• No results found

Die lewensverhaal as sosiale konstruksie en geestelike groei.

3.2 Sosiale Konstruksionisme

3.2.3 Die proses van betekenisvorming as taalgebeure

’n Verdere kwalifikasie met betrekking tot die vorming van waarheid is dat dit nie net sosiaal bepaal is nie, maar dat die proses van betekenisvorming ten diepste ’n taalgebeure is. Volgens Maturana bestaan iets nie, maar deur taal kry iets bestaanreg of betekenis. Taal lig “iets” uit vanuit sy agtergrond en onderskei dit van die res. Deur onderskei te word kry ’n saak/gebeure betekenis (Efran & Lukens 1985:25; Real 1990:257). Die betekenis wat deur taal aan iets toegeken word, bepaal later die sosiale sisteem. Volgens Anderson & Goolishian is betekenis in werklikheid ’n kommunikatiewe aksie. Hulle stel dit so: “We do not arrive at or have meaning and understanding until we take communicative action, that is, engage in some meaning- generating discourse or dialogue within a system for which the communication has relevance” (Anderson & Goolishian 1988:372). Die plek waar verandering ten diepste moet plaasvind, is nie die sosiale sisteem in die eerste plek nie, maar verandering is in die eerste plek ’n taalgebeure. Die sisteem bestaan ook net in taal, indien die taal verander sal die sisteem ook verander. Betekenis en sisteme word gevorm deur taal wat dit beskryf en so onderskei van die omgewing. Sisteme bestaan nie, maar word deur taal geskep: “Thinking of human systems in this respect implies that they exist only in the domain of meaning or inter-subjective linguistic reality. As social systems they are communication networks in conversation with each other ” (Joubert 2000:39). Die kommunikatiewe krag van taal word beklemtoon deur Anderson & Goolishian in

die volgende woorde: “Change is the evolution of new meaning through dialogue” (1988:372).

Nuwe geestelike betekenis word dus ook deur taal geskep. Aangesien betekenis deur taal

geskep word en nuwe betekenis ook ’n taalgebeure is, aanvaar die navorser die korrektheid van die hipotese, naamlik dat geestelike groei plaasvind waar die mens se lewensverhaal met God se verhaal in gesprek tree.

Dit is deur taal wat ons sinvolle kontak met ander mense maak en waardeur ons die werklikheid met mekaar deel. Om deur middel van taal met mekaar verbind te wees is ’n dinamiese sosiale gebeure. Die konstruering van betekenis en verstaan , die konstruering van “human systems”, is ’n proses wat konstant verander as gevolg van onderlinge kommunikasie (Hoffman 1990 :3) . Die betekenis van iets is nie in iemand se kop nie, maar in die interaksie tussen persone en in die konteks waarbinne die kommunikasie plaasvind. Verstaan word dus nooit bereik nie, maar bly steeds opgesluit in kommunikasie en bly steeds ’n proses van groei. Sukses bestaan dus nie in die bereik van betekenis nie, maar in die proses van verstaan wat voortgaan. Hierdie betekenis wat gekonstrueer word is nie subjektief of objektief nie, maar inter-subjektief. Enige verandering in

menslike optrede geskied deur taal. Kommunikasie moet dus ten alle koste bereik word ten einde geestelike groei te bewerk. Kennis moet in die persoonlike lewe ingedra word. Dit

geskied alleen deur taal (kommunikasie).

Kommunikasie is belangriker as die ontleding (diagnose) van die sosiale sisteem. Die klem val daarop dat die interpretasie van sekere gebeure deur taal gebeur het. Die vraag is of die gebeure nie “vertaal” kan word, en of daar nie ’n ander betekenis ook moontlik is nie. In die lig van die hipotese wil die navorser beklemtoon dat die gebeure vertaal kan word vanuit die lig en gesprek met die Godsverhaal. Kommunikasie is dus belangriker as ontleding en diagnose. Daar is baie

meer waarde in om met God se verhaal in gesprek te tree as om te probeer verstaan waarvandaan sekere optrede kom. Kommunikasie skep ’n nuwe verhaal sonder dat die eie

lewensverhaal in detail verstaan moet word. Verstaan is nie ’n voorwaarde vir verandering nie. Kommunikasie (taalgebeure) is wel ’n voorwaarde vir verandering en groei.

Verder beklemtoon die gedagte van kennis wat ’n konstruksie is, dat ander se konstruksies groot betekenis kan hê. Andersen & Goolishian beklemtoon ’n baie belangrike

voorwaarde vir kommunikasie wat tot groei lei, naamlik ’n openheid vir die ander se standpunt. Hulle stel dit so: “The characteristics of all dialogical conversation is that participants open themselves to others and accept their point of view as being worthy of consideration” (1988:380). Elke mens se interpretasie het waarde en moet gehoor word. Kommunikasie plaas ander verhale op die tafel. Die Godsverhaal hou die meeste moontlikheid tot gebalanseerde transformasie in aangesien die fokus op God val. In die proses van kommunikasie word die proses van die skep van betekenis voortgesit.

Dit is deur die proses van kommunikasie dat twee persone se wêrelde van betekenis oor mekaar skuif en daar begrip kom. Deur so in iemand anders se betekeniswêreld in te kom word die individu verander. Taal dra die moontlikheid tot verandering. Verandering vind alleen plaas

deur kommunikasie aangesien betekenis gevorm word deur taal. Ook geestelike groei vind plaas deur kommunikasie. Die krag en noodsaaklikheid van kommunikasie met die oog op

groei word deur die volgende aanhaling beklemtoon, naamlik “Change requires communicative action, dialogue, and discourse”(Anderson & Goolishian 1988:381). Deur kommunikasie word ander verhale ook vertel wat die bestaande verhaal open tot verandering. Groei of transformasie is niks anders as verandering van betekenis deur middel van kommunikasie nie. ’n Hiërargiese sisteem waar sommige persone die antwoorde ken werk kontra-produktief, want die klem moet val op kommunikasie en nie op antwoorde nie. Kommunikasie moet ten alle koste oopgehou word. Die gee van antwoorde (wat in elke geval slegs interpretasies is), sluit kommunikasie af en beperk groei of transformasie. Die soeke na geestelike groei sal dus moet wegbeweeg van die deurgee van inligting en eerder poog om ’n gesprek vanuit en oor die inligting aan die gang te kry. Deur kommunikasie skuif wêrelde oor mekaar. Deur kommunikasie met God se verhaal skuif God se wêreld (koninkryk van God) oor die mens se wêreld. Kommunikasie met God se verhaal vanuit die mens se verhaal lei dus tot geestelike groei.

Die mens leef deur sy omgewing te ‘taal’. ’n Ander beskrywing vir hierdie proses is die narratief. Anderson & Goolishian stel dit so: “We live with each other in a world of coversational narrative and we understand ourselves and each other through changing stories and self-descriptions” (1988:380).

Die gedeelte oor taal as skepper van nuwe betekenis kan soos volg saamgevat word:

• Betekenisvorming is ’n taalgebeure.

• Transformasie (“her-betekenis”) is dan ook ’n taalgebeure.

• Transformasie (geestelike groei) geskied deur kommunikasie eerder as deur ontleding of diagnosering.

• Verstaan word nooit bereik nie, maar bly altyd oop as proses wat deur kommunikasie gedra word.

• Kommunikasie plaas ook ander verhale op die tafel wat die persoonlike lewensverhaal ‘uitdaag’.

• Geestelike groei vind plaas waar God se verhaal deur middel van kommunikasie op die tafel geplaas word.

• Enige proses wat kommunikasie stop, blokkeer verandering.