuit die emosionele hanteer is, is bepalend vir die hantering van soortgelyke situasies in die toekoms en in die generasies wat kom. Hierdie gedagte word ook deur Kerr beklemtoon as hy sê: “The way the family is played out in one generation has predictable consequences for the next generation” (1988:225). Hiermee wil nie gesê word dat om emosioneel te wees verkeerd is nie. Die beginsel is egter dat die mens self beheer moet hê. Emosionele besluite dui op besluite wat geneem is onder druk van buite-faktore in plaas daarvan dat ’n persoon self besluit het en verantwoordelikheid aanvaar vir sy besluite. Hierdie optrede word reaktiwiteit genoem en is die teenpool van volwassenheid. Met betrekking tot geestelike groei is die ideaal om vanuit die bewustheid van God se verhaal in die persoon se lewe te reageer. Indien die persoon toelaat dat iemand anders sy optrede bepaal, word hy beheer deur ander en nie deur die Gees nie. Soos reeds gesien, werk die Gees en die persoon baie nou saam (teonome resiprositeit). Geestelike volwassenheid bestaan daar waar die mens in reaksie op God se verhaal optree en nie in reaksie op mense se optrede nie.

Verder gebeur sogenaamde kwantumspronge in die vlak van funksionering selde . Die groot gedagte is om die rigting van funksionering in een geslag om te keer vanaf ’n afwaartse neiging na ’n opwaartse neiging. Daar moet dus gewaak word daarteen om te veel te verwag met betrekking tot transformasie. Indien ’n rigtingverandering kon plaasvind is die toekoms van die betrokke sisteem grondig beïnvloed en sal die vrugte gepluk word oor geslagte heen. Volgens Kerr (1985:15) is verandering geleidelik en gebeur dit oor die loop van jare. Die verhaal waar die eienaar die boom wat nie vrugte gedra het nie wou uitkap, maar die tuinier vir die boom gepleit het, steek hier by ’n mens vas.

Opsommend kan die volgende gesê word:

• Verskeie gebeure en persone oor geslagte heen, het sekere optrede as vanselfsprekend gemaak.

• Transformasie en geestelike groei vra dat die vanselfsprekende bevraagteken moet word met die oog op die skep van ’n eie verhaal.

• God se verhaal moet sy kinders se optrede bepaal, nie ander mense nie.

Gelowiges moet deur die Gees beheer word, nie deur mense nie.

Transformasie (ook geestelike groei) vra geduld, dit is ’n langsame proses.