• No results found

Die christelike dissiplines en geestelike groei

4.2 Die Bybel as God se spreke (Godsverhaal) met die mens

“Die Bybel is nie net ’n boek vol mooi en goeie gedagtes wat ’n mens moet verstaan en gehoorsaam nie. Dit is die kanaal waardeur die Gees vandag nog werk. Dit vertel nie net hoe God in die verlede gepraat het nie, maar dit is die wyse waarop God vandag nog met ons praat” (Eie beklemtoning) (Nicol 1989:71). Cilliers maak ook belangrike opmerkings met

letterlike woorde van die Skrif tot lewende woorde gemaak ... Die Gees laat die Woord wérk. Die Heilige Gees maak van die Bybel ’n unieke Boek, anders as enige ander geskrif in die geskiedenis” (1996:21-22). Rice (1991:34) noem dat selfs Calvyn iets soos ’n intuïtiewe ervaring as werking van die Gees erken het, maar beklemtoon dat hierdie insigte altyd aan die Woord getoets moet word. Die Gees sal nooit anders as die Woord lei nie. Die Bybel vertel van God en

sy groot dade in die geskiedenis en die lewens van mense. Die bril waardeur ons moet kyk as

ons die onsienlike God wil sien is die Bybel (Cilliers 1998:100). Hierdie God is vandag nog handelend teenwoordig in sy kinders. Hierdie God wil heelmaak. Hierdie God leer ons onder andere ken in die verhaal van die verlore seun, maar veral in die geskiedenis van Jesus. Cilliers beklemtoon egter dat daar moeite gedoen moet word om die stem van God in die Bybel te hoor. Hy stel dit so: “ ’n Mens kan na die Bybelse teks - die bron van water - luister, en jy kan daarna lúíster. Jy moet jou ore naby aan die stroom hou, totdat jy die musiek van God se evangeliewoord hoor ... en kan saamsing. Al is dit soms ’n klaagpsalm” (1996:123). In die voorwoord van Cilliers (1998) skryf Müller: “So bring die kyk deur die teks wêrelde bymekaar: God se wêreld en ons wêreld ... en siedaar! - ’n nuwe wêreld word gebore, vol hoop, vol sprankel, vol nuwe lewe. Alles word nuut (2 Kor 5:17)”.

Om die Bybel te lees, is nie noodwendig dieselfde as om na God te luister nie. Die primêre doel van taal en ook die geskrewe taal is nie in die eerste plek om inligting oor te dra nie, maar om ’n verhouding te skep. As ons die Bybel lees sonder om persoonlik betrokke te raak, mis ons die boodskap. Om te kan hoor, veronderstel dat die Bybel gelees moet word, maar lees beteken nie noodwendig dat die leser ook hoorder word nie. Peterson beklemtoon dat hoor beteken dat

die leser in gesprek met God moet tree: “The word is always sound: words spoken and heard,

questioned and answered, rejected and obeyed, and finally, prayed” (1987:72). Foster beklemtoon dat hierdie gesprek oor die Woord (ook in meditasie), lei tot persoonlike geloof: “Whereas the study of Scripture centres on exegesis, the meditation of Scripture centres on internalising and personalising the passage. The written Word becomes a living word addressed to you” (Foster 1989:33). Hoewel Foster en Bonhoeffer (volgens Foster) beklemtoon dat die klem nie op die analisering van die Woord val nie, maar op die vraag na die betekenis vir die betrokke persoon, wil die navorser beklemtoon dat die wetenskaplike omgaan met die Woord nie oorbodig raak nie. Ons moet voortdurend vra na die bedoeling van die gedeelte en die bedoeling van die skrywer,

omdat ons alleen so die bedoeling van die Heilige Gees ontdek: “Om dit te kan doen, moet ek , soos by enige ander geskrewe stuk wat ek lees, altyd in gedagte hou dat die betrokke woorde in ’n bepaalde verband voorkom, dat hulle onder bepaalde omstandighede geskryf is, dat hulle in ’n bepaalde stylvorm geskryf is, dat hulle in eerste instansie aan ’n bepaalde adres gerig was en iets spesifieks aan daardie eerste lesers wou oordra” (Jonker 1974:6). Aangesien betekenis deur taal geskied, wil die navorser weer beklemtoon dat hierdie soeke na betekenis moet geskied deur kommunikasie. Die persoon en gemeente moet eerstens soek na God se gekommunikeerde

wil en dan in kommunikasie met God en met mekaar soek na die betekenis vir die tyd en omstandighede.

Die navorser sien die oorspronklike betekenis van die teks as baie belangrik. Hierdie betekenis moet aan die persoon deurgegee word en saam met die betrokke teks peinsend oordink word met die oog op die betekenis vir die persoonlike lewe. Hoewel die navorser die kommunikasie tussen die persoon en die Woord van God baie sterk beklemtoon, sien die navorser die teoloog as deel van die gesprek. Die teoloë en leraars moet poog om die oorspronklike betekenis van die teks verstaanbaar uit te lê. Hulle moet die lig duidelik laat val op God en sy handelinge in die teksgedeelte. Die navorser sien die taak van die teoloog en die predikant (wat ook veronderstel is om ’n teoloog te wees), om die Woord so uit te lê dat God uit die teks na vore tree. Die Godsverhaal moet sigbaar word. Verder is die taak van die teoloog en leraar volgens die navorser om die regte vrae te vra met die oog op die internalisering en personalisering van die Godsverhaal. Die gebruik van kommunikasie met betrekking tot die betekenis van die Godsverhaal vir ’n spesifieke situasie of tyd vind ons in die Skrif geïllustreer. Jonker (1974:19-20) wys daarop hoedat Israel in ’n omgewing geleef het waar bepaalde versoekings oor hulle pad gekom het en hoedat die reinheidswette hulle juis in daardie spesifieke omstandighede beskerm het. In die Nuwe Testament word die reinheidswette nie herhaal nie, omdat die omstandighede verander het. So het sekere voorskrifte met betrekking tot die vrou in die gemeente ook verdwyn omdat ons vandag in nuwe omstandighede leef: “Hoe die één wil van God in die verskillende situasies gedoen moet word, hang af van die omstandighede” (Jonker 1974:15). In hierdie soeke na die praktiese uitlewe van die wil van God is die mens aktief

teenwoordig: “Die feit dat die Heilige Gees ons lei by die verstaan van die Skrif beteken nie dat

nie buite ons bewussyn, denke, aktiwiteit en verantwoordelikheid om nie” (Jonker 1974:4).

Woorde het altyd twee mikpunte, naamlik om iets weer te gee vanaf die skrywer en om iets te bereik in die leser: “ As ek my hele innerlike vir die Woord oopstel, het my intellek ook ’n belangrike funksie. Ek moet daardeur seker maak dat ek die woorde van die Bybel verstaan soos wat die oorspronklike skrywer dit bedoel het, en nie soos wat ek dit wil verstaan nie” (Nicol 1998:28): “ Die Woord het altyd ’n belofteryke karakter (promissio). Dit vertel die storie(s) van God se groot dade, waarby die mens ook ingesluit word” (Cilliers 1996:23). God se verhaal is

altyd evangelie, dit wil sê genade, reddend, heelmakend. Die leser moet altyd soek na God se verhaal en sy eie verhaal laat reageer op God se verhaal. Die vraag moet altyd gevra word

na God se rol in die teks met die oog op heel-word. Daar moet altyd gesoek word na die evangelie en God se rol in die evangelie en wat die evangelie vir die mens inhou asook God se rol in die uitwerk van die evangelie in die persoonlike lewe. Selfs al oordeel God, roep Hy op tot ’n heel-word -proses. In hierdie heel-word is Hy aktief betrokke, dit het Hy kom wys in die koms van Jesus Christus. God moet altyd gesoek word in die Bybelverhaal. Wanneer God se rol as ‘evangelie’ misken word, word die klem verskuif na selfregverdiging en dus ’n oorskatting en oorlading van die mens. Selfs in die gedeeltes waar daar ’n bevel gegee word (imperatief) is die evangelie (helpende God) teenwoordig. Cilliers stel dit goed: “Die Bybelse gebod is nooit bloot ’n naakte bevel nie, maar eerder ’n kragtige toesegging, ’n belofteryke uitnodiging om jou geloof elke dag uit die werklikheid van die verlossing te leef ... God gebied in die mate waarin Hy skenk; Hy skenk ook in die mate waarin Hy gebied” (1996:45). In die gebod is die evangelie dus opgesluit. Daardie evangelie moet verkondig word, anders word die mens oorlaai. Die navorser oordeel dat die klem op kommunikasie tussen die Godsverhaal en die lewensverhaal van die mens goed benut kan word om God bloot te lê in die Bybelverhaal. Die woord ‘Godsverhaal’ hou reeds die betekenis in dat God die bepalende faktor is en stuur dus weg van die mens se verhaal as uitgangspunt. In hierdie soeke na die God in die teks en die betekenis van die Godsverhaal vir die mens se lewensverhaal, is die Heilige Gees skeppend teenwoordig. Rice beklemtoon die noodsaak van die Heilige Gees in die lees van die Bybel: “Because reading scripture is not easy and its meaning is not obvious, we need the assistance of the Holy Spirit so that we may actually encounter the living word of God in our reading ...Understanding the Bible

is never simply a matter of mechanical reading, but involves the reader in a process of prayerful and attentive work” ( 1991:103-104).

Die klem op die Godsverhaal beklemtoon ook die positiewe verhaal en skep dus hoop, eerder as om by die mens se verhaal te begin wat sonder die Godsverhaal in werklikheid hooploos is. Bloot die woordkeuse wat in die hipotese gebruik word, naamlik geestelike groei as

kommunikasieproses tussen die lewensverhaal van die gelowige en God se verhaal met die gelowige, stuur dus reeds weg van ’n ‘onevangeliese’ oorbeklemtoning van die rol van die mens. Die werklike groei gebeur deur die W[w]oord, God se Woord en die mens se woord, dit wil sê die kommunikasieproses. Die aksie van die mens groei dan uit hierdie nuwe verhaal.

Die mens moet ook nooit dink dat ’n teks so bekend aan hom is dat dit geen boodskap meer vir hom inhou nie. Die Gees kan altyd die Woord nuut laat word vir ’n betrokke persoon. Verder is die gedagtes wat die mens van buite ken dikwels nog nooit deurdink en in die lewensverhaal geïntegreer nie. Brueggeman (1989:51) beklemtoon dat die teks ’n “abrasiveness” het. Die teks het ’n inherente vermoë om die mens altyd weer te verras. Hierdie kommunikasieproses is ’n voortgaande proses met onuitputlike potensiaal tot transformasie. Cilliers (1996:25) maak ’n geldige opmerking wanneer hy sê dat in die lees van die verhaal kom staan die verhaal teenoor die verhaal van die mens en vra na die verskille in die Bybelverhaal met die lewensverhaal. Die Bybelverhaal roep as’t ware vanuit die eskatologie na die lewensverhaal. Die belangrike vraag is: “Waaruit en waarheen roep die Bybelverhaal en God se rol in die verhaal die lewensverhaal?”

In die proses van die skep van ’n nuwe geloofsverhaal is God en die mens aktief betrokke.

Die navorser het dus ’n probleem met die volgende opmerking van Nicol: “ As ek so met die Bybel omgaan, werp ek my op die lewende waters van sy Gees en verloor ek beheer oor wat met my in my stiltetyd gebeur. Ek kan dit nie doen as ek nie bereid is om my aan God oor te gee en om deur Hom gevorm te word nie” ( 1989:72). Die navorser het ’n probleem met die gedagte dat die mens nie beheer het oor wat in sy stiltetyd met hom gebeur nie. Dit is wel so dat verandering God se werk is, maar die term teonome resiprositeit wil juis beklemtoon dat God en die mens as’t ware vennote in die proses van verandering is. Die mens konstrueer saam aan sy nuwe verhaal. Die mens is die hele tyd aktief betrokke. Die mens se aandeel hou nie op sodra hy sy innerlike vir

God oopgestel het nie. Dit is egter wel so dat daar in die ontdekking van God se rol in die Bybelverhaal, ’n nuwe verstaan van God plaasvind en dat hierdie nuwe verstaan lei tot ’n nuwe geloofsverhaal wat op sy beurt weer veranderende optrede tot gevolg het. In die proses van kommunikasie lê daar wel ’n krag opgesluit wat ’n sneeubaleffek het. Vanuit die gesprek met God en sy verhaal kan daar verrassende nuwe dinge gebeur. Die wonder is dat die mens deel bly van hierdie verhaal. Die nuwe verhaal is dus nie net iets wat met die mens gebeur nie, dit gebeur in hom en deur hom saam met God.

In die nadenke oor die teksgedeelte is die doel nie om die regte antwoorde te ontdek nie, maar om die Godsverhaal op die lewe te laat fokus. Dit is dikwels ook beter om op een

sentrale gedagte vanuit die Woord te konsentreer as om verskillende gedagtes te probeer deurdink. Bonnhoeffer se siening was dat daar selfs ’n hele week aan een perikoop gewy kan word, waar daar dan elke dag aan ’n ander gedagte aandag gegee word (Foster 1989:34). Volgens Rice (1991:113) is daar ’n paar stappe wat in gedagte gehou moet word by die lees van die Bybel. In die eerste plek moet die teks met verwagting en openheid vir ’n boodskap gelees word. In die tweede plek moet die teks in gebed genader word. Gebed getuig ook hier van die afhanklikheid van die Gees om die teks oop te maak. In die derde plek moet daar tyd met die Bybel deurgebring word. Die leser moet homself gereed maak om die boodskap vanuit die Bybel te hoor. Om eers stil te word, is noodsaaklik om die boodskap vanuit die Woord te hoor. In die leesproses moet die kernboodskap gesoek word asook die boodskap vir die persoonlike lewe. In die verband kan die relatiewe beïnvloedingsvrae baie sinvol gebruik word om die boodskap persoonlik te maak. Hierdie hele proses moet biddend gedoen word. Gebed getuig van die afhanklikheid van God.

Beteken dit dat die rigting altyd vanaf die Bybel na die lewensverhaal moet wees, of kan die rigting ook soms vanaf die lewensverhaal of ’n situasie na die Bybel wees? Die navorser is van mening dat die orde soms ook omgekeer kan word aangesien die lewensverhaal of sekere situasies dikwels dwing tot ’n gesprek met God. Daar moet egter gewaak word dat die Godsverhaal dan nie verskraal word tot die mens se lewensverhaal nie. Deur op die Godsverhaal te konsentreer word die mens se verhaal verbreed. Die mens word uitgenooi om deel van God se omvattende verhaal te word.

Die vraag ontstaan ook of die Here slegs deur die Bybel werk en of die Gees die mens ook direk kan lei. Hoewel die Bybel verwys na verskeie geleenthede waar die Gees iemand tot bepaalde insig gelei het, is die navorser van mening dat die ‘stem van die Gees’ altyd aan die Skrif getoets moet word en dat die insig van die gemeenskap van die gelowiges nooit gering geskat mag word nie. Die Gees lei nie net sekere individue nie, maar alle gelowiges. Dit het dus groot waarde om sake ook met mede gelowiges te bespreek en hulle siening oor die saak en die Bybel te hoor.

As samevatting kan die volgende genoem word:

• Die Bybel is steeds die kanaal waardeur die Gees vandag nog werk.

• Die Bybel handel oor die handelende God in die proses van heelmaak.

• Die doel van die Bybel is die skep van ’n verhouding tussen God en mens, waar die mens reageer op die ken en beleef van God.

• God is altyd in enige teks helpend teenwoordig. In enige teks is daar evangelie.

• Die teologiese spits van ’n teksgedeelte moet deur die leser/hoorder geïnternaliseer en gepersonifieer word.

• Kommunikasie tussen die Godsverhaal en die mens se lewensverhaal lei tot ’n nuwe verhaal (geestelike groei).

• In die gesprek tussen God en mens val die klem op die Godsverhaal as ‘eskatologiese’ moontlikheid. Die Godsverhaal roep die mens vanuit sy verhaal tot ’n nuwe verhaal.

• Die nuwe verhaal (groei) is ’n samewerkingsproses tussen die Heilige Gees en die mens. • Deur die W[w]oorde tussen mens en God gebeur ’n nuwe verhaal deur die Gees en die